PAKEHAS – ‘n Reis tussen twee kulture
Fanie le Roux
Hamilton, Nieu-Seeland
27 Desember 2022
Op ‘n boekrak in ‘n groot boekwinkel hier in Hamilton pryk een van die nuutste boeke wat in Nieu Zeeland gedruk is: Becoming Pākēha – A Journey between two cultures, geskryf deur ene John Bluck.
Dadelik tel ek die boek op en oorweeg om dit aan te koop want in die kort tydjie wat ek in hierdie land deurgebring het, het die politieke en rassesitsuasie my aangegryp.
Nieu-Seeland is nie alleen op die uithoek van die aarde nie, maar is ook eers relatief laat bevolk. Vir baie eeue het hierdie twee groot eilande onbevolk en onbewoon gelê en toe die eerste Europeërs hier aangedoen het, was hulle verbaas oor die mooi en ongerepte natuurskoon en veral die duisende voëls en die voëlgesang vroeg soggens. Dit moes ‘n sonderlinge ervaring gewees het, skryf ‘n vooraanstaande Nieu Seelandse geskiedskrywer, Michael King in sy History of New Zealand. Dit was ‘n landstreek sonder mense en die voëllewe het gedy. Soos die eerste mense dit gehoor het, het mense daarna dit nooit weer gehoor nie want baie voëlsoorte het intussen nadat mense die eilande beset het uitgesterf. Veral ook die groot Moa, die grootste voel wat die aarde nog geken het, heelwat groter as die volstruis wat ons in Suid-Afrika ken.
Die Maori’s was die eerste mense hier, waarskynlik eers in die dertiende eeu hier aangekom. Inwoners van die Suid-see eilande wat op merkwaardige wyse die talle eilande van die Stille Oseaan ontdek en begin bewoon het.
Daarna het die Europese koloniste gekom. Die beroemde Kaptein Cook het die eilande in 1769 ontdek. Die Hollanders was ook vir ‘n tyd aan die begin hier bedrywig, vandaar die feit dat hierdie land na ‘n provinsie van Holland vernoem is nl. Zeeland. Een van die seestrate heet dan ook vandag nog Tasman, vernoem na ‘n vroeë Hollandse ontdekkingsreisiger. Soos aan die Kaap het die Engelse die gebied oorgeneem as ‘n kolonie van Engeland en vandag nog is Nieu-Seeland deel van die Britse statebond en beskou hulle hulleself nog onder die Kroon van die Engelse Koningshuis.
Daar was gou wrywing tussen die koloniste en die vroeëre inwoners van die land, die Maoris en na ‘n reeks oorloë is daar ‘n verdrag gesluit: die verdrag van Waitangi 1840 wat skynbaar tot vandag toe nog omstredenheid veroorsaak. Die verdrag het hoofsaaklik oor die verdeling van die land en grondbesit gehandel en daar was klaarblyklik onduidelikheid oor die interpretasie van die verdrag wat aanleiding gee tot ongelukkigheid en die Maori’s wat beweer dat die Engelse en Europeërs nie die bepalings van die verdrag nagekom het nie.
Vandag is die Maori’s sterk in die minderheid, slegs 17% van die bevolking. Die Europeërs (Pākēhas) maak meer as 70% van die bevolking uit.
Die Maori’s het volledig deel aan al die geleenthede wat die Westerse beskawing bied. Maar die Westerse beskawing het deur die jare ‘n oorweldigende houvas op die ekonomie en politieke sisteem van die land bekom.
Daar is ook ‘n voortdurende invloei van immigrante waaronder ons Suid-Afrikaners deesdae ‘n groot deel uitmaak. Hier in Hamilton so word beweer is daar alreeds meer as 25,000 Suid-Afrikaners en soos wat die probleme onder die ANC in Suid-Afrika eskaleer neem die stroom Suid-Afrikaanse immigrante hand oor hand btoe.
Wat opvallend is, is die feit dat die Pākēha, die benaming wat die Maori’s vir die inwoners van Europese afkoms gee, skynbaar toenemend skuldgevoelens teenoor die Maori’s koester en toenemend pogings aanwend om hulle tegemoet te kom. Daar word baie klem gelê in die veral blanke Pākēha gemeenskap om die Maori kultuur sy regmatige plek te gee. By skole word die Maori taal vir die kinders geleer, die klaskamers word volgens die Maori getalname genoem en in briewe en korrespondensie,(ook regeringsbriewe), word Maori woorde en frases gebruik as die aanhef en groet afsluitings.
Kort nadat ons hier aangekom het aan die einde van November, het die plaaslike koerante berig dat die Premier, Jocinda Ardern, amptelik namens die regering met die Maori koningin onmoet het, amptelik verskoning gemaak het vir die onreg wat hulle deur die jare hier aangedoen is, en nuwe beloftes van grond is gemaak en ook is ‘n bdreag geld as skadevergoeding aangebied.
Interessant.
Die kwessie van kolonisasie en slawerny asook verontregting en gepaardgaande kompensasie is vandag wêreldwyd ‘n “hot-topic”. Dink maar net aan die omstrede BLM beweging asook Julius Malema se EFF eise vandag in Suid-Afrika.
Daarom het hierdie boek my aandag getrek. Die stryd tussen twee kulture. En die bylê daarvan.
Ek het geloer in die laaste hoofstuk. Wat is die oplossing volgens die skrywer. Wat kan ons hieruit vir ons situasie in Suid-Afrika leer?
Hy stel voor dat daar
- ‘n gesonde en opregte waardering vir die onderskeie kulture moet wees.
- Dat eerlike pogings deur almal aangewend sal word om mekaar se kulture en taal beter te leer ken.
- Dat daar meer kontakgeleenthede moet wees waarin die mense van die verskillende kulture moet leer om brûe te bou en moontlik ook sal moet werk aan ‘n gesamentlike kultuur en eensgesindheid onder mekaar sodat daar ‘n gesamentlike kultuur waarvan almal deel kan voel, kan ontwikkel.
Stimulerende gedagtes vir ons uitdagings hier in Suid-Afrika met ons groot verskeidenheid kuture.
Hoe ver ons in Suid-Afrika hiervan bewus is of hiermee gevorder het, is ‘n ope vraag. Maar dit lyk my dat ons aan hierdie saak dringend aandag moet gee sodat ons beter kan saamleef.
“PAKEHAS – a journey between two cultures”, kan net so wel heet:
“Suid-Afrika ‘n reis tussen twee kulture.”
- Ds Fanie le Roux is ‘n emeritus predikant wat by NG gemeente Kloofendal diens gedoen het. Tans skakel hy by NG gemeente Parys-Suid in.