Pa en seun oor die kerk, teologie, liggaamlikheid, homoseksualiteit … en hulleself

Kyk ook:

Die volgende artikel kom uit die NGKOK (NKG Oos-Kaap) se e-nuusbrief van 29/10/10.

***********

Pa en seun oor die kerk, teologie, liggaamlikheid, homoseksualiteit … en hulleself

Teer, liefdevol en beskermend. Dit is nie woorde wat die meeste mense met Frits Gaum assossieer nie. Tog is dit presies soos gespreksgenote hom vandeesweek in Port Elizabeth beleef het.

Die bekendstelling van Umuzi-boeke se onlangse publikasie, Praat verby grense,’n uittreksel uit Frits en Laurie Gaum se e-posgesprekke in ’n moeilike tyd uit hul lewe, het vandeesweek in Port Elizabeth plaasgevind. Piet Naudé was die gespreksleier, terwyl Frits en Laurie oor die boek, oor seksualiteit, liggaamlikheid, die kerk, die beeld van God, hul onderlinge verhouding, vergifnis en sterflikheid gesels het. Die driemanskap het hul gesprek voor ’n gehoor van 40 mense in die knussige Montage-kunsgalery gevoer.

Frits het openhartig gepraat oor die tyd in sy lewe toe hy nie werklik ag geslaan het op die saak van homoseksualiteit nie, veral nie na die verslag daaroor wat in 1986 deur die Algemene Sinode aanvaar is nie. Hy het ook minder-vleiend daaroor geskryf. Toe hy in die gedaante van sy eie seun daarmee gekonfronteer is, het dit ’n tyd van introspeksie en Skrifstudie in sy lewe ingelui. Hy beskryf homself as ’n konserwatiewe Gereformeerde teoloog wat met die Bybel moes worstel. Hy kan nie bloot vanuit die moderne konteks die Skrif herinterpreer nie, hy wil die teks die voorkeur gee. Sy konklusie is dat die moderne begrip homsoseksualiteit uit die negentiende eeu kom en dat die Bybel oor iets anders praat. Daarom is dit nie korrek om die woord homoseksualiteit sonder meer in die vertaling van die Skrif te gebruik nie.

Nog een van baie sondes?

Tydens vraetyd wou ’n ouer persoon weet waarom die kerk se goedkeuring altyd vir alles gesoek moet word. Waarom kan Laurie nie ook – soos ander – maar na God gaan en sy sondes bely, wetende dat God sal vergewe nie? Wat het die kerk hiermee te doen? ’n Versigtige Laurie het bevestig hy dink ook nie die kerk het alleenreg op morele oordele nie.

Toe vind die definiërende oomblik van die aand plaas. ’n Taktvolle, besadigde Pa-Gaum verduidelik Laurie is ’n predikant van die kerk, ’n werknemer van die kerk, en daarom maak die kerk se standpunt saak. Maar verder is Laurie se oortuiging dat God hom ook na die Beeld van God gemaak het, en dat sy mens-wees daarom nie bloot gelys kan word tussen ’n lys ander sondes nie, in die geselskap van hoere, kindermolesteerders, diewe en verslaafdes nie. In sy seksuele voorkeur dra hy die beeld van God.

Die wyse waarop Frits die pa-ding gedoen het, om nie-paternalisties sy seun se posisie te verduidelik, het nie by die aanwesiges verbygegaan nie. Mens kon sien hoe mense dié twee bekyk, hulle lyftaal lees, op soek na leidrade oor waar die pa-seun verhouding staan, en hoe die twee die pyn, wat so publiek in die koerante uitgestal is, verwerk het. Toe Frits verrassend openhartig vertel hoe moeilik die gebeure vir hom was om te verwerk, maar hoeveel nader dit hom en Laurie aanmekaar gebring het, was die gehoor oortuig. Jy kon die meelewing op hul gesigte sien.

Rustig

Laurie self is rustig in sy seksuele voorkeur. Hy is na die beeld van God geskep. Sy homoseksuele voorkeur kan vergelyk word met die kruis, en in terme van sosiale afkeur met ’n kruis wat mens moet dra. Maar net soos jy die kruis omhels, en daarin lewe vind, omhels hy sy seksuele voorkeur, leef daarmee en vind vryheid in Christus.

Geregtigheid is die tema waaruit Laurie oor homoseksualiteit en sy sosiale bydrae daaroor wil dink. Gays is ’n gemarginaliseerde minderheidsgroep. Net soos ons kerklike samelewing bemoedigend ontwikkel in die rigting van groter akkommodasie vir vroue, en swart mense, net so moet dieselfde ruimte-skeppende geregtigheidsbeginsels toegepas word op gays.

Ons onvermoë om werklik oor liggaamlikheid en geskapenheid teologies na te dink, is ook belig. Die Bybel praat oor skepping, seks, liggaam, maar ons teologie is serebraal, beperk tot die kop, en kyk afkeurend na liggaamlikheid. Teologies werk ons met ’n mensel van die moderne lewensgevoel (ons is teologies net brein) en die Griekse dualisme (sonde sit in die materie, die liggaam).

Die gehoor het oorwegend uit ouer persone bestaan. Na afloop van die gesprek het mense gesê hulle is nog onseker oor hulle standpunt, maar dit maak ’n groot verskil om iemand soos Laurie in lewende lywe te ontmoet en sy hart te sien.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui