Kyk ook: |
Hier volg ’n evaluasie van dr Philip du Toit oor die NG Kerk se besluit oor selfdegeslagverhoudings. Dr Du Toit is ’n Nuwe Testamentikus (post-doktorale navorsingsgenoot) van die Universiteit van Stellenbosch.
********
Die 2015 besluit van die NG Kerk oor selfdegeslagverhoudings
Na aanleiding van die onlangse besluit van die Algemene Sinode van die NG kerk oor selfdegeslagverhoudings, die reaksies van gemeentes, en die appèlle wat gevolg het, het ek gedink om ’n paar opmerkings oor die onderwerp te maak. Hoewel ek self al vir jare nie meer ’n lidmaat van die NG Kerk is nie, het ek in hierdie kerkverband grootgeword en gestudeer. Ek het tans steeds ’n verbintenis met die Kweekskool in Stellenbosch as post-doktorale navorsingsgenoot in Nuwe Testament. Maar hierbenewens lê die NG Kerk my steeds na aan die hart, en het ek baie familie en vriende in die NG Kerk. Miskien is dit ook gepas dat ek iets skryf nadat my destydse Kweekskool-klasmaat, Peet Botha, ook onlangs oor dieselfde onderwerp gereageer het (Ope brief aan die NG Kerk (Peet Botha)).
Ek maak slegs ’n paar opmerkings oor die volgende sake: (1) die sinodebesluit self en die verstaan van die huwelik, (2) die tipe Skrifgebruik wat tot hierdie besluit gelei het, (3) die begrippe “seksuele orïentasie” en “homoseksualiteit”, en (4) die verstaan van Rom 1:25-27. Hierdie opmerkings is nie bedoel om finale antwoorde vir al hierdie kwessies aan te bied nie, maar bloot om deel te neem aan die gesprek vanuit my eie verstaan.
1. Die sinodebesluit en die verstaan van die huwelik
Die finale besluit lui soos volg:
2.3 Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word.
2.4 Die Algemene Sinode besluit om in die lig van 2.1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou – en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.
Wat hier belangrik is, is dat selfdegeslagverhoudings nie as ’n huwelik beskou word nie. Dít wat deur die kerk bevestig word is dus nie ’n huweliksverbintenis nie, maar ’n verbintenis buite die huwelik. Die implikasie hiervan is dat die huwelik nie meer die enigste norm is vir seksuele verhoudings nie. Dit maak die deur oop dat ander buite-huwelikse seksuele verhoudings ook deur kerk bevestig kan word, of selfs dat ’n voor- of buite-huwelikse seksuele verhouding nie as iets onbehoorlik beskou hoef te word nie.
Die ander implikasie is dat die huwelik tussen ’n man en ’n vrou nie meer as uniek en spesiaal beskou word nie, maar nou vervang kan word deur ’n ander vorm van “gesin” wat nie meer ’n huwelik genoem kan word nie. Vrae wat hieruit voortspruit is of die NG Kerk gaan toelaat dat ’n homoseksuele paartjie kinders mag aanneem en/of dat hulle as volwaardige gesin voor God en sy gemeente beskou kan word, en/of sulke verbintenisse ’n Bybels gefundeerde ruimte bied waarbinne kinders in die weë van die Here opgevoed kan word. Ek is nie seker of die algemene sinode al hierdie (onbedoelde?) implikasies goed deurdink het nie.
As die sinode slegs die huwelik tussen ’n man en ’n vrou erken, maar selfdegeslagverhoudings goedkeur en bevestig buite die huwelik, beteken dit die huwelik is nie meer die enigste geldige ruimte vir ’n seksuele verhouding nie. Die vraag is natuurlik hoe sodanige verhoudings Bybels gefundeer kan word. Volgens die Bybel is daar net een legitieme ruimte vir seksuele verhoudings, naamlik die huweliks-verhouding tussen ’n man en ’n vrou: “man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen 1:27). Die rede waarom die kerk in die verlede sodanige huwelike bevestig het, is omdat God ’n man en ’n vrou saamvoeg tot ’n eenheid van “een vlees” (Mat 19:5-6). Alle seksuele sondes in die Bybel kan daarom herlei word na ’n oortreding van die grense van die huwelik, bv. owerspel, egbreuk, losbandigheid, bloedskande, bestialiteit, ens. Voorts, as God slegs ’n man en vrou saamvoeg (Mat 19:6), impliseer dit dat God nie mense van dieselfde geslag saamvoeg nie. Om dus ’n verhouding van dieselfde geslag te bevestig, kan dus nie ’n Bybels-gefundeerde of goddelike samevoeging wees nie, maar moet dus noodwendig ’n menslike/kulturele samevoeging wees. Laasgenoemde is myns insiens die dieper rede waarom dit nie ’n huwelik genoem kan word nie.
2. Die Skrifgebruik van die NG Kerk
Die Algemene Taakgroep Leer en Aktuele Sake (ATLAS) het in samewerking met die voorsitter van die moderatuur van die Algemene Sinode ’n reeks dokumente beskikbaar gemaak om gemeentes te “ondersteun op die pad van gesprek oor selfdegeslagverhoudings” (Facebook, NG Kerk).
Deel hiervan is ’n dokument oor Gereformeerde Skrifgebruik en Skrifbeskouing (GEREFORMEERDE SKRIF GEBRUIK & SKRIFBESKOUING).
In hierdie dokument se uiteensetting van die aard van Skrifgebruik val die klem op die erkenning van die kulturele afstand tussen die wêreld van die Bybel en die wêreld van vandag, en die invloed wat dít het op ons interpretasie van die Skrif. Dít word by implikasie as die rede aangevoer waarom ons onder andere nie meer mense doodmaak wat hulle ouers vloek (Eks 21:15), wat ’n homoseksuele verhouding het (Lev 20:13), wat die naam van die Here oneerbiedig gebruik (Lev 24:15), of wat egbreuk pleeg (Lev 20:10) nie (p. 6). Want op dieselfde bladsy staan:
Dit is egter genoeg voorbeelde om aan te toon waarom ons die Bybel nie as ʼn tydlose dokument lees nie. In ons soeke na die waarheid interpreteer ons. Ons neem ʼn boek uit ʼn ou wêreld wat totaal anders is as dié waarin ons woon en ons probeer verstaan wat dit vir ons beteken.
Bogenoemde is dieselfde soort argument wat aangevoer word in die selfdegeslagverhoudingskonferensie te Stellenbosch (12 Okt 2015), waarom ons nie ’n teks soos Lev 20:13 op vandag van toepassing kan maak nie (Selfdegeslagkonferensie NG Kerk Kaap of Baie kort oorsig van SGV-konferensie te Stellenbosch 12 November 2015). In die gevolgtrekkings van dieselfde ATLAS-dokument oor Skrifgebruik (p. 11) word negatief gepraat daarvan om te “volstaan met ʼn tydlose aanhaling van sewe tekste oor homoseksualiteit”. Dit stel voorts “dat die kerk in sy amptelike stukke en besluite kies vir die kultuursensitiewe lees van tekste” en dat “die besluit oor selfdegeslagverhoudings die logiese konsekwente besluit” is. Dit is natuurlik so dat as kultuurverskille die norm behoort te wees waarom ons sekere dele uit die Ou Testament nie meer van toepassing maak op vandag nie, dit wel konsekwent is om by ’n besluit uit te kom dat selfdegeslagverhoudings goedgekeur en geseën kan word. Wat egter nie konsekwent sou wees nie, is dat die kerk op grond van dieselfde logika sou kon sê dat dit onaanvaarbaar sou wees dat kinders hulle ouers vloek (Eks 21:15), dat die naam van die Here oneerbiedig gebruik word (Lev 24:15), of dat egbreuk gepleeg kan word (Lev 20:10) – vanuit hulle eie voorbeelde hierbo. Want hedendaagse kulturele waardes, veral dié kultuur wat deur Hollywood vir ons aangebied word en wat baie mense aanneem, keur nie meer laasgenoemde dinge af nie. As ons dus ons moet verlaat op heersende kulturele waardes wat hierdie dinge betref, sal sulke dinge ook goedgekeur moet word.
Maar die probleem met hierdie soort Skrifgebruik lê veel dieper. Waarom gee ons nie meer die doodstraf (veral in ’n Christelike konteks) vir die sondes wat hierbo genoem word nie? In die Ou Testament was die doodstraf die manier hoe mense hulle eie sonde of ongeregtigheid gedra het (bv. Lev 7:18-20; 19:8; 20:17, Num 9:13). Nou maak ons nie meer mense dood wat sonde doen nie, omdat Christus die skuld, sonde en smart van alle mense gedra het (Jes 53:4,6,11-12) en omdat God se straf op Hom was (Jes 53:5). In 1 Pet 2:24 word na Jes 53:5 verwys en op Christus se kruisdood van toepassing gemaak: deur sy wonde is ons genees. Luk 24:20 verwys pertinent na Jesus se oorlewering en kruisiging “tot die doodstraf” (vgl. Deut 21:22). Paulus gebruik dikwels die dood en die sonde in die konteks van die ou era vóór Christus se koms. In Rom 6:23 kontrasteer hy die dood as loon van die sonde met die genadegawe van God in Christus (in die nuwe era). In Rom 8:2 skryf hy dat die wet van die Gees van die lewe in Christus ons vrygemaak het van die wet van die sonde en die dood. Soos die dood geheers het deur die sonde van Adam, só word ons regverdig gemaak deur die dood en opstanding van Christus (Rom 5:12-19). Almal sterf saam met Christus in sy dood (2 Kor 5:15). Volgens die Hebreër-skrywer was Christus die Een finale offer vir die sonde (Heb 10:14, 18). Die rede waarom ons nie die doodstraf gee vir mense wat vandag sondig nie, is dus nie dat ons ’n ander kultuur het nie, maar omdat Christus die straf vir die sonde gedra het, en omdat Hy deur sý dood die dood oorwin het: Hy is die “laaste Adam” wat die “laaste vyand”, die dood, en die sonde oorwin het (1 Kor 15:26, 45, 54-56). Ons lees daarom nie meer die Ou Testament met ’n bedekking oor nie, maar lees dit deur Christus (2 Kor 3:14).
Om dus saam te vat, ons maak nie die strawwe oor sonde van toepassing op ons as Nuwe Testamentiese gelowiges nie, omdat ons die Bybel heilshistories lees, en nie omdat ons dit “kultuur sensitief” lees nie. Om die Bybel heilshistories te lees, beteken dat ons die Bybel lees in terme van die geskiedenis van die heil wat uitgeloop het op Christus as klimaks van die heilsgeskiedenis. In Christus het Hy die Wet(boeke) en die Profete vervul (Mat 5:17; vgl. Luk 16:16-17; Ef 1:23). Luk 18:31 sê: “alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word”. Dit beteken dat ons die Wet(boeke) lees vanuit die vervulling in Christus en vanuit die evangelie. Die Ou Testament bly staan dus as ’n geldige getuie van die geskiedenis van die heil en die basis waarop die evangelie rus (vgl. Mat 5:17; Luk 16:17; Rom 3:31), maar ons lees nie die Ou Testament los van die evangelie of los van die vervulling daarvan in Christus nie.
Om die Ou Testament heilshistories te lees beteken egter nie dat ons sonde herdefinieer of dat ons ons definisie van sonde aanpas by ons hedendaagse kultuur nie. Dit beteken wel dat ons nie meer “onder die Wet” en “onder die sonde” is nie: ons is nie meer onder die heerskappy daarvan nie, en ons is nie meer onder die Mosaïese sisteem van die Wet nie. Ons is nou “onder die genade”, maar dit beteken juis nie ons kan steeds voortgaan om te sondig nie (Rom 6:14), of dat ons sonde kan herdefinieer nie. Die kennis van sonde is steeds deur die Wet (Rom 3:20). Dit beteken dat die moraliteit agter die Wet steeds geld omdat dit wat reg en verkeerd is gekoppel is aan God se ewige karakter en sy heiligheid, en aan sy skeppingsorde (sien hieronder).
3. Die begrippe “seksuele oriëntasie” en “homoseksualiteit” en die antieke tyd
Ek sien dikwels dat die argument aangevoer word dat die Bybel nie die begrippe “homoseksualiteit” of “seksuele oriëntasie” ken in die sin wat ons dit vandag gebruik nie, en dat die Bybel daarom niks oor selfdegeslagverhoudings tussen gelykes sê nie, maar slegs tussen ongelykes (dit wil sê by diegene wat seksueel verkeer met ’n mindere [bv. slaaf], adolessent of soos by prostitusie of pederastie). Maar is dit ’n geldige argument om aan te voer dat die Bybel niks oor homoseksualiteit of oor gelyke selfdegeslagverhoudings te sê het nie? Die feit van die saak is dat homoseksualiteit tussen gelykes reeds teenwoordig was in die antieke tyd. Dat daar iets was soos seksuele voorkeur vir dieselfde geslag of homoseksualiteit in die antieke tyd, is onbetwisbaar. Natuurlik is dit nie in hedendaagse taal geskryf wat konsepte of begrippe soos “homoseksualiteit” of “selfdegeslag seksuele oriëntasie” gebruik nie, maar dit beteken nie dat die verskynsel nie bestaan het nie.
Robert Gagnon (“Sexuality” in The Oxford Handbook of Evangelical Theology, 2010, pp. 449-464) wys daarop dat daar heelwat getuienis is in die antieke tyd van selfdegeslagverhoudings tussen gelykes. Ter voorbeeld vir hierdie verskynsel lys hy die volgende in nota 12 op p. 463: “Plato, Symposium 181D, 183E, 192E; Martial 1:14; 12:42; Juvenal, Satire 2; Plutarch, Dialogue on Love 750D, 752C; Xenophon of Ephesus, An Ephesian Tale 3.2; Achilles Tatius, Leucippe and Clitophon 1.7-8, 12-14, 33-34; Lucian of Samosata, Dialogues of the Courtesans 5; Ptolemy of Alexandria, Tetrabiblos 3.14; Pseudo-Lucian, Affairs of the Heart 46, 48″.
Josefus het in Teen Apion 2.199 geskryf: “Wat is ons huwelikswette? Die wet erken geen seksuele verbintenisse behalwe die natuurlike verbintenis tussen man en vrou nie, en dít slegs vir die prokreasie van kinders. Dit verafsku sodomie [tēn de pros arrenas arrenōn] en straf enige oortreder van sodanige aanranding met die dood” (vgl. ook Teen Apion 2.273-275). Hierbenewens wys Gagnon ook daarop dat die Grieks-Romeinse moraliste die bestaan van liefdevolle homoseksuele verhoudings erken het maar dit as onnatuurlik verwerp het (bv. Plutarg se Dialoog oor Liefde 751C-E [5]; vgl. Plato se Wette 636B-D en 836B-842A). Ook die kerkvaders het na sulke verhoudings verwys, bv. Klemens van Alexandrië (laat 2’e eeu) verwys na vroue wat “teen die natuur” trou met ander vroue (Paidagogos 3.3.21.3). Dit is dus gewoon naïef om te dink dat antieke mense nie liefdevolle selfdegeslagverhoudings of homoseksuele aangetrokkenheid tussen gelykes geken het nie. En dit is nog meer naïef om te dink dat Paulus nie sodanige verhoudings sou ken nie, of nie in gedagte sou gehad het in Rom 1:24-27 nie. Vervolgens meer hieroor.
4. Rom 1:25-27
Ek bespreek bloot enkele aspekte van Rom 1:25-27 omdat dit seker die sterkste aanduider in die Nuwe Testament is dat homoseksuele verhoudings tussen gelykes afgekeur word. Die feit dat Paulus vroue noem wat die natuurlike verkeer verruil het vir dit wat teen die natuur is, wys daarop dat ons nie hier te make het met homoseks tussen ongelykes nie, want, anders as wat soms beweer word, was vroulike homoseksualiteit nie juis bekend of is gekritiseer vir uitbuitende seksuele praktyke met slawe, prostitute of kinders nie. In die konteks van Rom 1 kan mens sien dit het hier te make met homoseks tussen gelykes, want (1) die taal van vers 26 (“vroue het die natuurlike verkeer verander”) is parallel aan vers 27 (“net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou“; (2) in die antieke tyd was lesbiese seksuele verkeer dié vorm van homoseksualiteit wat mees algemeen as “teen die natuur” bestempel was en mees algemeen verbind was aan homoseks; (3) daar was feitlik universeel manlike opposisie teen lesbiese verhoudings, selfs deur mans wat homoseks beoefen het, en (4) lesbiese homoseks was die dominante interpretasie van Rom 1:26 in die tyd van die kerkvaders (waarskynlik Klemens van Alexandrië en die Openbaring van Petrus; definitief Ambrosiaster en Johannes Chrisostomus — sien Robert Gagnon, “Sexuality” in The Oxford Handbook of Evangelical Theology, 2010, p. 458). Dat ons hier in Rom 1:25-27 met homoseksualiteit tussen gelykes te make het kan ook gesien word uit die feit dat nie net homoseksuele dade ter sprake is nie (v. 27), maar juis ook dat skandelike “hartstogte”, “gevoelens van passie” of “begeertes” (pathos, v. 26) veroordeel word – iets wat beswaarlik verbind kan word aan ongelyke seksuele verhoudings. Die woord orexis in vers 27 het ook te make met “begeerte”, “drang” of “wellus”. Seksuele voorkeur en begeertes of drange staan in ’n onlosmaaklike verband met mekaar. Mens kan nie dit wat vandag onder “seksuele oriëntasie” verstaan word, skei van seksuele begeertes of drange nie.
Daar word dikwels aangevoer dat “teen die natuur” in Rom 1:26-27 dui op dit wat teen die sosio-kulturele waardes van die tyd was, of selfs dit wat teen jou “seksuele oriëntasie” sou wees (bv. ’n homoseksuele persoon wat seksuele gemeenskap met iemand van die teenoorgestelde geslag sou hê). Maar nie een van hierdie interpretasies kan stand hou in die lig van die konteks nie. In verse 23-27 is daar verskeie verwysings na Gen 1:26-27 (mens, beeld, gelykenis, voëls, vee, kruipende diere, manlik, vroulik, geskape/skepping/skepsel/Skepper). Gen 1:27 verwys daarna dat God die mens as “man en vrou” geskape het. Wat is dus “teen die natuur”? Dit is dit wat teen God se skeppingsorde is. Met die sinspeling op Gen 1:26-27 impliseer Paulus dus dat dit wat teen die natuur is, teen die natuurlike verhouding van “man en vrou” is. Vers 20 verwys immers na dit wat “van die skepping” in God se werke verstaan word en vers 25 na die “skepsel” wat vereer is in plaas van die “Skepper”: dít is die “waarheid van God” wat verruil is vir die leuen (v. 25). Die skeppingsorde met betrekking tot seksualiteit is omgekeer. Maar die skeppingsorde waar God die Skepper erken word, en die mens as skepsel God se hoofskap en gesag erken, en die mens dus ondergeskik en onderdanig aan God behoort te wees, is ook omgekeer (vgl. die implisiete verwysing na afgodsdiens in v. 22). Volgens Romeine 1 ontken diegene wat toegee aan homoseksuele begeertes by implikasie God se gesag en hoofskap.
Die taal van vers 27, “manne het met manne skandelikheid bedrywe”, weerspieël die taal van Lev 18:22 en 20:13 waarin selfdegeslagverhoudings tussen mans van alle ouderdomme verbied word, en nie bloot pederastie nie (sien Robert Gagnon 2001 in sy boek: The Bible and Homosexual Practice, pp. 111-116; so selfs Robert Jewett 2007 se kommentaar op Romeine in die kritiese Hermeneia reeks, p. 179, asook verskeie ander kommentare).
Feitlik alle nuwer kommentare op Romeine meen dat Paulus homoseksualiteit tussen gelykes of in alle vorms (insluitend tussen gelykes) afkeur (van nuwer na ouer): Colin Kruse (2012) in die PNTC reeks; Frank Matera (2010) in die Paideia reeks; Robert Jewett (2007) in die kritiese Hermeneia reeks; Grant Osborne (2004) in die IVPNT reeks; N.T. (Tom) Wright (2002) in die NIB reeks; Thomas Schreiner (1998) in die BECNT reeks; Jack Cottrell (1998) in die College Press NIV reeks; Douglas Moo (1996) in die NICNT reeks; Robert Mounce (1995) in die NAC reeks; John Stott (1994) in die TBST reeks; Joseph Fitzmyer (1993) in die AB reeks; James Dunn (1988) in die Word Reeks; Leon Morris (1988) in die PNTC reeks.
Behalwe dié wat reeds genoem is in my kommentaar hierbo, is ander noemenswaardige akademiese werke wat Rom 1:26-27 op hierdie manier verstaan (en alle vorms van homoseksualiteit afkeur), die werk van ons eie Peet Botha (2014), The Bible and Homosex (gratis aflaaibaar by learntolove.co.za, The Bible and homosex); Richard Hays (1996) se hoofstuk oor homoseksualiteit (pp. 379-406) in sy werk The Moral Vision of the New Testament (1996), asook sy artikel (1986) “Relations Natural and Unnatural: A Response to John Boswell’s Exegesis of Romans 1” in The Journal of Religious Ethics 14, n. 1, pp. 184-215; David Melick (1993) se artikel “The Condemnation of Homosexuality in Romans 1:26-27” in Bibliotheca Sacra 150, pp. 327-340. Selfs William Loader (2012) wat selfdegelsagverhoudings voorstaan, erken in sy boek The New Testament on Sexuality dat Paulus skryf teen gelyke selfdegeslagverhoudings in Rom 1:26-27, en dat “teen die natuur” beteken vir Paulus dat slegs die seksuele verhouding tussen ’n man en ’n vrou vir God aanvaarbaar is. Loader stem gewoon net nie met Paulus saam nie.
Dit is dus onvoorstelbaar dat, in die lig van Rom 1:18-27 of andersins, Paulus enige vorm van homoseksuele verhoudings sou goedkeur. Die vraag bestaan hoe dit moontlik is dat, in die lig van die oorweldigende hoeveelheid gerespekteerde akademiese literatuur oor die onderwerp, dat drie teologiese fakulteite selfdegeslagverhoudings steun en die Algemene Sinode aanbeveel het om ’n progay besluit te neem. Berus die steun van hierdie fakulteite op die beginsel van sola scriptura, of word dit gedryf deur politiese korrektheid?
[Kyk ook Bybel sê niks oor gay wees.]
5. Slot
Ek sluit af met die vraag na die kern van die Christelike lewenswandel. Wat moet met almal van ons gebeur om ’n heilige lewe te lei? Ons moet sterf in onsself sodat ons soos Paulus kan sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal 2:20). Maar ons kan dit nie uit onsself doen nie. Ons kan slegs sterf in onsself as ons die wesenlike verdorwenheid van die natuurlike mens erken en omhels (Rom 3), en ons ons verlaat op die nuut-skeppende werk van God se Gees in ons en deur ons om ons te wederbaar vanuit sý Gees (Joh 3:3, 7; vgl. 2 Kor 5:17), want “wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees” (Joh 3:6). Niemand van ons word met neutrale, edele seksualiteit of edele begeertes gebore nie; almal van ons is by verstek op onsself en op ons eie plesier ingestel. Ons hele mens moet deur die Gees nuutgemaak word, ons liggame (wat liggaamlike begeertes insluit) moet aan God geoffer word, en ons gemoed/denke moet voortdurend vernuwe word (Rom 12:1-2), sodat ons nie voorsorg maak vir die “vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom 13:14). Die “vlees” word daarom “uitgetrek” in Christus se dood (Kol 2:11). Ons hele “ou mens”, en ons ou identiteit moet dus sterf in Christus, en ons moet die “nuwe mens” in Christus “aantrek”. Ons verkry dus ’n totale nuwe identiteit in Christus (Ef 4:22-24; Kol 3:9-12; vgl. Gal 3:27; Rom 6:4-6).
Die dryfveer wat maak dat ons in die huwelik tree, is nie ons seksuele aangetrokkenheid tot iemand op grond van ons “seksuele oriëntasie” nie. Ons tree in die huwelik omdat God twee mense saamvoeg, ’n man en ’n vrou, en omdat ons bereid is om Christus as Hoof te hê oor ons huwelik en ons hele menswees, en omdat ons bereid is om onsself ondergeskik stel aan God se wil vir ons lewe, wat sy skeppingsorde insluit, waarin ons ons eie natuurlike belange, begeertes en drange deur die kruis en die dood van Christus laat heilig. Wat van hierdie sterwe in jou natuurlike menswees, jou natuurlike begeertes, en jou ou identiteit is waar in die goedkeuring en bevestiging van seksuele selfdegeslagverhoudings buite die huwelik?