Repliek op brief van Laurie Gaum

Inleidend

Die volgende is die afgelope tyd in Rapport/Rapport Weekliks gepubliseer:

Repliek op brief van Laurie Gaum

1. In sy eerste paragraaf maak hy ’n regstelling (?) omdat ek in my artikel (05/09/2021) na hulle boek verwys het as #liefdeisliefde en gee dan die boek se volle titel. In Rapport, 22/08/2021, het Johan Eybers egter soos volg geskryf: “……het pas die boek #liefdeisliefde uitgegee”. Interessant dat Gaum nie beswaar maak wanneer Eybers so na die boek verwys nie, maar wel wanneer ek, juis na aanleiding van Eybers se artikel, so daarna verwys. Ek kan nie anders nie as om af te lei dat hy daarmee sommer uit die staanspoor twyfel wil saai oor die integriteit van my artikel en dus daarmee alles waarna ek verwys het, onder verdenking wil plaas.

2. In sy tweede paragraaf maak Gaum ’n eie afleiding naamlik dat die Kerkorde my “eintlike dryfveer is”. Dit terwyl die groep van 12 juis die hof genader het op grond van die prosedurele (= kerkordelike!) foute wat die Algemene Sinode (AS) gemaak het. Die tragiese is dat die AS self daarna net nog meer kerkordelike foute gemaak het (soos wat ek baie kortliks in my artikel aangetoon het).

Ek wil dit onomwonde bevestig dat my liefde vir die Here en sý waarhede soos geopenbaar in die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God, vir my bo álles staan. Die leer wat ek in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid. Ek sien dit egter ook as deel van my roeping om mee te help daartoe dat die NGK getrou aan die Woord en die Belydenisskrifte, sy sake hanteer op ’n (kerk-)ordelike wyse tot eer van God en tot heil van die kerk (1 Kor 14:40, Kerkorde Artikels 1 tot 3).

3. In sy derde paragraaf skryf Gaum dat ek sal “ook moet erken dat daar ander interpretasies van bogenoemde bestaan”. Ek vermoed hy verwys na ander interpretasies van die Woord en die Belydenisskrifte.

Dit is korrek, daar is ander interpretasies. Juis dit bring ons by een van die kernsake waarna ek in my artikel verwys het, naamlik dat AS2007 sy besluite geneem het ná deeglike eksegetiese en teologiese studie. AS2013 het dit inderdaad opnuut bevestig. Daarna was daar GÉÉN nuwe eksegetiese en teologiese studie deur die AS gedoen wat kon dien as regverdiging vir die nuwe besluite wat in 2015 en 2019 geneem is nie. Die “ander interpretasies” is nie op ’n behoorlike wyse onder die loep (vergrootglas) geneem en punt vir punt getoets aan die Bybel as Woord van God, die Formuliere van Eenheid en die gereformeerde tradisie nie. Dit is immers wat Sola Scriptura van ons vra.

4. In sy vierde paragraaf verwys hy na my kommentaar oor die ATR (Algemene Taakspan Regte) se rol en die kerklike middele wat eers uitgeput moes word alvorens hulle (die groep van 12) die hof kon nader.

Die tragiese is dat

  • die ATR se optrede en adviese sedert AS2015,
  • die NGK se reg om “haar eie interne orde (te reël) op grond van haar onvervreembare roeping en interne bevoegdheid as kerk van Jesus Christus en ook op grond van haar reg tot vryheid van godsdiens” (KO Art 3.3),
  • die kerk se eie appèlprosedures (Art 23.1 saam met die Reglement vir Appèl en Beswaar),
  • dit in die kerk nie gaan om ’n appèl na ’n hoër vergadering (soos in die sekulêre wêreld) nie, maar om ’n appèl na ’n meerdere vergadering (dws waar meer kerke oor die saak besin en beslis), en
  • die kerkordelike reëling dat “lidmate, ampsdraers en predikante …. mag hulle nie tot die burgerlike hof wend in hulle beswaar teen ’n kerkvergadering se besluit(e) nie, voordat hulle nie eers die kerklike middele tot hulle beskikking aangewend en uitgeput het nie” (KO Art 23.3)

nie deur die Algemene Sinode moderamen (ASM) of Algemene Sinode (AS) op behoorlike wyse in die hofsaak verdedig is nie.

Is dit omdat die AS (en die ander respondente) dit, soos Gaum, as “kerkordelike rompslomp” beskou het?

My eerlike opinie is dat die beslissing van die hof in die guns van die 12 is bykans op ’n skinkbord aan hulle gegee. ’n Mens sou met reg kon vra waarom?

Kerkvergaderings behandel sake vanuit ’n kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse (KO Art 21). Dit beteken dat kerkvergaderings moet altyd begin met die Woord – by alle kerkvergaderings moet die lede in afhanklikheid van en onder leiding van die HG mekaar vanuit die Skrif en die Belydenisskrifte oortuig. ’n Gekonkel, manipulasie (deur bv strategies geplaasde media berigte, plakkate, T-hemde, slagspreuke, verdagmakery, emosionele tirades, skilderye, ens), minagting van die Skrif en kerkordelike reëlings kan nooit deel uitmaak van die “kerklike wyse” waarop sake hanteer word nie. Daarteenoor wou diegene wat appèlle, beswaarskrifte, gravamina en beskrywingspunte ingedien het, aan die AS die geleentheid gee om die saak in hersiening te neem en dit op ’n “kerklike wyse” te behandel. Op bedenklike wyses is die behoorlike hantering daarvan verhinder en is die kosbare bydraes effektief geïgnoreer. Dink maar net aan watter verskil dit kon maak as dr Chris van Wyk, dr Johann Ernst, prof Johan Janse van Rensburg en andere se puik voorleggings op die korrekte wyse en deeglik hanteer was! Die AS en sy strukture hou hulle dus nie by KO Art 21 nie. (Vir meer besonderhede vergelyk die sowat 600 bladsye beswaarskrifte, gravamina en beskrywingspunte wat ingedien is).

Net so het die groep van 12 nie die kerklike middele (bv die Reglement vir Appèl en Beswaar) tot hulle beskikking aangewend en uitgeput nie. Indien hulle wel oortuig is dat hulle dit wel gedoen het, sal dit in hulle eie belang wees om bekend te maak watter middele en wat die kerkvergaderings se reaksie(s) daarop was.

Ten slotte, na my mening hou die pro-sgv aktivisme direk verband daarmee dat ’n klimaat ontwikkel het waarin gay persone tans onveiliger as ooit in die NGK voel. Jy kan nie iemand met ’n hofbeslissing dwing om anders oor enige mens te voel nie. Nee, dit is eers wanneer ons erken dat ons almal in sonde ontvang en gebore is en daarom van nature geneig is tot sonde (NGB Art 14 en 15; HK vr 2, 7, 8, ens), dat ons almal alleen deur Jesus Christus van sonde verlos kan word (HK Son 5 – 31), en dat ons dan geroep is tot ’n nuwe lewe van gehoorsaamheid en heiligmaking(HK Son 20 – 24), dat ons mekaar werklik kan omarm en saam hande van liefde uitsteek na stukkende mense in ’n stukkende wêreld.

(Helgard M Janse van Rensburg)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui