Parys se ‘ou mense’ veg vir Waarheid – ek eer hulle

*******

BRIEF | Parys se ‘ou mense’ veg vir Waarheid – ek eer hulle | Rapport

Sondag, 02 Maart 2025

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:

Dr. Piet Bernard (23.02) vra wie in die Parys-gemeente die eerste klip gaan gooi. Hierdie geleerde is skoon die kluts kwyt met sy vooroordeel, want dit gaan hier nie oor klipgooiery nie, maar oor die handhawing van Bybelse waarheid en skrifgetrouheid.

Dan meld hy “verstommend egter is dat hulle hulle besig hou met dolering teen die siening dat homoseksualiteit nie sonde is nie”, want “volgens hul Bybel is homoseksualiteit ’n sonde”.

Dr. Bernard, wat vir een persoon verstommend is, is vir die ander persoon vanselfsprekend. En dis ook nie ‘hul’ Bybel nie, dis alle Bybels wat herhaaldelik alle homoseksuele dade as ’n gruwel vir die Here omskryf.

Dan kom hy met die verstommende verklaring dat daar nie iets soos groot en klein sondes is nie. Met so ’n skokkende verklaring moet ’n mens die afleiding maak dat dr. Bernard nooit self enige Bybel lees nie, want daar staan dat sondes wissel van minimaal tot onvergeefbaar.

As jy te lank na ’n vrou verkeerdelik kyk, kan dit teen jou getel word. Vir ander sondes moes ’n offergawe gebring word. As jy vir die Here lieg, kan jy dood neerslaan soos Annanias en Safira, terwyl jy vir ernstige sondes gestenig kan word. Die sonde teen die Heilige Gees sal nooit vergewe word nie.

Deesdae wil geleerde vrysinniges die Bybel “ontsondig” sodat mense glad nie hul sondes besef nie en dan hulle nie hoef te bekeer nie, totdat hulle eendag op die oordeelsdag wakkerskrik en besef dat die liberale teoloë vir hulle gelieg en hulle bedrieg het, en hulle die ewige lewe daardeur kwyt is.

Dr. Bernard se statistieke is erg verdag en hy skep vir homself ’n “groot sondepenarie”, soos hy self daarna verwys.

Hy verwys neerhalend na die lidmate van die Parys-Suid-gemeente as “ ’n groep ou mense”. Maar weet hy dan nie dat met die grysheid kom wysheid nie? Ons moet almal eerder ons hoed afhaal uit respek vir hierdie groepie ou mense wat nie meer ’n bang haar op hul kop het nie en wat nog opstaan vir Bybelse waarheid, nes ’n Luther van ouds, en by ’n teologies kategoriale ring wil inskakel. Vele ander Bybelse gelowiges en regsinniges sal hulle hier wil volg.

Die NG Kerk het nog altyd geleer dat homoseksuele dade sonde is en so is almal gekatkiseer totdat dit deur gay en gay-gesinde teoloë gekaap is.

briewe@rapport.co.za

 

1 thought on “Parys se ‘ou mense’ veg vir Waarheid – ek eer hulle”

  1. Die SBTS (Southern Baptist Theological Seminary) se Boyce College-vleuel in die VSA onder die Presiderende hoofskap van Dr. Albert R Mohler, se logo spreek kort en kragtig, “CONVICTIONALLY CHRISTIAN, NOT CONVENIENTLY CHRISTIAN. See for yourself”.

    Bovermelde rede wat in die NG Parys–kerk aangevoer word as hoofstroom beweegrede (?-miskien het ek nie al die feite) ten behoewe van handhawing van Bybelse waarheid en skrifgetrouheid, klink seker navolgingswaardig. Sou mens wel in die verlede terugkyk, en na ander aspekte kyk van wat in die kerklike ruimte gebeur, is daar – myns insiens – baie ander redes eerder wat ‘n wegbreek byna onmiddellik sou genoodsaak het, waar, onder meer –
    1. Verskillende (en versagtende) opinies oor die satan se bestaan oor die jare begin posvat het onder top teologiese akademici en leraars in die NG arena met soort van skouer-optrek deur menige NG lidmaat wat spreek dat húl nie so dink nie, en dus nie hoef betrokke te raak in enige ‘geveg’ daaroor, of sommige wel so dink, en dus ‘nou oordeel jy!’ aanvoer;
    2. Of waar die opstanding van Christus deur sommige geestelike leiers as eerder ‘n soort van ‘geestelike opstanding’ (? – my korrekte woorde uitdruk ontbreek nou) in terme van ‘n metaforiese interpretasie gesien kan (of moet?) word, en nie ‘n liggaamlike opstanding nie;
    3. En ‘n vroue-teoloog wat uitdruklik, nie vanuit die NG stal maar wel in die opleidingsfeer, die historiese rede van ‘n God wat Sy Seun ‘straf’ veroordeel, wat juis die kern van die evangelie is wat spreek van GOD se volmaakte ontlediging deur Sy Seun, en Hom waarlik ‘onregverdig straf, soos ‘n lam ter slagting. Die Bybel is tog duidelik daaroor.
    4. BOGENOEMDE opsigself (en daar is baie ander kommerwekkende aangeleenthede ook), moes genoeg rooiligte laat flikker het, om oor onmidelike opskorting te besin en deur te voer. Jare gelede. En as mens dieper kyk, dekades gelede.

    Dit is waarlik openbarend, hoe die ouer garde vir jare en jare, die leraars en teoloog duld, eerder as om hul ernstig aan te vat met ultimatums. Gaan soek maar gerus by die ouer gardes en middeljariges die redes vir die kerke se groot louheid, want dit is HUL BEURSIES wat alles instandhou. So ‘koop’ hul seker maar die leraar en teoloog en dosent so indirek met hul beursies, om hul ‘gerieflike christenskap’ op ‘n ‘makeer-die-pas-manier’ te behou, en tog net nie enige-iets wil doen, om hul persoonlike omgewings te destabiliseer nie.

    Jare gelede vind ek myself laatnag by die sterfbed van so persoon – na ‘n oproep van ‘n persoon van 2 ou mensies, onverwant, wat op sterwe is in ‘n ouetehuis – uit die NG stal, en dit was hartverskeurend
    om te beleef die geweldige geestelike misleiding wat haar so ‘aan-die-gang-gehou-het’ vir jare. Op haar sterfbed, kon mens die bose se stryd letterlik ervaar met haar, in haar laasste ure. Tot mens se grootste verbasing, gaan ek na die volgende persoon se sterfbed onmiddelik daarna – ‘n ou AGS tannie – wat aam Altzheimers gely het, en die lig en vrede in daardie klein kamertjie, saam met haar diep-gelowige ouer dogters, was presies die teenoorgestelde van die ander ou tannie , en hul spreek, en praat van hul ma wat die Here haar hele lewe lank so getrou gevolg het en Hom haar alles gemaak het.

    Beteken dit nou dat mens impliseer, alle ou ooms en tannies in die NG is ‘verlore’? Geensins. Die wat wedergebore is, se saak is tog reg, en daar is ongetwyfeld heelwat van hulle wat met die Here ‘n pad stap vir dekades. Die dilemma is: watter voorbeeld is dit vir kinders + kleinkinders, as hul sien die ouma en oupa is maar eerder bang jan as dooie jan by die kerk? My ervaring is, dat die kinders en hul kinders, by hul werk, dan NETSO gaan wees: eerder bang jan as dooie jan, en maar gaan ja en amen op korrupsie, en waarhede verdraai, en ander pad kyk, en hoeveel ander kompromie op kompromie sal aanvaar selfs in die sekulêre omgewing. Dit laat mens dan VERAL NOG STEEDS met die vraag, hoe diep so ‘wedergebore ou oom of tannie’, se verhouding met die Here waarlik is…

    En so menigmaal, vir jare, vra ek myself af: hoeveel; NG ooms en tannies is al die ewigheid in sonder Christus, en die leraar het dit nooit sy saak gemaak om hul by Hom te kry, of hul aksies/vrugte gebruik (of die groot gebrek daaraan) van ‘n lewe wat Christus waarlik ken, of nie, as toets om hom daarin te lei?

    Mens wil amper nie eens daaraan dink. Maar as SO leraar moet sterf, wat sal met hom (of haar) gebeur?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui