Persverklaring: Opening van die Olimpiese Spele 2024

*******

Persverklaring: Opening van die Olimpiese Spele 2024

27 Julie 2024

Die Koinonia Sinodale Diensgroep (KSDG) het met groot teleurstelling, ontsteltenis en skok kennis geneem van die trant en inhoud van die opening van Olimpiese Spele 2024.

Dit is duidelik dat Christene se Bybelse norme, geloofs- en etiese waardes op velerlei teatrale wyses uitgedaag en tot ‘n bespotting gemaak was. Om alles te kroon was die tonele van die parodie van die Laaste Avondmaal niks minder as laster teen die Allerheiligste God nie en ook minagting van die sakrament van die Heilige Nagmaal.

Die KSDG is diep bedroef dat die eer van die Here ooglopend met voorbedagte raad en na deeglike beplanning daardeur aangetas is. Sodoende is daar ook met groot disrespek opgetree teenoor Christen atlete, sportliefhebbers en toeskouers oor die wêreld heen.

Saam met die miljoene Christen gelowiges wat dit aanskou en beleef het, verootmoedig ons ons voor die Here en bely ons Hom as die enigste ware en Allerheiligste God wat Hom aan ons in sy Woord openbaar het, ons in en deur sy Seun verlos het en deur die Heilige Gees in ons werk tot heiligmaking. Soos die Here Jesus ons geleer het, bid ons opnuut in oomblikke soos die “laat u Naam geheilig word, laat u Koninkryk kom, laat u wil geskied soos in die hemel net so ook op die aarde.”

Ons as Koinonia se Sinodale Diensgroep (KSDG) besef ons leef in die Kairos uur en dat die Kerk van Christus nie langer mag swyg terwyl ons Verlosser se Naam openlik so bespot en belaster word nie. Ons aanvaar nog met ons hele hart vraag en antwoord 100 van die Heidelbergse Kategismus wat as volg lui: “Is dit dan so ‘n groot sonde om die Naam van God te laster … dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie? Antwoord: Ja, seker want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf.”

Hiermee doen die KSDG ook ‘n ernstige beroep op die ASM om sonder versuim in die openbaar saam met ons duidelik standpunt in te neem en te getuig teen hierdie gruwelike sonde en bespotting tydens die opening van die 2024 Olimpiese Spele.

Daar word ‘n beroep op elke gemeente gedoen om hierdie verklaring tydens more se erediens te hanteer.

Anton Knoetze

Voorsitter van die KSDG

Kommentaar

Daniel Louw

Die ASM (algemene sinode moderamen) het na my wete nie standpunt ingeneem oor hierdie kwessie nie.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui