Kyk ook:
|
Repliek: Na watter God word daar dan so hard gesoek? | Rapport
2010-07-31 14:05
’n Ruk gelede is berig dat dr. Abel Pienaar van die Renaissance-kerk in die ooste van Pretoria ’n Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit op die been gaan bring waar mense nuwe maniere gaan soek om oor geestelikheid te praat.
Pienaar plaas groot klem op “soek” en het sowel ’n boek as DVD uitgebring met die titel Saam op soek na God. Daarin word die stemme opgeteken van mense wat vertel hulle glo nie meer “op die ou manier” nie.
En net verlede Sondag het ds. Izak du Plessis en ’n klomp ander mense in ’n kroeg in Pretoria vergader om ’n nuwe kerk te stig. Heelwat van dié mense noem hulself “soekers” of “reisigers”.
Van waar dié skielike klem op ’n soektog na God?
Dié soektog is nie die eerste een nie. Mense soek waarskynlik reeds van die begin af na God. Maar die meeste van hierdie soektogte het nie blywende resultate gehad nie. Willie Esterhuyse het sy spyt uitgespreek dat die Egiptiese gode eenvoudig voor die aanslag van die Griekse gode verdwyn het.
Dié gode was in ’n groot mate die antwoorde op mense se basiese behoeftes.
Filosowe soos Feuerbach het daarop gewys dat ons weerlose wesens is. Dit is dus natuurlik dat mense ’n vaderfiguur soek om hulle te beskerm. En daar is heelwat ander basiese behoeftes wat mense van nature laat vra na ’n opperwese.
Maar ons leef in ’n nuwe tyd.
Ons het baie meer kennis van die heelal, hoe dit ontwikkel het, hoe dit werk en hoe ingewikkeld dit saamgestel is.
En daar is geleerdes wat oortuig is dat hierdie ontploffing in ons kennis eenvoudig ons tradisionele voorstellings van God verouderd maak.
Ons moet dus opnuut na God begin soek, maar op ’n nuwe manier. Die uitgangspunt is dat daar net een groot werklikheid bestaan en nie ’n tweede, “bo-aardse” werklikheid waarvan God deel is nie. God is nie ’n wese iewers bo en buite ons werklikheid nie (sê Julian Muller). As ons Hom iewers wil kry, moet dit hier onder ons, deel van ons werklikheid wees.
Die implikasie is duidelik: Daar bestaan nie ’n God met wie ons kan praat nie; op wie ons ons kan verlaat nie; aan wie ons ons lewe kan wy nie.
Ons is alleen.
Die beste sou dan wees om dit moedig te erken en te leer om daarmee saam te leef.
Maar kan dit ’n mens se mees basiese lewensbehoeftes bevredig?
’n Ander, meer gesofistikeerde voorstel is dat ’n mens juis moet aanhou soek; sonder om te vind.
Die onsekerheid het juis sy eie waarde. Dit stimuleer ons om ons sekerhede al hoe meer prys te gee en totaal oop na die toekoms te leef.
Die eerste probleem hiermee is natuurlik dat mense juis rus soek; dat mense wil “tuiskom”.
Trouens, is dit regtig waar dat volgehoue onsekerheid inspirerend is? Is die teenoorgestelde nie dalk waar nie: Dat ’n mens belangstelling verloor as ’n soektog te lank onsuksesvol is?
En dit is tog die vraag: Kan dié soektog van die geleerdes na God enige resultate oplewer wat gewone mense kan bevredig? Gewone mense wil nie te ingewikkeld raak nie Hulle soek rus en beskerming. Hulle wil tuiskom.
Daarom loop hulle ’n ander pad, die pad van eenvoudige geloofsvertroue. Die eenvoudige boodskap van die evangelie is inspirerend: God gee om; Jesus verlos; die Heilige Gees maak ons lewe nuut. Hier beleef mense meer as wat hulle dink. Die diep redenasies vervaag dan voor lewenservaring. Totaal sonder verband met die groot soektog stroom duisende mense deesdae na die plekke waar die evangelie in sy eenvoud verkondig word.
Dis lekker om net so na die Bybel se kant toe te loer. Daar is geen groot soektog na God in die Bybel nie.
Die eerste sin in die Bybel aanvaar sonder meer dat Hy bestaan en werk: In die begin het Hy alles geskep. In die Bybel is een ding vanselfsprekend: Dat die God van Israel die ware God is en betrokke is in die lewe van mense. Hy werk in mense se lewe, in die geskiedenis, maar Hy is ook meer. Daarom kan ’n mens jou lewe in sy hande gee.
Dit is presies hierdie soort God wat die soektog nie kan oplewer nie.
Die groot soektog na God sal dus ’n elite-onderneming bly wat geleerdes baie vreugde sal verskaf, veral mense wat in gun-stige omstandighede leef. Maar ’n mens in nood troos jy nie met ’n binnewêreldse God nie.
Jy kan nie tot Hom bid nie.
Wie deur die God van die Bybel nadergetrek word, vra nie verder nie. Jy het tuisgekom.
*Adrio König is ’n afgetrede teoloog en skrywer van Die Evangelie is op die spel.
– Rapport