Perspektiewe oor Teologiese veranderings binne die NG Kerk oor die afgelope ongeveer vyftig jaar

Kyk ook:

Deur Hanan Viljoen

Datum: Einde 2007 of begin 2008

Deel I: Die Ommekeer in die Skrifbeskouing

As iemand sou beweer dat daar nie oor die afgelope twintig of dertig jaar ’n groot “gefladder” in die teologiese duiwehok van die NG Kerk gekom het nie, sou ons só iemand kon beskrywe as óf heeltemaal oningelig, óf heeltemaal uit voeling met die werklikheid!

As nóg iemand sou sê dat die heersende roeringe nie ingrypende implikasies het vir ons geloof as lidmate, en daarmee ook vir die praktiese lewe van die Kerk nie, sou ons wou sê dat so ’n persoon regtig nie insig het in die realiteite van die kerklike lewe nie.

Die doel met hierdie skrywe is eerstens om perspektief te probeer gee oor wat oor die afgelope jare in die NG Kerk aan die gebeur is. Verder wil ons ook probeer om ’n oplossing of twee uit die Skrif aan te dui vir die dilemma waarmee ons gekronfonteer is.

Dit is vóór alles belangrik dat ons moet verstaan waaroor “die gefladder” presies gaan. As ons dít nie begryp en ten opsigte van die oorsake van die onrus met mekaar tot vergelyk kan kom nie, sal die huidige konflik voortduur. Meer nog, die NG Kerk gaan homself doodbloei. Onmoontlik?! Vergesog?! Bangmaakstories?!. So mag meer as een miskien oor die laaste stelling voel. Wie egter weet wat teologies en kerklik oor die afgelope vyftig tot sewentig jaar in oorseese lande plaasgevind het, sal daarvan bewus wees dat die opmerking oor “doodbloei”, nie ’n bangmaakstorie is nie, maar ’n baie groot waarskynlikheid. Wie trouens die hand op die pols het, sal weet dat hier by ons in Suid Afrika die getalle lidmate wat reeds uit die NG Kerk vertrek het – en steeds vertrek – duisende beloop. Baie gemeentes het reeds “toegemaak”.

Laat ons in die eerste plek dan kom by die vraag waaroor die groot “gefladder” gaan? Hierop gee Prof Dolf Britz van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat die antwoord. Dit word weergegee in die Gereformeerde Internet Tydskrif Vox Viva van Desember 2007. (Webblad: www.tafelbergkerk.co.za/voxviva), onder die titel van Skrifbeskouing by die NG Kerk – die afgelope 50 jaar. [Kyk Op watter tak? Iets oor die standpunte rondom Skrifbeskouing by die NG Kerk gedurende die afgelope 50 jaar.]

As Kerkhistorikus neem Britz die teologiese verwikkelinge binne die NG Kerk oor die afgelope vyftig jaar onder die loep. Hy doen ook deeglike verantwoording van die feite wat hy op die tafel plaas. Ek wil waag om te sê dat daar nie oor die afgelope tien jaar ’n dokument op die teologiese tafel gekom het, wat die aandag van lidmate, predikante en teoloë meer dringend vra, as dié van Prof Britz nie.

Die kern gevolgtrekking waartoe Britz in sy 14 bladsye studie kom, is dat daar ’n “ommekeer in die teologiese Skrifbeskouing” van die NG Kerk gekom het. (Sien bl 1 van sy artikel). Hy toon ook aan dat hierdie ommekeer aan “die kern van die bestaan” van die NG Kerk lê. Hiermee, meen ek, bedoel Prof Britz dat dood en lewe vir die Kerk saamhang met sy Skrifbeskouing en Skrifhantering. Ek glo dat min van ons met hom hieroor sal verskil.

Briz begin agt-en-vyftig jaar gelede by die intreerede van die jong Dr Pieter Verhoef as Professor aan die Kweekskool op Stellenbosch. Aangesien besonderhede rondom die genoemde teologiese verwikkelings in detail in die genoemde Vox Viva tydskrif uiteengesit word, fokus ons slegs oorsigtelik op enkele hoofmomente. Die volledige dokument is ook verkrygbaar vanaf die skrywer self (e-pos britzrmhum@mailouvs.ac.za, Tel 051 401 2670 (k), 051 444 0007 (h) sel 083 407 1547).

Prof Britz wys met die nodige bronnelys-aanhalingsas bevestiging daarop, dat Dr. Verhoef by die genoemde geleentheid “die oortuiging van die NG Kerk ge-eggo het, dat dit in die Skrif allereers om die openbaring van God gaan.” Hy vervolg: “Verklaringsmetodes waarin ’n totale vermensliking van die Woordvan God op die spits gedryf is om die heil vir die moderne mens aanvaarbaar te maak, het by die kerk nie navolging gevind nie.”Wie noukeurig hoor wat Britz in die bostaande stellings skrywe en ook op hoogte is met wat veral in die teologiese debat oor die DVD van WTL gesê is, sal weet dat die aanvaarbaarmaking van die boodskap van die Bybel vir die moderne mens, as dié metode voorgehou word om die Kerk te “red”!Ons dink veral aan opmerkings soos dié van Prof Julian Muller oor die sg. “agterhaalde teologie en wêreldbeskouiing” wat die moderne mens nie meer aanspreek nie. Dit is vanuit hierdie “aanvaarbaarmaking”, dat die maagdelike geboorte van Christus, Sy liggaamlike opstanding, Sy hemelvaart, en bo alles Sy plaasbekledende lyding en hoëpriesterlike werk bevraagteken en selfs lasterlik daaroor gepraat word!Die teenstelling tussen die Skrifbenadering van destyds en van vandag, is hieruit reeds meer as duidelik. Dit gaan in die eerste plek daaroor of ons die Bybel sien en gebruik vanuit die teologiese Skrifbeskouing van die Reformasie, óf dié van die moderne Skrifkritiese benadering.

Britz gaan verder en haal Prof JL de Villiers, nog ’n teoloog uit daardie tyd, aan. De Villiers stel dit, dat óf jy “aanvaar die woord van God as geïnspireerd deur die Gees van God en dat dit daarom absolute gesag het, óf, dit is ’n gewone boek, wat volgens gewone hermeneutiese reëls, geldig vir alle boeke, uitgelê moet word. ” “Die Gereformeerde eksegeet,” sê De Villiers “gaan uit vanuit die eerste benadering.”

Britz haal ook Prof FJM Potgieter uit die vyftiger jare aan. Potgieter skrywe oor die Skrifbeskouiing van Barth wat gesê het dat die Bybel mensewoorde “vol foute en feile is, en as sodanig regmatige objek van kritiek moet wees. ”Hierteen neem Potgieter stelling in en sê “ Die Skrif bly die Woord van God al is dit ter wille van ons in menslike taalvorm gestel, net soos Christus God gebly het, al het Hy as Middelaar ter wille van ons die menslike natuur aangeneem.” Een ding word uit die skrywes van die drie genoemde professore van destyds duidelik. Dit is dat hulle – soos hulle kerk destyds – die Bybel as onfeilbare openbaring en spreke van God gesien het. Vanuit hierdie benadering was die heilshistoriese gebeurtenisse soos die vleeswording van Christus, Sy plaasvervangenede sterwe, Sy opstanding, Sy hemelvaart en Sy wederkoms as letterlike gebeurtenisse gesien. Die heil en die genade van God was ook onlosmaaklik aan hierdie gebeurtenisse gekoppel. In kort, dit was “dié evangelie” wat verkondig was. Die historiese verhale rondom die evangelie was nie metafories vertolk of simbolies geïnterpreteer nie. Om die kontras in die teologiese benadering van die huidige tyd aan te dui, is miskien oorbodig. Laat my met die enkele voorbeeld van die opstanding van Christus volstaan. In die “metaforiese teologie” word die opstanding nie letterlik as historiese gebeurtenis opgeneem nie, maar simbolies vertolk. Ons wil aanvaar dat die meerderheid persone wat hier lees, met die feite van die debat vertroud is. U sal ook daarvan bewus wees dat die tradisionele manier waarop die evangelie verkondig was, in die jongste tyd beskryf is as “agterhaald” en gelyk aan ’n “plat aarde wêreldbeskouing waaraan die moderne mens nie meer glo nie.” Hierdie veranderde benadering in die evangelieverkondiging is volgens Britz “die ommekeer” wat in die teologiese Skrifbeskouing van die NG Kerkgekom het. Hy is reg. Op voetsoolvlak, soos by die teologiese opleiding van studente, beteken die nuwe Skrifbenadering, dat vir studente gesê word dat ons nie meer letterlik glo in die wonderwerke van die Bybel nie – Ou en Nuwe Testament. Geen wonder nie, dat volgens ’n skrywe van ’n teologiese student in die Kerkbode van 16 November 2001 tientalle studente by Tukkies hulle geloof verloor het, en reeds hulle studies gestaak het! Die gemis aan integriteit wat saamhang met die nuwe benadering tot die Bybel, is iets waarmee hulle klaarblyklik nie kon saamlewe nie.

Ons kom kortliks terug by die skrywe van Prof Britz oor die teologie in die vyftiger jare. Hy sê dat die Skrifsiening van destyds soos weerspieël in die benaderings van genoemde drie professore, bevestig was uit talle artikels, publikasies en standpunte in die Kerkbode. Volledige voetnotas en aanhalings wat in die dokument van Britz via Vox Viva se artikel gegee word, onderskryf wat hy beweer.

Nadat Britz die perspektief oor die Skrifteologie van vyftig jaar gelede gegee het, kom hy by die huidige sienings en noem dit “die ommekeer”. Hy haal weer dieselfde Prof Verhoef van vyftig jaar gelede aan, wat skrywe dat ’n ander sienswyse en oortuiging as dié wat hierbo weergegee is, in die NG Kerk posgevat het. Volgens hierdie oortuiging het die Bybel ’n boodskap, “maar, die kultuurhistoriese verpakking waarin dit kom, is bloot menslik en daarom onbetroubaar. Die Bybel is ’n blote produk van sy tyd. Ons moet binne die gemeenskap van die gelowiges in ’n positiewe sin”agterdogtig” wees, selfs oor die voorveronderstellings waarmee die Bybelskrywers gewerk het.” Hierop reageer Prof Britz met die volgende stelling: “Met so ’n verstaan van die Skrif bly die kennis van die sekerheid en waarheid vir die Kerk nie meer ongeskonde nie.” Heel tereg maak hy hierna die gevolgtrekking dat die huidige benadering tot die Bybel die NG Kerk voor ’n keuse stel.Hy verduidelik dit soos volg: “Die kerk sal óf sy belydenisgrondslag moet verwerp om ruimte te skep vir die huidige beskouiing, óf hy sal dit desnoods met leertug, moet handhaaf.” Weereens is Britz reg. Wie vanuit integriteit met die feite van die saak wil omgaan, sal nie anders kan as om die genoemde twee alternatiewe te onderskryf nie.

Britz gaan voort en skrywe dat sedert ongeveer 1970 daar ’n klemverskuiwing gekom het “van Godswoord, na die mensetaal waarin dit gestel is.” Hy kies sy woorde om die genoemde “verskuiwing” te beskrywe noukeurig, en sê dat dit dikwels “so genuanseerd gedoen was, dat die Goddelike oorsprong en gesag van die Skrifnie in die gedrang gekom het nie.” Sou Britz dalk bedoel dat die voorstaanders van die nuwe nuwe teologie nie duidelik wou laat blyk waarmee hulle regtig besig was nie?!

Sonder om verder die gebeure wat Britz toelig, volledig te probeer weergee, wys ek slegs op die gevolgtrekking van sy skrywe. Hy sê naamlik dat die huidige benadering tot die Skrif daarop neerkom dat die Bybel gesien word as “mensewoorde oor God”.Dit verg geen geleerde om die konsekwensies van hierdie stelling te verstaan nie!Die implikasie is gewoon dat die “mat van sekerheid dat God Homself wel geopenbaar het”, onder gelowiges se voete uitgeruk word.

Dank die Here dat die Skrif, ondanks die teologie wat hierbo beskrywe is, “soos ’n vuur en soos ’n hamer is wat die rots vermorsel” (Jer 23: 29), dat dit “lewend en kragtig” bly (Heb 4:12). Dit bereik die doel waarvoor God dit gestuur het altyd weer en keer nie leeg na Hom terug nie (Jes 55:11). Geen menslike ongeloof of nuwe teologie kan iets daaraan afdoen nie. Al wat ons moet doen, is om die Woord in die krag van die Heilige Gees te bly verkondig (1 Thess 2:5). “Die wapens van ons stryd – waarvan die Skrif nommer een is – bly kragtig deur God om vestings neer te werp” (2 Kor 10:4).

Die geloof dat die Bybel God se Woord is, en nie mensewoorde oor God nie, is onvergelyklik mooi vasgelê in ons ou Gesang uit die jaar 1806 (Lied 255 verse 1-3 in die Nuwe Liedboek):

Woord van God, Woord van die lewe

Woord vir ewig vas en waar.

Woord onfeilbaar en verhewe

Waarin God Hom openbaar.

Woord betroubaar vas en waar

Deur miskenning, deur gevaar.

Wat sou ons dan ooit laat bewe?

In dié Woord het ons die lewe!

T’rug tot in die grys verlede

Bou Gods Woord vir ons ’n brug.

Oor die troebel van die hede

Open dit ’n toekomsvlug.

Spreek die Here, word die tyd

Oomblikke van ewigheid.

Deur Sy Gees laat God verhewe

Ook in ons Sy woorde lewe.

Trotse berge sal eens wankel

Elemente sal vergaan.

As die skepping selfs verander

Bly Gods Woord onwrikbaar staan!

Bo die ruimte, bo die tyd

Heers die Heer in ewigheid.

Ons geloof bly vas geanker

In Gods Woord wat nimmer wankel!

Inderdaad het ons vaders geglo dat

Wat die Bybel sê, God sê.

en

Wat God sê, sê die Bybel!

Prof Britz wys uiteindelik in bladsye 14 tot 17 van sy skrywe daarop dat dat daar geen duideliker bewys daarvan is dat daar “ ’n ommekeer in die NG Kerk se Skrifbeskouing” gekom het, as dit wat in 2000 gebeur het nie. Dit was naamlik die bekroning met die Andrew Murrayprys van die boek van Ben du Toit met die titel God? Geloof in ’n postmoderne tyd. Du Toit stel dit blatant, soos aangehaal op bl 1 van Britz se skrywe, dat die benadering dat die Bybel deur God ingegee is “onwetenskaplik en ontdaan is van enige integriteit” (!) Om soos Du Toit vanaf hierdie standpunt uit te kom by die New Age oortuiging dat die mens se siel deel is van “die kosmiese siel” (!), verbaas nie. Wat wel verbaas, is dat Du Toit ondanks artikels 3 tot 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenissteeds geordende predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk is!Is dít integriteit?Of sou dit ’n bewys daarvan wees dat die Woord van God nie regtig meer vir die NG Kerk die Woord van God is nie?

Daar kan nog baie meer oor die skrywe van Prof Britz gesê word. Graag wil ek egter die aandag vestig op ’n stelling op die tweede laaste bladsy van die Vox Viva artikel. Hy verduidelik dat “die ommekeer” waaroor sy skrywe gaan, “nie uit die lug geval het nie, maar dat dit verband hou met die feit dat die historiese kritiek (in die algemene sin van die woord) oor die afgelope 50 jaar ’n fundamentele uitgangspunt in die teologiese opleiding van die NG Kerk geword het.”Hierdie is ’n ingrypend belangrike stelling van Prof Britz m.d.o. op die verstaan van die sentrale tema van sy artikel. Om dit te begryp, moet ons die begrip “historiese kritiek” wat hy gebruik, kortliks verduidelik. Historiese kritiek dui op die Skrifsiening dat die Bybel baie oud is, en dat die kultuur en denkwyse van die destydse premoderne tyd die boodskap van die Bybel gevorm en bepaal het. Die konteks van die geskiedenis van destyds het dus die deurslag gegee t.o.v. dit wat ons in die Bybel lees. Om die boodskap van die Bybel vir vandagte verstaan, moet dit vrygemaak word van “diekultuurbepaaldheid” van destyds, en in terme van moderne “insigte” verklaar word. Anders gestel: Die historiese konteks maak dat die boodskap van die Bybel, sóós dit daar staan, nie meer vir ons tyd van toepassing is nie. Hiermee word dit meteens duidelik waar, in die breë genome, die teologie en standpunte van ons dag vandaan kom. Dit kom uit die postmodernistiese liberale teologie. Laat my weereens een praktiese voorbeeld noem, naamlik homoseksualisme. “Skrywers uit die pre-moderne tyd, soos Moses (Levitikus 18 en 20) en Paulus ( Rom 1 en 1 Kor 6: 9-10, ens)” word gesê “was nie bewus van die sielkundige kompleksiteit van die probleme van homoseksualisme nie. Om dié rede het hulle daaroor geskrywe soos hulle het.”

Uiteindelik kom die nuwe teologie, soos dit o.a. gestalte neem in Ben Du Toit se siening, dus daarop neer, dat die soewereine werking van die Heilige Gees in die totstandkoming van die Bybel, ontken word. Die historiese kritiek, wat volgens Britz, “oor die afgelope 50 jaar die fumdamentele uitgangspunt in die teologiese opleiding van die NG Kerk geword het,” het vanselfsprekend daartoe meegewerk dat baie van ons predikante in hierdie teologie opgelei is. Só verstaan en preek hulle ook die Skrif! Dit sal u interesseer om te weet dat ’n baie begaafde, maar ook geestelike ryp student teenoor my opgemerk het dat 80 tot 90% van die teologiese studente se koppe reeds gedraai is in die rigting van die nuwe Skrifsiening.Alhoewel die genoemde student oor die TeologieseFakulteit van Pretoria gepraat het, is dit bekend dat die Fakulteit op Stellenbosch op dieselfde pad is. Lees gerus die boek van Pieter Pelser “NG Kerk …Reformeer of Disintegreer”

Die “Kommentaar” van teologiese student Ferdie Mulder wat in die loop van 2005 verskyn het, gaan van begin tot einde juis oor hierdie histories-kritiese benadering tot die Bybel. Dat die Ringe, wat die klagtes oor dwaling teen die dosente ondersoek het, hulle onskuldig bevind het, verbaas nie. Die Ringsdominees was immers in dieselfde teologie opgelei as wat hierbo beskryf is! Dit moet ons ook nie verbaas dat lidmate se ore tuit van dit wat hulle deesdae hoor dat jong dominees verkondig nie. Om die teologie van die nuwe Skrifbeskouingof “Historiesekritiek” soos Britz dit noem, aan te hang, en nogtans te sê dat jy in die Bybel as die Woord van God glo, is om te huigel!Dit is, soos iemand dit gestel het, “om te lieg en te weet dat jy lieg!” Dit lyk vir my dat daar vir diesulkes net een eerbare weg is. Dit is om soos Prof Sakkie Spangenberg lidmaatskap van die NG Kerk te bedank.

Deel 2

In die eerste deel van die skrywe is daar in hoofsaak op die ommekeer in die teologiese Skrifbeskouing in die NG Kerk gefokus. In hierdie tweede deel wil ons die aandag meer spesifiek vestig op die reaksie wat dit in die praktyk van die kerklike lewe tot gevolg gehad het. Ons moet veral daarop let hoe die NG Kerk amptelik deur sy Algemene Sinode daarop gereageer het.

Ons wil weereens die stelling maak dat hoe ons die Skrif sien en daarmee omgaan, allesbepalend is. As ons mekaar hier nie vind nie, gaan ons mekaar beslis nie vind nie.

Die Algemene Sinode van 2002

Dit kan as ’n onweerspreekbare feit konstateer word, dat daar met die 2002 Algemene Sinode, ’n algehele omkeer in die amptelike Skrifbeskouing van die NG Kerk gekom het. Die het gebeur met die aanvaarding van die Verslag oor die Gesag van die Skrif wat voor die Sinode gedien het. Die bekende Dr Willie Marais het in Mei 2002, vóór die genoemde sinode wat in November sou volg, ’n brief aan die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake geskrywe oor die verslag wat sou dien. In hierdie brief van 40 bladsye toon Dr. Marais aan dat die Verslag, indien dit aanvaar sou word, die vorige standpunt van die Sinode van 1986 sou kanselleer! Dit beteken, dat die Kerk amptelik ’n nuwe koers sou inslaan in sy siening van en benadering tot die Skrif. Ten Spyte van Dr Marais en ander se pogings het die Sinode die Verslag goedgekeur en daarmee die amptelike standpunt van die NG Kerk m.b.t. Skrifbeskouiing en Skrifverklaring radikaal gewysig. ’n Belangrike feit moet vooraf uitgewys word en dit is die volgende:Alhoewel by die begin van die 2002 Verslag gesê word, dat dit nie die Sinode van 1986 se verslag wil vervang nie, maar wil aanvul en verduidelik, dié van 2002 tog wel die verslag van 1986 kanselleer. Hierin moet ek dus na noukeurige bestudering van albei verslae met Dr. Marais saamstem.

Enkele Opmerkings oor die genoemde Verslag

Die manier waarop in die 2002 verslag oor die Bybel gepraat word, het nie die effek om lidmate of predikante se geloof in die Bybel as Woord van God te versterk nie. Dit breek dit af. Die “menslike” aandeel in die totstandkoming van die Bybel word op só ’n manier beklemtoon, dat die oorheersende soewereine werk van die Heilige Gees (2 Pet 2:21) op die agtergrond gedruk word. Hierdie feit word duidelik uit o.a. die volgende sinsnedes wat in die verslag voorkom:

  • “Menslike karakter van die Skrif” 5.4.1.
  • “Menslike foute in die Bybel” 5.4.1.
  • “Wetenskaplike swakheid” 5.4.2.
  • “Die voorbeelde” (van foute) “ kan eindeloos vermeerder word”
    • “Geen aanspraak op historiese eksaktheid nie” 5.4.
      • “As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikhede, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie” 5.4.5.
      • “In naakte feite is die Skrif nie geinteresseerd nie” 5.7.2.
  • “Selfs‘fiksie’ en ‘foute’ staan in diens van die waarheid” 5.7.7. [Bultmann sou die woord “mite” i.p.v. “fiksie” gebruik het! HV]
  • “Die Woord is nie primêr informatief nie maar performatief”
  • “Die bedoeling van die Skrif is van deurslaggewende betekenis.
  • Klaarblyklik is dit nie geleë in wetenskaplik korrekte informasie nie”5.10.1.
    • “Die Skrif is geskryf ‘vanuit ’n spesifieke konteks vir ’n bepaalde konteks’” 5.10.5.
    • “Ons moet daarom ook kinders wees van ons eie tyd” 5.10.6.
    • “Protologiese gedeeltes soos die eerste hoofstukke van Genesis” 5.10.8.
  • “Die swakke menslike karakter daarvan” 5.11.2.
    • “Aangesien in hierdie verslag die standpunt ingeneem word dat die Bybel nie ’n bron van foutlose natuurwetenskaplike en historiese informasie is nie” 5.11.3.

Die bostaande negatiewe en neerhalende opmerkings t.o.v. die Bybel, staan in skrille kontras met die siening wat Christus sélf oor die Woord van God gehandhaaf het. Hy het verklaar “dat die Skrif nie gebreek kan word nie” (Joh. 10:35). Hyself haal die Ou Testament 180 keer aan as betroubare Woord van God!

Die dertien opmerkings oor die Bybel wat hierbo aangedui is, kom in essensie daarop neer, dat die Bybel ’n boek is wat ons nie meer kan vertrou nie!As ons dan die Skrif nie ten opsigte van “gewone feite” kan vertrou nie, wie sê dat ons dit kan vertrou t.o.v.hoe God is?Kan ons dan nog glo in die verlossingsboodskap van die Bybel?

Duidelik is die bostaande opmerkings uit die verslag ook in teenstelling met wat Paulus se oortuigings oor die Bybel was. Hy het geskrywe:

“Die hele Skrif is deur God ingegee, en is nuttig tot lering tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim 3:16)

In Hand 24:14 sê Paulus aan goewerneur Felix dat hy

alles glo wat in die wet en die profete geskrywe is.”

Ook wat Petrus oor die Bybel geskrywe het, staan in kontras met wat in die verslag staan, nl.:

deur die Heilige Gees gedrywe ,het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet 1:21)

Laastens is die strekking van die verslag ook in teenstelling met dit wat die profete van die Ou Testament self t.o.v. die boodskap wat hulle van God ontvang het, geskrywe het. 3808 keer verwys die skrywers na hulle geskrifte as woorde wat hulle van God ontvang het. Sou die woorde wat hulle uiteindelik neergeskrywe het, slegs “mensewoorde oor God” wees, of was dit “God se Woorde”? As dit slegs mensewoorde oor God was, het die profete van die Ou Testament 3808 keer gelieg!Dan het ons ’n boek vol leuens en bedrog!Deur die eeue heen het die Kerk by monde van die belydenisskrifte bely dat die Bybel God se Woord is. Dit is wat Jesus, Paulus en Petrus ook bely het. Moet ons nou die sg. meerdere lig van hedendaagse geleerdes aanvaar?Moet ons nie eerder die woorde van 2 Kor. 11:13-15 onthou nie, wat sê:

“Sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie!Want die Satan self verander hom in ‘ engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

Dit val ’n mens verder op, dat “die verslag” geen poging aanwend om die vermeende foute, skynbare verskille in historiese verslaggewing, en sg. nie-korrekte wetenskaplike informasie, ens. in perspektief te stel, of teverduidelik nie!Daar word byvoorbeeld geen gewag gemaak van die feit dat verskillende persone algeheel verskillend verslag kan lewer oor een en dieselfde gebeurtenis nie.

Elkeen lig die gebeurtenis toe vanuit sy eie verwysingsraamwerk. Een persoon bring feite na vore wat nie deur iemand anders waargeneem is nie. Ons kan alles opsom, deur te sê:“Daar is meer as een manier om ’n ding te sê!”Te midde van die verskeidenheid van persone en maniere van segging, het God egter soewerein oorheers, en gesorg dat Sy Woord onfeilbaar neergeskryf word.

In een van sy jongste boeke behandel Dr. Willie Marais die bogenoemde sg. “inkorrekthede en teenstrydighede” in die Bybel. Hy verduidelik dat die probleme in die Bybel gewoonlik vertaalprobleme, afskryfprobleme of verstaanprobleme is. Die titel van genoemde boek van Dr Marais is “Die Bybel in die Weegskaal”..

Alhoewel die bg. Verslag oor Skrifgesag nie wou kant kies vir die liberalisme nie, is daar tog ’n diep gebrek aan ootmoed en eerbied vir die Bybel as God se onfeilbare Woord. Deur die manier waarop oor die Bybel geskrywe word, (sien die aanhalings hierbo), word die soewereine leiding deur die Heilige Gees nie ten volle eerbiedig nie. Die Verslag gebruik nie dieselfde taal as byvoorbeeld Artikel 3 van die Nederlandse Geloofsbelydenis nie. Dit praat vandie Bybel as die “Goddelike Skrif!”

Onder mooi-klinkende teologiese beredenering word dit wat eintlik in Die Verslag gebeur, verberg. Dit is naamlik, dat die mens (!) op die troon gaan sit en uiteindelik besluit oor wat waar is en wat nie waar is nie!Die menslike verstand word dus vergoddelik! Dit is wat in die teologie bekend staan as die Skrifkritiese benadering.

Die Bybel moet verder by die gees van die tyd aangepas word. Ons moet met die tyd saamgaan!Dit is die konsekwensie van wat in pt 5.10.6. van die verslag geskryf staan, nl. dat ons “kinders van ons eie tyd” moet wees. Ons het die mense en die tyd van die Bybel verbygesteek en daarom kan ons nou oor die Bybel heers. Nou dien ons ’n god wat sê wat ons wil hê hy moet sê – ’n god wat moet wees wat ons wil hê hy moet wees – ’n afgod van ons eie maaksel!Wat ons nou wil hê dat die Bybel moet sê, dit laat ons hom sê!

Dit is vanuit die bostaande benadering tot die Skrif dat ons Algemene Sinode by sy laaste sitting in 2007 nie ’n sterk en finale standpunt wou inneem t.o.v. homoseksualisme nie. Ons kom later hierby terug. Die kerk is gewoon besig om die agenda van die wêreld te volg. Laat die wêreld en die moderne mens-wetenskappe net lank genoeg iets sê, dan sê die moderne kerk dit agterna – of dit nou die Antropologie, die Sosiologie, die Sielkunde of die Opvoedkunde is!

Onwillekeurig dring die vraag homself na vore wanneer die Kerk sal besluit dat die maagdelike geboorte van Christus, Sy liggaamlike opstanding en die algemene opstanding van die dode, nie meer geglo hoef te word nie – ook nie die versoeningsleer en die wederkoms van Christus nie!U is bewus daarvan dat genoemde loëning van basiese geloofswaarhede lank reeds wêreldwyd in sekere kringe in die teologie aan die gang is. Uiteindelik sal teoloë dit ook vir ons sê dat ons nie meer hoef te glo in Hom wat “vóór al die eeue uit die Vader gebore is; wat God uit God is, lig uit lig, ware God uit ware God, een in wese met die Vader, deur Wie alles tot stand gekom het” ens. ens. (Sien die geloofsbelydenis van Nicea). Klanke word nou reeds gehoor dat Christus net ’n mens was…!’n baie besondere mens ja, maar nogtans net ’n mens.

Intussen moet ons onsself afvra:Wat maak ons met die Skrifopdrag dat ons hulle moet “vermy” wat die leer van die Woord loënRom. 16:17?Hou ons nog “die belydenis” vas, soos Heb. 4:14 sê. Stry ons kragtig vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is?” Judas: 3?

Lidmate van die NG Kerk, wat die Bybel as die Woord van God eerbiedig, kom toenemend in reaksie. Baie kry koers na kerkgenootskappe wat bely dat hulle die Skrif as betroubare Woord van God glo. Heel onlangs het ons gehoor van 60 lidmate in die Limpopo provinsie en 40 in Kwazulu Natal wat afskeid neem van die NG Kerk. Die getal van 500,000 (’n halfmiljoen) lidmate wat volgens ’n bekende teoloog oor die afgelope 5 jaar vertrek het, lyk nie onrealisties nie.

Die belangrikste rede vir die opsegging van lidmaatskap van die NG Kerk is ongetwyfeld die prysgawe van die geloof in die Bybel as die Woord van God wat oor die afgelope aantal jare by die leierskap van die kerk plaasgevind het!

Dit is duidelik, dat ons Algemene Sinode in 2002 eerder die woorde van ons Nederlandse Geloofbelydenis oor die Skrif by ons lidmate moes tuisgebring het. Dit is naamlik:

“Ons glo sonder twyfel alles wat daarin vervat is”(Art 5)

en

“dat die leer daarvan heeltemaal volmaak en in alle opsigte volkome is” (Art.7).

In ’n addendum tot sy brief, behandel Dr. Marais die ongeveer 20 sg. “foute” waarna Die Verslag verwys. Hy gee afdoende antwoorde daarop. Hy sluit af deur te sê:“Alles hang af van ons benadering tot die Skrif.”Hy voeg by:“Die maklikste benadering is om af te breek en te sloop; die moeiliker een is om op te bou en te plant. Ons het ’n keuse.”

Geagte Leser, die oproep van die Skrif is in hierdie laat uur van ons NG Kerk se geskiedenis vir ons meer ter sake as ooit:

“Maar jy, bly jy by wat jy geleer het en wat jy vas glo….”

Ons kan vir u ’n kopie laat kry van ’n Getuienis oor die Gesag van die Skrif van die Reformator Konferensie wat by die NG gemeente Witfield op 16 en 17 September 2003 gehou was. Hierdie getuienis gee aan die Gereformeerde belydenis-standpunt van die Nederlandse Geloofsbelydenis ’n baie suiwerder gestalte as dié van die verslag van die Algemene Sinode van 2002.

Ons e-posadres is marihanan@telkomsa.net. Ons Tel no: 012 332 1474, gewone posadres: Bus 15754, Lynn East 0039

Ander Rooiliggebeurtenisse!

Verskeie ander betekenisvolle gebeurtenisse m.b.t. Skrifgesag het ook in die tyd voorafgaande aan 2002 , asook daarna, in die konteks van die NG Kerk plaasgevind. Sommige van die gebeurtenisse kan met “rimpelings” vergelyk word ander met “golwe”, en ander selfs met “getygolwe”!Ek wil die mening waag dat, sou die NG Leierskap nie dringend en ingrypend ag slaan op wat tans plaasvinden deeglik doen wat gedoen moet word nie, “ ’n tsunami” die kerk gaan oorspoel. Uiteindelik kan daar min van die kerk oorbly behalwe ruïnes, soos ’n tyd gelede op die strande van Indonesië!Wie hierdie moontlikheid nie wil erken nie, moet maar net terugblaai in die onlangse verlede toe ’n politieke party sy naam behou het, maar sy beleid verander het. Dié party bestaan vandag nie meer nie. (Hiermee doen ons geen uitspraak oor die betrokke party se voormalige beleid nie).

Ons noem enkele van die “rimpelings” en “golwe” wat reeds oor die “NG Kerk strand” waargeneem kon word. Die eerste was in Oktober 1992 met die Verantwoording van Kritiek teen Teologiese leringe van Dosente aan die teologiese Fakulteit Afd B (Universiteit van Pretoria) deur Ds C Heiberg. Hierna het die stigting plaasgevind van die Werkgemeenskap vir Kerkreformasie in 1992 in Transvaal asook die totstandkoming van die Studiegroep vir Bybeldenke in Stellenbosch. In 2002.. is daar ’n landwye konferensie te Bloemfontein gehou oor tendense in die teologie. ’n Sterk stem van protes is by die Konferensie gehoor teen dosente wat nie Bybelgetrou en Belydenisgebonde hulle teologie doseer nie.

’n Volgende belangrike gebeurtenis in die teologie was die verskyning van die boek van Pieter J Pelser: NG Kerk: Reformeer… of Disintegreer? Die Kerkleiding het hulle nie veel gesteur aan Pelser se protes nie. Ek meen dat die ignorering daarvan die Kerk duur te staan gaan kom.

’n Baie betekenisvolle gebeurtenis was die “Kommentaar van teologiese student Ferdie Mulder t.o.v. die Teologiese opleiding by Tukkies”. Ongelukkig het Mulder, waarskynlik a.g.v. gebrek aan ervaring en oorywerigheid oor sy saak, enkele name van medestudente, wat hy geweet het, wel met sy saak in harmonie was, onder aan sy beswaarskrif geplaas, sonder dat hulle self geteken het. Hierdie optrede is toe gebrandmerk as “oneerlikheid” en met groot publisiteit (en karakterskending?) aan die groot klok gehang. Sonder twyfel moet Mulder se optrede om die genoemde name in te sluit, as onoordeelkunbdig en foutief gesien word. Wie van ons het egter nog nie a.g.v. oorywerigheid foute gemaak nie?

Die groot getal medestudente wat wel Mulder se Kommentaar onderteken het, is individueel gedreig dat teen hulle “opgetree” sou word, indien hulle nie sou onttrek nie! Oor wat hierdie “optrede” sou behels, kan ons maar net raai. Sou dit dalk beurse in gedrang bring, of nog erger, vergunning om verder te kan studeer?

Intussen staan dit wat Mulder in sy “Kommentaar oor die Opleiding by Tukkies” geskryf het, nog steeds swart op wit op papier. Die Ringsverhore van dosente, het volgens mense wat dit bygewoon het, nie bevredigend op die Kommentaar van Mulder geantwoord nie.

Die groot “golf” van protes was die produksie en verspreiding van die DVD, Nuwe Strominge in die Teologie deur WTL Produksies. Die DVD het ’n ongekende reaksie landwyd tot gevolg gehad.

Dit val nie binne die doel van hierdie skrywe om die genoemde gebeurtenisse of geskrifte te beoordeel nie. Met wat hier volg, wil ons eerder die twee onderliggende benaderings tot die Bybel, wat deur Prof Britz in sy artikel genoem word, onderstreep..

Uiteindelik moet die vraag ook aan die orde kom, of dit moontlik is, dat gelowiges wat die Bybel in terme van die tradisioneelgereformeerde Skrifsiening as die Woord van God eerbiedig, nog die pad vorentoe met die NG Kerk as instituut kan saamstap? Eenvoudig gestel:Ons sal moet besluit of ons nog lidmate van die NG Kerk sal kan bly? Ons het immers lidmate van hierdie kerk geword omdat ons ons met die belydenisgrondslag van die tradisionele Gereformeerde Skrifbeskouiing vereenselwig het.

Verwarring by lidmate, of Afwyking by die Leierskap? – gedagtes oor die Evangeliese Inisiatief (EI).

Toe die Evangeliese Inisiatief ’n tyd gelede ná die verskyning van “die DVD” geloods was, is dit gestel dat dit ’n poging was om “die verwarring” wat by lidmate ontstaan het, te help opklaar. Die vraag is egter of dit gaan oor “verwarring” by die lidmate of oor “afwyking” by die leierskap van die Kerk? Verseker is dit duidelik, dat baie ingeligte lidmate lankal reeds agtergekom het dat daar by die kerkleiding ’n radikale afwyking gekom het in hulle teologiese benadering! Meer noukeurig gestel, dit het vir lidmate duidelik geword dat daar ’n heeltemaal nuwe benadering gekom het tot die Bybel as die Woord van God. Dit is so eenvoudig soos dit is.

Ons het waardering vir die Skrifgetroue prediking op 13 Okt 2007 met die Evangeliese Inisiatief by Moreleta Park. Ons het ook waardering vir die getuienis wat dit uitgedra het t.o.v. die waarheid wat vir ons erns is. Of die Algemene Sinode of die teologiese Fakulteite egter hul teologie rondom die Skrif en die hantering daarvan gaan omkeer….?! Dit bly ’n oop vraag. Sal predikante vanaf 2008 nog steeds opgelei word deur dieselfde dosente wat ons in die afgelope dekades leer ken het? Dink ook aan dosente van ander kerke wat bv. by UP ( en elders!) betrokke is.

Een ding is baie seker:Die Algemene Sinode het klaar gepraat en sy standpunt oor die Skrifgesag gestel by sy vergadering van 2002. Dit was immers kragtens die Sinode se nuwe Skrifbenadering dat die saak van homoseksualisme hanteer kon word soos dit wel hanteer was!Sal die Kerk dan omdraai op sy pad?Dit skyn baie, baie onwaarskynlik te wees. ’n Klein kykie terug sal vir ons meer lig gee oor die saak:

’n Kort terugskouing

In 1986, d.w.s. 16 jaar vóór die koersverandering in 2002, het die Algemene Sinode vir die eerste keer amptelik standpunt ingeneem oor die saak van homoseksualisme. Die besluit het soos volg gelui:

  1. Homoseksualisme is in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit.
  2. Homoseksuele praktyke en homoseksuele verhoudings moet afgewys word as in stryd met die wil van God soos in die Heilige Skrif geopenbaar.
  3. Die homoseksuele lidmaat mag nie op grond van sy afwykende gerigtheid as sodanig, die belewing van gemeenskap van die heiliges en die geleentheid tot diens in belang van die koninkryk van God ontsê word nie. (My numerering HV. Meeste van die verdere punte van die besluit handel oor pastorale hulp aan homoseksueles).

’n Mens sou jou kwalik ’n meer gebalanseerde en Skrifgetroue besluit as die een hierbo kan indink.

In 2002 doen die Algemene Sinode, wat genoem kan word, ’n 180 grade omkeer t.o.v. homoseksualisme!Die eerste punt van die besluit lui dat die sinode hom nie langer meer sonder meer kan vereenselwig met die besluit van 1986 nie en dat die saak oop is in afwagting op die besluit van die volgende sinode..

Wie die verskillende besluite oor homoseksualisme van1986 tot 2007 noukeurig lees, merk dadelik op, dat die Algemene Sinode nie net sy standpunt oor homoseksualismeverander het nie, maar dat hy ook ’n eierdans uitgevoer het!Dit het nie gebeur omdat die Bybel onduidelik is oor homoseksualisme nie.Dit is omdat die Sinode sy nuwe Skrifbenadering waaroor hy in 2002 besluit het, toegepas het! Hierdie benadering is, dat ons die “breë boodskap” van die Bybel in ons Skrifverklaring moet toepas. Hierdie metode word genoem die “skopus benadering” Die breë, of die skopus boodskap van die Bybel is “die liefde”. Wanneer twee manne of twee vroue dus mekaar “liefhet”, is hierdie homoseksuele of lesbiese verhouding in orde – ongeag wat die Bybel op verskillende plekke sê!Die mees basiese reël van gereformeerde Skrifverklaring is dat ons Skrif met Skrif moet vergelyk. Hierdie reël is egter nie toegepas nie.

Op ’n oggend, kort na 7 word ons lidmate oor die program Monitor “geïntimideer” deur ’n uitspraak van een van die professore van ons teologiese fakulteit by die Unversiteit van die Vrystaat. Hy verseker ons dat “navorsing bewys het dat homoseksualisme nie sonde is nie”!Die professor kom nogal van die fakulteit wat tans as die mees konserwatiewe van ons drie fakulteite beskou word!

Hoe is dit moontlik?

Vir lidmate, wat glo dat die Bybel die Woord van is, is een ding heeltemaal onverstaanbaar. Dit is, hoe teoloë en dominees, wat dat hulle in die Bybel as die Woord van God glo, standpunte oor sake kan inneem wat direk in stryd is met dit wat swart op wit in die Bybel staan?Geen duideliker voorbeeld kan weereens genoem word as dié oor homoseksualisme nie. Skrifgedeeltes wat duidelik leer dat homoseksualisme ’n gruwelike sonde is, is bekend. Ons dink aan Gen 1:27; 2: 23-24; Gen 18 en 19; Lev 18:22-23; 20:13; Rigt 19: 23-25; Rom 1:18-18; 1 Kor 6:10. Ten spyte van hierdie uitsprake sê die genoemde teoloë dat homoseksualisme “binne die konteks van ware liefde” as “alternatiewe seksualiteit”aanvaar moet word!Selfs ’n huwelik vir so ’n paartjie is in orde!Natuurtlik is daar geen tekse wat ter ondersteuning van hierdie standpunt aangehaal kan word nie, maar om tekse aan te haal, is in elke geval volgens die nuwe paradigma Skrifbeskouiing “fundamentalisme”!

’n Volgende vraag wat hom aan lidmate opdring, is waarom ánder dominees en teoloë wat dieselfde Bybel lees (!) presies die teenoorgestelde gevolgtrekking maak as eersgenoemdes?

Die antwoord op die bostaande vraag is weereens eenvoudig: Dit is omdat hierdie twee groepe dominees en teoloë heeltmaal verskillende sienings oor die Bybel het. Omdat hulle verskillende sienings oor die Bybel het, het hulle ook verskillende maniere waarop hulle met die Bybel werk. Voordat ons egter verder gaan, is dit belangrik om raak te sien dat beide groepe teoloë (!) dat hulle in die Bybel as die Woord van God glo! Kom ons gaan dieper daarop in, want dit lyk of iemand nie die waarheid praat nie!

“Die Bybel is ’n baie Ou Boek!”

Vir die eerste groep teoloë is die Bybel ’n baie ou boek wat in ooreenstemming met die kultuur en wêreldbeskouiing van dáárdie tyd geskryf was. Die kultuur en die wêreldbeskouiing het dus bepaal wat in die Bybel geskrywe was!(Let op, nie die Heilige Gees nie). Elke nuwe geslag teoloë moet nou vir sy eie geslag die betekenis van dit wat in dáárdie tyd geskryf was, “herinterpreteer”. Só, verseker ons geleerde vriende ons, kom ons dan by die nuwe “geldende waarheid. ”Hierdie benadering kan ook genoem word die “kontekstuele hermeneutiek”. Volgens hierdie verklaringsbeginsel kom ’n mens dan uiteindelik by die logiese konklusie dat “die Bybel”, soos Prof Ferdinand Deist geskryf het, “nie God se Woord is nie, maar mensewoorde oor God.” Prof Deist was professor by Unisa, later by Pretoria en nog later by Stellenbosch. Sy, en ander se siening oor die Bybel, kon nie anders nie, as om teologiese studente met dieselfde soort teologie “toe te rus” nie!Is ons verras daaroor dat sinodes besluite geneem het soos wat hulle oor die afgelope twee dekades gedoen het?Moet ons enigsins verbaas wees oor die “klanke” wat ons van sekere preekstoele af hoor – óf wat ons in sekere dominees se geskrifte lees?!Die kerk gaan mos maar in dié rigting waarin sy teologiese skole gaan!

Die kontekstuele hermeneutiek wat t.o.v. die Bybel toegepas word, sê ook, dat die kultuut van destyds, en dit wat in die Bybel staan, bymekaar gepas het, daarom was die boodskap van die bybel vir die mense van daardie tyd toepaslik, goed en reg. Vir óns, die mense van óns dag, is dit egter “agterhaald”d.w.s. outyds!Toe Paulus byvoorbeeld in Rom 1 aan die Romeine geskrywe het oor homoseksualisme, het hy aan die Romeine (!)geskrywe, nie noodwendig aan die mense van vandag nie. Onwillekeurig laat hierdie benadering t.o.v. die Bybel ’n mens dink aan Satan se bevraagtekening van dit wat God vir Adam en Eva gesê het, naamlik “Het God gesê…”Gen 3:1. Wat God vir alle tye gesê het, word dus onder verdenking geplaas. Satan saai – soos destyds – twyfel in mense se harte oor die Woord van God. Dit is die oersonde!

Skrifverklaring “toe” en “nou”

Die tradisionele Gereformeerde benadering tot die Bybel was om dit wat geskrywe was, as altydgeldend en as blywende maatstaf vir leer en lewe te aanvaar. Vanuit hierdie gesigspunt het die leiers ná die Hervorming o.a. in die Nederlandse Geloofsbelydenis bely, dat die leer van die Bybel “..heeltemaal volmaak en in alle opsigte volkome is.” Sien Artikels 3 tot 7.

’n Verdere baie belangrike benadering van die tradisionele Gereforemeerde hermeneutiek was, dat woorde duidelike en voor-die-hand liggende betekenis het, en dat ons ook vandag nog kan verstaan wat die Bybelskrywers en die Heilige Gees deur hulle bedoel het. In die teologie word hierdie verklarings-benadering die grammaties-historiese benaderinggenoem. Moderne hermeneutiek, met sy verheerliking van twyfel en onsekerheid, verkies die post moderne pad van bevraagtekening en twyfel oor dit wat in die Bybel staan. Ek noem ’n voorbeeld: Met die jaaropening van die Teologiese Fakulteit Pretoria in 2006, het die dame (dominee) wat die openingswoord moes waarneem, begin deur te sê dat “daar ’n tyd was waarin ons sekerhede gehad het.” “Nou,” het sy bygevoeg, “het ons dit nie meer nie. ”Met die oog op die gehoor wat die dame toegespreek het, en die “onsekerheid” wat ons nou sou hê oor die waarheid, het sy ons aan die woorde van Christus herinner “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”(!) Ek meen dat sy deur hierdie Skrifwoord haar toehoorders tot beskeidenheid t.o.v. hulle eie menings wou oproep. (Of dit die bedoeling van die teks is, daar gelaat). Aan die einde van die dag se verrigtinge het die dekaan van die fakulteit sy gehoor verseker dat dit goed gaan met die Teologiese Fakulteit van Pretoria, “behalwe” het hy bygevoeg “dat die werksaamhede van die fakulteit bemoeilik word deur “die nuk van fundamentalisme.”Mens wonder of die professor dalk gesinspeel het op die pleidooi van

Skrifgelowige leraars en lidmate wat aanhou vra dat ons moet terugkeer na die “sekerhede” van die Bybel, en die Belydenisskrifte wat daarmee ooreenstem?

Loëning van Bybelwaarhede

Miskien as die duidelikste voorbeeld van die loëning van Bybelwaarhede kan soos reeds hierbo aangedui, die opstanding van Christus genoem word. Dink verder aan Sy maagdelike geboorte en Sy Godheid. Selfs Sy plaasvervangende sterwe, wat “die hart van die evangelie is, word uitgeruk.” Sonder om ’n oomblik te twyfel, kan ons sê, dat as Christus nie vir ons sondes gesterwe het en opgestaan het nie, daar geen evangelie is nie!

Uit wat tot dusver gesê is, word dit duidelik, dat die hedendaagse hermeneutiek wat bedoel was om ons te help om die Skrif te verstaan, “ ’n hulp” geword het om die Bybel te verduister. Alles word gerelativeer om aan te pas by die tyd en by die mens. Hierdie benadering het sy oorsprong o.a.in die Skrifkritiek waaroor ons enkele dinge moet sê.

Skrifkritiek

Basies kan Skrifkritiek beskryf word as Kritiek op die Bybel. Anders gestel: Dit is om ’n bepaalde oordeel oor die Bybel uit te spreek. Skrifkritiek is dus ’n omgang met die Bybel op so ’n manier dat die mens homself as regter oor die Skrif aanstel. Prof GJC Jordan van die Teologiese Fakulteit van die Gereformeerde Kerk in Potchefstroom skryf soos volg:“Skrifkritiek beteken dat die uniekheid en die gesag van die Bybel as Woord van God misken word. Uiteindelik bring dit nie net die gesag van die Bybel in gedrang nie, maar ook die gesag van God self. ”In die konteks van hierdie Skrifkritiek, en die moderne godsdienswetenskap, word nie net die uniekheid van die Bybel verwerp en as maar net nog ’n historiese boek gelees nie. Ook die uniekheid van die Christelike godsdiensword verwerp!Die Christendom word bestudeer as maar net nog ’n hoofstuk in “die ontwikkeling” van die godsdiensgeskiedenis van die mensdom. U merk op hoe die gedagte van evolusionisme ook die teologie binnegedring het. ’n Geheeluitsig oor die wêreldteologie van ons dag maak dit gou duidelik dat evolusionisme by die wortel van die modernistiese teologie lê. Hieroor sou ons meer kon sê, maar ruimte laat dit nie toe nie. Ons is uiteindelik op pad na volle verheerliking van die mens in die universele godsdiens van die New Age. Dit is daardie godsdiens waar die mens weggedoen het met die Persoonlike God aan Wie hy verantwoording verskuldig is; daardie godsdiens waar hy vir hom ’n nuwe god, die god van die panteïsme gekry het, met wie hy nou deur meditasie en mistisisme kan kontak maak. Uiteindelik wil hy ook in dié god “opgaan” en so self god word.

Hierdie godsdiens sal uiteindelik die godsdiens van die Antichrisryk wees. Hier sal die “mens” in die tempel sit en voorgee dat hy God is (2 Tess 2:4).

As u saam met my besorg is oor die rigting waarin die teologie op die oomblik beweeg, vra ek dat u met my kontak maak deur ’n kort e-pos briefie by marihanan@telkomsa.net, of deur ’n telefoonoproep by 012 332 1474.

Groete in Christus,

Hanan Viljoen

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui