Kyk ook:
Die die artikel “Dagbestuur van teologiese fakulteit reageer” (7 Sep 2005) reageer die dagbestuur (Cas Vos, Johan Buitendag en Pieter van der Merwe) van die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria op hierdie artikel.
*******
Opstand in die NG Kerk | Die Vrye Afrikaan
Die Vrye Afrikaan, 19 Augustus 2005
Anoniem
Die rooi ligte brand vir die NG kerk. Terwyl die topstruktuur sy uiterste bes doen om ’n beeld van eenheid en eensgesindheid na buite te kaats, is daar – selfs tot binne die geledere van die moderamen – geluide dat ’n dringende buitengewone sinode nóú belê moet word, sodat die NG kerk oor kernsake, soos sy belydenisskrifte en gereformeerdheid per se (en dus sy toekoms) kan besluit.
Want dis presies wat op die spel is: Die toekoms – en tersaaklikheid – van die NG kerk in Suid- Afrika.
’n Lankuitgerekte (forensiese) disseksie van die oorsake hiervan is nie nodig nie. Om te ver in die geskiedenis terug te gaan, ook nie. ’n Pad van tien maande volstaan: Tot by die Algemene Sinode van die NG Kerk, Oktober verlede jaar, te Hartenbos.
Drie kwessies kan sedertdien – as heenwysing vir ’n krapperigheid wat intussen tot ’n opstand gebroei het – uitgelig word:
Die watertrappery en algehele verwarring, sedertdien, oor die NG Kerk en homoseksualiteit (as teken van watertrappery oor ’n veelheid van kwessies); [1]
Die berigte oor sogenaamde “kerkskeuring” weens die kwessie van gereformeerdheid, en die aanvaarding al dan nie van die Skrifgesag en belydenisskrifte (in die algemene pers, sedert April vanjaar); [2]
Die algemene predikantekonferensie in Junie vanjaar in Bloemfontein. [3]
Die boodskap: Die kerk moet, soos enige ander organisasie wat kop bo water wil hou en gesaghebbend wil wees, veral in dié tyd in Suid-Afrika, ophou watertrap oor kernsake, ophou om ongelukkiges as verdagmakers uit te maak, ophou om standpuntloos die struktuur se buitemure te probeer versterk terwyl die binnebalke val, ophou om weg te skram van ongemaklike waarhede: Sy kop-in-die-sand-houding laat vaar en ’n regstreekse, dapper benadering van die konflik in sy geledere en die ongelukkigheid van derduisende van sy lidmate wat in stringe die pad uit die kerk vat, aandurf. [4]
En besluite neem – gewild of ongewild. Dìt is wat respek sou afdwing.
Vir die NG Kerk is dit dus tyd vir ernstige bestekopname.
Die ou storie van ’n leier wat almal gelukkig probeer hou, het na die oppervlak gekom. Dr. Coenie Burger, voorsitter van die moderamen, se “huis met veel kamers”-teorie – of akkommodasieteorie – maak helaas van hom ’n allemansvriend – dermate dat hy in sy binnekringe erken het dat, as hy nie daarin sou slaag om die eenheid te bewaar nie, hy sy goed gaan vat en loop.
Vir dié soort konflik sien hy nie kans nie. Eenheid bo alles, dus. En alles vir die vrede.
Die sinode en homoseks
Dit is ook die titel van ’n boek deur dr. Peet Botha, administrateur van die Cedar College of Education en buitengewone seniorlektor verbonde aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom oor dié kwessie.
Hy som dit só op: “Die debat oor homseksualiteit in die NG Kerk het baie verwarring gebring onder die lidmate van die kerk. Dit is my oortuiging dat hierdie verwarring die gevolg is van ’n onskriftuurlike benadering tot die hele probleem van homoseksualiteit. Die verwarring is verder aangehelp deur teenstrydige interpretasie van die Sinodes van 2002 en 2004 se besluite, persverklarings waarin regstelling van feite gedoen en verskonings aangebied is, asook artikels in dagblaaie waarin die Sinodebesluite deur hoëprofielteoloë bevraagteken is. Ek argumenteer dat die Sinodes van 2002 en 2004 grondliggende foute gemaak het in hul besluite oor homoseksualiteit en dat die sinodes deur AKLAS se pro-homoseksuele benadering beïnvloed is om ongeldige besluite te neem.” [5]
Wat ook al Botha se sienswyse – wat vir die doel van dié artikel nie tersaaklik is nie – hy som die probleem korrek op as hy praat van “verwarring,” “regstellings” en “verskonings”: ’n Geskarrel en krisisbestuur het ontstaan oor ’n kwessie wat, sou ’n besluit na enige kant geneem word, ’n groot klomp lidmate finaal gaan laat wegbreek.
Botha som dit ook raak op dat ’n onduidelike uitspraak van die Sinode oor dié wesenlike kwessie (“Ons dink nog ’n ronde, maar ons staan by ons vorige besluit”) algehele verwarring onder doodgewone mense – uit wie die NG Kerk bestaan – geskep het. Hulle hét geen idee wat hul kerk hieroor dink nie, en die indruk word geskep dat die NG Kerk ronddobber oor kernsake, dat die NG Kerk se Bybel van tyd tot tyd verander, soos indertyd sy apartheidsbeskouing.
(Kerkbode het op 4 Augustus wel besluit om ’n betaalde advertensie van die boek te plaas – na baie wik en weeg en herhaalde versoeke van Botha.)
Die homoseksualiteitsdebat het sy jongste vurigheid gekry toe ds. Cassie Carstens, skriba van die NG Kerk, by die Sinode openlik bely het sy seun is gay – vurigheid in die sin dat die trane gerol het uit empatie vir ’n broeder wat dit bitter moeilik het. Maar die kritiek agterna teen die hantering van die kwessie is dat die saak oorheers is deur emosie. En dít is waarteen sommige teoloë dit het: Dat oortuiging deur emosie vervang word. Dat ’n draadsittery oor allerlei sake ontstaan wanneer moontlike konflikbesluite geneem moet word.
Boonop is die stelsel van debatvoering vóór die neem van besluite ook uit die sinode geweer. Baie predikante beweer nou hulle het géén geleentheid gekry om gestruktureerd hul mening oor hierdie en talle ander kwessies te gee nie. Besluite gegrond op ernstige beredenering is daarmee heen, met die nuwe “tafelmodel” van bespreking (tafels teoloë wat onder mekaar koukus).
En toe, onverwags, tref dié gay-bom die NG Kerk – terwyl die kerk nog rustig in besluiteloosheid ronddobber: Douw Wessels, die flambojante sielkundige van Durbanville, pleeg selfmoord en laat ’n testament na wat vir die NG Kerk verreikende gevolge gaan hê. Wessels vertel naamlik vyf dae voor sy dood aan die algemene media dat een van die NG Kerk se praktiserende dominees ’n praktiserende gay is – sy minnaar, en die man met wie hy einde verlede jaar in ’n vaste verbintenis (huwelik) ingeseën is.
Wessels dien ’n klag van promiskuïteit in teen ds. Laurie Gaum, predikant van die NG-gemeente St. Stephens in Kaapstad, en staaf dit met foto’s van die poedelnakende dominee wat in die branders baljaar. Die kerk is woedend vir die media wat Wessels se oortuiginge en van die foto’s publiseer. ’n Vir-en-teen- Douw/Laurie debat ontstaan oor die hele spektrum van NG-lidmate en -teoloë.
Terwyl die NG-hiërargie sit met ’n tameletjie: Hoe nou gemaak met Laurie Gaum?
En daarmee nòg ’n stuk geloofwaardigheid van die NG Kerk prysgee: Dié naamlik dat hy voorgee dat hy al die jare nooit geweet het hierdie sagte, goeie seun van een van die NG-ringkoppe, dr. Frits Gaum, is gay nie. Gaum sr. het na bewering sélf nie geweet nie en onwetend sy seun toegelaat om – teen sy eie kerkorde in – op die preekstoel te staan. Die vraag ontstaan of Gaum sr. dan nie die moed van sy oortuiging had om, soos Carstens, voor sy kollegas te bely nie?
Skielik – omdat die openbare media (en nie net die kerkstrukture nie) die saak beetgekry het – is daar (‘n meteens onvermydelike?) ondersoek na Gaum se gay-status, en wag die lidmate angstig op ’n dié-of- daardie-kant-toe vir die NG Kerk. En word ’n besluit, waarvoor hy by die Sinode nie die moed had en geen debattering toegelaat het nie, op die spits gedryf.
Gaum jr hou terselfdertyd die bom van ’n moontlike siviele eis teen die NG Kerk, sou hy na afloop van die kommissie van ondersoek se werk afgedank word. Hy sou dan vir die NG Kerk openlik kan sê dat die kerk ’n onbillike arbeidspraktyk (konstruktiewe ontslag) pleeg deur van hom ontslae te raak (m.a.w. dat die NG Kerk die hele tyd geweet, maar uit ongemak die kop weggedraai het – totdat iemand in die openbaar geskreeu het dat die keiser kaal is!). Skielik kom ander “afgesette” gay predikers se kwessies ook na vore: Onder meer dié van Pieter Cilliers (weliswaar voorheen verbonde aan die Hervormde Kerk) [6] en Daniël de Kock van Bellville, wat jare gelede Sarie se Gasvrou van die Jaar- kompetisie gewen het.
Weer eens: Soos met Carstens se seun wil dit voorkom of emosie (dat jong Gaum ongetwyfeld ’n goeie, meelewende mens is) en die Skrif teen mekaar te staan kom. Want dit is byna nutteloos om die grootste gros NG-lidmate hoegenaamd te probeer oortuig homoseksualiteit is in orde – wat nog te sê gay predikante.
Kerkskeuring
Aan die voorpunt, maar beslis nie alleen nie, staan dr. Lourens Erasmus, voorsitter van die moderamen van die Vrystaatse NG Kerk, wat in ’n verklaring aan die topstruktuur dit só opsom:
“Daar is dié in die NG Kerk wat aanvoer dat die topstruktuur stilbly oor dié wat die NG Kerk se belydenis openlik in die gedrang bring, terwyl dié wat daaraan getrou wil bly, sukkel om gehoor te word.”
Dít skryf Erasmus begin Julie in wat hy sy “Verantwoording” noem – ’n geskrif wat waarskynlik in die toekoms as een van die kern-rigtingwysers van openlike opstand in die NG Kerk gaan dien, in antwoord op ’n klag wat ds. Ferdinand Boll van Philippolis teen hom indien.
Die rede? Omdat Erasmus die sonde begaan het om met die openbare media te praat oor sy griewe rakende gereformeerdheid, en dat Erasmus openlik gaan sê het die topstruktuur se Getuienis – gelewer by die predikantekonferensie, is ’n “leuen”, omdat debat hieroor nie toegelaat is nie, en dit dus NIE ’n eensgesinde mening van sowat 1 400 predikante verteenwoordig nie.
Erasmus sê hardop die NG Kerk se belydenis is in gedrang en die NG Kerk het die “negende gebod” [7] oortree. Luidens die klag skep Erasmus “ ́n vals beeld” van die NG Kerk. Erasmus tree verregaande op “omdat hy nie kerklike kanale volg nie,” sê Boll.
In die topstruktuur word gefluister Erasmus is “aartskonserwatief” en sal buitendien uit die boonste groep “gewerk” word. Erasmus sê hy is allesbehalwe konserwatief – inteendeel: Hy volg die moed van sy oortuiging, bly nie stil nie, en beredeneer sy saak intellektueel – ongeag die gevolge. Hy sê wat tientalle ander teoloë net onder mekaar sê, maar nie die moed het om hardop uit te spreek nie.
Erasmus sê hy het emosie deur oortuiging en beredenering vervang; hy loop déur die konflik, ook al is die prys van verwerping en uitwerping hoog.
Boll se klagte kom nadat Erasmus en verskeie ander teoloë, onder andere prof. Dolf Britz van die fakulteit teologie aan die Vrystaatse Universiteit, dr. Johan Marais van die NG- gemeente Middelburg- Kanonkop in Mpumalanga en nog sowat vyftien predikante beswaar gemaak het teen die wyse waarop die moderamen by verlede maand se predikantekonferensie in Bloemfontein sy “Getuienis” as eenparige siening van die NG Kerk versprei het [8].
Dit kom in opvolging van ’n konferensie (gereël deur dr. Jan Mostert) op Philadelphia naby Durbanville, einde Mei, met die onderwerp: “Semper Reformanda?” – Waarheen is die NG Kerk met sy gereformeerdheid op pad?
Die verskille oor gereformeerdheid gaan oor die volgende, sê die Erasmus-groep, wat intussen reeds die kuratorium van die Universiteit van die Vrystaat hieroor gaan spreek het:
- die vertolking van artikel 1 van die Kerkorde wat sê dat die NG Kerk op die Bybel as onfeilbare Woord van God staan, asook op die Drie Formuliere van Eenheid;
- die wyse waarop die NG Kerk homself as belydeniskerk begryp;
- die aard van die binding aan die gereformeerde belydenis;
- die aard en vertolking van die Skrifgesag;
- die verhouding tussen Woordbediening en sakramentsbediening;
- die verstaan van die erediensliturgie teen die agtergrond van die gereformeerde belydenis en tradisie;
- die funksionering van die belydenis in teologiese opleiding;
- die vraag oor hoe die NG Kerk in die Afrika- konteks uitdrukking aan sy belydenis moet gee – om onbevange te vra na die gesag van die Woord in ons huidige konteks – en die boodskap van God se koninkryk wat op alle terreine bedien en sigbaar moet word; en
- die beskouing van baie lidmate wat onder die wanindruk verkeer dat “gereformeerdheid” neerkom op konserwatisme en tradisionalisme.
Intussen is Burger woedend vir die media wat, volgens hom, kerkskeuring aanwakker en sy mond oor die “onbenullige griewe” van ’n “onbenullige groepie” moes gehou het. Dit dien nie die saak nie, meen hy. Waarskynlik die saak van “eenheid bo alles”. Die middelgroep, meen Burger, staan saam. Ouens soos Erasmus is ’n sydelingse afsplintering, en dus nie werd om groot gewag oor te maak nie.
Wat Burger dus eintlik sê, is dat die NG Kerk die soort “onverantwoordelikheid” soos die debat hieroor in ’n Sondagkoerant wil sensureer.
Ook oor gereformeerdheid sê ds. Eric Kayayan (Gereformeerde Kerk) daar is ’n groot krisis rondom Skrifbeskouing, “wat baie ouens graag sou wou ontken. Die siening van baie teoloë, onder meer dosente aan die kweekskole van Suid-Afrika, dat die gerformeerde belydenisskrifte net uitgediende geloofsdokumente van die 16de eeu is, wat nie die vrae van die mense van die 21ste eeu kan beantwoord nie. Die ideologie van die historisme in só ’n standpunt is blatant.”
“Een ding wat my baie irriteer, is die verdraaide manier waarop baie mense sogenaamde akademici aanhaal en daardeur steun vir hul standpunt probeer kry. Gaan jy naslaan om te kyk wat Calvyn werklik gesê het, vind jy gou uit dat dit weinig te doen het met die beweringe van die geleerdes wat hul status van ‘doktor’ en ‘professor’ maklik misbruik en só die arme volk wat nie toegang tot die bron het nie, mislei.”
Nog ’n krisis, wat dalk ook ’n skeuringsmotivering kan wees, is dat studente van die Universiteit van Pretoria onlangs ’n klag aan die kuratorium gerig het oor wesenlike NG Kerk- belydenisse, onder meer oor die maagdelike geboorte en die fisieke opstanding van Jesus Christus uit die dood.
Wat daarop gevolg het, is insiggewend: Die 46 studente is per sms gedreig met moontlike regstappe. Daarna is hulle een vir een ingeroep en is aan hulle voorgehou dat legitimasie hulle geweier kan word, sou hulle voortgaan met die klag. Die opsteller het nie die studente breedvoerig in die inhoud van die klag geken nie, sê die kuratorium. Ná intense ondervraging en berisping is die studente later ook onseker en distansieer hulle van die opsteller. Die kwessie begin ruik na “beheer deur vrees”.
Maar intussen kom dit aan die lig daar ís studente wat sê hulle probeer al jare lank vertel dat hulle nie met van die uitsprake van sommige dosente saamstem nie. Niemand het egter tot dusver gehoor nie, sê hulle agteraf.
Maar hulle verkies nou om stil te bly: Nie net hulle legitimasie nie, maar ook hul beurse kan in die gedrang kom.
Oor die klagte, naamlik lektore wat in sekere van hulle teorieë (volgens die studente) die hart van die gereformeerde belydenis ontken, kon gemeentes tot 10 Augustus klagtes indien oor sogenaamde “dwaalleerstellings” wat sommige teoloë sou predik.
Dr. Johan van Schalkwyk van Lynnwoodrif sê openlik “alles is nie kosher” met teologie-opleiding nie en “die gevaarligte brand oor sekere dosente. Die kerk moet weer in eenvoudige taal sê dat ons die Bybel as Woord van God glo. ’n Kairos-oomblik” in dié kerk se geskiedenis het aangebreek – die NG Kerk is in ’n krisis gewikkel. Volgens ds. Henry Williams van Petrusville-Van der Kloof “is dit tyd om dosente te vra wat hulle glo”.
Die opstand oor teologiese opleiding behels die volgende: Ondergrawing van die Skrifgesag, ’n skramse en skrapse geloof in die Belydenisskrifte, die feit dat die apostoliese geloofsbelydenis net plek-plek nagesê kan word. Dít is die kern van die probleem. Britz hou vol daar is studente wat nie kans sien om langer teologie te bestudeer nie. Van die studente hét al geloop, ander se ouers sê openlik hulle stuur nie hul kinders na van ons teologiese fakulteite nie. Só erg het die ongemak oor teologiese opleiding geword, dat ’n afvaardiging reeds navorsing oorsee gaan doen het oor die vestiging van ’n onafhanklike teologiese seminarium – een wat nié van ’n staatsubsidie afhanklik is nie.
Die dreigement is nie net teen studente gemik nie. Dosente aan van die kweekskole vertel agteraf hulle wil liewer nie meer met die media praat nie. Hulle is gewaarsku dat hulle en hul uitsprake dopgehou word. En hulle het gesinne, sê dié teoloë.
Predikantekonferensie
’n Ideale geleentheid tot intensiewe bosberaad – maar van die beraadslaging en vurige debattering oor warm kwessies het niks gekom nie.
Nie een van die bogenoemde tameletjies is by wat ’n toonaangewende byeenkoms vir die kerk kon gewees het, aangeroer nie.
Dit word openlik as ’n berustigende, emosionele eenheidsgeleentheid beskou, met net enkele predikante wat die moed het om dit agterna harop te sê. Wat hieruit voortgevloei het, is die Erasmus- groep se opstand oor die gesamentlike Getuienis (wat deur etlike lede van die moderamen opgestel is, maar nou as ’n eenheidsmening van 1 400 predikante voorgehou word).
“Dis ’n geskrif wat niks meer werd is as die papier waarop dit staan nie,” sê ’n Bellvillese predikant wat anoniem wil bly (en nié deel vorm van die Erasmus-groep nie).
Die konferensie was niks meer nie as ’n motiverende spanpraatjie om ’n eenheidsgevoel te bewerkstellig – eerder as ’n kritiese evaluering van die kerk se probleme, kwessies en tersaaklikheid in sy huidige konteks. Daar was geen geleentheid vir openlike saakstelling nie, net soos by die algemene sinode.
Bo alles is daar nié gevra nié: Wat gaan ek vir die lidmate sê oor die stand van die NG Kerk – sy toekoms?
Pas na afloop van die konferensie tref nog ’n slag die NG Kerk: Een van sy jong, opkomende vroulike predikante, ds. Sunette Pienaar, bedank en verskaf haar bedankingsmotivering – oor die nietersaaklikheid van die NG Kerk – aan die algemene media. Sy is moeg vir die NG Kerk wat by daaglikse en brandende kwessies verbykyk, en op die konferensie nooit daarby stilgestaan het nie.
Teoloë het ’n fantastiese geleentheid verspeel deurdat hulle nie openlik kon omgaan met kernvraagstukke nie. Behalwe dat ’n vae “roepingsbewustheid” ingeskerp is, gaan hulle net so oningelig huis toe oor die konteks waarin hulle staan. Selfkritiek bestaan nie. Prof. Malan Nel raai 1 400 predikante aan om nié die Sondagpers (n.a.v. berigte oor ’n dreigende kerkskeuring) te lees nie (omdat dié blad dalk, anders as die drie dagblaaie, weier om die topstruktuur se spreekbuis te wees?): dié koerant kry die skuld vir dit wat die NG-Kerkbroers hardop sê. Wanneer die NG Kerk só geteken word, is dit die skerp mes van verdagmakers, moeilikheidmakers en skeurmakers, is sy boodskap.
Maar hy ontken dat daar wél teoloë is wat die kwessie van gereformeerdheid bevraagteken.
By die konferensie kry die predikante die geleentheid om hartsvrae op papiertjies neer te skryf. Dié vrae word saamgevat en op oorhoofse projektors vertoon. Predikante kry dan die geleentheid om dit met mekaar in groepe te bespreek. En hulle hét gevra!
Oor gereformeerdheid, teologiese opleiding, die pad vorentoe, hulle sielsmoegheid, hulle spanning … maar dié kwessies het nét daar gebly – in die groepe, en op die papiertjies. Geen uitkoms, geen openlike bespreking het daaruit gevolg nie.
Predikante is huis toe met ’n gelate tevredenheid: Daar is nie toegelaat dat broers en susters in die openbaar aan die status quo torring nie.
En hulle keer terug na hul moeë, opstandige, verwarde lidmate… wat – anders as die meeste van hulle dominees – elke dag worstel met lewensvrae waarvoor die predikante van die NG Kerk eenvoudig nie opgewasse is nie, bloot omdat hul kerkstruktuur hulle op sagte kussings plaas.
Na die konferensie is die dominees huis toe (gemotiveer as eenheid, maar sonder toerusting vir die werklikheidskonteks) na ’n klomp lidmate wat steeds, antwoordloos, oor hulle daaglikse omgewing wroeg – lidmate kry herders terug wat in dié twee dae geensins toegelaat is om hieroor openlik te besin nie.
Die spierwit konferensie het nie omgegaan met sake soos regstellende aksie en mense wat hulle werk verloor nie ( ́n kerkstruktuur wat, met sy profiel, geensins sou kon verstaan waarom hierdie kwessie gaan nie en waarskynlik die enigste struktuur in die land is wat dit vermag om dié kwessie netjies te bly systap). Kan lidmate dan verkwalik word dat hulle – sover die NG Kerk weet – teen ’n tempo van 100 000 per jaar uit die Kerk wegraak?
Dis in dié konteks dat die NG Kerk staan.
Óf hy hanteer sy probleme doelgerig, óf die pad van die NNP lê vir hom voor. Hy kan nie langer ontken dat hy ’n dapper besluit moet neem nie – selfs al sou dit ’n voortbestaan in ’n nuwe konteks beteken.
Voetnotas
[1] Kyk Stefan Louw, “Tussen die duiwel en die diep blou see: Geweld en moralisme jeens gays in kerk en media”, Die Vrye Afrikaan-Intussen, Vrydag 21 April 2002, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=193
[2] Kyk Stefan Louw, “Die debat oor Skrifgesag: Oor nuwe hervormers, charismate en tradisionaliste”, p.9 in hierdie uitgawe.
[3] Kyk Auke Compaan, “Onskuldige familiekuiertjie of verspeelde geleentheid? ’n Terugblik op die NG Kerk- predikantekonferensie”, Die Vrye Afrikaan, Vrydag 1 Julie 2005, http://www.vryeafrikaan.co.za/ lees.php?id=258
[4] Kyk “NGK: Is dit ja of amen?”, Huisgenoot, 28 Julie 2005, p.10
[5] Kyk Dr. P.H. Botha, Sinode en Homoseks: ’n Kritiese evaluering van die homoseksualiteitsdebat in NG Kerk in Suid-Afrika, Kranskop: Khanya Press, 2005, p.2 van “Voorwoord”
[6] Pieter Cilliers, ’n Kas is vir klere, Johannesburg: Pieter Cilliers Produksies (heruitgawe), 2003
[7] Kyk Rapport, Sondag 26 Junie 2005, p.2
[8] Ibid., p.5