Oproep tot verootmoediging en gebed vir die NG Kerk

Waarom is die NG Kerk spesiaal?

Jesaja 5:1-2 “Laat my tog sing van my Beminde; ’n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ’n wingerd op ’n vrugbare heuwel. 2 En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ’n toring daar binne-in gebou en ook ’n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring.”

So het God sedert 1652 toe Jan van Riebeeck gekom het, begin om die NG Kerk as sy wingerd en werktuig hier in Suidelike Afrika te vestig. Gebore uit die Reformasie in die vorige eeu, toe die Protestante geprotesteer het teen al die verkeerde gebruike en leringe wat in die kerk ingesluip het, toe hul teruggekeer het na die die Bybel as die Woord van God, en toe hulle hieroor vervolg is en baie selfs met hul lewens moes boet. Een van ons kerk se drie belydenisskrifte, die Nederlandese Geloofsbelydenis (Confessio Belgica) is bv opgestel deur ds. Guido de Bres om vir daardie tyd se heerser, Philip II van Spanje, te wys dat die gereformeerdes nie rebelle teen gesag is nie, maar net ’n suiwer leer voorstaan wat op die Bybel gebaseer is. Hy, Guido de Bres, is ter dood veroordeel deur die Spaanse inkwisisie en opgehang, hy moes met sy lewe betaal vir sy Calvinistiese geloofstandpunt. Dit is die wortels waaruit die NG Kerk ontstaan het.

Toe in 1688 het die Here die kerk en volk verder versterk deur die aankoms van die Franse Hugenote, protestantse gelowiges wat uit Frankryk moes vlug vir hul lewens weens hul Gereformeerde geloof.

So het die Here ’n kerk en volk in Suidelike Afrika gevestig by wie hul toewyding aan die soewereine God hoofsaak was.

Ten spyte van hierdie geseënde begin, het die geloofslewe in die kerk teen die middel van die 19de eeu ’n laagtepunt bereik. Ds. Servaas Hofmeyer beskryf die lidmate se geestestoestand as volg: “liefde vir die wêreld en sonde, geen begeerte tot Redding nie en ledigheid.” Die nuwe liberalisme uit Europa, wat al hoe meer van die waarhede uit die Woord wou afwater en betwyfel, het begin oorhand kry. Te midde hiervan het die stemme in die Kerk begin opgaan dat daar ernstig gebid moet word vir herlewing, dat die Here sy kerk in Suid Afrika met ’n nuwe “uitstorting” van die Heilige Gees sal besoek. (Ek haal hieroor aan uit Bennie Mostert en ander se beskrywings van die herlewingstyd.)

Reeds van 1838 af word daar stemme gehoor in die Kerk wat oproep tot gebed vir herlewing, veral van die Skotse predikante – ds. William Robertson van Clanwilliam en ds. A Murray van Graaff-Reinet (Bekende Andrew Murray se pa. Hy het vir 36 jaar lank elke oggend, sonder uitsondering, vir herlewing gebid.)

In die Kerkbode van Augustus 1859 kom die volgende oproep tot gebed: “Dat ’n herlewing in die Godsdiens nodig en ernstig te begeer is, is ’n feit wat niemand in twyfel sal trek nie, wat enigsins bekend is met die geestelike toestand van die kerke in hierdie hele kolonie. Dat sodanige opwekking teweeg gebring kan word alleen deur ’n oorvloedige uitstorting van die Heilige Gees en dat die Gawe van die Heilige Gees beloof is in antwoord op gebed, is waarhede wat duidelik in die Skrif geleer word.” ……..

In Oktober 1859, verskyn ’n brief, deur 14 van ons ouere en mees bekende predikante wat sluit met die volgende oproep:

“Ons bid u, pleit op die beloftes van God, grond u geloof en u verwagting daarop. Ons wek u ernstig op om gelowig en vuriglik elke week een uur, dit sy saam met andere of in die binnekamer, God te bid dat Hy ook ons land genadiglik mag besoek en ons die seën van die uitstorting van die Heilige Gees mag gee, soos Hy dit op die oomblik besig is om uit te stort op ander dele van die aarde.”(Dit was in die tyd van die groot herlewings in Amerika en Brittanje)

In April 1860 het die NG Kerk ’n konferensie met herlewing as hooftema in Worcester gehou. 374 Predikante en leke-predikers van verskei kerke het hierdie konferensie bygewoon. Daar was NG en Metodiste leraars by die konferensie, asook leiers van die Skotse Presbiteriaanse Kerk, die Wesleyaanse en Rhynse sendingorganisasies. Dr. Robertson, een van die sprekers by die konferensie, het later gesê dat die herlewing begin het die oomblik toe dr. Andrew Murray jnr. opgestaan het om te bid. Iets bonatuurliks en Goddeliks het op daardie spesifieke oomblik deurgebreek. Kort na hierdie konferensie het die gemeentes wat afgevaardigdes na die konferensie gestuur het, ’n nuwe werking van die Heilige Gees begin beleef. Dit het begin in Montagu, daarna Worcester waar ds. Andew Murray was, ook Wellington, Heidelberg, Swellendam, Tulbagh, Ceres, Robertson, Villiers, Calvinia.

Die herlewing het wonderlike gevolge in die kerk gehad, eerstens in die bestryding van die liberalisme en afwatering van die Woord wat daardie tyd reeds die kerk wou binnekom, en tweedens in die klem op bekering en heiligmaking, wat andersins soms verwaarloos word in kerke van gereformeerde belydenis. Sodoende het die Here die gereformeerde belydenis saam met die herlewing gebruik om ’n besondere gebalanseerde kerk te vorm in die NG Kerk. Nie iets om op te roem, maar net iets om die Here voor te dank en met groot verantwoordelikheid te bewaar en op voort te bou.

Bennie Mostert skryf as volg oor die gevolge van die herlewing:

Die invloed van die herlewing op Suid-Afrika

Voor die 1858-1862 herlewing was daar geestelike louheid en doodsheid in baie gemeentes en op die sendingvelde. Aanbidding van God was streng formeel, gebeds-byeenkomste is swak bygewoon en sonde het in gemeenskappe gefloreer.

Met die koms van die herlewing het alles egter verander – nie net die kerk het verander nie, die totale samelewing het omgedraai. Mense se gedrag het daadwerklik verander:

Hulle het prioriteit aan hul verhouding met God begin gee – iets wat in baie gevalle voor die herlewing nie deel van hulle lewens was nie.

Op basies elke plek waar herlewing uitgebreek het, was daar ’n diep oortuiging van sonde, meesal gepaardgaande met sterk emosie. Geharde manne het tot God uitgeroep en oor hul sondes gehuil. Berugte misdadigers het op kragtige wyse tot bekering gekom.

Gemeenskappe het weer ’n heilige eerbied en vrees vir God gehad. Groot getalle mense in elke gemeenskap het tot bekering gekom. Daar was hartroerende getuienisse van bekerings. Visioene is gesien en baie het vreesaanjaende drome gehad. In sommige gevalle het mense in hul eie huise tot bekering gekom, in ander gevalle agter bosse en rotse, op berge en in klowe. Mans, vroue, bejaardes, kinders, gesiene mense en slawe – almal het die knie voor die Koning van konings gebuig en by Hom om genade gesmeek.

Die veranderde lewens van voorheen ongereddes het daarvan getuig dat die gebeure nie net ’n emosionele ervaring was nie. Die bekeerdes vanuit die herlewing het vas gestaan. Daar was min wat in die daaropvolgende dekades teruggeval het. (Bennie Mostert)

In 1861 is die eerste Pinksterbidure vir die tien dae tussen hemelvaart en Pinkstersondag in die Paarl gemeente onder ds. G.W.A. van der Lingen gehou. In 1867 het die sinode van die NG kerk besluit om elke gemeente aan te moedig tot ’n jaarlikse 10 dae van gebed voor Pinkster-Sondag. Hierdie gebruik, asook ’n groot klem oor die algemeen op die hou van bidure waar die Here in alle erns saam aangeroep word, het ook baie beteken vir behoud van die lewe in die NG Kerk deur die jare.

’n Verdere kosbare deel van die NG Kerk erfenis is sy sendingywer, ook grootliks aangewakker deur die nuwe lewe wat daar gekom het deur die 1860 en latere oplewings. So het die NG Kerk nie net binnelands sending gedoen nie, maar groot sendingprojekte aangepak in bv Rhodesië, Malawi en Nigerië (“Soedansending”), met entoesiastiese ondersteuning uit die plaaslike gemeentes, onder andere deur die stigting van die “Vrouesendingbond” in 1890.

Verder het die gebruik ontstaan om elke aand saam huisgodsdiens te hou en die kinders het grootgeword onder die geklank van die Woord.

oooooooooooooooooooooo

Dit dan oor die kosbare erfenis van die NG Kerk. Nou wat het ons daarmee gemaak? Of moet ek vra, wat het daarvan geword? Want vandag voel dit of ons beroof is.

Weg is die eerste liefde, die bereidheid om te ly en ‘self’ te verloën ter wille van die Here.

Weg is die toegewyde lewens in heiligheid voor die Here.

Weg is die suiwer standpunt van “die Woord van God alleen”.

Weg is die gebedsywer.

Weg is die sendingywer.

Weg is die huisgodsdiens.

– En so kan ons voortgaan …

Nou wie moet ons hiervoor verantwoordelik hou? Meeste mense wys vandag vinger na “Die Kerk”. Maar ons is die kerk! Miskien wys hul vingers na die sinode. Maar geen sinode kan die lewe in ons gemeente bepaal of aan bande lê as ons geestelik lewend is soos ons behoort te wees nie.

Ek wil twee vyande uitsonder:

Eerstens die Satan:

Die Here Jesus sê, (Joh 10:10 ) “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes.” In Ef 6:12 lees ons, “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Wie is dus ons vyand? Is dit liberale teoloë of kerkleiers wat dinge leer wat in stryd is met die Woord van God? NEE, dis die Satan en sy bose geeste. En dis tyd dat ons in die Naam van die Here ’n streep trek en sê “Tot hiertoe en nie verder nie!” Die dief is besig om ons erfenis te steel, die skape dood te maak en die kerk te verwoes, maar ons moet in die Naam van die Here sê “Tot hiertoe en nie verder nie!”

Tweedens onsself: Die Here Jesus sê in Openb 2:4-5 Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie. As ons ons nie verootmoedig en erns maak met ons verhouding met die Here nie, sal Hy self ons kandelaar verwyder.

Ons praat vandag oor ’n kerk wat in krisis is. Ons praat oor die NG Kerk maar ek kan jul verseker dat omtrent elke kerk in ons land in krisis is. In Jes 22 sien ons hoe die Israeliete reageer het op die krisis wat hul land getref het.

Die volk se antwoord op die krisis:

  1. Hulle vlug: Jes 22:3 Al jou leiers het soos een man op die vlug geslaan, hulle is gevang sonder dat ’n enkele pyl afgeskiet is. Dié wat gevang is, is almal saam gevang toe hulle ver weg gevlug het.
  2. Hulle begin allerhande planne maak om self die krisis op te los, Jes 22:8-11
  3. Party gaan aan om hul lewe te geniet en sê “Laat ons eet en drink, want môre is ons dood.” (Jes 22:13)

God wil egter ’n ander reaksie sien, Hy roep tot berou en verootmoediging, Jes 22:12, tot bekering en verootmoediging en gebed, 2 Kron 7:14 en Joël 2:11-17, en as ons sy roepstem gehoorsaam en HOM om genade smeek, wie weet of Hy dalk sal antwoord soos in Joël 2:18-32?

Kom ons ondersoek ons harte of ons die Woord werklik glo soos dit daar staan. Glo ons 2 Kron 7:13, dat God die pes onder sy volk stuur? Glo ons 2 Thess 2:11 dat God die krag van die dwaling stuur? Glo ons Romeine 1 dat God die homoseksuele oorgegee het aan hul skandelike hartstogte? (Sien bv Rom 1:26) Indien ons dit wel glo, is dit nie tyd dat ons ons fokus verskuif van die mense deur wie die dwalinge in die kerk inkom, en ons verootmoedig voor Hom wat sy toorn van die hemel af openbaar (Rom 1:18), en bid en sy aangesig soek en ons bekeer van ons verkeerde weë… en smeek om genade soos in Ps 85: “Herstel ons, o God van ons heil, en maak tot niet u grimmigheid teen ons! Sal U vir ewig teen ons toornig wees, u toorn laat duur van geslag tot geslag? Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie? Laat ons u goedertierenheid sien, o HERE, en gee ons u heil!”? (NIV: Ps 85:4-6 “Restore us again, O God our Saviour, and put away your displeasure towards us. Will you be angry with us for ever? Will you prolong your anger through all generations? Will you not revive us again, that your people may rejoice in you?”)

As die meer as 50 gemeentes wat beswaar gemaak het teen die sinodebesluit oor homoseksualisme, asook baie individuele lidmate wat nie met die besluit saamstem nie, soos een man tot die Here sal roep om genade, dat Hy nie ons kandelaar sal verwyder nie, sal die Here nie hoor, soos Hy vir Moses gehoor het toe Hy vir God om genade gesmeek het vir Israel, nie ter wille van die volk maar ter wille van God se Naam? Lees in Eks 32:9-14 hoe Moses intree vir die volk nadat God hul in sy toorn wou uitwis en vir Moses tot ’n nuwe volk wou maak.

2 Kronieke 7:13-14 “As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

Joel 2:12 Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. 13 En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; 14 wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat …

As ons bid, kom ons bid met die dringendheid van mense wat glo ons is al wat bid, bid met die geloof van mense wat glo dat die Here nog baie ander voorbidders opwek in die kerk.

Bid soos ’n ma wat bid vir haar seun wat sterwend is. Bid sonder ophou.

Dink aan die woorde van Mordegai aan koningin Ester (Ester 4:14) “… wie weet of jy nie met die oog op ’n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie?” Wie weet of God se doel met jou en my lewe, met ons redding, miskien is om in hierdie tyd in gebed op te staan vir die behoud van ons kerk en ons Christelike erfenis in hierdie land?

Engela Basson

Pearly Beach`

9 Julie 2016

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui