Kyk ook:
*******
Reeks: Gesprekke met moderators van die Algemene Sinode: 1962 tot op hede | Coenie Burger (2002 tot 2007) – Kerkbode
28 April 2023
NG Kerk verbind haar tot ‘nuwe Suid-Afrika’ en herbou ekumeniese verhoudings – Coenie Burger oor sy termyn as moderator van die Algemene Sinode
Die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk het in Oktober 1962 vir die eerste keer vergader. Die aanloop na die eerste sitting van die AS het reeds in 1907 plaasgevind toe die Raad van Kerke in die lewe geroep is. Hierdie Raad het die sinodes van die NG Kerk in ’n federale verband saamgebind. Vanjaar, van 15-20 Oktober, sal die Algemene Sinode van die NG Kerk weer in sitting wees en Kerkbode het met die oorlewende voorsitters van die Algemene Sinode onderhoude gevoer wat in komende uitgawes hier gepubliseer sal word.
Gesprek met dr Coenie Burger, Moderator: Algemene Sinode NG Kerk 2002 tot 2007
“Voor ek moderator by die AS geword het was ek ook moderator van die Wes-Kaapse sinode. Dit het my geweldig gehelp dat ek my verkiesing van die begin af as ’n roeping beleef het, iets wat ek moes probeer doen so goed as wat ek kon.
Dit was agt jaar na die politieke oorgang in die land. Die situasie was redelik stabiel, maar baie lidmate was onseker hoe hulle moes dink en voel daaroor. By die sinode van 2002 het ons begin verstaan dat ons deel is van hierdie nuwe land en dat terugdraai onmoontlik is. Ons moes vorentoe begin kyk en vra wat ons roeping en rol vorentoe in die land is.
By die 2002-sinode het ons die Verbintenis-verklaring uitgereik waarin ons die kerk herverbind het aan die Here, aan die land en ons roeping in die land en aan alle ander kerke en gelowiges in SA. Vir my het uitgestaan dat ons gesê het dat hierdie ook ons land is en dat die probleme van die land daarom ook ons probleme is en dat ons ons verbind om saam met ander daaraan te werk.
’n Paar maande later het ons vir president Thabo Mbeki en ’n hele klompie senior kabinetslede oor die verbintenis ingelig. Ek kon sien dat hulle dit baie positief ontvang het.
Drie sake was vir my belangrik in die tyd: die eenheid van die kerk (binne die NG Kerk, met die NG familie en ook in die breër kerk); dat ons ons roeping sou opneem en ’n konstruktiewe rol in die land probeer speel en dat ons geloof in die evangelie van Christus verdiep sou word.
Die diep soeke na eenheid was waarskynlik die moeilikste van die drie. Die uitbou van ons verhoudings met ander kerke het goed geloop, maar die eenheid met die VGK en selfs binne ons NG Kerk was uitdagend.
Ek is baie jammer dat ons nie verder kon vorder met die eenheid binne die NG familie nie. Daar was tye wat ek gedink het ons vorder goed, maar iewers het die momentum verlore gegaan. Ek wonder nou nog by tye of ek (ons) sekere goed anders moes doen. Sekere mense voel ek was te akkommoderend teenoor groepe in die NG Kerk wat baie voorbehoude gehad het oor die eenheid. Wie weet? Ek het heeltyd gehoop ons kan ou breuke heel sonder om nuwes te veroorsaak.
Die eenheid van die kerk is veel belangriker as wat die meeste Christene verstaan. Dit sluit in eenheid met die VGK, maar meer as dit. Dit beteken ook nouer bande met ander kerke – ook die sogenaamde AIC’s (African Indigenous Churches).
In hierdie tydperk – ek dink dit was in 2003 – is die NG Kerk weer toegelaat tot die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en The Evangelical Alliance of South Africa (TEASA). Ons hele hertoetrede tot die ekumene was vir my besonders. Die vriendelikheid, hartlikheid en openheid waarmee ons ontvang is, was vir my wonderlik, amper beskamend. Ek is en was nog altyd iemand wat mense wil verstaan en probeer bymekaar bring. Mense binne die NG Kerk maar ook wyer as dit. Om alle soorte mense te ontmoet, na hulle te luister en met hulle oor die evangelie en oor ons roeping te praat was regtig vir my belangrik en ’n positiewe ervaring. Ek dink dit het my baie gehelp in die werk.
Prof Willie Jonker het destyds vir ons gesê dat ’n mens die Here liefhet oor wie Hy is, maar dat jy die kerk meestal lief het ten spyte van wat hy/sy is. Almal van ons het al ons teleurstellings met die kerk gehad. Tog is ek dankbaar dat ek deel kan wees van die kerk en vir wat die kerk my in my lewe geleer het. Die kerk was – en is steeds – vir my ’n leerskool en ’n Moeder, soos Calvyn gesê het.
Ons het baie foute gemaak en langs die pad mense seergemaak, maar daar was ook goeie dinge. En daar is baie goeie mense in die NG Kerk.
Ek glo steeds met my hele hart dat die NG Kerk en sy lidmate ’n wesenlike rol het om te speel ook in die breër opset van die land. Na binne moet ons ons lidmate help dat ons geloof in Christus en in sy evangelie verdiep. Ek vrees dat baie van ons die evangelie veel slegter verstaan as wat ons besef. Ons sal niks werd wees as ons nie regtig die evangelie verstaan en dit glo nie. Die kerk moet mense hoop gee – en ons hoop is op Christus.
Ek glo dat die swart kerke ’n sleutelrol het om te speel en van die beste bydraes wat ons kan lewer is om hulle by te staan en te ondersteun soveel as wat ons kan.
Laat ek byvoeg dat ek, anders as vele ander, dankbaar is vir hoe die kerk tot sover die gay-kwessie hanteer. Ons stry en baklei maar ons is darem nog tot ’n groot mate bymekaar! Dit is so goed as wat ons voor kon gehoop het met so ’n moeilike saak.
In die kerk is eenheid belangriker as rustigheid en die afwesigheid van konflik. Laat ons praat en redeneer – en selfs doleer! – maar laat ons dit doen in een kerk. Ek is doodseker dat die kerk werklik ’n ruim huis is waarin daar ook plek is vir gelowiges wat baie anders as ons dink oor sake.”