Opname toon kerk se betrokkenheid en aanpasbaarheid, lê ook leemtes bloot

*******

Opname toon kerk se betrokkenheid en aanpasbaarheid, lê ook leemtes bloot | Kerkbode

20 Julie 2020

Lourens Bosman

’n Omvattende opname oor die impak van inperking tydens die Covid-19-pandemie toon dat 2,2 miljoen Suid-Afrikaners in April honger gely het. Die opname National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile (Nids-Cram) toon dat hongerte gedurende April meer as verdubbel het. Sowat 47% van huishoudings se geld om mee kos te koop, het voor die einde van die maand opgeraak, ’n styging van ’n reeds hoë syfer van 21% vóór die inperking.

Waar was die kerk? Waarskynlik besig om kospakkies uit te deel.

Die Taakspan Navorsing het aan die begin van Junie ’n opname onder predikante van die NG Kerk gedoen wat belangrike inligting opgelewer het oor die manier waarop gemeentes in die tyd van Covid-19 gereageer en aangepas het. Deelnemers aan hierdie opnames word met ’n ewekansige steekproef uit die gemeentes van oor die lande van Suider-Afrika getrek en die resultate lewer ’n betroubare prentjie van NG predikante en gemeentes se houdings en optrede.

Betrokkenheid in die gemeenskap

Die Nids Cram-opname dui aan dat 18% van volwassenes gedurende April hulp ontvang het ten opsigte van kos en blyplek. Hiervan het 6% dit van kerke en nie-regeringsorganisasies ontvang. Die NG Kerk was deel hiervan. Feitlik alle NG gemeentes (96%) was in hierdie tyd betrokke by een of meer projekte in die gemeenskap. Die voorsiening van voedsel deur etes en kospakkies was verreweg die mees algemene wyse van dienslewering.

Predikante en gemeentes het in hierdie tyd ook hande gevat met ander instansies: 72% vorm deel van ’n netwerk van vennote wat oor verskillende grense strek. ’n Derde rapporteer dat daar ’n versnelde beweging plaasgevind het vanaf ’n selfgerigte gemeente na spontane, diensbare netwerke. Positiewe vertrouensverhoudings en goeie kommunikasie is die belangrikste faktore wat hierdie netwerke effektief laat funksioneer.

Daar was ook hindernisse en dinge wat gepla het. Die regulasies van die regering ten opsigte van kosvoorsiening en politieke inmenging was op ’n stadium ’n groot probleem. Dit is teen hierdie tyd hopelik opgelos. Baie predikante het aangedui dat ’n gebrek aan vertroue en goeie kommunikasie gekeer het dat hulle netwerke goed kon funksioneer. Baie het hierdie twee faktore ook aangedui as leemtes in hulle leierskapvaardighede.

Elektroniese media en bediening

Een van die terreine waar predikante en gemeentes baie vinnig aangepas het, was om aanlyn te bedien. Op die vraag of tegnologie die gemeente gehelp het om sinvol voort te gaan met eredienste en liturgie, het 96% aangedui dat dit inderdaad so is. Sowat 78% van die leraars sê verder dat hulle studeerkamer in die tyd van inperking soos ’n ateljee geword het.

Baie dominees het die dissipline om dagstukkies en gereelde oordenkings te skryf, beleef as stimulus vir positiewe groei in hulle geloof. Twee derdes het gesê dat hulle in die grendeltyd meer tyd aan hulle persoonlike geloofslewe bestee. Meer tyd vir stilte en meditasie was die belangrikste geestelike dissipline, maar ’n handvol het aangedui dat hulle geleer het om elektroniese media beter in hulle persoonlike geloofsoefeninge te benut.

Aan die ander kant, op ’n vraag of tegnologie die persoonlike kontak van die gemeenskap van gelowiges kan vervang, het 91% “Nee” gesê. Die tyd van gelowiges wat bymekaarkom, is beslis nie verby nie. Dit strook met die geskiedenis van die Christendom – selfs in tye van swaar vervolging het gelowiges bymekaargekom, soms met die risiko van gevangenskap en dood. Soos wat die inperking voortsleep, hoor ons uit gemeentes dat lidmate, veral bejaardes, se behoefte aan persoonlike kontak toeneem.

Waarin moet ons groei?

Die Taakspan Navorsing het oor bogenoemde uitkomste besin in die lig van die droomscenario van die NG Kerk. Hierdie scenario is ontwikkel tydens en ná die Algemene Sinode van 2019. Kerkbodelesers het ’n belangrike bydrae gemaak deur aanlyn-peilings wat voor die tyd gedoen is.

Die scenario spel die droom vir die NG Kerk teen 2030 soos volg uit: Ons droom van ’n netwerk van inklusiewe gemeentes wat op voetsoolvlak, vanuit God se liefde, diensbaar is in ons gemeenskappe.

Die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het die vorming van leiers wat in ekumeniese netwerke kan saamwerk as een van die hooffokusse vir die volgende aantal jare gestel. Die uitdagings van Covid-19 het die kerk hierin ’n hupstoot gegee. Daar is egter nog belangrike vaardighede wat op bepaalde terreine ontwikkel moet word sodat die kerk sy volle rol in Suider-Afrika sal kan speel. Die opname toon die volgende:

Wanneer gemeentes by die nood van die gemeenskap betrokke raak, is dit nog te veel as korttermyn hulpverleners. Ons is uitstekend daarmee om kos en klere te gee, soos die betrokkenheid tydens Covid-19 aandui. Ons slaag egter nog nie om oor ’n breë front aan opheffing en ontwikkelingsprojekte deel te neem en oorsake van armoede aan te spreek nie.

Nuwe leierskapstyl nodig

Deel van hierdie prentjie is dat diep verhoudings van samewerking op plaaslike vlak nog nie ontwikkel is nie. Ons sal moet leer om as gelyke vennote met gemeenskapsorganisasies en ander kerke te funksioneer. Baie predikante sê dat hulle leemtes in hulle eie mondering beleef om netwerke en kontakgeleenthede oor ras- en ekumeniese grense te skep, om beter samewerking te bewerkstellig en om vertroue te bou.

Hiermee saam gaan die uitdaging om in ’n multikulturele opset te funksioneer. Die opname het getoon dat talle predikante onseker voel oor hulle vermoë om ruimtes te ontwikkel waarbinne rasseversoening in die gemeenskap kan plaasvind. Vaardighede wat kortkom is om ander kulture te verstaan, in ’n multikulturele opset op te tree, veeltaligheid en om ’n swart taal te kan praat. Daarmee saam gaan beter luister- en kommunikasievaardighede.

Vir die NG Kerk om oor die volgende tien jaar te groei tot ’n kerk wat sy plek ten volle in Suider-Afrika inneem, is ’n nuwe soort leierskap nodig. Hierdie leierskap is nie-outoritêr, goed met samewerking en kommunikasie en kan met sensitiwiteit in komplekse, multikulturele kontekste netwerke vorm. Die bou van vertrouensverhoudings is ’n belangrike sleutel wat die deur oopmaak na die plaaslike gemeenskap. Aan die hart hiervan is dienende leierskap, soos Jesus.

  • Dr Lourens Bosman is algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui