Kyk ook:
Tydens die Oostelike Sinode van 2024 het ds Johan Koen (snr) die volgende beskrywingspunt voorgelê:
BESKRYWINGSPUNT
Sinodale Diensraad, Oostelike Sinode
Datum 12 Augustus 2024
Die Uitvoerende Amptenaar
OPSKRIF VIR BESKRYWINGSPUNT: Afstigting van Sinode
FORMULERING:
Die Sinode besluit:
- Om gemeentes wat daarvoor aansoek doen, toe te laat om as ‘n nuwe Sinode af te stig op grond van die onversoenbare Skrifinterpretasies binne die Kerkverband.
- Om die afhandeling van die afstigting en sake wat daarmee verband hou aan die SDR op te dra om met die ASM te finaliseer.
- Dat die nuwe Sinode saamgestel word uit gemeentes wat ‘n geografiese eenheid vorm (Art 32.1) sowel as gemeentes wat nie geografies ‘n eenheid vorm nie, maar aansoek doen om deel van die nuwe geografies bepaalde sinode te wees (Art 32.2).
- Dat daar ‘n aanvanklike vyf jaar ooreenkoms tussen die Oostelike Sinode en die ter stigte Sinode gesluit word om sekuriteit te verleen aan die personeel en gemeenskaplike werksaamhede en die ter stigte Sinode geleentheid te bied om ‘n administratiewe stelsel te ontwikkel.
- Dat hierdie as ‘n prioriteit hanteer moet word.
ARTIKEL WAARNA VERWYS WORD:
Artikel 32
32.1 Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies ’n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen gewysig word op versoek en met goedkeuring van die betrokke sinode(s)/moderamen(s)/sinodale kommissie(s).19
32.2 Gemeentes wat by ‘n ander sinode wil inskakel, doen aansoek by beide sinodes/moderamens/sinodale kommissies wat dit oorweeg aan die hand van prosedures soos deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen in oorleg met die Algemene Taakspan Regte vasgestel is. Indien beide die betrokke sinodes/moderamens/sinodale kommissies die aansoek goedkeur, word dit aan die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen voorgelê vir goedkeuring.
MOTIVERING:
Oostelike Sinode het reeds tydens die 2021 Buitengewone Sitting (BSS) bevestig dat die 2019 SGV besluit van die AS die kerk op ‘n vasgeloopte plek gebring het.
Tydens Oostelike Sinode se 2022 Sitting is ‘n proses goedgekeur om die planting van ‘n nuwe kerkverband te ondersoek wat aan gemeentes wat nie meer langer deel van die Algemene Sinode wil wees nie ‘n geleentheid sou skep om ‘n alternatiewe kerkverband te vind. Hierdie proses was tydens die reses ondersoek en daar is besef dat dit nie werkbaar is nie weens verskeie Kerkordelike haakplekke.
Tydens 2021 se BSS het Oostelike Sinode onderneem om gemeentes wat nie hulle weg oopsien om langer deel van die Algemene Sinode te wees nie te help om uit verband te tree.
Handtekening: Johan Koen (Snr)
Hoedanigheid: Voorsitter van Kerkraad
Naam van Gemeente: Burgersfort Gemeente
Die voorstel is nie goedgekeur nie.
Afgevaardigdes het gestem deur rooi en groen kaarte in die lug op steek. Die uitslag was egter nie voor die handliggend nie en daar is besluit om die rooi en groen kaarte te tel. Die getalle is nie bekend gemaak nie.
‘n Totaal van 16 gemeentes het nie die sinode bygewoon nie, weens verskeie redes. Blykbaar was die meerderheid van hierdie 16 gemeentes behoudende gemeentes. Moreletapark, Ermelo-Oos en Groblersdal was onder hierdie 16 gemeentes. Dit is onbekend of die teenwoordigheid van hierdie gemeentes ‘n ander uitslag tot gevolg sou hê.