Pieter Verster: Mag versoening juis nou só kom

Kyk kommentaar onderaan.

*******

Pieter Verster: Mag versoening juis nou só kom | Netwerk24

Pieter Verster

Volksblad, 2 Augustus 2022

Daar is ’n radikale behoefte aan versoening. Dit lyk of die ideaal van ’n reënboognasie op sterwe na dood is. Min mense het nog hoop daarvoor. Oral is daar sprake van uiterste spanning. Nie alleen tussen wit en swart nie, verwysend na die reaksies uit verskillende oorde op die urine-voorval in Stellenbosch, maar ook op vele terreine tussen Afrikaners onderling.

In die kerk is daar groot onsekerheid met die oproep tot dolering van gemeentes van die NG Kerk wat al hoe sterker word. Verskeie vergaderings waarin hierdie oproepe weerklink, word gehou. Al minder praat mense mét mekaar en al meer óór mekaar.

Op politieke terrein gaan dit nie beter nie. Op die provinsiale kongres van die ANC in Kwazulu-Natal het faksies skerp verskil wat aandui hoe diep die skeidslyne daar loop. Wêreldwyd is die oorlog in Oekraïne nog lank nie verby nie; standpunte daaroor dui ook op diep verskille. Dit is reeds ’n oorlog waarin verskeie lande betrokke is en sommige meen selfs dit toon al die tekens van ’n wêreldoorlog.

Versoening is dringend nodig anders gaan die samelewing uitmekaar spat.

Ons het ’n Vredevors nodig. Ons het ’n Verlosser nodig.

Wat beteken versoening? Paulus maak dit duidelik. Daar moet eers versoening met God kom, daarna kan die gemeenskap ook vernuwe word. Met God kom die versoening deur die Een in ons plek. Paulus stel dit so: “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (2 Kor. 5:14-15)

Dan dié oproep: “Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (2 Kor. 5:20-21)

Die versoening wat Christus bewerk staan dus sentraal. Daarmee wil Hy ons wat ver van God geraak het, weer naby aan Hom bring. Vrede tussen ons en God is dan moontlik. Dit het Jesus se lewe gekos. Sy kruisdood bring die versoening. Dit is nou moontlik om Hom te ken en in vrede met God te lewe.

Is daar enige hoop vir die samelewing? Kan daar ook vrede en versoening kom? Paulus roep ons op om die versoening in Christus te aanvaar. Daar egter nog meer as dit. Hy is die Vredevors en Versoener. Die kruis word gevolg deur die opstanding. Vir die hele wêreld is daar hoop, want Christus leef. In sy liefde wil Hy almal na vrede, verlossing en versoening lei.

Daarom verkondig ons dat God die aller oorvloedigste fontein is van alles wat goed is. Die appèl bly nou: Kom nou almal, kom na Hom toe. Vanuit sy versoening kán en móét ons ook na versoening strewe. Dit is goed as mense in vrede met mekaar lewe. Daarvoor moet ons bid. Of soos 1 Tim. 2:1-2 sê: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.

Die vroeë Christene het juis as minderheid deur hul geloof in die lewende Christus en hul gebede vir die heersers en gemeenskap ongelooflike invloed uitgeoefen.

Mag die versoening juis so kom.

Prof. Verster is emeritus hoogleraar in sendingwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat.

Kommentaar

Dit is onseker wat Pieter Verster hier wil sê. Aanvanklik lyk dit of hy wil pleit vir vrede tussen mense. Hy praat van onsekerheid wat geskep word deur die oproep tot dolering van gemeentes. “Al minder praat mense mét mekaar en al meer óór mekaar.”

As dit egter sy boodskap was, sou hy veel eerder op die volgende verse wou fokus:

In plaas van hierdie verse gebruik hy 2 Korintiërs 5 wat sê dat ons met God moet versoen.

Hy haal wel Romeine 12 en Efesiërs 4 vinnig aan (“Dit is goed as mense in vrede met mekaar lewe.”)

Siende dat hy die punt aanraak om in vrede met mekaar te lewe, wat sê ons daarvan:

Matteus 10:34-39 lui soos volg:

(34)“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35)Ek het gekom om tweedrag te bring “ ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; (36)ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’ (37)“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. (38)Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. (39)“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

xx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui