Kyk ook:
Simon Petrus was een van die dissipels van Jesus.
Petrus se broer was Andreas. Andreas het Petrus vir die eerste keer na Jesus gebring (Joh 1:40-42).
Petrus en Andreas was die seuns van Jona (Mat 16:17 – “Barjona” = seun van Jona), wat ook Johannes genoem is (Joh 21:15, 16, 17).
Petrus en die twee broers, Johannes en Jakobus, was deel van Jesus se binnekring. Hierdie drie was saam met Jesus op die berg tydens sy verheerliking toe Moses en Elia aan hulle verskyn het (Mark 9:2-8; Mat 26:37) en ook in die tuin van Getsemane (Mat 26:37; Mark 14:32-42; Luk 22:39-46; Joh 18:1-2).
Petrus se belydenis
Naby aan die einde van Jesus se bediening het Jesus die dissipels gevra wie hulle dink die Seun van die Mens was. Petrus het toe geantwoord dat dit Jesus was (Mat 16:13-20; Mark 8:27-30; Luk 9:18-21). Jesus het hom daarop geantwoord:
Matteus 16: (17)“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. (18)En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. (19)Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” (kom slegs in Matteus voor)
Op grond hiervan glo die Rooms-Katolieke kerk dat die pous die opvolger van Petrus is, wat die eerste hoof van die kerk was.
Johannes 6:66-71 noem ook ‘n belydenis van Petrus, maar dit is onseker of dit dieselfde gebeurtenis is.
Naamsverandering
Reeds toe Jesus vir Petrus as dissipel geroep het, het hy Petrus se naam verander van Simon na Petrus.
Johannes 1: (42)Hy [Andreas] het hom [Simon Petrus] na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.
Later in die Nuwe Testament word daar ook na Petrus verwys as Sefas. Dit beteken dieselfde as Petrus.
Rede vir naamsverandering: Jesus het Simon se naam na Petrus (wat rots beteken) verander om ‘n geestelike transformasie, nuwe identiteit, gesag en leierskap binne die kerk aan te dui. Dit sou ‘n herinnering wees aan die grondslag van die kerk.
Skrywes
Petrus het twee briewe in die Nuwe Testament geskryf: 1 Petrus en 2 Petrus.
Sterwe
Petrus was ongeveer 66 nC ’n martelaar in Rome gedurende die bewind van keiser Nero. Na bewering het Petrus gevra om onderstebo gekruisig te word omdat hy nie gelyk aan Jesus gestel wou word nie. Jesus het twee keer voorspel dat Petrus ’n martelaarsdood sou sterf (Johannes 13:36 en 21:18-19). Kyk ook Petrus se dood.
Ek dink daar word te veel in gelees. Dei Roomskatolieke Argument is “Petrus is die Rots waarop die Kerk gebou word”. Dus was hy volgens hulle die “eerste Pous” gewees. En dit is hulle regverdiging vir daardie instelling nes die aanspraak wat hulle maak om ‘eerste en ware kerk te wees”. Dis nou wragtig ‘n kunstige stuk inlegkunde wat hulle daar geplant het. Want die teks gee dit glad nie. Dis duidelik dat dit nie oor Petrus as Persoon gaan nie, maar oor die belydenis wat hy maak…. Christus die seun van God. Hierdie is die beginpunt waarop Christus se geestlike liggaam berus… Dws die gemeente, diegene wat IN CHRISTUS is. Diegene wat ‘n ‘vars geboorte uit die Gees’ ondergaan het.Dis maar die slotsom van Johannes 1-3,nes die ander evangelies en nes die apostoliese briewe. Petrus was ‘n Apostel gewees, hy het gesag in die eerste Gemeente gehad, maar was geen supergesagsfiguur gewees nie wat ‘n korporatiewe kerk met ‘n tipe menslike monark as leier gestig het nie.Daardie tiep organisasie hat eers baie later onstaan.Na dat daar heelwat veranderings binne die gemeentes en onder christene plaasgevind het. Laat my byse… Die gesag van die heilige Gees is ook afgewater in daardie tyd…. Dis weer mense…. dws. die vlees … wat oorgevat het. Met tyd het dann die RKK onstaan en die leer nes die praktyk het meer en meer afgewater….Die vergrype was maar die rede gewees vir die Reformasie en ook vorheen vir ondergrondse tipe christenskap soos bv. die Waldense.