Opmerkings oor die uitverkiesingsleer en die Dordtse leerreëls

Kyk ook:

alt Vir nog artikels deur Jan Louw, kyk Wie is Jan Louw?.

Ek wil daarop wys dat die gesprek oor die uitverkiesingsleer gaan oor die RAAD VAN GOD. Die “Raad van God” is ’n uitdrukking wat ons in die Bybel kry. Die Griekse woord “boule” word gebruik om ’n besluit, ’n resolusie of ’n plan aan te dui. Ek het die volgende plekke gekry waar “boule” in die NT in verband met hierdie heilige plan van God gebruik word (1933 vertaling):

Luk 7:30 Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.

Hand 2:23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;

Hand 4:28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.

Hand 13:36 Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien,

Hand 20:27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.

Ef 1:11 in Hom in wie ons ook ’n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

Heb 6:17 Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ’n eed gewaarborg;

As ons praat van die Raad van God moet dit ons tot ootmoed stem. Paulus het sy bekende ode op die ondeurgrondelikheid van God se oordele in Rom 11:33-36 geskryf, wat bevestig dat dit heilige grond vir ons sterflinge is.

DAAR IS TWEE LYNE IN GOD SE OPTREDE WAT ONS NIE MET ONS VERSTAND KAN PEIL NIE

1. God weet vooruit, Hy besluit vooruit en Hy kies vooruit

Dit is nie nodig om te veel voorbeelde hiervan te gee nie, want daar is so baie. Niemand onder ons sal seker wil voorgee dat daar iets is wat God nie vooruit weet of geweet het nie? (Jes 45:21 Stel julle saak en bring julle bewyse, beraadslaag gerus met mekaar daaroor. Wie het wat nou gebeur, lankal aangekondig? Wie het al vantevore gesê dit sal gebeur? Is dit nie Ek, die Here, nie?)

Dit is ook so dat God mense kies. Hy het Isak en nie Ismael nie, gekies om sy volk mee te begin. God het voor Jakob en Esau se geboorte bepaal dat die oudste die jongste sal dien (Gen 25:23). Die wat tot geloof kom, kom tot geloof omdat hulle deur God gekies is:

  • Hand 13:48 : Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword;
  • 1 Pet 1:1 : Van Petrus, ’n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. 2 Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
  • Ef 1:4 : So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

Dit is die een kant.

2. God tree aan die ander kant op asof dit ons is wat die geskiedenis skryf en asof Hy maar net reageer op ons optrede:

Voorbeelde:

  • God het op ’n stadium bedroef geword dat hy die mense gemaak het (Gen 5:6).
  • Abraham onderhandel met God oor die toekoms van Sodom en Gomorra (Gen18:16 ev).
  • God wou vir Israel heeltemaal uitroei in die woestyn toe hulle die goue kalf gemaak het en God wou met Moses ’n nuwe begin maak. Moses het God egter oorreed om dit nie te doen nie (Eks 32:10-11).
  • God wys Saul op ’n baie spesifieke manier aan om koning oor Israel te wees, maar Saul is ’n mislukking en God verwerp hom toe (1 Sam 16:1).
  • God wag op mense om betrokke te raak, sodat dit nie vir Hom nodig is om te straf nie (Eseg 22:30).
  • Die Satan probeer op allerande maniere om selfs vir Jesus te oorreed om te sondig en af te sien van die taak wat die Vader Hom opgelê het, asof dit ’n moontlikheid is dat selfs die Seun van God net soos Adam kan faal (Mat 4:1-11; 16:23; 27:40).

Dit is die spanning wat ons in ’n “uitverkiesingsleer” probeer oorbrug. Ons God het raadsbesluite in die ewigheid geneem, maar Hy is ook saam met ons in die tyd op pad. Hy laat ons toe om self besluite te neem en Hy hou ons verantwoordelik vir ons besluite. Die mees treffende is seker die persoon Judas. God het bepaal dat hy Jesus moet verloën, maar Judas staan veroordeeld oor sy optrede.

Dit is soos met Totius se gedig wat hy geskryf het toe sy dogtertjie deur die weerlig doodgeslaan is. Hy sê dit is soos ’n wag-‘n-bietjie bos, waar jy jou hande insteek. Jy word in dorings vasgevang. (Ons pogings om die Drieëenheid te verwoord is minder pynlik, maar net so bo ons logika verhewe.)

Toe prof JA Heyns met ons in die klas oor die uitverkiesing gepraat het, het hy gesê dit is 100% God se werk en 100% ons verantwoordelikheid (min of meer so iets).

Bill Hybels van Willow Creek het die voorbeeld gebruik wat ook êrens in die diskussie gebruik is nl dat dit is soos iemand wat voor ’n deur staan. Bokant die deur staan: Kom in as jy gered wil word. As jy anderkant kom is daar ’n bord wat staan: Deur genade is jy gered.

Adrio König het gesê dat God onveranderlik in sy veranderlikheid is.

As mens die woord “uitverkiesing” google is dit interessant om te sien hoeveel idees mense net in SA daaroor het.

DIE ROL VAN BELYDENISSKRIFTE

Die belydenisskrifte is bakens van die kerk, wat telkens in die geskiedenis onder leiding van die Heilige Gees opgerig is toe mense in die kerk verskillende oortuigings oor die Bybel, die Raad van God, of God self gehad het.

Die eerste belydenisskrif is waarskynlik opgestel in Hand 15 toe daar meningsverskil was oor die besnydenis en die apostels ’n uitspraak daaroor gemaak het. Hulle het gesê: “Die Heilige Gees en ons het besluit …”. Die kanonisering van die Bybelboeke moet seker ook as ’n belydenis van die kerk beskou word, wat onder leiding van die Heilige Gees plaasgevind het. Daarna volg die Apostoliese Geloofsbelydenis en die res tot by die hervormingstyd.

Tye verander, maar dit is nie ’n ligtelike saak om ’n belydenis van die kerk te bevraagteken nie. Luther het op ’n stadium Jakobus as ’n “strooibrief” beskryf omdat Jakobus volgens hom die geregtigheid deur geloof bevraagteken het. Die kerk het Luther egter klaarblyklik nie daaroor ernstig opgeneem nie. Daar is soms vrae oor die betekenis van die “neergedaal te helle”, maar pogings in die kerk om dit te verander kom nie van die grond af nie.

Die quatenus standpunt

Teen hierdie agtergrond wil ek ’n opmerking maak oor die quatenus standpunt ten opsigte van ’n belydenisskrif. Dit wil sê dat ek ’n belydenisskrif aanvaar “in soverre” dit met die Skrif ooreenstem. Wynand Louw is reg as hy sê dat so ’n standpunt veroorsaak dat die belydenisskrifte uiteindelik geen betekenis meer het nie (kyk Belhar as opsionele belydenisskrif?). Hulle verloor hulle gesag en samebindende waarde in die kerk, as elkeen sy eie oortuigings nahou oor hoe hy die inhoud van ’n belydenisskrif verstaan. Belydenisskrifte is eenvoudig belangrike dokumente van die kerk. Ons glo hulle het onder leiding van die Heilige Gees tot stand gekom.

Daar is tot vandag nog ’n groep Remonstrante, teen wie die Sinode van Dordrecht uitspraak gelewer het. Ek het op die volgende afgekom wat hulle houding oor belydenisskrifte weerspieël: The Remonstrant Church is today based on the statement of principle of 1928, which sets out what motivates it and what it seeks. The statement can be viewed as a charter under which we unite in a voluntary religious community. People who want to become members of the Remonstrant Church are asked to certify their agreement with this statement of principle. In addition, they can draw up a personal profession of faith by writing their own statement or creed.

Hulle het ook ’n soort belydenis, maar dit lyk vir my alte veel na wat ons vandag ken as die Ontluikende Kerk:

Die quatenus standpunt bring mee dat ons elkeen voortdurend met ons eie stel tekste na vore kom, asof die kerk nie reeds daaroor nagedink het en besluite daaroor geneem het nie. Die wiel word van vooraf ontwerp en in die proses kom daar opnuut verwydering, soos wat dit elke keer gebeur het met die daarstelling van ’n belydenisskrif. By Nicea is Arius as ’n “ketter” verklaar. By Dordt is die “dwaalleer” van die Remonstrante (Armeniane) omskryf en verwerp. Belydenisskrifte is bakens of padwysers van die kerk in die doolhof van godsdienstige opinies, wat ons nie sommer ligtelik kan verbyloop nie. (Kyk ook The Remonstrant Church – What we believe)

DIE SINODE VAN DORDRECHT

Die Sinode van Dordrecht (1618-1619) was in vele opsigte ’n waterskeidings geleentheid vir die Gereformeerde leer en vir die kerk internasionaal. Die Sinode is deur 37 predikante, 19 ouderlinge en ’n aantal politieke verteenwoordigers bygewoon. Verder was daar ook afgevaardigdes van Skotland, Engeland, Duitsland en Switserland.

Die belangrikste saak op die agenda was die standpunte van die Remonstrante, wat groot verwarring onder gelowiges in die kerk veroorsaak het, deur hulle openlike protes teen die leer van Augustinus en Calvyn oor die uitverkiesingsleer. Beide Augustinus en Calvyn het gesê dat God nie alleen vooruit geweet het nie, maar ook vooruit gekies het. Die Dordtse Leerreëls (DL) was uiteindelik die produk van maande se studie oor die aangeleentheid en het die amptelike standpunt van die kerk verwoord.

Die uitsprake van die DL oor die uitverkiesingsleer is wyd in die kerk gerespekteer, want dit het ook bv in die Westminister Confession neerslag gevind, wat die belydenis van die Engelssprekende Christendom geword het.

Afgesien van die Dordtse Leerreëls wat by die Sinode van Dordrecht goedgekeur is, is ook amptelike status gegee aan die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis. So het die Drie Formuliere van Eenheid ontstaan. Die Dordtse Kerkorde is ook by die Sinode saamgestel, wat rigting gegee het aan die Gereformeerde kerkregeringstelsel.

Een van die heel belangrikste vrugte van die Sinode van Dordrecht is dat opdrag gegee is om ’n amptelike Nederlandse Bybel saam te stel. Negentien jaar later is die invloedryke Staten Vertaling uitgegee wat, soos die King James vertaling in Engeland, die geloofsbasis van die Nederlandse gelowiges wêreldwyd geword het. Dit was die Bybel van die Voortrekkers en die Afrikaners tot in 1933.

Die Sinode van Dordrecht was dus in baie opsigte ’n belangrike vergadering, wat ’n groot stempel op die geloof en die geskiedenis van die kerk afgedruk het.

DEBATTE OOR DIE UITVERKIESINGSLEER

Alleen die Skrif: Christene wat die uitverkiesingsleer teenstaan beroep hulle op die Skrif vir hulle standpunte. Hulle sê dat ons, ons nie moet verlaat op menslike opinies nie, maar alleen na die Skrif moet luister. Teen die agtergrond wil ek wys op die Sinode van Dordrecht se respek vir die Skrif. Ek het op die volgende afgekom:

Tydens die vierde sitting is vasgestel dat: wanneer er quaestie valt [= onenigheid ontstaat, Vl] over de waarheid der leer, de Gecommitteerden zorgdragen, dat met behoorlijk en nauwkeurig onderzoek, Gods Woord alleen, en niet eenige menschelijke schriften tot een zekeren en ongetwijfelden regel der waarheid gebruikt worde. Opdat dit nu geschieden moge, en klaarlijk blijke, dat zij anders niet voor hebben, dan alleen de eere Gods, en de rust der Kerk, zullen zij zich hiertoe in deze Synode of vergadering bij eede verbinden. [Uit Die Sinode van Dordrecht (bloedrivier.org).]

Oor Calvyn het ek dieselfde soort uitsprake gekry: Calvyn word vandag allereers onthou omdat hy sy lewe lank slegs wou luister na wat God in die Bybel sê en dit na sy beste vermoë wou vertolk. [Uit Die helder voorbeeld van leidsman Calvyn (mieliestronk.com).]

As iemand onder ons sê, hy wil hom of haar alleen deur die Skrif laat lei, moet ons toegee dat die afgevaardigdes na die Sinode van Dordrecht dieselfde visie gehad het. Ek is oortuig dat die afgevaardigdes die Skrif in totaliteit oordink het toe hulle tot die formuleringe van die DL gekom het. Iemand kan sê, maar die tekste wat ek voorhou is vir my so duidelik soos daglig. Dit is seker waar, maar in die lig van wat ek hierbo gesê het nl dat daar twee lyne in God se openbaring is wat ons nie kan versoen nie, moet ons aanvaar, daar is altyd ’n ander kant van die munt. Ons sien die saak van een kant, maar daar is ook ’n ander kant. Verder moet ons onsself afvra: Wat is die volle prentjie? Wat het in die hart van die apostel of die skrywer geleef toe hy bv gesê het: God wil dat alle mense gered word?

Die integriteit van ons geloofsvaders: Die afgevaardigdes na die Sinode van Dordrecht was belangrike verteenwoordigers van die Hervorming. Baie van hulle of hulle mense het gely ter wille van hulle geloof. ’n Dekade tevore is die Edik van Nantes in Frankryk afgekondig wat ’n tyd lank beskerming aan die Franse Hugenote gegee het. Ons moet aanvaar dat die Dordtse Leerreëls ’n neerslag was van wat in die harte van die beleërde Protestante van daardie tyd geleef het. Daar was nie sprake by hulle van die tendens wat ons vandag onder kerkleiers kry om aanvaarbaar te probeer wees vir die mense of om die tydsgees te akkomodeer nie. Hulle het onverskrokke aan die Woord van God vasgehou.

Ek wil ook ’n opmerking maak oor die geleerdheid en kennis van die teoloë van daardie tyd. As mens bv die Institusie van Calvyn lees dan kom jy onder die indruk van die greep wat daardie mense op die kerkgeskiedenis en die denke van hulle voorgangers gehad het. Hulle opinies was oorwoë opinies en word tog vandag toe nog gerespekteer en aangehaal. Ek het in my studie as predikant soms voor moeilike kwessies te staan gekom, soos die duisendjarige vrederyk, waaroor ek vir myself duidelikheid moes kry. Ek het dikwels rus gevind in die wete dat daar mense is wat groter as ek is, wat alles in oorweging geneem het en dat ek my op hulle opinie kan verlaat.

In hierdie geval is dit vir my dieselfde. Ek ag my nie bevoeg om ’n greep te kry op al die argumente rondom pelagianisme, semi-pelagianisme en arminianisme nie. Ek verlaat my in baie opsigte op my geloofsgenote en voorgangers wat ek vertrou oor hulle integriteit, kennis en wysheid.

Wat van T.U.L.I.P? TULIP is ’n akroniem wat ’n bepaalde weergawe is van die inhoud van die DL, maar nie in die DL voorkom nie. Die DL is puntsgewys ’n weerlegging van die standpunte wat deur die Remonstrante gepropageer is. TULIP is eers in die 20e eeu geformuleer en word in sekere kringe gebruik om die uitverkiesingsleer te verduidelik:

T – Total Depravity (Totale [Volkome] Verdorwenheid)
U – Unconditional Election (Onvoorwaardelike [Soewereine] Uitverkiesing)
L – Limited Atonement (Beperkte [Spesifieke] Versoening)
I – Irresistable Grace (Onweerstaanbare [Effektiewe] Genade)
P – Preservation of the Saints (Volharding [Bewaring] van die Heiliges)

[Uit Ken jou terme – TULIP.]

In die volksmond het ook die uitdrukking ontstaan: Eenmaal ’n kind van God, altyd ’n kind van God. Dit is egter onvanpas om koud en klinies te praat oor die manier waarop God mense uitverkies het. Die DL waarsku ook: Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God – waarvoor dit in die besonder bestem is – uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ’n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ’n lewende troos vir sy volk (Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33,34; Heb 6:17,18).

Wanneer is jy Gereformeerd? Ek is nie gemaklik daarmee dat TULIP as die die sluitsteen van Gereformeerdheid voorgehou word nie. Die DL is een van die belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke, maar Gereformeerdheid gaan baie wyer. Die 5 Solas is vir my ’n beter kenmerk van die Gereformeerde leer, nl:

  • Net die Skrif
  • Net geloof
  • Net genade
  • Net Christus
  • Net die eer van God

Die liefde

Ons moet nie toelaat dat ons meningsverskille oor die uitverkiesingsleer verwydering tussen ons as Christene bring nie. Ons gaan mekaar nie van ons standpunte oortuig nie. Ek glo egter dat ons oor hierdie onderwerp die woorde in 1 Kor 13:3 van Paulus ter harte moet neem: Al besit ek al die kennis, maar ek het nie die liefde, is ek eintlik niks. Ons word regtig voor ’n toets gestel om mekaar te aanvaar en te vra dat die Here ons sal help om die hartlike broederliefde onder mekaar in stand te hou.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui