Kyk ook:
Die volgende brief is aan Rapport ingestuur na aanleiding daarvan dat die moderator, Nelis Janse van Rensburg, reeds drie keer hewig beswaar aangeteken het teen aantygings dat die NG Kerk van haar belydenis afwyk. Nie in enige van hierdie reaksies het hy erken dat daar enige bekommernis oor die NG Kerk is nie. Kyk:
- Moderatuur reik verklaring uit oor NGK Die Strand wat doleer (15 Julie 2021)
- Video: NG Kerk staan binne haar belydenis – Nelis Janse van Rensburg (28 Julie 2021)
- Dwaalleer? Dis onsin, sê NG Kerk (8 Augustus 2021)
Sy woorde was skaars koud, toe daar berig is dat meer as die helfte van die predikante in Namibië wil doleer (kyk Namibiese leraars verwerp NG kerk se ‘dwalinge’ oor gays (15 Aug 2021)).
Die brief is egter nie geplaas nie.
Kyk Gays ‘nog meer onveilig’ in kerk (22 Aug 2021).
**********
Reëls help niks as jy dit nie toepas
Deur Daniel Louw
22 Augustus 2021
Die moderator van die NG Kerk, ds Nelis Janse van Rensburg het alreeds drie keer in die openbaar (15.07, 28.07[Youtube] en 08.08) ontken dat daar enige waarheid steek in enige van die sewe punte wat die Strand NGK gelys het as dwaalleer en het dit afgemaak as “verdagmakery”. Hy beweer dat die NG Kerk steeds by haar belydenis, Die Drie Formuliere van Eenheid, staan. Daarom was dit baie ironies dat sy woorde skaars koud was toe daar berig is (15.08) dat meer as die helfte van die predikante in Namibië wil doleer oor die dwaalleer “wat oor jare die kerk binnegesypel het”.
Wanneer ’n werknemer by ’n vervaardigingsaanleg sonder sy veiligheidshoed loop en iets val op sy kop en hy is dood, kan die bestuurder van die aanleg gedeeltelik aanspreeklik gehou word vir die insident en selfs tronk toe gaan indien die Departement van Beroepsveiligheid vind dat dit algemeen is dat werknemers veiligheidsreëls oortree en daar nie teen hulle opgetree word nie.
Dit help veel die NG Kerk het ’n suiwer belydenis, maar daar word nie teen hulle opgetree nie. Daar is etlike voorbeelde van kerkleiers wat baie duidelik afwyk van die kerk se belydenis, maar niks word aan hulle gedoen nie. Om ’n klag van dwaalleer teen hierdie mense te lê het geblyk ’n futiele oefening te wees – kyk byvoorbeeld “Lys van leerdwaling aanklagtes” op www.glodiebybel.co.za.
Daarom is die NG Kerk skuldig en sal die leierskap verantwoording moet doen daarvoor.
***********
Die volgende artikel word hier gewys bloot omdat dit dieselfde argument voer vir die toepassing van padreëls
Padreëls sonder optrede help niks | Netwerk24
Brian Gouveia, Bloemfontein
27 Desember 2018
Daar moet dringend aandag gegee word aan padreëls en die oortreding daarvan. Die huidige gedrag van party motoriste is niks anders as skokkend nie.
Nuwe voorstelle is ter sprake om die veiligheid van ander motoriste te verseker. Dit is goed – as dit toegepas kan word! Geen melding is egter gemaak van die grootste probleem rondom die moontlike sukses van die nuwe reëls nie. Dit is die algehele gebrek aan verkeersamptenare op ons paaie. Veral in strate in ons dorpe en in ons stede is hulle nooit te sien nie. Dít is hoekom motoriste ons strate gebruik as renbane, geen ag slaan op korrekte optrede by verkeersligte nie en rybane verwissel soos dit hulle pas. Hulle het gewoond geraak aan die lamsakkige stand van ons verkeersbeheer.
Dit is goed dat darem gekyk word na optrede, maar woorde is maklik. Daaraan het ons al gewoond geraak in ons land met sy hulpelose regering, maar tog is positiewe aksie al wat tel.
As die sogenaamde verkeersbeamptes nie uit hul skilpaddoppe ontwaak en hul werk doen nie, is hierdie maatreëls nóg een van ons doodgebore drome.