Die volgende artikel van Julian Müller het op sy webblad www.julianmuller.co.za verskyn as Panenteïsme: ’n Nuwe verstaan van God vir ’n Nuwe Tyd?. Intussen het hy die webblad verwyder. Die artikel word hier geplaas om van kennis te neem. Kyk ook Dít wat ons nié dink, waar Julian erken dat hy ’n postteïs is, geleen van die teoloog Paul Tillich wat die behoefte uitgespreek het om ’n Godsbeeld te ontwikkel “that goes beyond theism.”
Wynand Louw het op hierdie artikel kommentaar gelewer. Kyk:
- Kommentaar op Julian Müller se “Panenteïsme: ’n Nuwe verstaan van God vir ’n nuwe tyd?”
- Julian Müller se teologie is reeds deur Athanasius as kettery ontbloot
***************
Panenteïsme: ’n Nuwe verstaan van God vir ’n Nuwe Tyd?
Julian Müller, Julie 2008
Idees oor God, denkbeelde van God en taal oor God is menslike maaksels. Dit het nie uit die hemel geval nie. Dit behels almal een of ander interpretasie van wat ons in die Bybel oor God te lese kry. En in die Bybel word ’n verskeidenheid van beelde of metafore gebruik om oor God te praat. So vind ons in die Bybel die idee dat God ’n Vader is, maar in Ps. 131 ook die gedagte dat God soos ’n Moeder is. Ons lees van God wat die hare van ons hoof getel het en in beheer van alles is, maar ook van ’n Godwat ’n Lydende Kneg geword het en soos ’n Lam ter slagting gelei is. Ons lees van God wie se naam Liefde is, en ons lees van ’n God wat jaloers is en wat straf. En dit is maar enkele voorbeelde uit ’n rykdom van beelde waarmee die ryke verskeidenheid van God beskryf word.
Deur die loop van die eeue, het al hierdie idees en sieninge oor God egter gekulmineer in bepaalde konsepte oor God wat in die tradisie van die Christendom inslag gevind het. Hierdie konsepte oor God word mettertyd so geïnternaliseer dat mense dit nie meer bevraagteken of daaroor wonder nie. Dit word eenvoudig aanvaar as die enigste geldige manier om oor God te dink. Die gevolg is dat ons dit vandag moeilik vind om ons sieninge van God en ons taal oor God te onderskei van God self. Ons is geneig om te aanvaar dat ons denkbeelde van God uit die hemel geval het en nie bevraagteken kan word nie. Dit is eenvoudig hoe God is. So vind baie mense dit eenvoudig Godslasterlik as daar oor God in die vroulik gedink en gepraat sou word.
Die feit is dat ons sieninge en beskrywings van God alles interpretasies behels. En hierdie interpretasies is nie net op die Bybel gebaseer nie, maar is ook die produk van ’n wêreldbeeld en van ’n bepaalde kultuur. Die beeld wat ons in onsself ronddra van die wêreld en die beeld wat ons het van God is interafhanklik van mekaar en speel die heeltyd op mekaar in.
Met wêreldbeeld bedoel ek hier daardie basiese konsep wat ons in ons ronddra oor hoe die wêreld en die heelal lyk en hoe God daarby inpas. Ons prentjie verskil hemelsbreed van dié van die mense van die antieke Bybelse tyd en van die mense in die middeleeue.
’n Wêreldbeeld is iets wat mens gemeenskaplik met ander mense het. Elke mens het nie ’n eie individuele wêreldbeeld wat los van die res van jou groep funksioneer nie. Dit is dus tyd-, plek- en veral kultuurgebonde. Dit is daardie prentjie oor die natuur en die heelal en God se plek daarin, wat van kleins af aan jou oorgedra word en waarvolgens jy en jou hele gemeenskap en kultuurgroep julle wêreld sien en beleef.
Die Antieke Wêreldbeeld is die wêreldbeeld wat in die Bybel gevind word. Hiervolgens het elke ding op die aarde ’n hemelse ekwivalent en andersom. As daar ’n stryd op aarde is, moet daar op een of ander manier ook ’n soortgelyke stryd in die hemel wees tussen die magte van goed en kwaad. So was oorloë dus net ’n weerspieëling van wat in die hemelse ryk aan die afspeel is. En dit wat op die aarde gebeur het tussen mense en tussen groepe bly nie maar net hier nie, dit word voortgesit en besleg op die terrein van die gode.
Hierdie wêreldbeeld was ’n drielaag- wêreldbeeld. Die beeld van die aarde was dié van ’n plat skyf wat op die chaotiese waters dryf, maar tog op pilare gevestig is. Onder die aarde is die waters waar die magte van chaos en duisternis heers. Bokant die aarde is die plek waar die gode woon en waar daar ook waters dreig. Hierdie boonste waters word deur die hemelgewelf wat soos ’n blou koepel is, van die aarde weggehou. Slegs as die sluise van die hemel oopgetrek word, kom die waters van bo af neer en dan bring dit heilsame reën of dit bring verwoestende vloede. Die woonplek van God is in die boonste verdieping en die onderste kelder verdieping is die plek van die bose.
Hierdie wêreldbeeld is nie spesifiek bybels nie. Dit is die antieke wêreldbeeld wat heersend was en die prentjie voorsien het van waaruit die bybelskrywers hulle weergawe van die werklikheid geskryf het.
Die Geestelike Wêreldbeeld het in die tweede eeu na Christus ontstaan en dit het die Judeo-Christelike wêreldbeeld verander van een waarin die skepping basies goed is, na een waarin die gevallenheid van die materiële wêreld voorop staan. Daar het ’n sterk skeiding gekom tussen die materiële en die geestelike. Die spirituele is goed en die materiële is sleg. Die wêreld is ’n gevangenis waarin dit wat goed is in die hemel, op die aarde vervalle geraak het. Die geestelike het vervorm geraak binne die materiële en die liggaamlike. Die konsekwensie was onder andere dat seks, die liggaam en die aardse lewe in die algemeen as boos gesien is en die mens se spirituele taak is om sy gees uit hierdie gevangenis bevry te kry.
Dit was op die basis van hierdie wêreldbeeld wat die kloosterbeweging en die selibaat gebou is. Die hoogste strewe binne so ’n siening van die wêreld is natuurlik om jouself teen te gaan en op so min as moontlik punte aan die aardse, materiële en natuurlike behoeftes toe te gee.
Die Materialistiese Wêreldbeeld het prominent na vore getree in die tyd van die Verligting. Dit is in baie opsigte die antitese van die vorige. Hiervolgens word die spirituele ontken en gesien as ’n illusie. Ons as mense is hiervolgens slegs ’n samestelling van chemiese stowwe en atome en wanneer ons sterf is dit al wat van ons oorbly.
In minder negatiewe terme sou na hierdie soort wêreldbeeld as die Wetenskaplike Wêreldbeeld verwys kon word. Na Copernicus en met die ontwikkeling van die natuurwetenskaplike insigte oor die fisiese wêreld en die heelal, kon die antieke siening van die heelal net nie meer standhou nie. Die een wetenskaplike ontdekking na die ander, met waarskynlik die formulering van Darwin se evolusieteorie as die ingrypendste, het gevolg. Die wetenskap het die wêreld ontluister van magiese magte en die indruk by die mens gelaat dat alles ontleed, geken en beheer kan word.
Die Teologiese Wêreldbeeld ontwikkel in reaksie op die materialistiese wêreldbeeld. Dit behels enersyds ’n erkenning dat die “hoër werklikheid” nie geken kan word deur menselike sintuie nie, en andersyds is dit ’n poging om daardie werklikheid eenkant te hou vir godsdiens en teologie. Die geestelike werklikheid word immuun verklaar teenoor die eise en teeneise van die wetenskap.. So ontwikkel ’n skisofreniese teologie wat die aardse en die hemelse uitmekaar hou. ’n Kerk en teologie wat die ontdekkings en teorieë van wetenskaplikes met ’n gelatenheid aanhoor en terselfdertyd doodgewoon voortgaan om op Sondae en by jeugbyeenkomste die teendeel te verkondig. Die wetenskaplikes het byvoorbeeld allerhande teorieë oor evolusie, maar Sondae word die “waarheid” van Genesis 1 en 2 gepreek en daar is geen ernstige poging om die uiteenlopende konklusies te integreer nie.
Die tyd waarin ons leef is kompleks en interessant. Meer as ooit in die verlede het ons ’n oorsig oor hierdie wêreldbeelde en die vermoë om uit ’n verskeidenheid van idees en konsepte oor die wêreld te kies. So ontwikkel die Integrale Wêreldbeeld. Hierdie wêreldbeeld word uit verskillende oorde gevoed: die nuwe fisika, nuwere ontwikkelinge in die teologie, die proses-filosowe en Oosterse en Afrika wêreldbeelde, om maar sommige te noem.
Hiervolgens word hemel en aarde gesien as aspekte van dieselfde werklikheid. Die spirituele word nie ontken nie, maar gesien as integrale deel van die totale werklikheid. Binne hierdie beskouing word ontdek dat die taal van die antieke wêreldbeeld gebruik maak van “spatial imagery”. Begrippe soos “bo” om na die goddelike en hemelse te verwys, en “onder” om na die ruimtes van die bose te verwys, moet metafories verstaan word.
Hierdie nuwe wêreldbeeld maak dit nodig om godsdienstige kategorieë te herdink en herformuleer. Dit is geen eenvoudige taak nie. Omdat al die konsepte van werklikheid en waarheid binne die Christelike godsdiens verwoord is op die basis van die Teologiese Wêreldbeeld, en selfs die Antieke Wêreldbeeld gevorm is. Die hedendaagse Christene, aan die ander kant is toenemend besig om te dink, besluit en doen volgens die prentjie van die Integrale Wêreldbeeld. Die nuwe wêreldbeeld maak nie meer voorsiening vir ’n hiërargiese, van-bo-na-onder hantering van waarheid nie. Die klem verskuif weg van ’n eenmaal klaar geformuleerde waarheid, na ’n voortdurende ontdek van waarheid. Die klem verskuif van waarheidskonsepte na die proses van soeke na die waarheid. Konsepte soos onsekerheid, chaos, twyfel, teenstrydigheid, wat binne die Teologiese Wêreldbeeld alles as negatief beoordeel is, word nou ontdek as betekenisvolle aspekte van menswees.
Die postmoderne mens voel hoedat die kettings van hom/haar afval. Die verslawing van konsepte wat van bo afgekondig word, volgens die Teologiese Wêreldbeeld, word nou verbreek. Eie ervaringe kry geldigheid en mense ontvang vrymoedigheid om daaroor te praat en aanvaar nie meer die konsep van ’n “hoër werklikheid” wat voorskriftelik vir die aardse lewe funksioneer nie. Die etiese en morele word binne die Integrale Wêreldbeeld nuut bedink en onderhandel.
Daar is ’n dringende behoefte om in taal, metafore en kategorieë te praat en te preek ten einde hedendaagse mense by te staan in die verstaan van die evangelie binne hierdie nuwe wêreldbeeld.
Wanneer die kerk en teologie nie daarin slaag nie, bly daar vir die soekende Christen net twee opsies oor:
’n Nog meer fundamentele versterking van die Teologiese Wêreldbeeld. Mense is geneig om bedreig te voel deur die tendense van die postmodernisme en dan terug te gryp na ou sekerhede. Hoe groter die onsekerheid binne die spiraal van die nuwe wêreldbeeld, hoe meer word gesoek na die sekerheid wat geleë is in die teenoorstaande werklikheid. Daarom hoe meer onheilspellend die koerant word, en hoe onduideliker die kerk se boodskap, hoe sterker word teruggeval op die letterlike en eenvoudige verklaring van die Bybel, met konsepte soos God wat bo ons is en vandaar af moet ingryp in ons aardse werklikheid.
Die tweede opsie is om kerk en teologie nie meer ernstig op te neem nie. As die kerk dan nie daarin kan slaag om intelligent saam te praat binne die kategorieë van die Integrale Wêreldbeeld nie, word hy nie langer as ’n waardige gespreksgenoot beskou nie. Dan het die kerk vir baie mense nog net lastigheidswaarde, want die kerk verstaan skynbaar nie waarom dit gaan nie.
Ek beywer myself graag vir ’n alternatiewe opsie. Hiervolgens moet ons eerstens eerlik met die probleem omgaan en erken dat die veranderde wêreldbeeld waarmee ons vandag funksioneer, maak dat ons nie meer ewe gemaklik met die Godsbeeld wat uit ander wêreldbeelde gebore is, kan saamleef nie.
Binne al die wêreldbeelde tot en met die integrale wêreldbeeld, het dit gepas om ’n idee van God en beelde oor God te hê, wat Hom buite die mensewêreld plaas. ’n Deïstiese verstaan, waarvolgens God die veraf Deity is wat nie in enige persoonlike verhouding tot die heelal staan nie en net die Oerbron van alles is, volg vanself uit ’n drie-laag of twee-laag wêreldbeeld. Die Teïsme (gebaseer op die Bybelse Theos) bou weer op die teologiese wêreldbeeld, waarvolgens God ’n meer persoonlike God is, maar steeds veraf sy eie ruimte bewoon.
Dit is eers met die aanbreek van die moderne era dat die werklikheid van ’n geïntegreerde of integrale wêreldbeeld die mense se bewussyn begin vul het en mense stadig maar seker ophou om te dink in terme van die ou dualistiese verstaan van alles. Binne so ’n integrale wêreldbeeld word dit al moeiliker om aan God in die ou Teïstiese kategorieë te dink. Vir die moderne mens is God nie meer “Daar Bo” nie, maar hier teenwoordig. Die hedendaagse Christen wil vashou aan die basiese Bybelse idees oor God as ’n God van liefde wat in Christus na ons uitreik, maar soek na taal om oor God te dink en te praat wat pas by die integrale beeld van die bestaan.
Hoe pas God in so ’n wêreldbeeld in? Die konsep panenteïsme is waarskynlik die resultaat van ’n soeke na taal wat kan uiting gee aan die Bybelse geloof en tegelyk getrou bly aan ’n nuwe verstaan van die wêreld. Dit wil voorkom asof die term die eerste keer gebruik is deur Karl Christian Friedrich Krause (1781-1832). Daarna het dit tot vandag in verskillende filosofiese en teologiese sieninge gefigureer.
Panenteïsme is nie dieselfde as die panteïsme nie. Inteendeel, dit is juis enersyds ’n afgrensing teenoor die teïsme en andersyds teenoor die panteïsme. Panteïsme beteken doodeenvoudig: God is alles. Die konsekwensie van die panteïsme is dat God ook vasgevang is in alles en dat daar niks oorbly van die transendente, die andersheid van God nie. Teïsme, aan die ander kant lê weer die klem so sterk daarop dat God buite alles is en nie vasgevang is in sy eie skepping nie, dat dit moeilik te rym is met die immanente, die siening van God as inherent, binne-in teenwoordig. Daarom dat die teoloog Paul Tillich die behoefte uitgespreek het om ’n Godsbeeld te ontwikkel “that goes beyond theism.”
Die panenteïsme daarenteen beteken: God is in alles en alles is in God. Hiervolgens is God nie vasgevang is die skepping nie. Panenteïste glo dat God teenwoordig is in alles, maar tegelyk ook meer is as die heelal. Dit verwoord ’n poging om getrou te bly aan beide die transendente én die immanente verstaan van God.
Uiteindelik moet ons aanvaar dat al ons pogings om oor God te praat en om die verhouding tussen God en die skepping in taal vas te vang, gebrekkig is. Als is voorlopig. Daarom sit ek ook ’n vraagteken agter die titel van hierdie artikel. Ek vra bloot die vraag of die konsep van panenteïsme nie moontlik kan help om vir die mens van vandag wat met ’n integrale wêreldbeeld funksioneer, taal te voorsien om sinvol en Bybelgetrou oor God en wêreld te dink en te praat nie?