Kyk ook: |
Repliek: God is nie ’n wese soos koning wat op troon sit | Rapport
2010-08-28 14:13
Abel Pienaar
Ná twee artikels van prof. Adrio König [1 en 2] waarin hy my krities aanvat oor my “groot soektog na God” voel ek dat ek moet reageer. König skrywe in die laaste artikel dat hy nie kan verstaan dat ek en ander soos ek nodig het om na God te soek nie. Dit is vir hom heel eenvoudig wanneer hy skrywe: “…waar gaan soek ek? In die Bybel.”
Wel, dit is presies die probleem wat ek met hom het, want in hierdie uitsprake van König kan ons sy teïstiese godsverstaan duidelik hoor. Dit laat hom aannames maak dat God ’n persoonlike wese is wat iewers buite ons werklikheid bestaan en wat soos ’n koning op ’n troon sit en alles beheer soos ’n groot puppet master.
Volgens König kan hierdie God gevind word. Hy gaan selfs so ver om te sê dat die “Godsoekers” dalk maar net ontevrede is met die prentjie van God soos gewys deur die kerk en dat dit eenvoudig is om die ware God te vind, lees net jou Bybel.
Dan sê hy dat hy presies weet hoe hierdie God lyk en dat mense nie moet vergeet dat hierdie God oor hulle sal oordeel en straf en ’n verterende vuur is nie.
So ’n verstaan van God is tog die geloofstaal wat mense in ’n voorwetenskaplike wêreld gebruik het. Ons interpreteer tog vandag die lewe en die goddelike anders as in Bybelse tye. Met die gebruik van mikroskope, teleskope, rekenaars, kameras en die ewigdurende groeiende netwerk van kennis word ons al hoe meer bewus van die grootsheid van die goddelike.
Ek en vele soos ek (die Nuwe Hervormingsnetwerk, Renais-sance-gemeentes en die Sentrum vir eietydse spiritualiteit as voorbeelde) verstaan egter die goddelike nie meer as ’n teïstiese vaderfiguur nie, ons wil eerlik en nuut dink en praat rondom God. En hoe dit ons help om vandag anders, maar geloofwaardig, oor God en veral onsself na te dink.
Dit is vir my baie duidelik die oorsteek van ’n grens beteken nie die vernietiging nie, maar die verskuiwing daarvan. Ek is nie besig om die goddelike weg te verklaar nie, ek is eerder besig om my denke rondom die goddelike te verskuiwe.
Anders gestel, word die goddelike vir my groter, nie kleiner nie. En in hierdie verskuiwing word dit duideliker dat die goddelike ’n dinamiese krag is in die groot netwerk van lewe. Maar om een of ander rede kan die meeste mense nie die denkskuif maak nie. Hierdie denkskuif maak hulle en König nie opgewonde nie, maar bang. En in die proses maak hulle God kleiner, nie groter nie. Hulle reduseer God tot “hulle” verstaan. ’n Verstaan wat weer gebou is op eeue terug se interpretasie van die werklikheid.
Die post-moderne mens soek al hoe meer na ’n eietydse taal om oor hierdie “groter” God te dink en te praat; ’n taal wat pas in die moderne idioom. Ons kan eenvoudig nie anders as om nuut oor God te begin dink nie. Die antieke metafore van konings en koninkryke is eenvoudig te klein vir die nuwe wêreld wat die tegnologie moontlik maak. Bio-tegnologie, bio-ingenieurswese, bio-chemiese navorsing, nano-tegnologie, stamsel-navorsing, neurologie, argeologiese ontdekkings en vele ander wetenskaplike prestasies verander nie net ons uitkyk op die werklikheid nie, dit plaas ons in ’n nuwe era waar ons nuwe moontlikhede het om ons toekoms te skep en te bepaal. Dit is tog duidelik sigbaar? Of nie?
Elke vooruitgang op wetenskaplike en tegnologiese terrein brei ons verstaan van ons wêreld en onsself meer en meer uit. So moet ons verstaan van God tog ook aanpas en uitbrei. Die eenvoudige waarheid is dat ons meer weet en daarom mag ons anders dink en praat oor God.
Dit is hartseer dat ons in ons tyd sien dat die kerk begin agterbly in sy denke en verstaan van die werklikheid waarin ons lewe.
Dit is ook hartseer om te sien hoe König vashou aan ’n voorwetenskaplike wêreldbeeld en dit krampagtig probeer verdedig.
Hoewel ek hierdie krampagtigheid oral bespeur, is daar ook ’n ander momentum wat besig is om te groei – mense wat al hoe meer nuwe vrae begin vra. Voorbeelde hiervan is die pas afgelope NHN-naweekseminaar waar ’n klomp mense saam gesels het oor hoe die tradisionele verstaan van God ons nie meer hoop gee in die nuwe Suid-Afrika nie.
Nog ’n voorbeeld is 23 Oktober wanneer ’n dagkonferensie met die tema “Soeke na ’n eietydse verstaan van God” in Pretoria aangebied word. En anders as wat die Christelike kerke dink, is daar baie van hul lidmate wat dit bywoon.
Die groot metafisiese sisteme wat die kerk in die leer oor God uitgewerk het, het vandag vir baie mense ongeloofwaardig geword. Hierdie tendens is wêreldwyd reeds geruime tyd aan die gang. Lees ’n mens vandag in die media kom jy vinnig agter dat daar nou ook hier in Suid-Afrika ’n nuwe era aangebreek het. Ons leef vir seker in ’n tyd waar mense nie meer tevrede is met die ou antwoorde nie.
* Dr. Pienaar is die direkteur van die Sentrum vir eietydse spiritualiteit en die skrywer van die boek Saam op soek na God.
– Rapport