Kyk ook:
Die volgende dokument is opgestel deur die groep in die Vrystaatse sinode wat versoek dat die Vrystaatse sinode strukture skep vir gemeentes om hulleself los te maak van die Algemene Sinode. Kyk Warm gesprek oor verslag op Vrystaatse sinode (8 Maart, Volksblad)
**********
Bylaag 3.2 Redes waarom gemeentes vra om uit verband te tree
HOE REGVERDIG SOMMIGE GEMEENTES DIT VOOR GOD IN DIE LIG VAN SY WOORD, DAT HULLE UIT DIE VERBAND MET DIE ALGEMENE SINODE WIL TREE?
1 Inleiding
Die studiegroep: Kerkverband, wil in opdrag van die Vrystaatse Sinode, inligting deurgee aan gemeentes aangaande die redes waarom sommige besorgde gemeentes uit die verband met die Algemene Sinode (AS) wil tree. Die studiegroep wil beklemtoon dat die menings in hierdie skrywe nie die menings van die hele studiegroep verteenwoordig nie, maar van gemeentes wat vra om uit die verband met die Algemene Sinode te tree. In die Vrystaat het drie gemeentes, asook die hele ring van Heilbron se agt gemeentes, reeds in beskrywingspunte hiervoor gevra. Boonop het byna 100 NG gemeentes in Suid-Afrika en Namibië reeds doleer (ʼn formele proses van treur en protesteer) teen besluite van die AS. In die Vrystaat doleer 26 gemeentes.
SAMEVATTING VAN HIERDIE SKRYWE
Liewe Lidmaat
In hierdie skrywe verduidelik sommige NG gemeentes waarom hulle uit die verband met die Algemene Sinode van die NGK wil tree.
Die verslag bestaan uit die volgende besprekings:
– Gemeentes wat wil uittree, gebruik die metafoor van ʼn owerspelige huweliksmaat om talle besluite van die Algemene Sinode oor die afgelope tien jaar te beskryf.
– Die verslag verduidelik dat die AS talle besluite geneem het wat die totstandkomingsooreenkoms (1962) tussen die destydse samestellende NG kerke misken, ignoreer en ondermyn. Hierdie reeks skokkende besluite ondermyn die gesag van God se Woord, die Belydenisskrifte wat oor die afgelope 500 jaar Gereformeerde Kerke uit talle lande saambind, asook die Kerkorde van die NGK.
– Die verslag bespreek ook die krisis rakende teologiese opleiding. Talle dosente van die drie teologiese instansies – waarvan die AS op hardnekkige wyse wil bly gebruik maak om toekomstige NG leraars op te lei – verkondig ʼn soort Skrifondermynende godsdiens waarin onder andere die Here Jesus se Persoon en werk verloën word. Besorgde studente en lidmate se klagtes hieroor is telkens tevergeefs.
– Die verslag bespreek ook waarom alle verdere pogings om mekaar om die gesprekstafel te vind, vrugteloos sal wees.
– Die hartverskeurende werklikheid is dat NG gemeentes doodeenvoudig nie meer ʼn Goddelike eenheid in waarheid en liefde het nie.
– Die verslag sluit af met die versoek dat die Vrystaat Sinode éénparig ʼn welwillende weg moet goedkeur sodat gemeentes wat uit die verband met die AS wil tree, dit kan doen. Sodoende het gemeentes wat deel wil bly van die AS, die geleentheid daartoe, bevry van die werklikheid dat konflik en verskeurdheid binne die Algemene Sinodale verband toekomstig al meer sal toeneem.
2 Die metavoor van ’n “owerspelige” Algemene Sinode
Gemeentes wat wil skei van die AS, glo hulle word valslik beskuldig daarvan dat hulle kerkskeurders is. Hulle gebruik ʼn egskeidingsmetafoor om te verduidelik waarom diegene wat vra vir die “egskeiding” nie skuldig is aan skeurmaking nie; hulle motiveer dit as volg: “In ʼn sondige, gebroke wêreld mag kinders van God skei wanneer die huwelikseenheid verbreek is deur ʼn onberoulike, owerspelige lewensmaat (Matt. 5:32; 19:9)”. Vervolgens word hierdie metafoor gebruik om te verduidelik waarom sommige gemeentes glo dat ʼn “skeiding” van die “onberoulike, owerspelige” Algemene Sinode van die NGK, geregverdig is voor God.
2.1 Hierdie gemeentes glo dat “ruimhuisbesluite” van die Algemene Sinode, die NG Kerke se 1962 ooreenkoms van totstandkoming verbreek het.
Waarom voel gemeentes wat wil uittree, dat sommige besluite van die Algemene Sinode neerkom op ʼn volhardende, owerspelige vertrouensbreuk?
Gestel ʼn man – wat in 1962 met sy vrou getroud is – sou die volgende doen; hy weet baie goed dat sy vrou die huwelik as heilige band tussen een man en een vrou beskou, maar op ʼn dag skryf hy ʼn briefie aan sy vrou, waarin hy die volgende besluit aan haar deurgee: “Vroutjie, ek hoor al sedert ons troudag dat jy glo in die huwelik as Goddelike instelling tussen een man en een vrou, maar ek het tog besluit dat ons ruimte kan skep vir nog ʼn vrou in ons huwelik. Wees egter net rustig want dit bedreig ons huwelik glad nie want onthou, die nuwe vroutjie het besluit om jou in liefde te aanvaar, en jy weet tog ek is innig lief vir jou. Ek vertrou daarom dat jy hierdie besluit tot ʼn nuwe huweliksbedeling met begrip en liefde sal eerbiedig, want ons drie is nou deur God aan mekaar gebind.”
Sal sy vrou hierdie bisarre nuwe ruim en inklusiewe huweliksbedeling, waarvoor sy nooit gevra én waartoe sy nooit in 1962 ingestem het nie, bloot “in liefde” aanvaar? Nee, sy sal aandring daarop dat die ander twee kan voortgaan met hulle nuwe huweliksbedeling, maar sy wil skei. Sy gun hulle dus die reg om hulle nuwe ruim huweliksopvatting uit te oefen, maar sy wil nie daarvan deel wees nie, want dit is vir haar onmoontlik voor God en in die lig van Sy Woord om langer deel van so ʼn sondige, ruim huweliksbedeling te wees.
2.2 Ruimte vir “nog ’n vrou” as metafoor van die sinode se ruimte vir “nog skrifvertolkings”
Die egskeidingsmetafoor verduidelik presies waarom gemeentes wat wil uittree, glo dat húlle wat die egskeiding aanhangig maak, nie die egbrekers of kerkskeurders is nie; NG Kerke wat in 1962 kerkordelik toegetree het tot ʼn “huwelik”, het onder andere ooreengekom op één Skrifgetroue belydenis aangaande die huwelik tussen man en vrou. Nou het die AS hierdie “huweliksooreenkoms” verbreek deur ʼn onwettige ruimte te skep vir nóg ʼn Skrifvertolking, naamlik dat mense van dieselfde geslag in huwelike bevestig kan word (onder die misleidende dekmantel van: dit is bloot “verbintenisse” wat aan die hand van ʼn formulier voltrek sal word). Daar is ook ander besluite van die AS (dit word hierna toegelig) wat die 1962 “huweliksooreenkoms” tussen gemeentes op “owerspelige” wyse verbreek het. Hierdie gemeentes voel gevolglik dat dit skreiend is dat diegene wat by Skrif, Belydenis en Kerkorde – soos in 1962 se “huweliksluiting” ooreengekom – wil hou, nou beskuldig word van liefdeloosheid en kerkskeuring omdat hulle hierdie onwettige “ruimhuishuweliksbedeling” wil verlaat. Hierdie gemeentes glo dus dat die AS die NGK se “huwelikseenheid” verbreek het deur op “owerspelige wyse” talle onwettige meerderheidsbesluite te neem, waarin ruimte geskep word vir valse leringe wat nie in 1962 deel van die “huweliksooreenkoms” was nie. Hierdie “owerspelige” ruimhuisbesluite word hardnekkig deur die AS verdedig ten spyte daarvan dat talle beswaardes deur gravamina aangetoon het dat sulke ruimtes die Skrifgetroue Belydenis en Kerkorde van die NGK waarop in 1962 by “huwelikseenwording” ooreengekom is, volledig ignoreer en misken.
3 Liefde vir God en liefde vir hulle naaste het hierdie gemeentes oortuig dat uittrede uit die “huwelik” met die algemene sinode noodsaaklik is.
Vervolgens moet hierdie “owerspelige kerkskeuring” wat volgens hierdie gemeentes deur die AS gepleeg is nader toegelig word. Hierdie Skrifondermynende besluite van die AS – om ʼn onwettige ruim godsdienstige huis te skep – ontheilig volgens hierdie gemeentes God se Naam:
3.1 Hierdie gemeentes glo:
3.1.1 Daar word ʼn bespotting van God se heilige Naam – asook die Godingestelde huwelik – gemaak as een gemeente van ʼn kerkverband ʼn homoseksuele paartjie in God se Naam vermáán oor hulle sondige verhouding, terwyl die buurgemeente van dieselfde kerkverband ruimte ontvang om dieselfde paartjie se seksuele verbintenis in dieselfde God se Naam te bevéstig met seën en gelukwensing! ʼn Kerkverband wat in 1962 ooreengekom het om één in hulle Skriftuurlike belydenis te wees, kan onmoontlik nie sulke weersprekende leringe oor God se wil goedkeur sonder om God se Naam te ontheilig nie. Hierdie gemeentes glo gevolglik dat die ware eenheid in liefde en waarheid volkome verbreek is met hierdie 2019 besluit van die AS, en dat daar gevolglik slegs ʼn papiereenheid oorgebly het tussen NG gemeentes. Boonop kom die skape van die Here (gemeentelede) in geloofsverwarring aangaande die wáre evangelie as een gemeente verkondig dat dankbare verloste mense nie mag volhard in sekere sondige leefpatrone nie, terwyl die buurgemeente dieselfde leefpatroon in God se Naam erken as ʼn Godverheerlikende liefdeseenheid. Hierdie gemeentes beskou dit om dieselfde redes as onaanvaarbaar dat die AS ruimte geskep het vir sommige gemeentes om te bely dat voorhuwelikse seks nie sonde is nie (2011 besluit van die AS).
3.1.2 Die ruimte vir selfdegeslagverbintenisse (SGV) word verskoon deur dit ruimte vir verskillende Skrifvertolkings te noem. Hierdie gemeentes is egter oortuig dat dit oor veel meer gaan as verskillende Skrifvertolkings; dit gaan vir hulle ten diepste oor ontkenning van Skrifgeság want talle persone wat ruimte vra vir SGV, beweer dat God se Woord nie leer dat God die huwelik tussen een man en een vrou ingestel het nie. Volgens hierdie dwaling is die Bybel se lering oor die huwelik nie ʼn geopenbaarde instelling deur God nie, maar die tydgebonde idees van primitiewe mense; hulle beweer daarom dat die huweliksformaat telkens gewysig kan word om aan te pas by die moderne kultuur. Sulke stellings ondermyn duidelik die gesag van die Skrif se duidelike leer. Dit is dus skokkend dat die AS hierdie Skrifvreemde ruimte probeer verskoon onder die dekmantel van “verskillende Skrifvertolkings” Die volgende vrae ontstaan: “Hoe kan ongeveer 200 afgevaardigdes sulke ingrypende besluite neem vir ʼn hele kerkverband wat byna ʼn miljoen lidmate het? Hoekom was die 1962 kerkordelik-ooreengekome en Skrifgetroue belydenis aangaande die huwelik tussen man en vrou misken in hierdie besluit?” Gemeentes is daarom met reg ontsteld oor hierdie onwettige besluite. Die skrikwekkende vraag kan ook gevra word: Waar gaan die NGK toekomstig die streep trek rakende kultuurbepaalde huweliksformate?
Die AS het boonop die afgelope tien jaar nog ander ruimtes goedgekeur wat volgens hierdie gemeentes Skrifgesag ondermyn;
3.1.3 Daar word volgens hierdie gemeentes ʼn bespotting van Skrifgesag asook God se wonderbare verlossingswerk in Christus gemaak wanneer die AS ruimte skep vir diegene wat nie glo in bose geeste nie (2011 en 2015 besluite van die AS). Ook hier word Skrifgesag ondermyn deur te beweer dat die geloof in bose geeste die getuienis van primitiewe mense is wat deur die moderne wetenskap ontmasker is. Die Skrif leer duidelik dat mense juis in Christus se verlossingswerk skuiling moet soek van die Bose en dat Hy ons wapens gee teen die bose geeste in die lug. Die leer oor bose geeste is vir hierdie gemeentes nie die blote geloof van primitiewe mense nie, maar die openbaring van God se gesaghebbende Woord. Die AS bewys daarom volgens hierdie gemeentes lippetaal aan die gesag van die Woord, maar in die praktyk skep die AS ruimte vir lering wat die gesag van die Skrif gaandeweg al meer ondermyn. MAAR WAAR ONTSTAAN HIERDIE SKRIFONDERMYNENDE LERINGE? Hierdie ruimte vir Skrifondermynende lering is volgens gemeentes wat wil uittree, die logiese gevolg van die AS se besluit om hardnekkig voort te gaan om gebruik te maak van teologiese instansies waar sommige dosente openlik verklaar dat die Bybel bloot mensewoorde oor God is en nie die geïnspireerde Woord van God nie.
3.1.4 Verdermeer het die AS in 2013 onwettig besluit dat streeksinodes die ruimte het om nog ʼn Belydenisskrif – die Belhar Belydenis – te aanvaar. Hiermee word Kerkorde artikel 1, asook ʼn ellelange kerkordelike proses wat die NGK gevolg het, en wat uitgeloop het daarop dat gemeentes gestem het dat Belhar nie deel van die NGK se belydenisgrondslag kan wees nie – bloot ignoreer deur die AS. Hierdie groeiende “skep van ruimtes” maak dus ʼn bespotting van die stelling dat NG gemeentes stééds een in Skrif, Belydenis en kerkorde is. Waarom moet gemeentes dan steeds bly binne ʼn verband met diegene wat die ooreengekome eenheidsband in Skrif, Belydenis en kerkorde ignoreer?
Volgens hierdie gemeentes word God se Naam boonop ontheilig wanneer leraars Gods se heilige selfopenbaring as Vader, Seun en Heilige Gees op platvloerse wyse (en ter wille van die begeertes van moderne mense) wil “verruim” tot die beeld van ʼn vroulike god. Die Skrifaanhalings om hierdie beeldaanbidding te probeer regverdig spreek volgens hierdie gemeentes van Skrifmisbruik en minagting van God se geopenbaarde Woord. Tog word dit deesdae vrylik aanvaar dat NG leraars na God as vrou kan verwys.
Dalk redeneer iemand dat hierdie optrede van leraars nie voor die deur van ʼn besluit van die AS gelê kan word nie; ongelukkig kan dit beslis herlei word na die deur wat die AS geopen het vir gemeentes en individue om toenemend eie Skrifvertolkings binne die ruim huis toe te laat.
Hierdie toenemende ruim huis, sonder eenheid in Skrif en Belydenis, verhinder dat leraars en lidmate vermaan kan word, want hulle beroep hulle bloot op die AS se ruimte vir “verskillende Skrifvertolkings” terwyl dit soos verduidelik, eintlik gaan oor ʼn snelgroeiende golf van Skrifondermyning wat toekomstig al vinniger sal eskaleer.
4 Louheid in die NGK
Die louheid van ʼn groot aantal leraars en lidmate in die NGK verstom hierdie gemeentes wat wil uittree. Hulle vind dit onbegryplik dat sommige gelowiges genoemde dwalinge nie sélf wil verkondig nie, maar traak-my-nieagtig aanvaar dat die AS ruimte vir hierdie dwalinge kan skep. Ontstelde gelowiges vra: “Waar is die verlange na die heiliging van God se Naam by hierdie lou gelowiges?” In eenvoudige taal kom dit neer op die volgende: Diegene wat pleit vir allerlei ruimtes, wil dus enersyds God aanbid, maar is andersyds baie gemaklik dat daar ruimte vir beeldaanbidding, vals evangelies en dwaling binne die NGK kan wees.”
5 Teologiese opleiding
Gemeentes wat wil uittree vind dit boonop uiters teleurstellend dat talle persone binne die NG strukture volhardend veg daarvoor dat teologiese opleiding steeds uitsluitlik moet plaasvind by die US, UP asook UV. Die volgende Skrifondermyning kom volgens hierdie gemeentes aan hierdie teologiese opleidingsinstansies voor (talle stawende getuienis hiervoor is beskikbaar):
5.1 Die meerderheid dosente aan hierdie instansies is óf ten gunste van selfdegeslaghuwelike óf verwelkom kerklike ruimtes vir selfdegeslagverbintenisse, en leer hierdie Skrifverstaan aan gemeentes se toekomstige leraars.
5.2 Daar was histories, maar daar is ook tans, dosente wat ontken dat Jesus God (Theos) is.
5.3 Sommige dosente leer dat, hoewel christene glo dat Jesus die weg na God is, daar ook ander weë na God bestaan.
5.4 Enkele dosente ontken gevolglik ook reeds Christus se maagdelike geboorte asook Sy opstanding uit die dood.
5.5 Sulke dosente beskou die Bybel as primitiewe mense se idees en woorde oor God, en nie as die geopenbaarde Woord van God nie. Daarom glo sulke dosente dat moderne mense met hulle “meerdere kennis” die primitiewe Bybelskrywers se “denkfoute” oor God se wil (oor byvoorbeeld verlossing, die huwelik, bose geeste ens.) kan korrigeer.
Hoe lank dink u sal dit neem voor hierdie Skrifondermynende leringe die NGK volkome deursuur? Die skaakspel van toesighoudende kuratoriums om hierdie dosente te beskerm teen ondersoeke en vraelyste is welbekend. Klagtes en ondersoeke deur kerklike kanale het histories tot niks gekom nie, en was daarom tevergeefs. Diegene wat wil uittree is moeg vir hierdie eindelose skaakspel en vra daarom bloot dat hulle toegelaat sal word om vry te kom van hierdie strukture wat hulle probeer verhinder om die waarheid oop te vlek. Gemeentes wat wil uittree wil teologiese opleiding laat doen deur Skrifgetroue teologiese instansies wat reeds deur hulle geïdentifiseer is.
6 Moet ons nie bly luister na mekaar nie?
Diegene wat gemaklik is met die besluite van die AS, vra dat “ons na mekaar moet bly luister”. Die teenvraag wat gemeentes wat wil uittree vra, is egter: “Word daar régtig na mekaar geluister?” Sedert 1986 is herhaaldelik vrugteloos getuig daarteen dat SGV teen Skrif, Belydenis en Kerkorde is. Hierdie getuienis word doodeenvoudig ignoreer, ontken of wanneer ʼn ongemaklike sinodale verslag daaroor dien, word die verslag netjies gesystap deur dit op nimmereindigende wyse te “verwys vir verdere ondersoek”. Die versoek dat “ons na mekaar moet luister” is dus volgens hierdie gemeentes ʼn klug. Hulle glo dat diegene wat ten gunste van eenheid binne die AS is, in werklikheid nie vra vir verdere geleentheid om “na mekaar te luister” nie, maar eintlik net vra vir verdere geleentheid om diegene te oortuig wat téén die AS se Skrifondermynende besluite van ʼn ruim huis is. Hierdie gemeentes glo: Dit het vanuit talle historiese gesprekke duidelik geword dat hierdie “luister na mekaar”, nooit lei tot ʼn eerbiedige terugkeer na God se Woord nie, maar dat diegene wat gemaklik is met besluite van die AS, bloot die loopgrawe dieper grawe en kyk met watter nuwe skaakskuif daar na vore gekom kan word om hierdie Skrifondermynende besluite vir ʼn “ruimhuisbedeling” te regverdig. Die Bybelse eenheid in liefde en waarheid het daarom, soos aangetoon, reeds volkome verbrokkel; hiervan getuig wedersydse beskuldigings in mediaverklarings, lesersbriewe en artikels. Die NGK se huwelikseenheid is dus verbreek deur hierdie geskepte ruimtes vir dwaling; die papierwerk moet nou bloot afgehandel word.
Diegene wat ten gunste van die ruim huis is, glo helaas dat “luister na mekaar” slegs afgehandel is wanneer almal instem dat daar ʼn ruim huis móét wees waar elkeen kan doen wat reg is in sy eie oë, ongeag dit wat in 1962 ooreengekom is in die Skrifgetroue Belydenis van die NGK. Die agtjaarlange “seisoen van luister” het onteenseglik bewys dat die AS eenrigting luister voorstaan, en nie regtig wil luister na ongemaklike getuienis oor Skrifondermyning, asook miskenning van Belydenis en Kerkorde, nie.
7 Is die evangelie op die spel of verskil gemeentes bloot oor onbenullige sake?
Dit is tyd dat die NGK weer met ontsteltenis moet lees hoe ernstig Paulus die gemeente in Korinthe gewaarsku het teen kerkruimtes vir ander evangelies en ʼn ander Jesus:
“… Nou wil ek hê julle moet ʼn bietjie dwaasheid van my kant verdra! Ja, verdra my maar! Ek waak oor julle met ʼn ywer wat van God kom, want julle is soos ʼn jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang. Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ʼn ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ʼn ander gees en ʼn ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.” (2 Kor. 11:1-4)
Gemeentes wat wil uittree stem gevolglik saam met ʼn verslag[1] van die Vrystaat Sinode se Taakspan vir leer en aktuele sake (STALS), wat in 2022 aangetoon het dat diegene wat selfdegeslagverbintenisse goedkeur en in God se Naam bevestig, asook diegene wat ontken dat bose geeste bestaan, ʼn volkome ander Skrifondermynende evangelie verkondig as dit waaroor NG kerke in 1962 in die Skrifgetroue Belydenis van die NGK ooreengekom het. Helaas, is hierdie ongemaklike verslag van STALS weer net “verwys vir verdere studie”. Hierdie modus operandi (verwysing van verslae) is soos reeds genoem, die jarelange manier waarop die kwessies van Skrifondermyning en miskenning van Belydenis en Kerkorde in die NGK vermy word. Daarom is dit ʼn leuen om te beweer dat ons in die Vrystaat nog nie die kans gehad het om met mekaar te praat nie.
Hierdie ontstelde gemeentes verwerp daarom ook – in die lig van genoemde verslag van STALS – die argument van diegene wat beweer dat die verskil oor SGV bloot ʼn minder belangrike etiese kwessie is waaroor gemeentes kan verskil en steeds één bly in die waarheid van Skrif en ooreengekome Belydenis; die hart van die evangelie oor Christus wat sondaars verlos en beveel om te breek met die ou sondige leefpatroon is op die spel.
8 Slot: Die onafwenbare tyd vir ’n welwillende skeiding het aangebreek
Gemeentes wat wil uittree, glo dat die waarheid van God se Woord op die spel is; hulle glo ook dat ruimte vir hierdie dwalings liefdeloos is, omdat dit mense valslik laat glo dat sondige lewenspatrone en valse evangelies nie onder die oordeel van God staan nie. Gemeentes wat wil uittree doen dit daarom treurend, maar glo dat dit voor God en in die lig van Sy Woord noodsaaklik is. Soos aangetoon is hierdie gemeentes oortuig dat hulle nie die kerkskeurders is nie, maar dat hulle uit liefde vir die Goeie Herder en Sy skape se welwese uit die verband met die AS wil tree, weens die belewenis dat die AS die kerk reeds prinsipieel deur hulle “owerspelige optrede” geskeur het.
Daarom vra hulle dat die Vrystaat Sinode heringedeel sal word op ʼn wyse waar sommige gemeentes – volgens hulle geloofsoortuiging – steeds deel kan bly van die band met die AS, terwyl ander gemeentes kan uittree volgens geloofsoortuiging. Oproepe tot eenheid ten alle koste deur “na mekaar te bly luister” is – soos aangetoon – bloot versoeke om mekaar te oortuig van die eie standpunt en lei bloot tot groeiende konflik.
Laat ons daarom die tevergeefse skaakspel staak; laat ons ons onoorbrugbare vasgelooptheid met hartseer erken, en laat ons in welwillendheid ooreenkom dat ʼn weg te vinde is sodat diegene wat binne die verband met die AS wil bly kan bly, en diegene wat wil uittree kan uittree.