Kyk ook:
- Johan Janse van Rensburg
- Anton van Niekerk: ’n Klip in die bos oor wát ons glo (7 Nov 2023)
- Van Niekerk moet sy legitimering opsê (1 Des 2023, Bernhard Ficker)
Kyk Die waarheid het ’n manier om seer te maak (23 Nov 2023) waarin Anton van Niekerk op hierdie skrywe reageer.
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Repliek: Eina, ’n klip het my getref! | Netwerk24
Johan Janse van Rensburg
14 November 2023
Johan Janse van Rensburg reageer op ’n onlangse rubriek van Anton van Niekerk waarin hy gevra het of ons te veel aandag gee aan wat mense glo, pleks van hoe hulle leef.
Onder die opskrif “ ’n Klip in die bos oor wat ons glo” skryf prof. Anton van Niekerk dat ons dit gerus kan oorweeg om ’n stryery oor die inhoud van ons geloof by te lê, aangesien elkeen sélf die Skrif moet interpreteer. Wél. Die klip het my (wat in die bos lewe omdat ek ’n behoudende teoloog is) al weer getref en dit maak seer.
Weliswaar is die populistiese gedagte van ’n middelgrond-kerk en -teologie besig om veld te wen. Kyk byvoorbeeld na die onlangse onderhoud met ds. Jan Lubbe, die pas verkose moderator van die NG Kerk se algemene sinode. Die pyn word egter veroorsaak omdat dié wat só dink, hoegenaamd nie die konsekwensies daarvan deurdink het nie.
Ek kry seer om die volgende redes:
• Die gedagte dat elkeen sélf die Skrif moet interpreteer, val presies binne die kader van die postmoderne filosofie. Uitdrukkings soos “Die dood van die outeur” en “Daar is niks buite die teks nie” lei tot die beginsels van dekonstruksie en ’n veelheid van narratiewe. Só disintegreer die beginsel van waarhede wat vir almal geld (“The collapse of unity”). Die onafwendbare konsekwensie van so ’n postmoderne benadering tot die geloof is dat die Skrif niks anders word as die stimulering van elkeen se eie verstaan van wat hy of sy lees nie. Die leser is die enigste interpreteerder. Is dit die soort geloof wat ons nodig het in ’n tyd waarin alles relatief word? Inderdaad, dan het ons nie meer religie en godsdiens nodig nie.
• Ek verstaan nie hoe ’n kerk kan bestaan as elkeen die inhoud van ortodoksie en ortopraksie na willekeur kan bepaal nie. Hoe op aarde moet daar dan gepreek, gesing en gebid word? Gesamentlike aanbidding sal tot nog meer stry en baklei lei as wat tans oor selfdegeslagverhoudings aan die orde is. Juis daarom het die opstellers van die Nederlandse Geloofsbelydenis reeds in artikel 1 geskryf: “Ons glo almal . . .” Almal wat ’n bepaalde (gereformeerde) verstaan van die Skrif aanvaar, glo gesamentlik op dieselfde wyse. Wie aan hierdie kerk wil behoort, moet aanvaar wat hier geleer word. Weliswaar is nie almal gereformeerd in belydenis nie. Tóg geld dieselfde beginsel vir Baptiste, Rooms-Katolieke en Moslems. Sal enige van hierdie geloofsgroepe ooit aanvaar dat daar van die gesamentlike ooreengekome geloofsoortuigings deur individue of drukgroepe afgewyk word? Waarom word dit dan van beswaardes verwag om die geloofsoortuigings af te lê wat in die grondwet van daardie kerk (NG Kerk, Kerkorde artikel 1) uitgestippel word?
• Vir persone wat hul eie oortuigings daarop wil nahou en nie die vasgestelde beginsels van geloof in ’n bepaalde kerk wil aanvaar nie, is die logiese weg om uit daardie kerkverband te tree en by ’n geloofsgroep aan te sluit wat die waardes van die betrokke individu deel. Wat egter tans gebeur, is dat vrysinnige kerkleiers stelselmatig die kerk transformeer om dit te laat wees wat dit nie is nie. Hoe kan ’n kerk as ’n gereformeerde kerk (NG Kerk) bekendstaan terwyl elke beginsel wat aan daardie kerk gereformeerde identiteit moet gee, verander word? In die diskoerse wat vandag wêreldwyd in die meeste Christelike kerke heers, word dit van behoudendes verwag om die strydbyl neer te lê en verandering te aanvaar, terwyl die vrysinnige kerkleiers rustig voortgaan om die identiteit en karakter van die Kerk te verander. Het ’n eenvoudige gelowige dan nie ook die reg om seer te kry nie?
• Janse van Rensburg is ’n emeritus professor wat spesialiseer in sistematiese teologie en praktiese teologie en is steeds as navorser betrokke by die Universiteit van die Vrystaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.