Op die foutlyn – Teologiese strominge in die NG Kerk

Nadia Marais het die lesing hieronder aangebied by die Bloemfontein Lentekonferensie (2 tot 4 September 2018).

Hierin sê sy: “Ek is gevra om vandag te praat oor die teologiese (en filosofiese) strominge in die NG Kerk… Ek het egter besluit om dit nie te doen nie.”

In plaas daarvan om oor die teologiese strominge te praat borduur sy voort oor die “sonde van apartheid”, asof dit tans die brandende kwessie in die kerk is. Dit is interessant dat die NG Kerkleiers,  Nelis Janse van RensburgDirkie van der Spuy en Gustav Claassen, in Januarie 2018 met die EFF in gesprek gegaan het (kyk EFF ontvang NG Kerk ‘hartlik’ en praat oor landsake).

So uit voeling het ek lanklaas beleef. Om ’n idee te gee van die teologiese strominge wat in die tyd plaasgevind het toe sy hierdie praatjie aangebied het. Kom ons kyk net na die gesprekke wat op RSG plaasgevind het:

Verder was die NG Kerk midde in ’n hofsaak waar prohomoseksueles die kerk hof toe gesleep het (kyk Oorsig van NGK 2019 hofsaak oor homoseksualiteit). Met die volgende Algemene Sinode (AS) in 2019 sou daar weer oor homoseksualiteit gepraat word (daar is toe wel ruimte gemaak vir homoseksualiteit – kyk 2019 NGK homoseksuele besluit).

Die vraag is, hoekom het sy nie oor die teologiese strominge in die NG Kerk gepraat nie? Daar is net een rede daarvoor: Dit is nie vir haar ’n probleem nie. Wat op haar hart is, is dat die NG Kerk volgens haar nie genoeg jammer gesê het vir apartheid nie en daarom het sy besluit om daaroor te praat.

***********

Op die foutlyn – Teologiese strominge in die NG Kerk[1]

Nadia Marais

Universiteit Stellenbosch

Met hulle is ek
wat seks misbruik
omdat die indiwidu nie tel nie
met hulle wat dronk word
teen die afgrond van die brein
teen die illusie dat die lewe
eenmaal goed of mooi of betekenisvol was
teen die tuinpartytjies van die valsheid
teen die stilte wat slaan teen die slape
met hulle wat oud en arm
meeding met die dood die atoombom van die dae
met hulle verdwaas in inrigtings
geskok met elektriese strome
deur die katarakte van die sintuie
met hulle van wie die hart hul ontneem is
soos die lig uit die robot van veiligheid
met hulle kleurling african ontroof
met hulle wat moor
omdat elke sterfte opnuut bevestig
die leuen van die lewe
en vergeet asseblief
van geregtigheid dit bestaan nie
van broederskap dis bedrog
van liefde dit het geen reg nie[2]

So skryf die 31-jarige Ingrid Jonker ses maande voor haar dood. Dit is Januarie 1965, “die hoogbloei van die Verwoerdiaanse apartheidstelsel”.[3] Die geskiedenis – háár geskiedenis; haar worsteling met depressie, alkhohol, skokterapie, verhoudings, haar pa (en haar ma), haar kind – weeg swaar op haar, hier, teen die einde van haar lewe. Maar dit is ook díé geskiedenis – apartheid, rassisme, diskriminasie, die politiek van die dag, polisiegeweld, grondhervorming sonder kompensasie – wat hier swaar op haar weeg.

Sy neem die geskiedenis ernstig op – en die geskiedenis oorweldig haar.

Dit is nie maklik om ’n roetekaart te vind wanneer ons deur ons geskiedenis oorweldig word nie. Ek sou egter oneg wees indien ek sou probeer voorhou dat ek weet watter toekomsmoontlikhede daar vir die NG Kerk in Suid-Afrika is. Ek weet nie. Ons almal weet dat ons nie meer ’n kerk vir Afrikaners – vir witmense, vir heteroseksueles, vir Afrikaanssprekendes – kan wees nie. Ons besef dat ons nie meer ’n Hollandse kerk aan die suidpunt van Afrika kan wees nie. Ons dilemma is egter dat ons ook nie weet wat ons moet word om die toekoms tegemoet te gaan nie. Ons staan op die breuklyn.

Teologiese karteerwerk – en die NG Kerk?

Hierdie beskrywing van die NG Kerk – Op Die Breuklyn – sou die tema vir ’n feesbundel wees wat saamgestel is om die 125-jarige bestaan van die Stellenbosse Teologiese Fakulteit te herdenk.[4] In hierdie bundel het Willie Jonker die hoofartikel geskryf – met dieselfde tema, “Op die breuklyn” – en doen hy presies die soort karteerwerk wat nodig is om ’n roetekaart te kan opstel.[5]

Hy is uiteraard nie die enigste teoloog wat ’n oorsig oor teologiese strominge in die NG Kerk gee nie. Ons sou ook kon dink aan John de Gruchy, en sy klassieke karteerwerk van die kerkstryd in Suid-Afrika;[6] of F. E. O’Brien Geldenhuys se uitleg van verskillende strominge in die NG Kerk;[7] of Vincent Brümmer, en sy onlangse karteerwerk van teologie in die NG Kerk;[8] of selfs die NG Kerk se eie kartering van die reis met apartheid, opgestel in opdrag van die Algemene Sinodale Kommissie.[9]

Teologiese karteerwerk is ’n benadering wat talle teoloë – insluitend teoloë soos Serene Jones,[10] Benjamín Valentín,[11] en Denise Ackermann[12] – inspan in ’n oorskou oor die landskap van die Christelike geloof en leer te bied. Teologiese karteerwerk behels egter nie hoofsaaklik ’n poging om ’n nuwe geloofslandskap te ontwikkel nie, maar liewer om ’n roetekaart binne ’n bestaande geloofslandskap uit te werk.[13] Kortom, so ’n roetekaart maak dit moontlik om nuwe reismerkers raak te sien en op nuwe maniere – en nuwe weë – deur bestaande terreine te reis.[14] Teologiese karteerwerk is dus nodig, en belangrik, vir almal wat deur die landskap van geloof op reis is.

Ek is gevra om vandag te praat oor die teologiese (en filosofiese) strominge in die NG Kerk. Ek het lank hieroor gedink, en sou dit op verskeie maniere kon benader. ’n Moontlikheid sou wees om, soortgelyk aan Vincent Brümmer, ’n aantal teologiese aksente of strominge te identifiseer en te beskryf. Ek sou my poging tot ’n soort breë karteerwerk van teologiese strominge in die NG Kerk by diégene kon voeg wat dit alreeds ook gedoen het.

Ek het egter besluit om dit nie te doen nie. In hierdie voordrag spits ek my daarop toe om die enorme kraak in ons geloofslandskap – wat dwarsdeur talle besluite van die NG Kerk loop, en oor talle debatte strek – te probeer uitwys. Deel van ons verantwoordelikheid om ’n roetekaart op te stel is om die foutlyne, die breuklyne, te identifiseer – en nie oor en oor by dieselfde skeur in die landskap in te voeter nie. So, in plaas daarvan om die totale teologiese landskap in ag te neem, gaan ek my toespits op kettery of leerdwaling in die NG Kerk.

Die NG Kerk – vasgevang deur Apartheid?

In sy boek met hierdie titel – Trapped by Apartheid – bied Charles Villa-Vicencio ’n sosioteologiese historiese oorsig oor Engelssprekende kerke, maar beskryf hy ondermeer die nou verband tussen Afrikanerskap en die NG Kerk.[15] Hierdie diepe besorgdheid met die ‘Afrikanervolk’, aan die kant van die Afrikanerkerke, sou lei tot die teologiese regverdiging van Apartheid.[16] Naas ons teologiese verantwoordelikheid is ’n tweede belang staan gemaak, naamlik die belang by Afrikanereenheid en Afrikanernasionalisme.[17]

Niemand kan egter twee here dien nie.

Dit is hierdie pad waarlangs die NG Kerk uiteindelik voor die beskuldiging van kettery sou beland by die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in 1982.[18] By verskeie kritieke oomblikke waar Afrikanerkerke moes kies tussen die evangelie en Afrikanernasionalisme, soos direk na afloop van die Cottesloe Konsultasie in 1960[19] is die keuse vir nasionalisme gemaak – ten koste van die evangelie.[20]

Die konfrontasie rondom Apartheid sou egter onvermydelik wees, aangesien daar sedert die sestigerjare “’n bepaalde konsensus oor dinge soos rassisme, kolonialisme, diskriminasie, skending van menseregte en dergelike meer in die kerk en die wêreld” sou ontstaan, “waaragter nooit meer teruggekeer kan word nie” – skryf Willie Jonker.[21] “En”, skryf hy,[22]

Suid-Afrika en die Afrikaanse taal het die bedenklike eer dat ons ’n begrip gelewer het wat oor die hele wêreld heen bekend geword het as inbegrip van alles wat in hierdie opsig verwerplik is: die begrip “apartheid”.

Tog sou talle teoloë – teoloë wat sommige van julle hier se dosente en kollegas was – in hierdie tyd belangrike bydraes lewer oor die kerk en kerkwees. Dink maar aan Johan Heyns,[23] Willie Jonker,[24] en Jaap Durand. NG Kerk teoloë sou hul doktorale proefskrifte oor die kerk skryf – dink maar aan Flip Theron[25] en Jaap Durand[26] en Willie Jonker[27] – en publieke bydraes lewer oor kerkwees in verskeie toesprake, preke, en populêre publikasies.

Maar nog altyd sou ’n merkbare verskraling in die NG Kerk se kerkbegrip plaasvind, teoloëse bydraes ten spyt. Aan die hart van die kerklike stryd rondom Apartheid lê ’n mistasting van wat ‘kerk’ is. Dit is ook rondom kerkbegrip wat talle debatte sou woed, insluitend of die NG Kerk ’n volkskerk is en kan wees. Ons het begin dink en glo dat ’n kerk die byeenkoms is van mense met dieselfde velkleur, kultuur en taal (en seksualiteit). Ons was tóé alreeds blind vir die ingrypende implikasies wat ’n verskraalde en onjuiste kerkbegrip op ons sou hê.[28]

Trouens, alreeds van die vyftigerjare af sou heelparty NG teoloë – soos Ben Marais in 1952 en Bennie Keet in 1959 – hul teologiese kritiek wat betref die teologiese begronding van Apartheid uitspreek, [29] en waarsku dat Apartheid slegs ‘bitter vrugte’ sal afwerp[30]Hoewel die NG Kerk nie daarop aanspraak gemaak het om ’n volkskerk te wees nie, het die oorlewing van Afrikaneridentiteit en die handhawing van Afrikanermag steeds ’n bepalende rol gespeel[31] – ook uiteindelik in die kerk se diakonaat aan swart gemeenskappe.[32]

Die feit – en maak geen fout nie, dit is ’n voldwonge feit – dat daar altyd teoloë, insluitend NG teoloë, was wat gewaarsku het oor die gevaarlike teologiese onderstrominge in die NG Kerk is belangrik.[33] Dit is noodsaaklik vir ons oorweging van blywende teologiese foutlyne – want dit ontwapen ons verweer dat ons nie geweet het of besef het waarmee ons besig was nie. Daarby sou ons ook talle ander meer onlangse bydraes van teoloë kon voeg – soos Allan Boesak[34] Russel Botman[35]Murray Coetzee en Ernst Conradie,[36] – by wie ons soortgelyke waarskuwings oor teologiese strominge in die NG Kerk vandag sal kan hoor.

Ons sou kon oordeel, vandag, dat die NG Kerk nié (meer) vasgevang is in Apartheid nie. Die NG Kerk het amptelik afstand gedoen van Apartheid, hoewel die Algemene Sinode eers in 1978 erken het dat Apartheid ’n sonde was[37] en eers in 1986 van Apartheid afstand gedoen het. Talle teoloë en susterskerke sou egter oordeel dat Apartheid nie nét ’n sonde is nie, maar óók kettery. Teologies is daar ’n wesenlike verskil tussen sonde en kettery. Sonde beteken dat ons verkeerd was, wetend of onwetend teen ons broers gesondig het; kettery beteken dat ons nie net gesondig het nie, maar die evangelie doelbewus – berekend en strategies – verdraai het in ons pogings om die evangelie in diens van Apartheid te stel.

Dit behoort ons nie verby te gaan dat die brandpunt waarom die teologiese stryd rondom Apartheid gegaan het oor kettery, nie nét sonde nie, gegaan het. Die oortuiging dat Apartheid kettery is – ’n kettery waarvan die NG Kerk vir ’n lang periode bly weier het om afstand te doen, al is dit ook by herhaling uitgewys as kettery – was uiteindelik die breuklyn waarby die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke sou oordeel dat die evangelie op die spel is. Dit is hierdie insig, naamlik dat die NG Kerk geweier het om afstand te doen van haar lieflingkettery, wat vele ander teologiese implikasies sou inhou – ook vir ons vandag. John de Gruchy verduidelik dat die aankondiging van ’n status confessionis, eers by die Lutherse Wêreldfederasie (1977) en toe by die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (1982), ’n duidelike teologiese skuif binne die ekumene sou aandui.[38] Dit sou beteken dat Apartheid nie net meer as immoreel en sondig beskou kon word deur die wêreldwye kerk nie, maar dat Apartheid ook ondubbelsinnig en in die publiek verwerp moes word as leerdwaling.[39]

Die teologiese foutlyn sou dus nie sondermeer ’n etiese foutlyn wees nie, maar ook ’n leerstellige foutlyn. Apartheid is geweeg en te lig bevind. Kerklike konsilies het oor die geskiedenis heen nie gespeel met leerdwaling nie, want leerdwaling is gevaarlik. Leerdwaling kan nie reg getimmer word nie. Leerdwaling kan, en kon nog altyd, nét verwerp word deur die kerk. Daar kan geen kompromie aangegaan word met kettery nie, want kettery ondermyn die Christelike geloof en die goeie nuus van die evangelie.[40] Dit beteken egter nie dat daar nié hewige kritiese reaksie ontlok is met die gebruik van die begrip ‘kettery’ om Apartheid te beskryf nie, skryf John de Gruchy.[41] Die beswaar hierteen was dat politieke sisteme immoreel, onregverdig, en korrup sou kon wees – maar nie noodwendig ketters nie.[42]

Tog is juis hierdie teologiese term versigtig gekies en omsigtig gebruik, verduidelik hy.[43] Kettery is juis hoe Apartheid beskryf moes word – omdat die teologiese regverdiging daarvan, die teologiese pogings om daaraan Bybelse sanksionering en geloofwaardigheid te gee, en die implementering daarvan in die kerk – teologies veel ingrypender was as slegs die (politieke) beleid van Apartheid.[44]

Dit is dus belangrik om te kan onderskei dat die NG Kerk se verstrengeldheid in Apartheid nie alleenlik die pleeg van sonde was nie, maar óók die verharding in kettery. Die aanklag dat die NG Kerk haar skuldig maak aan leerdwaling verskil in graad maar ook ten diepste in teologiese logika ingrypend van die beskuldiging van sonde. In die gereformeerde tradisie is sonde alledaags, onontkoomlik en onvermydelik; álmal is sondig, en geeneen se sonde is groter as ’n ander nie. Sonde bedreig egter nie die evangelie nie.

Die evangelie is goeie nuus vir sondaars. Die aanklag dat Apartheid sonde is báie ernstig, maar nie juis skokkend nie. Die aanklag dat Apartheid kettery is verander egter alles – landskap, kartering, roetekaart. Alles.

Natuurlike teologie – lieflingkettery in die NG Kerk?

Die allerskerpste wat van die kant van die ekumeniese Christenheid teenoor ’n kerk uitgespreek kan word, is teenoor die Ned. Geref. Kerk uitgespreek: Die woord “kettery” het geval. Of ons nou kan verstaan waarom dit aan ons adres gerig word, en of ons dit nié kan verstaan nie, die feit daarvan kan nie ongedaan gemaak word nie. En hierdie feit bring ons teen wil en dank op ’n breuklyn: Ons sal nooit weer dieselfde kan wees nie, want daar gaan oor ons ’n oordeel heen met betrekking waartoe ons voor God en mens rekenskap verskuldig is. Ons is die “broeder” van Matteus 18 aan wie gesê word dat hy gesondig het. Twee en drie is al saamgeneem om die boodskap aan ons oor te dra, sodat in die mond van soveel getuies elke woord kan vasstaan. Dit stel ons voor ’n geweldige beslissing. Het ons alleen gelyk? Of moet ons ons bekeer? Die beslissing wat ons hieroor moet neem, stel ons op die breuklyn. Na watter kant ons ook besluit, ons sal nooit weer dieselfde wees nie.

Hier is Willie Jonker aan die woord.[45] Die NG Kerk kan in die lig hiervan onmoontlik nog dieselfde bly, argumenteer hy, want ons staan op die breuklyn – en hoe ons reageer op hierdie breuklyn, watter beslissings en besluite geneem word in reaksie op die breuklyn, hoe ons vanuit hierdie plek op die breuklyn wegbeweeg, sal ons ongetwyfeld onherroeplik verander. Ons sal, in sy woorde, “nooit weer dieselfde kan wees nie.[46] Dit is pynlik, en moeilik, en uitdagend om ’n kerk op die breuklyn te wees – maar dit is selfs pynliker wanneer dit die mense naby jou, binne dieselfde huis, is wat jou beskuldig van kettery:

Dit is egter nie net die wêreldkerk wat ons konfronteer met die vraag of ons teologies en kerklik op die regte weg is nie. Dit gebeur – en dit is vir ons die pynlikste – baie nader aan huis, en wel van die kant van die kerke van die Ned. Geref. familie wat uit die sendingwerk voortgekom het.[47]

Die worsteling met die geskiedenis is ook aanwesig by die jong teoloog en predikant Willie Jonker, gedurende die sestigerjare. Jaap Durand beskryf ’n reeks skokervaringe wat swaar op Willie Jonker sou weeg – en veral die deurslaggewende ervaring dat

jou eie kerk waarvoor jy lief is, hom op ’n dwaalspoor kan bevind omdat sy vereensewiging met die politieke aspirasies van die mense wat aan hom behoort hom daartoe bring om sy eie gedagtes en opvattinge te handhaaf dwars teen die Woord van God in, terwyl met groot gebaar die gesag van hierdie Woord uitgespreek word; dat jou kerk langs hierdie weg groot en magtig en invloedryk kan word, maar in die gevaar staan om Christus van sy troon te stoot; dat jou kerk die waarskuwende en profetiese stemme wat in sy midde opgaan met onverbiddelikheid die swye kan probeer oplê; dat só die kerk die kerk kan vervolg.[48]

Dit is ’n aangrypende beskrywing, maar dit bring ons nog nie by die hart van die foutlyn – die kettery of leerdwaling waarvan die NG Kerk skuldig bevind is – nie. So wat wás die begronding van die teologiese besware teen Apartheid? Wat is die teologiese fout met natuurlike teologie?

As a theological student of Professor Jaap Durand in the year 1978, I was challenged, together with the rest of the class, to come to a theological evaluation of the problem of apartheid. He refused to accept our usual legal (“apartheid is a crime against humanity”), political (“apartheid is undemocratic”), and economic (“apartheid is an exploitation of human and natural resources) condemnations of apartheid… Eventually our class arrived at the idea that apartheid takes its point of departure in the irreconcilability of people. That represented the theological centre of the problem of Apartheid.

So beskryf Russel Botman, voormalige rektor van die Universiteit Stellenbosch, hoe daar in ’n klasgesprek met teologiese studente by UWK geworstel is, en ontdek is, wat die teologiese foutlyn binne natuurlike teologie in Apartheid Suid-Afrika – of Apartheidsteologie – is.[49] Die basiese teologiese vertrekpunt van Apartheidsteologie was foutief: naamlik, die aanname dat diverse mense ten diepste onversoenbaar is.[50] Jaap Durand, die dosent wat daardie klas behartig het en die vraag aan die klas gestel het, beskryf hoe hy self tot die insig gekom het dat hier ’n teologiese foutlyn lê:[51]

[O]p ’n middag net voor ek saam met dr Flip Theron en nog twee ander gaan tennis speel het, is dit asof dit my die eerste keer werklik tref: Apartheid is in stryd met die versoening omdat die uitgangspunt daarvan is dat mense onversoenbaar is. Daarom moet hulle uitmekaar gehou word, deur wetgewing as dit moet. In die “apart maar gelyk” van die idealistiese apologete vir apartheid, het die klem uitsluitlik op die uiteindelike (onbereikbare) doelwit van gelykheid geval. Die gedagte dat daar in die “apart” self ’n fundamentele fout opgesluit lê vir hulle wat die versoening in Christus bely, het nooit by hulle opgekom nie.[52]

Hierdie standpunt sou aanvaar word by die sinodesitting van die NG Sendingkerk in 1978; dit sou lei tot die aankondiging van ’n status confessionis in Apartheid Suid-Afrika; en dit sou uiteindelik uitloop op die geboorte van die Belharbelydenis.[53] Kortom, hierdie teologiese insig sou die hart vorm van Suid-Afrikaanse kerke en die ekumeniese beweging se verwerping van die teologiese regverdiging van Apartheid as kettery en afgodery.[54]

Apartheid is ’n quasi-soteriologie, argumenteer Murray Coetzee en Ernst Conradie.[55] Dit het dus nie alleenlik as ’n ideologie gefunksioneer nie, maar het goeie nuus verkondig – ’n sosiaal-politieke verlossing vir die Afrikanervolk.[56] Dit is vir ons nou dalk maklik om op die foutlyn af te stap, maar die grootste en mees gevaarlike ketterye in die kerk se geskiedenis sou juis aantreklik wees – gewild, aanloklik, goeie nuus. Dit is hierdie kenmerk wat van kettery juis so ontsettend verwoestend en riskant maak: dit is nie verlossingslere wat nié met die kerk resoneer nie. Kettery is altyd ’n versoeking vir die kerk. Die kerk van die geskiedenis sou telkens voor historiese oomblikke – oomblikke van waarheid – gestel word waarin onevangeliese variante op die goeie nuus verwerp moes word.

Dit beteken dat verlossingsbekouing die lakmoestoets vir leerdwaling is. Die toets vir kettery is soteriologies. Die deurslaggewende saak sou daarom ook by Willie Jonker gaan om die hart van die evangelie.[57] Dirkie Smit verduidelik dat Willie Jonker dit teen “wat hy beskou het as natuurlike teologie” sou hê.[58] So wat is natuurlike teologie?[59]

Natuurlike teologie is teologie wat oor God dink en praat uit ander bronne as die geopenbaarde waarheid in Christus, die evangelie, die Skrifte. Deur die jare het hy, volgens sy eie besef, vermoed ek – sy teologie beoefen teen wisselende fronte, teen talle gestaltes waarin die natuurlike teologie na vore gekom het. Daar was die ervaringsteologie van die piëtistiese kerklike kringe waarin hy geleef het; die liberale kerkbeskouinge in Ned. Geref. kringe wat die kerk as ’n menslike vereniging beskou het wat gevolglik op rassegrondslag gereël kon word; die volksteologie wat die skepping en die geskiedenis as normatiewe Goddelike ordeninge gelees het wat aan die heil gestalte gee; die algemeen-menslike godsdienstigheid van ’n burgerlike godsdiens waarin volksentimente die kerk oorwoeker het; ’n kerklike lewe wat die belydenisgrondslag verruil vir ’n ideologiese; en alles gedek deur ’n vrome beroep op die Bybel as “opslagplek van waarhede”.

Hoe ons die goeie nuus van die evangelie verstaan bepaal hoe ons kettery en leerdwaling beoordeel. Natuurlike teologie is ’n lieflingkettery in die NG Kerk; ons hou daarvan om in moeilike debatte terug te gryp na skeppingsordeninge: wit en swart, man en vrou, gay en straight, jonk en oud. Praat ons anders as natuurteologies in die debat oor selfdegeslagverhoudings? Oor gestremdheid? Oor gender? Oor vlugtelinge? Dit maak my benoud as ons dieselfde ou apartheidsteologiese argumente inspan in die debatte van ons tyd. Dit beteken ons weet nie eens, of dalk gee ons net nie om nie, dat Apartheidsteologie kettery was. Die teologiese regverdiging was nie maar net ’n per ongelukse misverstand tussen ’n paar teoloë nie. Ons sou dit kon noem ‘kerk-kaping’[60]‘n kaping van die NG Kerk deur ’n verlossingsverstaan wat indruis teen die hart van die evangelie.

‘n Roetekaart? Genade beteken géén diskriminasie

So hier is ons nou, op soek na ’n roetekaart. Wéér sou ek meer oorsigtelik kon praat; ons sou verskeie opsies kon oorweeg vir volgende treë in die debatte van ons tyd; ons sou wéér kon praat oor Skrifgesag en Bybelse hermeneutiek; en ons sou kon praat oor ons kerkbegrip, wat nou weer op die tafel is met die entoesiasme vir sogenaamd ‘missionale kerkwees’. Ek het hieroor ook lank nagedink, en ek het besluit dat ek reguit gaan praat met julle.

Die diepste identiteit van die kerk is dat ons begenadig is. Flip Theron het meer as 20 jaar gelede al gewaarsku dat ons in die NG Kerk nie genoeg aandag spandeer aan “die implikasies van die geloofsartikel van die regverdiging deur die geloof alleen” nie.[61] Soos hy tereg noem is die regverdigingsleer volgens die Reformasie “die leerstuk waarby die kerk staan of val”.[62] Kortom, die hart van die evangelie is genade.[63] Ons behoort egter die teologiese logika hier nie mis te verstaan nie (en dit sou misverstaan kon word, sê Flip Theron):[64]

Vir die reformatore was die waarheid waarby die kerk staan of val, die leerstuk van die regverdiging deur die geloof alleen. Daarmee het hulle nie bedoel dat ons gelóóf ons red nie, maar wel dat alleen God se genade in Christus ons bestaan regverdig voor God… Die geloof kan Christus en sy genade alleen maar ontvang, sonder dat die mens self (ook deur sy geloof) enige bydrae lewer.

Dit kom daarom niemand toe om mense op grond van velkleur, gender, seksualiteit, ouderdom of enige ander kenmerk uit die kerk, die sakramente, en die ampte te sluit nie. Flip Theron stel dit selfs skerper: “’n persoon wat uit ’n kerk uitstap omdat ’n gekleurde (sic) teenwoordig is… [stap uit] God se genade”.[65] Dit die nulpunt van die genade, sou hy in ’n preek verduidelik – naamlik, dat ons troos daarin lê dat ons élkeen, sonder uitsondering, begenadig is en daarom hoort tot die gemeenskap van begenadigdes.[66] Die kerk, kerkwees, wentel om die logika van die nulpunt van genade.

In sy boek Afskeid van Apartheid beskryf die filosoof Willie Esterhuyse ‘diskriminasie’ as ’n “morele begrip” wat op onregmatige benadeling dui.[67] Diskriminasie is nie en kan nóóit die basis vir ons samekoms in die kerk wees nie. Flip Theron spel in 1986 al die implikasies van so ’n verwronge kerkbegrip uit, in reaksie op die ketterse natuurteologiese argumente van sý dag en kerklike diskriminasie op grond van ras:[68]

[Jy sou eweneens] kon vra waarom daar nie uit eerbiediging vir die skeppingsmatige verskeidenheid ’n eie kerklike instituut vir mans en vroue en dalk selfs kinders geskep moet word nie.

Ons sou in ons dag kon byvoeg seksuele oriëntasie. Dit is daarom nie net vreemd nie, maar ook teologies uiters riskant om ’n saak uit te maak vir ’n gekwalifiseerde vorm van kerklike diskriminasie. Ons diskrimineer byvoorbeeld deur addisionele voorwaardes, soos selibaatskap, aan gay persone te stel vir toegang tot (een van) die ampte. Al mag daar ook ánder argumente daarvoor wees, is daar geen goeie teologiese argument vir ‘billike’ diskriminasie nie. Diskriminasie van énige vorm – hetsy op grond van ras, gender, of seksuele oriëntasie – is gevaarlik in die NG Kerk. As ons nie leer uit ons verlede nie sal ons die foute van ons verlede bly herhaal. Dan sal die geskiedenis ons weeg, en te lig bevind.

Slot

Die ‘beste termometer’ vir die klimaat waarin ons lewe, skryf Willie Jonker, is kuns.[69] Indien ons ons kunstenaars (en veral letterkundiges, vir Jonker) ernstig opneem, leer ken ons terselftertyd die strominge waarin ons ons binne ’n bepaalde tydswrig bevind. Ons hoor daarin iets van die gees van ons tyd. Dalk kan ons ook vir mekaar sê wat ons as NG Kerk wás, en nooit weer moet wees – soos deur Adam Small (in ’n gedig-uittreksel) verwoord:[70]

Lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas

‘n sigaretjie en ’n kannetjie Oem Tas

en dis all right pêllie dis all right

ons kannie worry nie…

lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas

wat daarvan

wat daarvan

wat maak dit saak

soes die Engelsman sê it cuts no ice

die Here het gaskommel

en die dice het verkeerd gaval vi’ ons

daai’s maar al

Ons weet dalk nie hoe die roete wat voor ons lê, lyk nie. Dalk loop die pad vir die NG Kerk uiteindelik dood. Maar ons weet wél hoe die roete nie kán lyk, nie mág lyk nie. Ons weet wat ons nie óóit weer mag doen nie. Ons ken van die weë wat vir ons gesluit is op die roetekaart. Genade laat géén ruimte vir énige diskriminasie nie.

Voetnotas

[1] Lesing aangebied by die Bloemfontein Lentekonferensie (2 – 4 September 2018). Hierdie lesing word opgevolg deur ’n lesing wat by die Pretoria Lentekonferensie (18 – 20 September 2018) aangebied sal word, met die voorlopige titel: “Teologie vir die komende generasie.”

[2] Ingrid Jonker, “Met hulle is ek”, Versamelde gedigte (Kaapstad: Human & Rousseau, 2016), 165.

[3] Jaap Durand, “Willie Jonker en die Nederduitse Gereformeerde Kerk,” in Koninkryk, Kerk en Kosmos: Huldigingsbundel ter ere van Prof W. D. Jonker, ed. P. F. Theron & J. Kinghorn (Bloemfontein: Pro-Christo Publikasies, 1989), 64 – 73.

[4] D. J. Louw (ed.), Op Die Breuklyn: ’n Feesbundel saamgestel ter herdenking van die 125-jarige bestaan van die Teologiese Seminarium Stellenbosch. Pretoria: NG Kerk-Uitgewers, 1985.

[5] Willie Jonker, “Op die breuklyn,” in Op Die Breuklyn, ed. D. J. Louw (Pretoria: NG Kerk-Uitgewers, 1985), 5 – 19.

[6] John de Gruchy & Steve de Gruchy, The Church Struggle in South Africa (25th Anniversary Edition). Minneapolis, Minnesota: Fortress Press, 2005. Sien ook die versameling opstelle met die titel Reformed Churches in South Africa and the Struggle for Justice: Remembering 1960 – 1990, ed. Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel & Robert R. Vosloo (Stellenbosch: SUN Press, 2013).

[7] F. E. O’Brien Geldenhuys, In die Stroomversnellings: Vyftig jaar van die NG Kerk. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 1982).

[8] Vincent Brümmer, Vroom of Regsinnig? Teologie in die NG Kerk. Wellington: Bybel-Media, 2013. Hy maak ’n onderskeid tussen wat hy noem ‘mystici’ en ‘konfessionaliste’, hoewel hy ook daarop wys dat die onderskeid tussen hierdie twee strominge implisiet is liewer as eksplisiet, omdat “baie gelowiges (en teoloë) in die NG Kerk in mindere of meerdere mate intuïtief probeer het om albei elemente in hulle geloofsbelewing te verenig, ook al lê hulle die aksente verskillend.” Tog is die twee tendense wel aanwesig, voer hy aan, in reaksie op “die stryd rondom prof Johannes du Plessis in die 1920’s.” Hy voeg dan egter ’n belangrike voetnoot by hierdie opmerkings: “In die tweede helfte van die twintigste eeu het daar ’n derde kontroverse die teologie in die NG Kerk bepaal: die debat oor apartheid. Ek dink dat die onderskeiding tussen konfessionaliste en mistici ook hier as subteks ’n rol gespeel het in die manier waarop teoloë geredeneer het: Baie konfessionaliste was geneig om apartheid as ’n politieke teorie teologies te verdedig, terwyl baie mystici geneig was om apartheid af te wys as in stryd met ’n lewe in die liefde van God.” (Brümmer, Vroom of Regsinnig?, 15 – 17; sien veral voetnoot 4)

[9] Frits Gaum (ed.), Die verhaal van die Ned. Geref. Kerk se Reis Met Apartheid: 1960 – 1994, ’n getuienis en ’n belydenis. Wellington: Boland-Drukpers, 1997. Sien ook die versameling opstelle oor Die NG Kerk en Apartheid, ed. Johann Kinghorn. Johannesburg: Macmillan, 1986.

[10] L. Serene Jones, Feminist Theory and Christian Theology: Theological Cartographies of Grace (Guides to Theological Inquiry Series). Minneapolis, Minnesota: Fortress Press, 2000.

[11] Benjamín Valentín, Theological Cartographies: Mapping the Encounter with God, Humanity, and Christ. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox Press, 2015.

[12] Denise M. Ackermann, After the Locusts: Letters From A Landscape of Faith. Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdmans Publishing Company, 2003.

[13] Jones, Feminist Theory, 19.

[14] Jones, Feminist Theory, 19.

[15] Charles Villa-Vicencio, Trapped in Apartheid: A Socio-Theological History of the English-Speaking Churches (Maryknoll, New York: 1988), 23.

[16] Villa-Vicencio, Trapped in Apartheid, 23; De Gruchy & De Gruchy, The Church Struggle, 67.

[17] Villa-Vicencio, Trapped in Apartheid, 23 – 24; De Gruchy & De Gruchy, The Church Struggle, 74 – 75.

[18] Villa-Vicencio, Trapped in Apartheid, 23; De Gruchy & De Gruchy, The Church Struggle,

[19] De Gruchy & De Gruchy, The Church Struggle, 60 – 67. John de Gruchy beskryf die reaksie op die Cottesloe Verklaring soos volg: “The response was dramatic. It came in the first instance, not from the synods, but from Prime Minister Verwoerd himself. He expressed his personal grave displeasure with the actions of the NGK delegation… In due course, the Cape and Transvaal Synods fell into line, thereby rejecting the role played by their own elected and distinguished representatives… The NGK also decided to withdraw from membership in the WCC – there was no need for them to be expelled… How, then, are we to assess the significance of Cottesloe? The Afrikaner author W. A. de Klerk puts it dramatically: ‘The ghost of Cottesloe would return to haunt the Afrikaner’s way toward theologizing. There was evidence that, in spite of the silencing, recantation, bowing of heads and deep cogitation, something remained. The Church could never quite be the same again’.” (ibid.)

[20] Villa-Vicencio, Trapped in Apartheid, 24.

[21] Jonker, “Op die breuklyn”, 10.

[22] Jonker, “Op die breuklyn”, 10.

[23] Johan Heyns, Die Kerk (Pretoria: NG Kerkboekhandel, 1977). Hierdie boek is gebasseer op ’n vroeëre weergawe, verduidelik Heyns, met die titel Die Kerk as diens aan die Koninkryk

[24] Willie Jonker, Die relevansie van die kerk: Teologiese reaksies op die vraag na die betekenis van die kerk in die wêreld (met aanvullende perspektiewe deur Nico Koopman, Christo Lombard en Piet Naudé; voorwoord deur Dirkie Smit) (Wellington: Bybel-Media, 2008).

[25] Philippus Francois Theron, Die Ekklesia as Kosmies-eskatologiese teken – Die Eenheid van die Kerk as “Profesie” van die Eskatologiese Vrede, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Publikasiereeks nr. 66 (Pretoria: NG Kerkboekhandel, 1978). Die proefskrif is voltooi by die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria, onder die studieleiding van Johan Heyns.

[26] Jaap Durand, Una Sancta Catholica in Sendingperspektief (Amsterdam: W ten Have, 1961). Die proefskrif is voltooi by die Vrije Universiteit van Amsterdam, onder die studieleiding van Herman Bavinck.

[27] Willie D. Jonker, Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms Katolieke Teologie (Kampen: Kok, 1955). Die proefskrif is voltooi by die Vrije Universiteit van Amsterdam, onder die studieleiding van Gerrit Berkouwer.

[28] Durand, “Willie Jonker”, 66 – 67. Jaap Durand skryf oor die ontnugtering van hierdie besef, dat die NG Kerk se kerkbegrip so ontsettend arm geword het, in sy bydrae oor Willie Jonker se nalatenskap in die NG Kerk: “Die volkskerk! Die NGK as bastion van die Afrikaner! Soos selde in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis het die dekade van die sestigers die implikasies van so ’n identifikasie van kerk en volksideale hulle só duidelik aangemeld, juis toe die Afrikaneraspirasies en politieke doelstellinge besig was om hulle toppunt te bereik… [En v]ir Willie Jonker en ’n paar jong teoloë saam met hom, daarenteen, het dit die begin van ’n kruisweg beteken… [en sou] hy voortdurend pleit vir ’n juiste kerkbegrip.” (ibid.)

[29] De Gruchy & De Gruchy, The Church Struggle, 79 – 82.

[30] De Gruchy & De Gruchy, The Church Struggle, 79.

[31] De Gruchy & De Gruchy, The Church Struggle, 74 – 75.

[32] De Gruchy & De Gruchy, The Church Struggle, 73. John de Gruchy skryf soos volg hieroor: “Overseas visitors to South Africa often expressed amazement at the extent of the NGK’s ministry to blacks. Indeed, quite apart from the establishing of black churches, the NGK developed a far-reaching diaconal programme for the black communities throughout the country. This deserves greater recognition that it has received. The NGK also worked for a more humane implementation of government policy. Without detracting from this, however, we discern that there was a strong tendency to use this ministry to justify support of the system. When this was done, it detracted from the ministry itself.” (ibid.)

[33] Sien byvoorbeeld die versameling opstelle oor presies hierdie tema: Apartheid is a Heresy, ed. John de Gruchy & Charles Villa-Vicencio (Cape Town: David Phillip, 1983).

[34] Allan A. Boesak, “Kan die NG Kerk nog ietsvir Suid-Afrika beteken?” Verbum et Ecclesia 29:1 (2008), 32 – 41.

[35] H Russel Botman, “Oor eenheid, geregtigheid en versoening by Jaap Durand”, in Discerning God’s Justice in Church, Society and Academy: Festschrift for Jaap Durand, ed. Ernst Conradie & Christo Lombard (Stellenbosch: SUN Press, 2009), 51 – 58.

[36] Murray Coetzee & Ernst M. Conradie, “Apartheid as Quasi-Soteriology: The Remaining Lure and Threat.” Journal of Theology for Southern Africa 138 (November 2010), 112 – 123. Sien ook die doktorale proefskrif deur Murray Coetzee, voltooi onder die studieleiding van Ernst Conradie by die Universiteit van Wes-Kaapland, met die titel Die ‘Kritiese Stem’ teen Apartheidsteologie in die Ned. Geref. Kerk (1905 – 1974): ’n Analise van die Bydraes van Ben Marais en Beyers Naudé (ongepubliseerd, 2010).

[37] Jonker, “Op die breuklyn”, 11.

[38] De Gruchy, The Church Struggle, 187.

[39] De Gruchy, The Church Struggle, 187.

[40] De Gruchy, The Church Struggle, 187.

[41] De Gruchy, The Church Struggle, 188.

[42] De Gruchy, The Church Struggle, 188.

[43] De Gruchy, The Church Struggle, 188.

[44] De Gruchy, The Church Struggle, 188.

[45] Jonker, “Op die breuklyn”, 10.

[46] Jonker, “Op die breuklyn, 11.

[47] Jonker, “Op die breuklyn”, 11.

[48] Durand, “Willie Jonker”,[66] Durand wys daarop dat hierdie beskrywing nie uit die lug gegryp is nie, maar dat dieselfde uitdrukkings deur Willie Jonker gebruik word in ’n bydrae in 1966 vir die studenteblad Polumnia, oor “die kerk in die branding”. Hy verduidelik verder: “Politiek en die NGK word hierin nie by namegenoem nie, selfs nie by implikasie nie. Maar die jaar is 1966 en die stryd binne die NGK rondom Cottesloe, die Christelike Instituut en die Broederbond woed op sy felste. Kan hy oor die kerk in die branding skryf as hierdie dinge nie vir hom baie naby aan die oppervlak lê nie?” (ibid.)

[49] H. Russel Botman, “Barmen to Belhar: A contemporary confessing journey.” Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 47(1&2), 240 – 249. Sien veral p. 240.

[50] H. Russel Botman, “Narrative Challenges in a Situation of Transition”, in To Remember and to Heal: Theological and Psychological Reflections on Truth and Reconciliation, ed. H. Russel Botman & Randall M. Petersen (Cape Town: Human & Rousseau, 1996), 37 – 44. Sien veral p. 40.

[51] Jaap Durand, Jaap Durand praat oor eenheid, versoening en geregtigheid, ed. Danie du Toit (Wellington: Bybelkor, 2014). Sien ook Jaap Durand, Protesstem: Oomblikke van herinnering (Wellington: Bybel-Media, 2016).

[52] Durand, Jaap Durand praat, 29.

[53] Botman, “Narrative Challenges”, 40 – 41.

[54] H. Russel Botman, “Covenantal Anthropology: Integrating Three Contemporary Discourses of Human Dignity,” in God and Human Dignity. ed. R. Kendall Soulen & Linda Woodhead (Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdmans Publishing Company. 2006), 72 – 85. Sien veral p. 80.

[55] Coetzee & Conradie, “Apartheid as Quasi-Soteriology”, 117.

[56] Coetzee & Conradie, “Apartheid as Quasi-Soteriology”, 117.

[57] Dirkie Smit, “’Om saam met al die heiliges Christus te ken…’ Persoonlike indrukke van ’n ekumeniese waarheidsoeke”, in Koninkryk, Kerk en Kosmos: Huldigingsbundel ter ere van Prof W. D. Jonker, ed. P. F. Theron & J. Kinghorn (Bloemfontein: Pro-Christo Publikasies, 1989), 11 – 31.

[58] Smit, “Om saam met al die heiliges”, 17.

[59] Smit, “Om saam met al die heiliges”, 17.

[60] Die begrip ‘kerkkaping’ is deur Fanie Snyman gemunt, en ek gee graag erkenning aan hom daarvoor. Hy is ’n spreker by die Pretoria Lentekonferensie (18 – 20 September 2018), waar sy tema juis hieroor gaan: “Is die NG Kerk ’n slagoffer van kerk-kaping? Indien wel, wat nou?”

[61] Flip Theron, “Kerklike eenheid en natuurlike verskeidenheid”, in Die NG Kerk en Apartheid, ed. Johann Kinghorn (Johannesburg: Macmillan, 1986), 194 – 210.

[62] Theron, “Kerklike eenheid”, 195.

[63] Theron, “Kerklike eenheid”, 195.

[64] Theron, “Kerklike eenheid”, 196.

[65] Theron, “Kerklike eenheid”, 198.

[66] Flip Theron, “Die genade van die nulpunt,” in Vreemde Geregtigheid: Oor die regverdiging uit genade alleen, ed. Willie Jonker & Flip Theron (Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers, 1983), 16 – 21.

[67] Willie Esterhuyse, Afskeid van Apartheid: Opstelle oor Rassediskriminasie (Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 1979), 7 – 8. Dit is die moeite werd om die hele afdeling oor die begrip ‘diskriminasie’ in hierdie verband te lees: “Die term ‘diskrimineer’ kan, afhangende van die verband waarin dit gebruik word, verskillende betekenisvariasies aanneem. Hoewel dit nie gebruiklik is om die term op dié wyse in Afrikaans te gebruik nie, kan dit as ’n wisselterm vir ‘onderskei’ of ‘differensieer’ aangewend word. So kan byvoorbeeld van iemand gesê word: ‘Hy is in staat om tussen goeie en swak leesstof te diskrimineer’. Wanneer die term só gebruik word, is die bedoeling nie om ’n gevoelswaarde uit te druk of ’n bepaalde morele waardering te gee nie. Die bedoeling is alleen om ’n bepaalde (positiewe) oordeelsvermoë van die persoon te konstateer. Meer algemeen in Afrikaans is die negatiewe gebruik van die term. Die volgende voorbeeld sal illustreer wat bedoel word: ‘Die dosent diskrimineer in sy puntetoekenning teen vroulike studente’. Hier word die begrip ‘diskrimineer’ gebruik om aan te dui dat bepaalde mense, in hierdie geval vroulike studente, ten onregte benadeel word. Implisiet in hierdie gebruik is ook die gedagte dat ander, ten koste van die benadeelde, bevoordeel word. Gaan ons dieper op bogenoemde voorbeeld in, word een belangrike aspek van diskriminasie besonder duidelik. Die puntetoekenning van die dosent is naamlik diskriminerend omdat die kriterium wat hy gebruik om die punte te bepaal, nie ter sake is vir dit waaroor dit gaan nie. Iemand se geslag is immers irrelevant by die bepaling van die standaard van ’n eksamenvraestel. In dié opsig word diskriminasie altyd gekenmerk deur die ontoepaslikheid of irrelevansie van die kriteria vir die saak waaroor dit gaan. So gesien, is die term ‘diskriminasie’ ’n morele begrip wat ’n bepaalde stand van sake of praktyk as negatief en moreel onregverdigbaar beoordeel.” (ibid.)

[68] Theron, “Kerklike eenheid”, 205.

[69] Willie Jonker, “Op die breuklyn,” in Op Die Breuklyn, ed. D. J. Louw (Pretoria: NG Kerk-Uitgewers, 1985),

[70] Adam Small, “Die Here het gaskommel”, in Kô lat ons sing: ’n Keur uit die Gedigte van Adam Small, ed. Steward van Wyk. (Kwela Boeke, 2011), pp. 33 – 34. My erkenning aan Dirkie Smit, wie hierdie gedig in sy Warfield Lesings by Princeton Theological Seminarium aangehaal het. Die gedig is (soos ek die lesing onthou) gebruik as ’n illustrasie van hoe verwronge die verkiesingsleer in (Apartheid) Suid-Afrika geword het, ten einde selfs rassediskriminasie te regverdig. Die lesings is beskikbaar op Soundcloud, en kan hier na geluister word: https://soundcloud.com/princeton-seminary/sets/2018-annie-kinkead-warfield-lectures.

2 thoughts on “Op die foutlyn – Teologiese strominge in die NG Kerk”

  1. Wat pas die progay kant beter as hierdie siende blinde teoloë wat beslis nie geleer het nie soos sy in haar slot paragraaf ook betoog oor apartheid en homoseks.
    Watter enkele Skrifteks buite die soenverdienste van Christus hef God se woede oor enige sonde op, veral seksuele dade buite die Huwelik? Nie een wat duidelik oortuigend is nie. Vae en oorkoepelende tekse word aangehaal, maar onthou, die Skrif is mos oningeligte mense se verdwaalde woorde van primitiewe kulture oor God. Dit klink my apartheid was ’n kleintjie teenoor waarmee hulle nou besig is. Geen wonder sy huiwer om daaroor te praat nie. Snaaks die dogterkerke het juis uit die vrug van Evangelie verkondiging in daardie tyd ontstaan en gou groter as die NGK geword. Ek kom as sendelingskind uit daardie tyd waarin ons in liefde die ware onverdunde evangelie uitgedra het. Nou flenter die VGK ook agter die NGK dwalinge aan met talle leraars vakatures en die VGK word al kleiner.
    Dis die dwaling wat Willie Jonker so duidelik in die kol raakgesien het.
    En talle van ons sien vandag die NGK se wegdwaal ook klinkklaar genotuleer in verslae aan die sinodes ook vanuit die buite die Bybel motivering, vanuit sekulêre bronne. Die belydenisskrifte opsy gegooi. Soos NGB art 1 tot 7.
    Sy haal hom nogal aan oor sekulêre bronne en skiet haarself in die voet deur haar buite die Bybel lang toespraak van veroordelings. Hulle gebruik nog erger buite die Skrif motiverings vir ontsondiging van iets wat ondubbelsinnig deur God verafsku word van Genesis tot Openbaring 22:15.
    Is sy nie voor in die koor met vandag se Rom 1:16-32 dwalings en gevolge daarvan nie?
    Willie Jonker volgens haar:
    “Natuurlike teologie is teologie wat oor God dink en praat uit ander bronne as die geopenbaarde waarheid in Christus, die evangelie, die Skrifte.”

  2. Innig dankie Daniel vir al die navorsing – – EN veral die skakels hierbo in die eerste blokkie, wat nog vele inligting oor elkeen van die genoemdes in die het. ’n mens hoef net te kliek op die name of artikels en ’n weelde van inligting word beskikbaar gestel! Jy is ’n ster! Nogmaals dankie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui