Kyk ook:
- Vergifnis – Pieter Badenhorst – Getuienis: 1/4, 2/4, 3/4, 4/4
- Om vertroosting te vind in die dood van ’n geliefde
- Jan Badenhorst se getuienis oor vergifnis
- Vergifnis
Hier volg ’n transkripsie van ’n gedeelte van ds Pieter Badenhorst se getuienis wat hy by die NG Kerk Secunda Goedehoop gemeente afgelê het (in ongeveer 2009). Sy ma in Dewetsdorp is vermoor en hy is verbitterd teenoor die Here en die moordenaar. Die transkripsie begin die aand voor hy na Dewetsdorp ry om sy ma te gaan begrawe:
… Ek is so kwaad. Nou lê ek in die bed en sê: “Here, as jy daar is en jy hoor my, dan sê ek nou vir jou, dit is sout in die wonde vryf. Maar weet jy wat, ek sal dit doen [sy ma begrawe]. Ek sal jou wys. Ek sal nog vir oulaas vir daardie klomp mense in Dewetsdorp gaan lieg. Maar dan is dit klaar.”
Nou klim ons daardie Maandag in die kar, maar hierdie geveg [met God] gaan net aan… Die kinders sit met sulke groot oë… Nou weet ek my vrou weet dinge is nie lekker nie, maar ek lieg al die pad. Kort-kort sê sy vir my: “Is jy OK?” Dan sê ek “ja”, maar ek lieg, want ek is nie. En iewers daar in die Karoo is dit of ek vir myself sê: “Jy is heeltemal simpel. Jy moet net ’n bietjie realisties raak. Jy is nou al vir meer as 24 uur besig met hierdie geveg met die Here. En elke keer as jy klaar met Hom gepraat het, dan weet jy nie eers meer of Hy nog daar is nie en dan begin jy voor. Dan doen jy die geveg oor. Hoe lank gaan jy hiermee aangaan? Stop dit nou. Maak nou klaar. Jy is ingedoen, kry die Here van jou lyf af. En jy is simpel oor hierdie moordenaar ook. Jy dink aan al hierdie verskriklike dinge wat jy met hierdie ou gaan doen, maar as jy dit doen gaan jy in die tronk beland. Kry nou die Here en die moordenaar van jou lyf af. Gaan aan met jou lewe.”
En ek besluit: cut. Maar ek dink ek is vreeslik oulik en ek sê: “Kyk nou hoe ek vir oulaas met die Here gaan praat.” En ek sê vir die Here: “Here, as jy my hoor, en jy is daar, dan sê ek nou vir jou dat ek nooit weer so ’n God wil aanbid nie. Ek is klaar met jou en ek sê nou hiermee koebaai vir altyd.”
Maar ek kry hierdie ingewing en ek dink: Weet jy wat? Miskien moet jy hierdie ou vergewe. Dit gaan mos in elk geval nie werk om hom te vergewe nie. Dan het jy ’n bewys om vir mense te sê: julle sien, dit is ’n speletjie hierdie. (Wat in my kop op daardie oomblik was dat ek so kwaad is dat ek nie voel om hierdie ou te vergewe nie.) Dan kan ek mos heel vroom sê dat ek hom vergewe het, maar dat dit nie gewerk het nie – net om die Here ’n punt te bewys. Min het ek daardie tyd besef dat vergifnis niks met emosie te doen nie. En ek sê: “OK Here, ek vergewe hierdie ou. Ek is in elk geval ingedoen – my ma is in elk geval dood. Ek kan in elk geval niks met hom maak nie. So ek vergewe hom. Ek spreek hom vry. Ek knip die tou.”
Ek kan nie vir julle sê wat op daardie oomblik met my gebeur het nie. Ek kon dit eintlik nog nooit vir mense beskryf nie. Toe ek dit sê, het ek ’n fisiese belewenis. Dit voel vir my of iemand ’n vel van my lyf af pluk. So van my kop tot by my tone. En die volgende oomblik is alles weg: elke negatiewe emosie, elke stukkie wrewel, weg. Dit voel vir my asof ek in ’n lugleegte sit. Ek sê vir julle, ek skrik vir my wit! En ek besef dat hier nou iets bonatuurliks gebeur het waarmee ek glad nie rekening gehou het nie, wat ek glad nie verwag het nie. Ek weet glad nie wat om hiermee te maak nie. Ek was yskoud. En in die volgende breukdele van sekondes flits ’n klomp goed deur my kop. En ek besef in daardie oomblik hoe die Here my eintlik voorberei het hiervoor en hoe ek dit eintlik nie gesien het nie en dat die duiwel dit eintlik probeer keer het voor die tyd…
(Hierdie transkripsie is nie 100% identies aan die werklike getuienis nie – sekere woorde is uitgelaat of die volgorde van sekere woorde is verander slegs sodat dit taalkundig meer korrek is. Die betekenis is egter glad nie verander nie.)