Reaksie van die Ringskommissie Somerset-Wes op 7 punte van beswaar van die NG Gemeente die Strand

Vir die volledige agtergrond van hierdie skrywe, kyk Opsomming: Die Strand doleer.

As ’n mens na die geskiedenis van die NG Kerk kyk (veral sedert 2000) is dit BAIE duidelik dat daar teologies groot fout is met die NG Kerk. Tog kies Christo Benadé, namens die Ring van Somerset-Wes, om dit te ontken en probeer om die NG Kerk volledig te verdedig teen al die aantygings wat Die Strand gemaak het.

Hier volg Christo Benadé se verdediging met kommentaar tussenin.

Kyk ook Verdediging van Die Strand se sewe aantygings.

********

Adres: 4 Ritter Straat Strand 7140

E pos: Christo@ngss.co.za

8 Julie 2021

Reaksie van die Ringskommissie van die Ring van Somerset Wes op 7 punte van beswaar van die NG Gemeente die Strand.

Die reaksies is direkte aanhalings uit verslae wat op Algemene Sinodes van die NG Kerk gedien en aanvaar is. Die aanhaling kom uit verslae wat die breër konteks verduidelik. Om die volle konteks te verstaan is dit goed om die hele verslag te bestudeer. Daar is ook soms notas bygevoeg om die konteks duideliker te maak.

Inleiding

Die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk bevestig nog steeds dat die Drie Formuliere van Eenheid en die Ekumeniese Geloofsbelydenisse as norm dien vir die verstaan van sekere kernsake oor die geloof. Op die AS van 2013 is die volgende besluit geneem:

“Punt 4.2.2 Die Algemene Sinode herbevestig weereens dat die NG Kerk die belydenisskrifte sien as normatief in die sin dat dit volgens die Skrif ons geloof bely (Notule p 33)”

Die AS vra dat elke teologiese student wat in die NG Kerk gelegitimeer word, hierdie belydenisskrifte onderteken. Daar word ook ekstra moeite deur die AS gedoen om hierdie belydenisse in meer verstaanbare Afrikaans weer te gee (sien Agenda van AS 2019, pp 264-265).

7 besware

1. Die Woord sê: God is die Skepper en Hy het alles geskep en hou dit instand.

Dwaalleer: Hy is maar net ‘n afbeelding van dit wat ons wil glo en alles het deur evolusie tot stand gekom.

  • Die AS aanvaar die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis waar staan “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.” Geen AS het nog ‘n besluit goedgekeur dat God maar net ‘n afbeelding van dit is wat ons glo en dat alles deur evolusie tot stand gekom het nie.
  • Die AS het in 2015 (Notule pp 61-62) ‘n dokument (Ons Christelike geloof en die wetenskap) as gespreksdokument aanbeveel vir gesprek met lidmate.
    • Op die eerste bladsy van die dokument staan die volgende woorde: “Ons Christelike beskouing oor God is dus onderskeidend en baie spesifiek ’n geloof in ’n Drie-Enige God wat sigself as Vader, Seun en Heilige Gees in die geskiedenis bekendstel. Ons word dus daartoe opgeroep om nuwelinge (bekeerlinge tot hierdie geloof) te doop in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:19). Hoewel hierdie Drie-Enige God vir ons onbegryplik is en dit dus moeilik is om ‘n duidelike konsep/begrip van Hom te hê, is dit ons oortuiging dat Hy Homself aan ons openbaar het as God die Vader, die Skepper van alle dinge; as God die Seun, in Jesus van Nasaret as ons Verlosser; en as God die Heilige Gees, wat in ons as individue, maar veral ook gesamentlik in ons as gemeente/kerk woon – die gemeenskap van die gelowiges” (Agenda p 267).
    • In hierdie dokument is daar onder andere ‘n bespreking van Gen 1-2 en staan die volgende woorde: “Wanneer ’n mens Genesis 1–2 sakramenteel lees dan beweeg dit mens tot die belydenis dat die oorsprong van lewe in JHWH, die God van Israel, lê (Agenda p 278). (Nota: Die implikasie hiervan is dat die skeppingsverhaal in Gen. 1-2 vir ons sê dat God volmaak en goed geskep het, alhoewel die verhale nie vir ons ʼn wetenskaplike verklaring probeer gee hoe God geskep het nie).

[Kommentaar: Gaan kyk gerus wat die res van die dokument sê. Kyk Geloof en die wetenskap 2015.]

2. Die Woord sê: Die Sondeval het die wêreld ingekom deur die Satan wat God se skepping vernietig en aanhou vernietig.

Dwaalleer: Die satan bestaan net as jy in hom wil glo en sondeval, erfsonde hoef nie deel van jou bestaan te wees nie.

  • Die AS aanvaar die woorde van die Heidelbergse Kategismus waar daar oor die volgende gepraat word:
    • Sondag 3 Vraag 6 en 7: Handel oor die sondigheid en verdorwe natuur van die mens.
    • Sondag 52 Vraag 127: Handel oor die sesde bede van die Ons Vader gebed (…maar verlos ons van die Bose). Die AS aanvaar onder andere die volgende woorde “Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons sondige natuur, nie op om ons aan te val nie.”
  • In die afgelope jare was daar talle gesprekke en aanbevelings oor die bediening van die bevryding. Ons almal weet dat daar verskil van mening by gelowiges oor hierdie saak is. Geen besluit van die AS het die bestaan of realiteit van die Bose/Duiwel/Satan/Demone ontken nie. Die AS van 2013 het die volgende besluit hieroor geneem (Notule p 34-35):

“Die AS aanvaar die werklikheid dat daar ʼn wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

[Kommentaar: Dit is waar dat geen AS die bestaan van die duiwel ontken het nie, MAAR die AS het ruimte gemaak vir mense wat dit ontken. Dit is hierdie besluit (2011 en later 2013) wat Ben du Toit beskerm het toe Wynand Louw hom aangekla het van leerdwaling omdat hy nie in die duiwel geglo het nie. Na hierdie mislukte poging kon Ben du Toit steeds in sy pos in die NG Kerk aanbly tot sy aftrede in 2018. Dit is ook hierdie AS besluite wat maak dat Julian Müller die duiwel baie blatant kan ontken soos hy dit hier gedoen het:

3. Die Woord sê: Die maagdelike geboorte van Jesus en Sy fisiese opstanding soos voorspel in die OT en volbring is in die NT en bevestig is deur verskeie betroubare getuies, is en bly die waarheid.

Dwaalleer: Omdat dit nie wetenskaplik moontlik is of bewys kan word nie, hoef jy dit nie te glo as jy nie wil nie. Elkeen kan self besluit of dit vir jou sin maak

2019 Algemene Sinode het ʼn verslag gedien oor Missionale Kerkwees wat die kerk se oortuiging soos volg verwoord: “Die groot verhaal van die Bybel is van God wat mense soek, roep, verlos, heilig en stuur. God se heilswerk kulmineer in die dood en opstanding van Jesus en die versoening tussen God en mens wat daar plaasvind. “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!” (Ef 2:5) Elke lidmaat het die voorreg om op ‘n baie persoonlike vlak hierdie redding te beleef en gepaardgaande vergifnis te ervaar. Deur die dood en opstanding van ons Verlosser, Jesus Christus, kan ons nou in ‘n herstelde verhouding met God leef”. (Agenda van die Algemene Sinode 2019)

[Kommentaar: Die een probleem is dat iemand soos Julian Müller ook met hierdie stellings sou kon vereenselwig. Sy interpretasie van “opstanding” is ‘n metaforiese opstanding, nie ‘n liggaamlike opstanding nie.

Die tweede probleem is dat geen sinode die moed sal hê om openlik ruimte te maak vir die ontkenning van die maagdelike verwekking en die liggaamlike opstanding nie. Dus is dit ‘n verkeerde vraag om te vra wat die NG Kerk amptelik glo. Die regte vraag is: “Wat gebeur met predikante en teoloë wat van hierdie siening afwyk?” Die praktyk het gewys dat daar niks met hulle gebeur nie. Trouens, die tugsaak teen Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human het gewys dat ander kerkleiers hulle beskerm het.]

4. Die Woord sê: Jy kan net gered word deur Jesus Christus aan te neem as jou Verlosser.

Dwaalleer: Ons het nie die alleenreg op redding nie en elkeen kan deur hulle eie gode te dien of godsdienstige reëls nakom, in die hemel uitkom. Daarom kan ons mense van alle gelowe ons broers en suster in die geloof noem.

2019 Algemene Sinode het ʼn verslag gedien oor Missionale Kerkwees wat die kerk se oortuiging soos volg verwoord: “As kerkverband hou ons vas aan historiese tradisies van die vier solas wat die kern van ons verstaan van die verlossing vorm: Sola scriptura (net die Skrif, nie die tradisie wat langs of buite die Skrif ontwikkel het nie), Solus Christus (Christus is ons enigste Middelaar), Sola gratia (ons word slegs op grond van genade gered, nie geloof of enige ander vorm van goeie werk nie) Sola fide (die enigste basis van ons lidmaatskap van die kerk is ons geloof in Christus).(Agenda van die Algemene Sinode 2019)

[Kommentaar: Weereens, die regte vraag is: “Wat word gedoen met predikante en teoloë wat hiervan afwyk?” Dit help hoegenaamd nie om bloot na die “teorie” te verwys nie. In die praktyk is daar baie predikante en teoloë wat uitsprake maak wat teenstrydig is hiermee.]

5. Die Woord sê: Die hele Woord is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwalinge te bestry en verkeerdhede reg te stel en ‘n goeie lewenswyse aan te kweek.

Dwaalleer: Die bybel is mense se woorde oor God en dele daarvan moet as mites verstaan word en is dus nie nodig om te glo nie. Dis ‘n boek wat geskryf is vir die mense van daardie tyd, en ons hoef net dit wat vir ons relevant is, te glo. Aanpassings om die gees van die tyd te pas, mag ingelees word.

“Skrifgebruik en Skrifgesag”, soos aanvaar by die Sinode van 2004, as ’n eenvoudige en prinsipiële samevatting van die NG Kerk se Skrifbeskouing.

1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk bely, as kerk wat in die Gereformeerde tradisie staan, dat die Bybel die Woord van God is en dat dit daarom:

  • gesag het oor ons hele lewe, omdat dit aan ons betuig dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan die Here, sodat ons geroep word om in vertroue op Hom en in gehoorsaamheid aan Hom te leef;
  • betroubaar is, omdat ons vas glo dat God werklik is soos Hy Homself in die Skrif aan ons bekend maak: die Vader, Seun en Gees wat uit genade ons God is;
  • duidelik is, omdat die kerk hierin die helderheid van die evangelie van God se liefde en genade hoor;
  • voldoende is, omdat die Heilige Gees ons deur die Bybel alles leer wat ons hoef te weet om in God te glo en om sy wil te gehoorsaam (vlg NGB Artikel 7).

Daarom bely ons steeds gelowig dat dié waarheid bo alles is.

2. Soos nog altyd vir die Gereformeerde tradisie, beteken hierdie belydenis vir ons nié:

  • dat die Bybel vereis dat ons ons denkvermoë, wat ’n gawe van God is, moet opoffer nie;
  • dat die Bybel gesien kan word as ’n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie;
  • dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens selfstandig en onmiddellik alles daarin kan begryp nie;
  • dat die Bybel vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee, sodat geen verdere menslike nadenke of navorsing nodig is nie.

3. Ons bely verder dat God deur die Heilige Gees die kerk deur die eeue in die waarheid van hierdie Woord lei. Dit beteken vir ons dat ons die Skrif as die lewende Woord van God hoor in gemeenskap met die Heilige Gees en met mekaar. Daarom was die kerke in die Gereformeerde tradisie nog altyd oortuig van die belangrikheid van ’n verantwoordelike interpretasie van die Skrif waardeur die kerk as geloofsgemeenskap onder leiding van die Heilige Gees soek na die waarheid, geregtigheid en barmhartigheid wat God deur sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie oortuiging dat die kerk die Skrif moet interpreteer, blyk onder meer uit:

  • die klem wat van die begin af gelê is op ’n grondige kennis van die oorspronklike tale (Hebreeus, Grieks en Aramees) waarin die Bybel geskryf is, asook die soeke na die beste metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg;
  • die beklemtoning dat die hele Skrif gelees moet word in die lig van die konteks waarin dit ontstaan het, sodat die tyd- en kultuurbetrokkenheid daarvan verreken kan word in die uitleg;
  • die soeke na reëls vir die uitleg van die Skrif (voorbeelde van sulke uitlegreëls uit ons tradisie is: dat die Skrif as totaliteit gelees moet word, dat Skrif met Skrif vergelyk moet word en dat die moeiliker dele in die lig van die makliker dele vertolk moet word en dat die Skrif uit sy hart, die evangelie van Jesus Christus, verstaan moet word);
  • die onderskeid wat in die uitleg van die Skrif gemaak is tussen verskillende dele van die Skrif wat ’n verskillende soort gesag het (byvoorbeeld die onderskeid tussen die historiese en normatiewe dele van die Skrif, asook die onderskeid tussen die kultiese en morele wetgewing);
  • die dankbare, maar kritiese luister na die manier waarop die Skrif in die geskiedenis van die kerk uitgelê is en in ons eie tyd deur medegelowiges in ons eie kerk en ander kerke uitgelê word;
  • die vestiging van kerklike praktyke vir die interpretasie van die Skrif, soos veral die prediking, maar ook kategese, Bybelstudie, teologiese studie en andere;
  • en veral ook in die daarstel van belydenisskrifte waarin die kerk streef om die hart van die Skrif-boodskap duidelik te vertolk en gehoorsaam te aanvaar.

4. Hoewel die kerk in elke tyd anders mag oordeel oor die beste reëls en metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg, bly dit vir ons ’n basiese oortuiging dat die belydenis van die Skrif as Woord van God nooit teenoor verantwoordelike Skrifuitleg staan nie. Die belydenis roep ons juis op om onsself, in gemeenskap met mekaar en met al die gawes wat God vir sy kerk gegee het, toe te lê op die soeke na die waarheid.

5. In die lig van hierdie belydenis glo ons dat God ook in die uitdagende tye waarin ons leef, sy kerk deur sy Woord en Gees in die waarheid sal lei. As Gereformeerdes verbind ons ons daartoe om, ook wat die komplekse leerstellige en etiese kwessies van ons tyd betref, in hierdie oortuiging saam te soek na waarheid, geregtigheid en barmhartigheid. Ons glo dat hierdie soeke ’n ekumeniese strewe is, in verbondenheid met die kerk van alle eeue en die kerk dwarsoor die wêreld. Waar ons van mekaar verskil, glo ons dat ons in gesprek met mekaar moet bly, in die gebed dat God ons liefde al meer sal laat toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (Filippense 1:9-10).

6. Die Woord sê: Die huwelik is deur God ingestel as heilige samevoeging van een man en een vrou. Gen 2:23-25, Ef 5:21-31

Dwaalleer: Die AS plaas klem op diversiteit en verskil van menings en haal etlike Bybel tekste aan om aan te toon dat daar verdraagsaamheid en aanvaarding van meningsverskille in die vroegste Kerk was. Nie een van daardie kwessies kan van toepassing gemaak word op SGV wat by implikasie afgemaak word as ‘n randsaak (paragraaf 3.3 ).

Die Gids verwys geensins na Bybeltekste wat SGV ten sterkste afkeur nie en maak dit maar eenvoudig af as meningsverskille in Skrifhantering. Die amptelike standpunt is dat die betrokke Bybeltekste net wys op losbandige verhoudings.

Ons bly steeds verbind in die gesprek tot die waardes wat die Algemene Sinode van 2019 uitgespel het. Bv. Vanuit ons verbintenis tot die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid sê ons as Algemene Sinode opreg jammer vir mense wat seergekry het en wie se waardigheid aangetas is weens enige homofobiese taal, gedrag of gesindheid van die kant van die kerk, ook tydens hierdie vergadering. (AS Agenda 2019)

Die Algemene Sinode het deur die jare ʼn aantal besluite geneem oor die huwelik en ook SGV. Die volgende is die mees relevante om die vraag te beantwoord.

Die AS van 2019 besluit dat:

4.1 die besluite van 2004 en 2007: slegs die verbintenis tussen een man en een vrou, as ‘n huwelik beskou kan word.

4.2 die besluite van 2004 en 2007 word herbevestig – dat heteroseksuele, sowel as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

4.3 die AS het besluit dat die huidige besluit (2019) oor selfdegeslagverbintenisse nie as ‘n alternatief vir die huwelik beskou kan word nie.

Die spesifieke besluit oor SGV van 2019.

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.

2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.

3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.

4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:

4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;

4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en

4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.

5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.

6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se:

6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

6.2 toegang tot die sakramente,

6.3 integriteit van verhoudings, en

6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem

6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:

7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

7.2 toegang tot die sakramente,

7.3 integriteit van verhoudings, en

7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag te neem, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

8. Die Algemene Sinode erken dat daar:

8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,

8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

7. Die Woord sê: God het die mens geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Dwaalleer: Dat elke mens self sy eie geslag kan bepaal en verander kan na gelang van omstandighede

Die besluit AS 2019 se besluit oor die Huwelik oor die huwelik (4.1 die besluite van 2004 en 2007: slegs die verbintenis tussen een man en een vrou, as ‘n huwelik beskou kan word.) bevestig dat God man en vrou geskape het. Die 2019 besluit oor SGV erken ook die realiteit dat daar mans en vroue is wat ook ʼn selfdegeslag aangetrokkenheid ervaar. (Nota: Ons kon geen bespreking kry waar die AS sou sê dat ʼn mens sy eie geslag bepaal nie)

Geteken

Dr. Christo Benadé

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui