*******
Ouers van Kaapse spogskool kla oor hoof, transformasie | Netwerk24
Jana Breytenbach
08 September 2022
Ouers van ’n spogskool in Kaapstad is ongelukkig omdat tradisies van 20 dekades by dié skool glo besig is om te verdwyn in die proses om lede van die LGBTQI-gemeenskap te akkommodeer.
Die probleme met die bestuur en transformasie by Bishops College in die suidelike voorstede is nou so erg dat van die “besorgde ouers” dreig om hul kinders na ander skole te stuur.
Dit gaan volgens hulle nie net oor die transformasie van die skool se beginsels nie, maar ook oor ander kwessies soos dat seuns as straf nie die kapeldienste mag bywoon nie, die swakker akademiese prestasie en selfs swak sportuitslae – iets waarin die skool nog altyd uitgeblink en dit met trots gevier het.
Die ongelukkigheid het aan die lig gekom in ’n brief wat op sosiale media gepubliseer is en waarin die “besorgde ouers” hul probleme met die skool uiteensit.
Die skool het egter sy volle ondersteuning aan die hoof, Tony Reeler, gegee en gesê hulle is bevoorreg om hom aan die stuur van sake te hê.
Simon Peile, voorsitter van die skoolraad, het namens die skool gesê dit is “jammer dat die anonieme ouers hul brief op sosiale media gedeel het” terwyl hy en Reeler maklik toeganklik is. Hy het ook te kenne gegee dat daar op ’n vergadering verlede week wel van die kwessies geopper is.
Aartsbiskop Thabo Makgoba het ook sy volle ondersteuning aan Reeler en Peile gegee om die kwessies ingevolge die skool se regulasies uit te klaar, en het gesê hy gaan “nie betrokke gaan raak nie”.
Die “besorgde ouers” het op 2 September ’n brief van sewe bladsye aan Peile gestuur en kla daarin oor Reeler se aanstelling in Junie 2020.
Hulle begin deur Peile te bedank dat hy kennis geneem het van hul griewe op ’n vergadering op 29 Augustus. Die brief is enkele dae daarna op sosiale media versprei.
Die skrywers sê in die brief sedert Reeler se aanstelling is daar ’n “onrusbarende en vinnige verandering in die skool se kultuur, gees en identiteit”. Skadelose en trotse tradisies word volgens hulle prysgegee ter wille daarvan om meer “woke” te wees en dit word as ’n skans gebruik vir transformasie en diversiteit. Ook word vae en geïsoleerde “mikro-aggressie” glo gebruik as bewyse van ’n onregverdige stelsel in die skool om leerlinge onder dwang te voer met lesse oor ras en “geslagsrevolusie”, lui die brief.
“Die stert swaai die hond,” sê dié ouers.
Volgens die ouers het die skool sy balans verloor en dit is nie meer ’n “gelukkige plek vir baie van die seuns, ouers en oudleerlinge nie”.
Daar is onderwysers wat hul respek vir en trots op die skool en sy huidige bestuur verloor het en toenemend vervreemd voel in ’n kultuur wat hulle nie ondersteun het toe hulle by die skool aangesluit het nie, lui die brief.
Dié groep ouers bevraagteken die proses van Reeler se aanstelling en vra of sy fokus om die LGBTQI-kwessies te prioritiseer deel was van die agenda van sy aanstelling. Hulle wil weet of ouers en oudleerlinge in die proses geken is.
Hulle voer aan Reeler se agenda kom ten koste van baie van Bishops se tradisies, die tradisies wat ouers laat besluit het om hul seuns daarheen te stuur.
Nou oorweeg baie van die ouers dit glo om hul seuns na Wynberg Boys’ High of Rondebosch Boys’ High te stuur omdat “dié skole steeds in tradisie glo, trots is daarop, uitnemendheid vier en respek en goeie maniere handhaaf”.
In die brief word 18 knelpunte uitgewys en die transformasie van die skool onder die vaandel van LGBTQI-kwessies kry die grootste prioriteit. Die ouers sê daar word te veel plakkate daaroor by die skool opgerig. Die Gay Pride-vlag wat hulle langer as ’n maand gehys het, het baie van die seuns ongemaklik laat voel.
Verder kla hulle ook oor die sportprestasies wat toenemend swakker word en dat akademiese prestasies nie behoorlik gevier word nie. Daar is ook besware oor van die seuns gestraf word deur hulle nie by die diens soggens toe te laat nie.
Die ouers eis dat ’n skeidingspakket dadelik vir Reeler gegee moet word.
Die brief is egter nie onderteken nie en geeneen van die “besorgde ouers” se name verskyn daarby nie.
Simon Peile se reaksie:
Peile het gesê hoewel die brief aan hom gerig is, is dit nie regstreeks aan hom gestuur nie. Dit is op sosiale media gedeel en ’n vriend het dit vir hom aangestuur. Hy het gesê Bishops is baie toeganklike manier van kommunikasie en as hulle wou, sou die “besorgde ouers” dit maklik na hom toe kon stuur.
Hy het gesê die brief is “baie krities oor ons hoof” en is gepubliseer ná ’n vergadering met die ouervereniging. Hy is op die vergadering ingelig oor ’n groep ouers wat ongelukkig is oor die situasie by die skool.
Peile het hulle uitgenooi na ’n vergadering waar hulle hul standpunt kon stel, en17 ouers het opgedaag. Hy het gesê hy sou oor hul besware besin en besluit oor die regte manier om dit te hanteer.
Van die kwessies wat geopper is, het gegaan oor netheid, haarstyle, maniere, swak rugby-uitslae, tradisies, afname in onderrigstandaarde, bekommernisse oor die sentraliteit van die Anglikaanse geloof in alledaagse bedrywighede, die sigbaarheid van die hoof, en die “onnodige” fokus wat Reeler op kwessies soos homofobie in die skool plaas.
Peile sê baie daarvan is dinge waaroor ouers altyd besorg is, maar hy het die hoof die volgende dag daaroor ingelig. Hy het ook die skoolraad op die hoogte gehou van wat bespreek is. Van die kwessies is geldig en sal aandag kry.
Die brief is toe die naweek op sosiale media versprei. Dié brief verteenwoordig egter nie al die ouers nie en intussen het ’n tweede groep “besorgde ouers” hul onvoorwaardelike steun aan Reeler gegee en gesê dat nie al die ouers met die anonieme samestellers van die brief saamstem nie.
Peile het gesê baie van die kwessies is kompleks, maar hulle sal nie skroom om dit te hanteer nie.
Ook het die raad sy steun aan Reeler toegesê – veral oor hoe hy diversiteit, gelykheid en die gevoel van aanvaarding by die skool benader.
“As ’n Anglikaanse Christelike skool is ons vasbeslote om ’n omgewing te bied waar elke individu welkom is en gerespekteer word, ongeag sy ras, geloof of seksuele oriëntasie. Verandering is ongemaklik. Vir sommige mense sal dit stadiger gebeur as wat hulle graag wil hê, terwyl dit vir ander te vinnig gebeur,” sê Peile.
Hy het gesê Reeler het die skool oorgeneem onder buitengewoon moeilike omstandighede, wat insluit die beperkings op beweging en sosiale interaksie wat met die wêreldwye pandemie gepaardgegaan het. Daarby moes hy die kwessies oor sosiale ongeregtigheid, wat oor die land heen deur leerlinge uitgewys is, ook in ag neem.
Hy het gesê die hoof van enige skool vereis die begrip en ondersteuning van die skoolgemeenskap.
“Bishops het ’n sosialemediabeleid wat ten doel het om ons leerlinge te help om verantwoordelike digitale burgers te word. Dit is jammer dat ’n ouer ’n anonieme brief op sosiale media publiseer.”
Reeler is om kommentaar gevra, maar het die navrae na Peile verwys.