Kyk ook: |
Die volgende artikel het oorspronklik in Rapport verskyn en is deel van ’n debat tussen Johan Janse van Rensburg en Frits Gaum. Hierdie artikel vervolg vanaf Repliek: Let asseblief op daai kleinletter ‘k’ in titel.
*******************
Repliek: Gaum ‘kwetsend en ontduik argumente’
2011-04-02 20:06
Johan Janse van Rensburg
Ek was nie verras dat Frits Gaum op my repliek in verlede week se uitgawe van Rapport Weekliks gereageer het nie. Wat my wel verbaas het, was die styl en toon van sy reaksie.
Op ’n subtiele manier wil hy voorgee dat my artikel ultra vires is omdat ek nog nie sy boek gelees het nie. Hy verwys na my boek wat ook binnekort verskyn en sê dan dat hy (anders as ek) sal wag om die boek te lees voor hy hom oor die inhoud van my boek uitlaat.
Natuurlik het hy reg dat dit die verantwoordelike manier is, maar daar is twee probleme hiermee. My artikel was nie ’n reaksie op sy ongepubliseerde boek nie, maar op die Rapport-berig oor wat hy by die Woordfees gesê het. Die insinuasie dat ek my uitlaat oor iets wat ek nog nie gelees het nie, is dus onbillik.
Tweedens verwys hy na my manuskrip wat by die pers is en sê dat my boek waarskynlik “’n aanval is op die standpunte van bepaalde mense”. Hy doen dus juis waarvan hy my beskuldig – om hom oor my boek uit te laat terwyl hy dit nog nie gelees het nie. Of het hy die manuskrip onder oë gehad?
Hoe kon hy weet dat ek met teoloë wêreldwyd in gesprek tree (nie aanval, soos hy dit stel nie) soos teoloë gewoond is om te doen?
Of het hy inderdaad as keurder die manuskrip onder oë gehad en gee hy net voor dat hy nog nie die boek gelees het nie?
Gaum probeer uit die dilemma kom deur voor te gee dat hy nie na die NG Kerk verwys het nie, maar na alle kerke. Die opskrif van die Rapport-berig lees egter: “Fluit-fluit, is die NG Kerk dalk uit?” Die eerste sin van die artikel lui: “As die NG Kerk nie radikaal verander nie, gaan hy nie die wederkoms beleef nie.”
Om nou voor te gee dat dit nie oor die NG Kerk gegaan het nie, maar oor alle kerke, is moeilik om te glo.
Met ongeloof en verbasing het ek egter die begin van sy artikel gelees. Die Nederlandse kerkraad wat nie wou help om die dyke toe te stop nie omdat dit Sondag is, lei Gaum tot hierdie verstommende toepassing: “Aan dié, waarskynlik apokriewe, storie het ek gedink toe ek prof. Johan Janse van Rensburg se repliek ‘Fundamentalisme? Nee, vrysinnigheid!’ verlede week in Rapport Weekliks gelees het.
Soms is ons so oortuig van ons eie sienings dat niemand, maar dan Niemand, ons van iets anders moet probeer oortuig nie.” Hiermee beskuldig hy my van ’n soort fundamentalisme wat bereid sou wees om selfs van Jesus te verskil! Dit is onbegryplik dat Gaum so iets aan my kan toedig terwyl dit juis ek is wat Jesus se woorde ernstig opneem as Hy sê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Is dit dan nie eerder Gaum wat onwillig is om deur Jesus se woorde oortuig te word nie? Dit is hierdie strategie van Gaum wat illustreer waartoe beskuldigings van fundamentalisme ons lei.
Maar die kern van die gesprek is fundamentalisme.
Gaum meen dat hy met sy definisie fundamentalisme duidelik omskryf het. Hy definieer dit as “’n onverdraagsame, letterlike verstaan van die Bybel”. Hiermee word die dilemma met die fundamentalisme-kaart juis blootgelê. Eers sê hy dit is ’n letterlike verstaan van die Bybel. Dan kwalifiseer hy dit deur te sê dat “waar Bybelskrywers iets ‘letterlik’ bedoel, ons dit ernstig moet opneem…”
Maar dit is juis die probleem dat Gaum gedeeltes van die Skrif wat met wetenskaplike eksegese duidelik ’n letterlike bedoeling het figuurlik wil interpreteer. Ons het hier dus ’n Skrifgebruik wat op willekeurige wyse sommige gedeeltes letterlik en ander figuurlik interpreteer.
Volgens watter norm?
As die betrokke Skrifgedeelte kwetsend is, moet dit nie letterlik verstaan word nie, aldus Gaum. Só ’n norm is uiters subjektief. Dan is dit nie die bedoeling van die outeur wat die betekenis bepaal nie, maar die vraag of dit vir iemand kwetsend is. Wat bly met só ’n Skrifgebruik van die gesag van die Skrif oor?
As Gaum by sy gunsteling-temas (homoseksualiteit, apartheid) kom, vra hy: “Wat was Van Rensburg se siening oor dié dinge destyds?”
Ek verstaan nie wat die verband van sy vraag met my artikel is nie, maar ek antwoord graag. In 1979 (let op die datum!) het ek in my proefskrif die noodsaaklikheid van ’n handves van menseregte bepleit en gemotiveer. Ek is op grond hiervan deur sommige as ’n kommunis uitgekryt.
Twee jaar voor Nelson Mandela se vrylating het ek ’n afspraak met die destydse LP vir Sasolburg, dr. Willem Odendaal, gemaak en by hom gepleit dat die regering Mandela moet vrylaat. Ek is nie so arrogant om te insinueer dat Mandela op my aandrang vrygelaat is nie, maar dit antwoord Gaum se vraag waar ek destyds gestaan het.
Gaum het in sy antwoord ’n kwetsende styl gekies en soveel van my argumente ontduik. Hy skryf met vaste oortuiging, maar verkwalik my dat ek vaste oortuigings het. Só kom ons nie verder nie.
Prof. Johan Janse van Rensburg is ’n buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit.
************
Vervolg by Ander repliek op Gaum.