Kyk ook: |
Die volgende is oorspronklik in Rapport gepubliseer. Dit is deel van ’n debat tussen Johan Janse van Rensburg en Frits Gaum.
Hierdie artikel vervolg vanaf Gaum soek blykbaar skoor met NG Kerk, deur dr Henrietta Klaasing.
***************
Repliek: Let asseblief op daai kleinletter ‘k’ in titel
2011-03-26 15:10
Frits Gaum
Dit was in die 1950’s en van die dyke wat die laagliggende Nederland teen die yslike branders van die Noordsee moes beskerm, was aan die meegee.
In ’n klein kusdorpie het die swaar Gereformeerde kerkraad die Sondagmiddag dringend byeengekom. Daar moes besluit word of die gemeentelede kon gaan help om gate in die dyke te stop. Die kerkraad was onverbiddelik: Nee. Op die Sabbat kan so iets nie gedoog word nie. Kom ons om, dan kom ons om, gehoorsaam aan die God van ons vadere: Op die sewende dag moet jy rus en mag jy géén werk doen nie.
Die moedelose dominee het die kerkraad met mooipraat tot ander insigte probeer bring.
“Het ons Here Jesus dan nie sélf op die Sabbat gewerk en mense gesond gemaak nie?” wou hy weet. “Dit is so, Dominee,” antwoord een van die ouderlinge toe waardig, “maar ek hét al gewonder of ons Here Jesus nie alte liberaal was nie.”
Aan dié, waarskynlik apokriewe, storie het ek gedink toe ek prof. Johan Janse van Rensburg se repliek “Fundamentalisme? Nee, vrysinnigheid!” verlede week in Rapport Weekliks gelees het. Soms is ons so oortuig van ons eie sienings dat niemand, maar dan Niemand, ons van iets anders moet probeer oortuig nie.
Van Rensburg reageer op ’n korterige en daarom onvolledige koerantberig oor ’n boek van my wat later vanjaar verskyn, Fluit-fluit, die kerk is uit? Let op die kleinletter “k” én die vraagteken in die boektitel. Dis nie net die NG Kerk wat ter sprake is nie, maar ander kerke ook, en die fluitjie word nie met fundamentalistiese sekerheid geblaas nie (dan sou ’n mens ’n uitroepteken gebruik het). Die titel sluit aan by ’n aangrypende gedig uit die 1970’s van MM Walters, “Die Kerkbode berig Die Burger”, waarin hy wél van ’n spesifieke kerk, “die Boerekerk”, praat en afsluit met: “Die kerk is uit, daar is ’n koeël deur / die sandkasteel wat deur die tydgolf / weggespoel word.”
In die boek word nagedink oor die vraag of Walters toe reg was en of die koeël deur die kerk is. En dit word, anders as wat die koerantberig dalk laat vermoed, genuanseerd gedoen.
Van Rensburg kla dat ek nie sê na watter soort fundamentalisme ek as ’n probleem verwys nie. Maar daar staan dit dan lewensgroot in die koerantberig: Dis ’n “onverdraagsame, letterlike verstaan van die Bybel”.
In die boek word hierop uitgebrei en aangetoon dat daar dele in die Bybel is wat klaarblyklik nie letterlik verstaan kan word nie – soos die skeppingsverhale wat immers wil sê dát God geskep het; nie noodwendig hóé dit gebeur het nie – maar dat daar ook dele is wat klaarblyklik letterlik bedoel word, soos dat Jesus uit die dood opgestaan het.
En waar die Bybelskrywers iets “letterlik” bedoel, moet ons dit ernstig opneem, sê die boek, terwyl ons wel ook altyd moet onthou dat die Bybelskrywers nie met moderne geskiedskrywing besig was nie.
’n Belangrike woord in die koerantberig se ”definisie” van fundamentalisme is die woordjie “onverdraagsaam”. En ongelukkig is daar tekens van hierdie onverdraagsaamheid in Van Rensburg se stuk te bespeur.
Ek dink as lidmate van ’n kerk wat die afgelope twee dekades drie keer amptelik oor vroeëre sienings verskoning moes vra – oor apartheid, oor vroue en oor gays – pas ’n groot mate van beskeidenheid ons en die gewilligheid om te erken dat ons soms verkeerd kan wees. (En, tot troos, teologiese liberalisme kom in die boek ook onder die loep.)
Van Rensburg maak ’n paar windmeulens staan en bestorm hulle dan geesdriftig. Soos dat ek bepaalde tekste “fundamentalisties” sou hanteer en dat my “persoonlike worsteling met die kerk se veroordeling van homoseksualiteit” die leitmotief vir my “aanval” op die kerk sou wees. Hy kan egter nie weet hoe ek die Bybel in die boek hanteer nie, want hy het die boek nog nie gelees nie. En as hy dink die NG Kerk “veroordeel” homoseksualiteit nog soos in die ou dae, dink hy verkeerd.
Soos ook as hy reken die boek is ’n “aanval” op die NG Kerk. Ek vermoed dat Van Rensburg se boek wat ook eersdaags verskyn, ’n Ander Jesus; ’n ander evangelie, wel ’n aanval is op die standpunte van bepaalde mense (dalk is van hulle lidmate van die NG Kerk). Maar ek sal eers die boek moet lees, soos ek dink ’n mens maar altyd moet doen, voordat ek my daaroor kan uitlaat.
Ek was altyd en is steeds krities-lojaal jeens die NG Kerk, die kerk waarin ek my lewe lank gewerk het. Soos toe ek (in opdrag) die NG Kerk se belydenis oor apartheid, Reis met apartheid, geskryf het. Of die stuk van die Wes-Kaapse sinode opgestel het wat voor die Waarheids-en-versoeningskommissie gedien het. Of, te midde van baie kritiek, Willie Jonker se belydenis op die Rustenburgse kerkberaad in Kerkbode onderskryf het. Wat was Van Rensburg se siening oor dié dinge destyds? Dalk het hy ook mettertyd van standpunt oor sommige sake verander. Soos ons almal, ook vanweë goed wat met ons en om ons gebeur.
Om te lewe is om te verander.
Anders is jy dood. En vir ’n kerk om te lewe is ook om te verander, te “reformeer”, in goeie gereformeerde taal. ’n Kerk wat nie verander, vernuwe, reformeer nie, is dood. En selfvoldaanheid is ’n doodsonde.
Oor één saak, die belangrikste een, stem ek en Van Rensburg gelukkig saam: Jesus Christus is die Here. Waaroor ons dalk nié saamstem nie, is dat mense wat nie presies soos ons glo nie op pad is hel toe.
*Dr. Frits Gaum se boek Fluit-fluit, die kerk is uit? verskyn in Mei by Bybel-Media
*******************
Vervolg by Repliek: Gaum ‘kwetsend en ontduik argumente’.
Kommentaar
daniellouw1 – 2011-03-27
Dr Frits, hoekom antwoord jy nie bloot net prof Johan se hoof vraag nie: Wie bepaal watter Skrifgedeeltes letterlik en watter metafories verklaar word en volgens watter maatstawwe? In die verlede het die onderskeie genres van die Bybel hierdie onderskeid help tref. Psalms is digterlik; apokaliptiese geskrifte verwys na die werklikheid op ’n metaforiese wyse; ensovoorts. Maar deesdae bepaal elke individu sélf wat metafories is. (Fundamentalisme? Nee, vrysinnigheid!)
Ek sal ook bitter graag wil weet hoe jy kies wat ’n mens letterlik moet glo en wat nie.