Repliek op Mike Smuts se resensie op “Die Trojaanse Perd” – Gideon Aggenbag

Kyk ook:

Hier volg repliek op Mike Smuts se resensie op die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk deur ds Gideon Aggenbag. Die hele resensie word hier geplaas met ds Aggenbag se kommentaar in [vierkantige hakies].

*******

Resensie: Die Trojaanse Perd in die NG Kerk

Mike Smuts

http://ngkok.co.za/vbo/2010-Verslae/trojaanse_perd_mike_smuts.pdf

Besonderhede van die boek:
Skrywers: Besorgde lidmate en leraars
Titel en subtitel: “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk. – Die kanker van evolusionisme en liberalisme.”
Uitgewers: Privaat uitgegee?
Publikasiedatum: 2010

Inleiding

Die titel en inhoud van die boek behoort enigeen wat die NG Kerk lief het tot kommer te strek. Daarom moet dit nie ligtelik geïgnoreer word nie. Ek het die boek noukeurig nagegaan en lewer graag my kommentaar en bevindinge daaroor.

Eers gee ek ’n kort oorsig oor die doel en bevindinge van die boek, en daarna behandel ek ’n paar van die belangrikste sake wat in boek aangesny word.

Ek het aanvanklik ook ’n aantal algemene opmerkings gemaak oor die werkwyse en styl van die boek, maar die dokument het te lank geword. Dit verskyn nou aan die einde van die dokument vir diegene wat daarin belang stel.

Doel en oorsig

Volgens die voorwoord “is daar groeiende kommer by baie NG-predikante en lidmate oor ’n devaluering van die Bybel en afwykende leerstellige tendense in die Kerk.” Die skrywers beweer dat die saak “krisisafmetings” aangeneem het en hulle is oortuig dat dit onder aandag van medegelowiges gebring moet word.

Oorsig van die inhoud: Volgens die opstellers is die “wortel van die probleem” die aftakeling van die gesag van die Skrif. Dit word in hoofstukke 1 en 2 aan die orde gestel. Hoofstukke 3 tot 8 word gewy aan die “belangrikste gevolge” hiervan en sluit sake in soos homoseksualiteit, postmoderne denkwyses, evolusie en evolusionisme en die huwelik. Hoofstuk 9 word gewy aan ’n moontlike pad vorentoe.

In een van die Bylaes (D) word lesers aangeraai om by beroeping van ’n predikant ’n reeks aanbevole vrae aan kandidate te stel voordat hulle vir beroep na ’n eie gemeente oorweeg word.

Vervolgens kyk ons na die volgende spesifieke sake wat die kern van die boek uitmaak:

  • Die gesag van die Skrif
  • Die Bybel en homoseksualiteit, en
  • Die Bybel en evolusie

Spesifieke sake 1: Die gesag van die Skrif

Onderliggend aan al die besware wat die boek hanteer is ’n radikale verskil in Skrifbeskouing. Die talle verwysings na liberalisme dui op mense wat nie hulle siening van die Bybel saamstem nie. Dit is jammer dat die skrywers nie hulle eie siening van die Bybel en sy gesag formuleer nie. Wat ons wel kry is hulle besware teen die heersende siening van die Algemene Sinode oor die Skrif en die gesag van die Skrif.

1. Die menslike karakter van die Skrif

Op bladsye 30 en 31 haal die skrywers verskeie sinsnedes aan uit die verslag wat in 2002 voor die Algemene Sinode gedien het. Die seleksie van sinsnedes het almal op een of ander manier te make het met die “menslike karakter van die Skrif”. Teenoor die erkenning van die menslike karakter, soos in die verslag, stel die skrywers dit soos volg: “Die ‘menslike’ aandeel in die totstandkoming van die Bybel word op so ’n manier beklemtoon dat die soewereine werk van die Heilige Gees (2 Pet.1:21) op die agtergrond gedruk word.” (p.30)

Die vraag is dus: Is die Bybel ook ’n menslike boek en indien wel, watter implikasies het dit vir ons siening van die gesag van die Bybel as God se Woord?

Om by die antwoord op die vraag uit te kom, moet ons eers kyk na ons verstaan van hoe die Heilige Gees die skrywers van die Bybelboeke geïnspireer het. Gewoonlik word verwys na 2 Tim.3:16-17 waar daar staan: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer ……”. Eintlik is die “Skrif” waarna 2 Tim. verwys nie die Bybel soos ons hom vandag ken nie. Dié het toe nog nie bestaan nie. Dit verwys na die Skrifte van die huidige Ou Testament. Ons glo egter dat dit ook op ons huidige Bybel van toepassing gemaak kan word.

Die vraag is nou: Hoe het God die skrywers geïnspireer? Daar word gewoonlik ten minste twee moontlikhede genoem: ’n meganiese inspirasie of ’n organiese inspirasie. Met meganiese inspirasie word bedoel dat die Heilige Gees die teks van die Bybel woord vir woord vir die skrywers gedikteer het. Indien dit die geval is, sou dit beteken dat elke woord Goddelike inspirasie dra en dat daar geen menslike faktor in die skryf van die Bybel op die spel is nie.

Met organiese inspirasie word bedoel dat God die boodskap vir die skrywers geïnspireer het, maar dat hulle dit in hulle eie taal en volgens hulle eie idioom en skryfwyses geformuleer het. Met hierdie siening van God se inspirasie, beteken dit dat heelwat van die mens wat die boodskap op skrif stel ook gaan deurskyn, asook die omstandighede en kultuur waarin die skrywer opgetree het.

Voorbeeld: Ek illustreer hierdie menslike element met een voorbeeld van baie waarvan die Bybel vol is: Lees asb. 1 Kor.1:10-17. Uit die hele brief aan die Korintiërs is dit duidelik dat die ontstaan van partyskappe en verdeeldheid binne die gemeente ’n groot probleem was. Blykbaar het die mense aanhangers geword van die persone wat hulle gedoop het. So ontstaan Paulus, Apollos, en ander “partye”. Paulus is hieroor baie ontsteld en spreek die gemeente daaroor aan. Hy vra selfs: “Is Christus stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig of is julle in die naam van Paulus gedoop?” Hy gaan dan met heftige oortuiging voort as hy sê: “Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie.” Dan onthou hy dat dit nie heeltemal waar is nie. Daarom voeg hy by: “behalwe Krispus en Gaius.” Met dieselfde oortuiging gaan hy voort: “Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie.” Dan onthou hy: “Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop.” Daarna is hy totaal onseker of hy miskien nog iemand gedoop het: “… maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie.”

Uit die gedeelte is dit duidelik:

  • Dat die teks van die bogenoemde perikoop duidelik nie deur God meganies gedikteer is nie.
  • Dat Paulus die mens hier aan die woord is en sy ontsteltenis, vergeetagtigheid en onsekerheid laat blyk.
  • Dat die menslike omstandighede in die gemeente van Korinte ’n groot rol speel
  • Dat die boodskap van die belangrikheid van die eenheid van die gemeente en die sonde van verdeeldheid steeds met God se gesag oorgedra word.

2. Affekteer die erkenning van die menslike in die Bybel die gesag daarvan?

Die opstellers van die Trojaanse Perd (TP) reken dat dit wel so is. Hulle verklaar dat die beklemtoning van die menslike in die totstandkoming van die Bybel die “oorheersende soewereine werk van die Heilige Gees op die agtergrond” druk. (p.30) Nadat hulle die aantal sinsnedes uit die verslag van die Algemene Sinode aangehaal het, verklaar hulle op p.32 : “Die opmerkings oor die Bybel wat hierbo aangedui is, kom in wese daarop neer dat ons die Bybel nie meer kan vertrou nie.”

[Hierdie is nie ’n eerlike weergawe nie. Ons het geskryf: “Die “menslike” aandeel in die totstandkoming van die Bybel word op só ’n manier beklemtoon dat dit die oorheersende soewereine werk van die Heilige Gees (2 Pet. 1:21) op die agtergrond gedruk word.” (My onderstreping en vetletters.)
Ons “oorheersende” is ook ’n belangrike deel van die stelling.

Vanuit hierdie wanvoorsteling vra Mike die volgende:]

Die vraag is of die aanvaarding van ’n organiese inspirasie die gesag van die Bybelse boodskap verminder?

[Ons het nêrens die menslike aandeel (“organiese inspirasie”) ontken of beweer dat dit die gesag van die Bybelse boodskap verminder nie.]

Laat ek illustreer met ’n voorbeeld: ’n Bestuurder van ’n besigheid wil ’n brief aan ’n kliënt laat tik. Hy neem sy diktafoon in die hand en dikteer die brief. Sy sekretaresse sit haar oorfone op en tik meganies presies soos wat die bestuurder gedikteer het. Sy naam word onderaan getik en hy teken dit. Alhoewel sy dit getik het, is dit sy brief met sy woordkeuses en styl onder sy naam.

Die bestuurder wil ook ’n brief aan ’n ander kliënt laat tik. In die geval gee hy aan sy sekretaresse opdrag om die brief vir hom op te stel en hy verduidelik ook aan haar wat sy vir hulle moet skryf. Hierdie keer formuleer sy die inhoud van die brief self (organies). Dit is haar sinsbou, woordkeuses en styl. Onderaan tik sy die bestuurder se naam en neem dit vir hom om dit te teken. Vir die kliënt wat die brief ontvang is dit die bestuurder se brief en sy handtekening bevestig die gesag daarvan. Die tweede brief het geensins minder gesag as die eerste nie, omdat albei die handtekening van die bestuurder dra.

Ons glo dat die Bybelse boodskap deur feilbare mense geskryf is en dat die menslike gedurig deurskemer, maar dat die boodskap steeds God se “handtekening” daaronder het. Die erkenning van die menslike in die Bybel doen geen afbreuk aan die Goddelike gesag van die Bybel nie.

[Dit is basies presies wat ons ook glo, met die moontlike verskil dat ons glo dat toe die skrywers dit geskryf het, het God hulle geïnspireer. Ons glo nie noodwendig dat God die Bybel aan mense gedikteer het nie. Die vraag is egter hoe hierdie argument, waarmee Mike baie moeite gedoen het, sy saak versterk? As God onderaan geteken het, dan stem Hy mos saam met dit alles, selfs al is dit deur feilbare mense geskryf. As ek sy voorbeeld kan gebruik: as ’n bestuurder vir sy sekretaresse vra om ’n brief te tik en hy teken onderaan, dan gaan niemand sê dat dit die sekretaresse was wat die brief geskryf het nie, maar die bestuurder self. Dus sal die bestuurder verantwoordelikheid moet neem vir enige onakkuraathede in die brief, nie die sekretaresse nie.]

3. Die Bybel het ’n spesifieke gesag!

Hierdie stelling mag skokkend klink, maar is baie belangrik – veral vir die beoordeling van latere hoofstukke van TP.

Kom ons kyk weer na die bekende 2Tim.3:15-17. Paulus skryf aan die jong Timoteus: “…en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur geloof in Jesus Christus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswandel te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome toegerus en voorberei sal wees vir elke goeie werk.” (Eie onderstreping)

Die teks beklemtoon dat die Skrif “groot waarde” het en beklemtoon dan veral drie sake:

  • Dit bring kennis wat lei tot verlossing deur geloof in Jesus Christus, en
  • Dit stel ons in staat om in ons diens aan God “volkome toegerus en voorberei te wees vir elke goeie werk.”
  • Dit stel ons in staat om in belang van die regte lewe in diens van God “die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel.”

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) “beperk” ook die doel van die Skrif tot die openbaarmaking van die wil van God en die kennis tot saligheid. Artikel 2 handel oor die middele waardeur ons God kan ken. Hy stel dit dan eerstens dat ons Hom ken “deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.” (Ons kom later na hierdie eerste manier terug.) Die tweede manier waarop ons God kan ken is deur sy Woord. Die NGB stel dit so: “Tweedens maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome bekend en wel soveel as wat vir ons in hierdie lewe tot sy eer nodig is en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.” (Eie onderstreping)

Artikel 5 handel oor die gesag van die Heilige Skrif en sê: “Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grond en daarmee te bevestig.” (Eie onderstreping)

Artikel 7 van die NGB stel dit so: “Ons glo dat hierdie heilige Skrif die wil van God volkome bevat en alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. ….” (Eie onderstreping)

Indien ons 2 Tim.3:15-17 ernstig opneem en ook die bogenoemde artikels van die NGB , is die geïnspireerde openbaring van die Bybel ’n openbaring met ’n baie spesifieke doel. Dit openbaar wie God is, sy verlossingsplan en riglyne vir ’n lewe in diens van God. Dit is waaroor die Bybel handel en dit is sy gesagvolle openbaring.

Om die Bybel gesagvol vir ander doeleindes te wil gebruik, is om die Bybel te misbruik!

[Dit lyk asof Mike die “deur God ingegee/geïnspireer” wil kleiner maak/ afmaak/ ondergeskik maak teenoor die “groot waarde” van “die hele Skrif”. Hy verwar klaarblyklik die FEIT dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is, met die DOEL daarvan.

Paulus skryf van die valse apostels:
2 Kor. 11:4 Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.

Van hulle het Paulus geskryf:
2 Kor. 11:13-15 : Sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.

Hieroor het ons geskryf: (p.33): “Moet ons nou die sogenaamde meerdere lig van sekere hedendaagse geleerdes [nie die sinode nie] aanvaar? Hoe sal ons ooit die vals apostels van 2 Kor. 11 herken as ons nie die Bybel as meetinstrument gebruik en glo nie?”]

In die behandeling van die Algemene Sinode se verslag, sê die skrywers van TP: “Hoe sal ons die vals apostels van 2 Kor.11 herken as ons nie die Bybel as meetinstrument gebruik en glo nie?” (p.33) (Eie onderstreping) Ek is in die versoeking om te reageer op die ongelukkige verwysing na “valse profete” in die behandeling van die verslag van die Sinode en ook die ontoepaslike gebruik van 2 Kor.11:13-15 in die verband, maar ek laat dit daar. Ek wil graag aansluit by die woord “meetinstrument” wat in die bg. aanhaling gebruik word.

Natuurlik kan ons die Bybel as meetinstrument gebruik, maar dan vir die doel waarvoor God Hom gegee het, nl. om Hom beter te leer ken, sy wil te ontdek, sy verlossing in Christus te aanvaar en Hom in gehoorsaamheid te dien. Ons kan egter nie die Bybel as “meetinstrument” gebruik om die geldigheid van wetenskaplike bevindinge te toets nie! [Ons het hier niks van wetenskaplike bevindings gesê nie, maar gespesifiseer “die vals apostels van 2 Kor. 11”. Is so ’n konteksverkuiwing eerlik?] Net so min as wat ons ’n termometer kan gebruik om die lengte van ’n paal te meet. Hy is nie daarvoor bedoel nie. [Dr. Smuts beklemtoon hier die DOEL van die betrokke Skrifgedeelte tot so ’n mate dat dit wil voorkom asof die FEIT dat dit deur God geïnspireer is, nie mag gebruik word om buite-Bybelse inligting mee te toets nie want dit is “nie die doel” van daardie Bybelse uitspraak nie. Dit is ook onduidelik waarom Smuts sê dat dié gedeelte lê die klem op die doel en nie op die feit dat dit deur God geïnspireer is nie. Dít beteken dat ek nie die Skrif kan gebruik om te wys dat dit onfeilbaar is nie. Dit beteken ook dat, waar wetenskaplike bevindings (blykbaar) met die Bybelse gegewens bots, die Bybel moet bes gee. Dan is die FEIT dat die hele Skrif deur God geïnspireer is en dus onfeilbaar is, waardeloos omdat dit nie die “klem” van die gedeelte is nie? Dit wil voorkom asof Smuts nie veel waarde heg aan die FEIT dat dit God is wie bepaal het wat in die Skrif staan nie.]

Om die Bybel aan te wend vir doeleindes waarvoor hy nie bedoel is nie, is om aan die Bybel en sy geloofwaardigheid ’n onreg aan te doen! Ons moet die gesag van die Bybel erken op die terreine wat God bedoel het dat hy gesag moet hê en nie daarby verby beweeg nie. Later meer daaroor as ons kyk na die hoofstuk oor evolusie.

4. Menslike skryfwyses

Die mense wat die Bybelse boeke op skrif gestel het, het dit onder inspirasie van God se Gees gedoen. Die boodskap is deur God geopenbaar, maar die (organiese) inkleding daarvan is deur mense in mense taal en volgens die kultuur en skryfwyses van hulle dag.

Ongelukkig stem die skrywers van TP nie met die siening saam nie. ’n Erkenning van die menslike in die Bybel word geïnterpreteer as ’n miskenning van die rol van die Heilige Gees. Op p.66 sê hulle :

“Vir die een groep predikante en teoloë is die Bybel ’n baie ou boek wat in ooreenstemming met die kultuur en wêreldbeskouing van daardie tyd geskryf is. Die kultuur en wêreldbeskouing van daardie tyd het dus bepaal wat in die Bybel geskryf is (let op: nie die Heilige Gees nie.)” (Opmerking in hakies ook die van die skrywers)

Ek wil graag aan die skrywers die voordeel van die twyfel gee en dat hulle die verduideliking tussen hakies nie moedswillig geskryf het nie, maar dat dit is hoe hulle dit verstaan. Indien dit so is dat hulle dit sien dat ’n skrywe binne die kultuur en wêreldbeskouing van die tyd beteken dat die Heilige Gees nie daarin ’n rol speel nie, slaan hulle die bal heeltemal mis. [Dr. Smuts sê: “Ek het die boek noukeurig nagegaan …”. Dit lyk werklik nie so nie. Hy haal aan waar ons “die een groep predikante en teoloë” bespreek. Smuts verdraai hier (moedswillig?) ons duidelike bedoeling: Ons is in hierdie gedeelte besig om twee skrifbeskouings met mekaar te vergelyk: die kontekstuele hermeneutiek wat o.a. sê dat die Bybel “nie God se Woord is nie, maar mensewoorde oor God” – soos prof. Ferdinand Deist geskryf het. Net daarná skryf ons: “Die ander groep predikante en teoloë glo die Bybel soos dit geskryf is.” – waaronder ons onsself tel. Is dit billik dat dr. Smuts ons beskuldig van sulke sienings terwyl hy die hele boek “noukeurig nagegaan” het en móés agtergekom het dat sy aanhaling is juis wat ons nie glo nie en daarteen stry! Is dit billik dat hy so ’n inkonsekwente beeld van ons die wêreld in stuur? Ons het dit teen die herinterpretasie van wat geskryf is. Ons het geen beswaar aangeteken teen die invloed van die destydse kultuur op die skryfstyl, die manier van sê, of hoe dit geskryf is nie, (organiese inspirasie). Ons het dit duidelik teen die bewerings dat die kultuur en wêreldbeskouing bepaal het wat in die Bybel geskryf word (dus blote “mensewoorde óór God”) – nie hoe dit geskryf is nie.] Binne die aanvaarding van ’n organiese inspirasie kan ons heel gemaklik sien dat die Heilige Gees die boodskap inspireer en dat die skrywer dit inklee volgens sy aard, kultuur en skryfstyl. Dit beteken beslis nie dat die kultuur die boodskap bepaal en dat die Heilige Gees nie daarin betrokke is nie! Die boodskap word deur die Gees geïnspireer en die inkleding van die boodskap word kultureel beïnvloed. [Hy insinueer verkeerdelik dat ons hierdie laaste stelling van hom nie glo nie en spandeer heelwat tyd (hierna) om die strooipop wat hy opgestel het, af te skiet.]

Nog meer oor skryfwyses: Vergelyk ’n mens die briewe van Paulus met die van Johannes is daar herkenbare stylverskille. Net so het Lukas herkenbare eie voorkeure vir woorde en uitdrukkings. Hierdie verskille volgens die persoonlikheid en styl van die onderskeie skrywers kan beslis nie aan die direkte inwerking van die Gees toegeskryf word nie.

Ons vind in die Bybel ’n verskeidenheid van literatuursoorte soos vertellings, geskiedenis, poësie, wetboeke, profesieë, wysheidsliteratuur, evangelies, briewe, opebaringsliteratuur, ens. Die literatuurvorme is nie uniek aan die Bybel nie. Dit is ontleen aan die style van die tyd en deur die skrywers van Bybelboeke benut om die boodskap van God aan hulle mense deur te gee. Die style en skryfwyses en woordkeuses is menslik, maar die boodskap is van God self. Om die gesagvolle openbaring van God beter te kan ontvang, is dit belangrik om die verkillende literatuursoorte te onderskei en respekvol te interpreteer.

In die openbaring van Homself sluit God Hom aan by die begripsvermoë en denkwêreld van die mense. Soos ’n mens moeilike sake anders vir klein kindertjies verduidelik as wat jy dit vir grootmense sal bekend stel, gee God sy openbaring binne die bevatlikheid van die mens; die mens wat God nooit volkome sal kan begryp nie. Die mense van die Bybelse tyd het geglo dat die aarde plat is en op pilare staan, dat die hemel ’n soliede koepel is met water bokant dit. God probeer dit nie wetenskaplik reg stel nie, maar gebruik dit om daardeur Homself as die Skepper van alles bekend te stel. Met die bekendstelling van Homself en sy wil, doen Hy dit binne die verwysingsraam van die mense van die tyd sodat hulle dit kan verstaan. As ’n mens nou hierdie “onwetenskaplike” wêreldbeeld in die Bybel ontdek en die betroubaarheid van die Bybelse boodskap daaraan te toets, is dit om die Bybel ’n onreg aan te doen. Dit is ook verkeerd om dit weg te redeneer. [Op bl. 4, voetnota 10, word daar na ’n paar artikels verwys wat die plat-aarde-kwessie aanspreek, en waar Mike se presiese argument hierbo weerlê word.]

5. Slotsom oor die gesag van die Skrif

Dit is duidelik dat die siening van ’n organiese inspirasie van die Bybel geensins die Goddelike gesag van die Bybel aantas nie, maar eerder die eie aard van die Godsopenbaring erken en eerbiedig. God kom met gesag deur die Woord om Homself aan mense bekend te stel sodat hulle sy verlossing kan smaak en volgens sy wil kan lewe. Om die Bybel vir ander doeleindes aan te wend of oor ander sake te laat spreek, is om die Bybel se gesag te oorspan op maniere waarvoor hy nie bedoel is nie. Respek vir God se Woord behoort te maak dat ons hier baie versigtig en met groot onderskeiding beweeg!

[Dr. Smuts voel ongelukkig dat ons (volgens hom) die term “valse apostels” met die sinode in verband bring. Sou hy kon ontken dat die volgende bewoordings omtrent die Bybel in die verslag van die 2002 sinode voorkom?:

“geen aanspraak op historiese eksaktheid nie”,
“Die voorbeelde [van foute in die Bybel] kan eindeloos vermeerder word”,
“As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie”,
“Selfs “fiksie” en “foute” staan in diens van die Waarheid”,
“Dus is die Bybel self reeds interpretasie wat in elke tyd opnuut vertolk moet word”,
“Wat in een konteks die waarheid is, is in ’n ander ’n leuen”,

Word die geloofwaardigheid en betroubaarheid van die Bybel hiermee erken of ontken?

Spesifieke sake 2: Die Bybel en homoseksualiteit

Voordat ek kommentaar lewer op TP se hantering van die onderwerp, wil ek eers verklaar dat ek my ten volle kan vereenselwig met die Algemene Sinode se versigtige benadering van die saak, met sy die deernis teenoor homoseksuele mense en met die soeke na die leiding van die Gees vir die regte pad om in die verband te loop. Mag die Here die kerk lei om tot sy eer en tot heil van almal wat hierdeur geraak word, die regte pad te loop.

Ek wil eers kommentaar lewer op die boek se hantering van die onderwerp en daarna kyk na die vraag of die Here die kerk kan lei tot insigte wat blykbaar bots met die skynbare posisie van die Skrif self.

Kommentaar op TP se hantering van die Bybel en homoseksualiteit (pp. 49-51)

Die kernprobleem met die skrywers se hantering van die saak lê in die volgende opmerking op p.49: “Niks sal die Bybelse verklaring vir homoseksualiteit, en ander sondes, se oorsprong kan wegneem nie, naamlik dat die oorsprong in die sondige aard van die mens se hart lê.” (Eie onderstreping) Op p.50 word ook beweer: “Die primêre oorsaak (van homoseksualiteit) is die mens se sondige hart, wat die gevolg is van die sondeval.” (Eie onderstreping en hakies)

Homoseksualiteit word aan sonde gelykgestel en van daaruit behandel. Aan die einde van die betrokke hoofstuk handel die skrywers oor die “Benadering van die homoseksuele persoon.” Omdat homoseksualiteit as sonde getipeer word, is dit nie vreemd dat die skrywers die oplossing sien in bekering en bevryding van die “sonde” nie. Hulle sê: “Ons moet hom help om in te sien dat sy oriëntasie die gevolg van sonde is – die mens se sondige en vervalle bestaan as gevolg van die sondeval – maar dat daar verlossing, vryspraak en lewe is deur Jesus Christus.” (p.71)Hierdie standpunt van die skrywers van TP is uiters problematies. Let o.a. op die volgende:

1. Homoseksualiteit is ’n aspek van identiteit, net soos heteroseksualiteit ’n aspek van identiteit is. Die verwysings na die effek van die sondeval geld vir alle mense – heteroseksueel en homoseksueel. Dit veroorsaak by alle mense die neiging tot sonde, maar die identiteit self kan nie as sonde gesien of behandel word nie. Alle mense is geroep om hulle sondige aard onder beheer van die Gees te plaas sodat Hy hulle identiteit kan heilig. Dit geld vir heteroseksuele en homoseksuele mense!

2. Omdat homoseksualiteit in sigself nie sonde is nie, is die siening van bekering en vryspraak as die oplossing misplaas. Homoseksuele persone kan hulle seksuele oriëntasie laat lei tot ’n sondige lewe en dade van sonde – net soos die geval met heteroseksuele persone. Dit kan lei tot die noodsaak van bekering, maar dit verander nie die persoon se homoseksualiteit of heteroseksualiteit as identiteitsmerker nie.

3. Die kompleksiteit van die ontwikkeling van identiteit word misken. Op pp.50-51 word vier opmerkings gemaak oor moontlike faktore wat kan lei tot die “sonde” van homoseksualiteit. Dit is totaal ontoereikend en ’n miskenning van die kompleksiteit van faktore wat ’n rol speel in die vorming van identiteit. Een saak wat wel in navorsing duidelik na vore kom, is dat homoseksuele persone nie kies het om homoseksueel te wees nie. Wat wel waar is, is dat daar gewoonlik ’n stadium kom waar hulle moet kies om eerlik daarmee “uit te kom”. Om tot daardie punt te kom, gaan gewoonlik met worsteling gepaard omdat hulle weet wat die houding van die gemeenskap teenoor homoseksuele persone is.

4. Die enkele tekste waarop die skrywers hulle standpunte bou (o.a. Rom.1:26-23) handel oor dade van losbandigheid en kan nie op homoseksualiteit as identiteitsmerker toegepas word nie.

Die skrywers behandel die Algemene Sinode se standpunte in die verband en sien in 2002 “ ’n groot omkeer” in die standpunte van die sinode van 1986 (p.51).

Was daar ’n groot omkeer? Ja en nee.

Ons kyk eers na die “nee”:

1. Die sinode het nie in 1986 homoseksualiteit as sonde getipeer, soos wat die skrywers van TP doen nie. Dit word in die nuwe besluite van 1986 ook nie gedoen nie.

2. In 1986 het die sinode verklaar dat homoseksuele persone nie “die belewing van die gemeenskap van die heiliges ontsê (mag) word nie en geleentheid tot diens in belang van die koninkryk van God ontsê word nie.” Dit is steeds die standpunt van die Sinode.

Daar was wel ’n omkeer waaroor ek baie dankbaar is:

1. In 1986 is homoseksualiteit getipeer as ’n “afwykende vorm van seksualiteit.” Hierdie liefdelose tipering is laat vaar en teenoor homoseksuele persone bely. Dit klop met hoe Jesus mense benader het wat vanweë hulle tipering as sondaars uitgeskuif is.

[Dit wil voorkom asof Mike die hele tyd van die veronderstelling uitgaan dat TP:

  • Niks van homoseks self sê nie, maar net van “homoseksualiteit” – die seksuele oriëntasie; (God se Woord veroordeel wel homoseks as “’n gruwelike sonde” maar selfs net die tipering daarvan as afwykend noem Smuts “liefdeloos”.)
  • Die homoseksueel-geöriënteerde veroordeel vir sy oriëntasie;
  • Liefdeloos is deur homoseksualiteit af te wys.

Ons pleit egter juis daarvoor dat die homoseksuele persoon met deernis benader en begelei moet word (p.69 e.a.).]

2. In 1986 is homoseksuele verhoudings onder andere summier afgewys. Nou wil die sinode weer biddend soek na die Here se lig oor die saak en is hulle nie bereid om so maklik ’n afwysende houding in te neem nie. Weereens ’n optrede wat deur liefde bepaal word waarvoor ek baie dankbaar is. [Hoe rym hierdie standpunt dan met die Bybel se “afwysende houding” or homoseks? Is God se uitsprake daaroor dan liefdeloos?]

Die laaste opmerking bring egter die vraag of die soeke na leiding oor die saak enige lig kan bring, aangesien die enigste verwysings na seksuele verkeer tussen mense van dieselfde geslag in die Bybel in ’n negatiewe sondige lig gesien word? Kan die kerk tot ander gevolgtrekkings kom, as die wat in TP voorgestaan word? [TP hou slegs voor wat in die Bybel geskryf is.]

Om die vraag te antwoord, wil ek graag ’n analogie trek met die kerke/Christene se standpunt oor slawerny.

Standpunte oor sake wat skynbaar bots met dit wat pertinent in die Bybel genoem word.
Die vraag is of die kerke en geloofsgemeenskappe standpunt kan inneem oor sake wat nie pertinent in die Bybel voorgeskryf word nie, of selfs skynbaar in stryd met die Bybel is? Ek behandel dit graag na analogie van die standpunt rondom slawerny.

As ’n mens die verwysings na slawerny in die Bybel nagaan, sou jy ’n sterk saak ten gunste van die behoud van slawerny kon uitmaak. Die Bybel bevat talle verwysings na slawe en voorskrifte van hoe hulle behandel moet word. Hulle kon selfs lyfstraf ontvang wat tot die dood kan lei (Eks.21:20-21). Nêrens word slawerny verbied nie, maar wel gereguleer (Eks.21:1-11; Deut.15:12-18; Lev.25:35-55). In die Nuwe Testament is daar wel aansprake dat slawe billik behandel moet word (Ef.6:9; Kol.4:1) en Filemon word aangemoedig om sy slaaf Onesimus soos ’n broer terug te ontvang.

’n Mens sou dus “op Bybelse gronde” ’n sterk saak kon uitmaak vir die behoud van slawerny.

In die laat 18e eeu het Christene egter tot die oortuiging gekom dat slawerny verkeerd is. Vandag ontstel die handel in mense en slawerny ons en word dit algemeen sterk veroordeel, terwyl die Bybel dit nie pertinent verbied nie. Wat het gebeur? Ek vermoed dat veral twee Bybelse beginsels hierin ’n rol gespeel het. Die eerste is dat Gal. 3:28-29 verklaar: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: In Christus is julle almal één.” Verder stry die hele praktyk van slawerny teen die Bybelse beginsel van naasteliefde, dat ek vir ander sal gun wat ek myself gun.Dit doen ook die Bybelse eis van barmhartigheid geweld aan.

[Op bl. 196, voetnota 165 word daar verwys na die artikel “Die Bybel oor slawe”, waar gewys word dat slawerny anders was in die Bybelse tyd as nou. Hoekom gebruik hy dan nogtans hierdie analogie? As hy nie saamstem met die artikel “Die Bybel oor slawe” nie, moet hy tog sê waarom hy nie saamstem nie, maar nou gebruik hy ’n argument wat alreeds in TP weerlê is.]

Kom ons trek nou die analogie na die posisie van homoseksuele persone. Die vraag waarmee die kerk worstel, is nie of losbandige dade tussen homoseksuele persone toegelaat moet word nie. Dit is sonde by heteroseksuele sowel as homoseksuele persone. Die vraag is ook nie of promiskuïteit sonde is nie. Dit is so vir alle mense, heteroseksueel en homoseksueel.

Die vraag is wel of ’n monogame lewenslange verbintenis tussen twee persone van dieselfde geslagas sonde beskou moet word, of deur die kerk erken moet word? Die probleem is dat die Bybelse beeld van die huwelik altyd die verbintenis van man en vrou is en dat die Bybel nie melding maak van huwelike tussen mense van dieselfde geslag nie. Net soos die Bybel geen verbod teen slawerny bevat nie, maar ons dit tog op Bybelse beginsels afkeur, is die vraag of ons nie die begeerte tot ’n huwelik van mense van dieselfde geslag moet goedkeur nie?

Dit is die vraag waarmee Christene oor die wêreld tans worstel.

Slotsom: Dit is duidelik dat is dat die wyse waarop die skrywers van TP homoseksualiteit as identiteitsmerker aan sonde gelyk stel en as vertrekpunt gebruik, heeltemal van die merk af is! Dit is ook duidelik dat die versigtige benadering van die Algemene Sinode in die verband groot meriete het.

Spesifieke sake 3: Die Bybel en evolusie

Die samestellers van TP lig evolusie uit as die belangrikste bedreiging vir geloof in die gesagvolle spreke van die Bybel. Dit word in die subtitel uitgesonder as ’n kanker in die kerk. In die inleiding word gesê dat evolusie en evolusionisme “steeds ’n beduidende rol in die bevraagtekening en verwerping van die Bybel as Woord van God” speel. (p.2) die titel van hoofstuk 6 wat aan evolusie gewy word, noem dit “die vrot appel in die kis!” (p.109)

In Bylae D gee die skrywers ’n aantal vrae waaraan predikante kandidate voor ’n beroep getoets moet word. Die eerste vraag lui: Glo jy dat Genesis 1-11 letterlik waar is: dat God in ses 24-uur dae geskep het, ongeveer 4000 v.C. en dat daar ’n wêreldwye vloed was wat almal op aarde uitgewis het behalwe die mense en diere op Noag se ark?” (p.246)

Dit is dus duidelik dat die skrywers ’n keuse wil afdwing tussen ’n letterlike verstaan van Gen.1-11 teenoor die aanvaarding van evolusie. Die eerste moontlikheid word gesien as geloof in die Bybel as die Woord van God en die tweede as ’n posisie van ongeloof.

Is dit waar? Is dit die enigste moontlike keuse?

Ek wil nie in my kommentaar die wetenskaplike teorie van evolusie probeer verdedig of beoordeel nie. Dit lê buite my vlakke van kundigheid. Ek sal wel enkele opmerkings maak oor hoe die boek die wetenskap geweld aandoen. My eintlike doel is om aan te toon dat die wetenskaplike bevindinge rondom die verskynsel van evolusie nie noodwendig in stryd met die Bybel is, soos wat TP probeer voorgee nie.

’n Misleidende definisie: Aan die begin van die boek word ’n woordelys gegee waarin ’n aantal begrippe se definisies gegee word. Die woord “Evolusie” word ook beskryf. Oor die korrektheid van die beskrywing wil ek my nie uitlaat nie, maar wel oor die woord “hipotese” wat in die definisie voorkom. In die wetenskap word na evolusie as ’n teorie verwys, en nie as ’n hipotese nie. Vir die oningewyde mag die twee woorde nie veel verskil nie, maar vir wetenskaplikes is daar ’n groot verskil.

Wanneer ’n wetenskaplike in sy studieveld ’n verskynsel waarneem wat hy wil verklaar, formuleer hy ’n vermoede van wat die verklaring kan wees. Die geformuleerde vermoede word ’n hipotese genoem. Daarna word die hipotese met navorsing getoets. Die navorsing het die effek om die hipotese as geldig te bewys, of as ongeldig. Indien dit ongeldig is, word die hipotese verwerp. Indien die hipotese deur navorsing voldoende as korrek bewys word, word dit ’n teorie genoem. [Dan moet daar seer sekerlik bewyse wees dat dooie materie lewendig geword het, vermenigvuldig het en al die bekende lewensvorme voortgebring het? Anders bly dit mos ’n hipotese soos dr. Smuts verduidelik.] Wetenskaplikes publiseer hulle hipoteses en navorsingsresultate sodat dit ook deur ander wetenskaplikes getoets kan word. In die proses word die teorie sterker of dit bly by ’n hipotese wat nie bewys kan word nie, of verkeerd bewys is.

’n Wetenskaplike teorie geniet dus al meer erkenning na mate meer en meer wetenskaplikes dit toets en as geldig aanvaar. Dit is die geval met die evolusieteorie en namate navorsingstegnieke verbeter word die begronding van die teorie ook verder versterk. [Maar die bewyse daarvoor is nog soek, en dít word telkens onder die mat in gevee!! Kyk bv. net na ’n paar aanhalings van evolusioniste self by https://www.glodiebybel.co.za/skepping-vs-evolusie-m/59-aanhalings-kat.html. Kyk veral na Aanhalings – Evolusie is ’n geloof, Aanhalings – Informasie/Inligting/Waarskynlikheid/Oorsprong van lewe, Aanhalings – Evolusie verkeerd/mislei en Aanhalings – Vermiste skakels.]

Sommige Christene maak evolusie af as “maar net ’n teorie.” Hulle besef nie dat die woord “teorie” in die gewone omgangstaal ’n ander betekenis het as in die wetenskap. In die gewone omgang dra “teorie” die kwaliteit van ’n ongetoetste idee – min of meer wat die wetenskap ’n “hipotese” noem, terwyl “teorie” in wetenskaplike taal van ’n getoetse feit praat. [Watter toetse?] Dit is duidelik dat die skrywers van TP die verskil ken en doelbewus kies om van evolusie as ’n hipotese te praat. [Dít is heeltemal korrek.] Daarmee ignoreer hulle die konsensus van die oorgrate meerderheid van wetenskaplikes oor die wêreld. [In dié konsensus in die oorsprongswetenskappe speel vertolking van beskikbare data die hoofrol. Die konsensus is dus een van vertolkings vanuit vooraf-ingenome vertrekpunte.]

“Skeppingsleer (kreasionisme) teenoor evolusieleer” (p.109)

Hierdie teenstelling, wat net na die inleiding van hoofstuk 6 as opskrif gebruik word, is veelseggend. Die skrywers verklaar self dat hulle hiermee ’n kort samevatting gee van die groter geheel. Dit is duidelik dat die teenstelling ten grondslag lê van die hele betoog oor evolusie. Daarom is die belangrik om dit van nader te bekyk.

1. Skeppingsleer (kreasionisme): Die skrywers ondersteun duidelik die leer van die kreasionisme (“creationism”). [Korrek. Ons glo wat die Bybel vertel.] Dit is ook opvallend dat die meeste van die voetnotas in die boek na of www.creationism.com[hierdie is een van ’n paar bewyse dat Mike Smuts die boek baie vlugtig gelees het. Die regte webadres is www.creation.com.] of www.glodiebybel.co.za verwys – albei webtuistes wat op die standpunt van kreasionisme staan. Hulle beveel ook die lesers aan om die webblaaie te besoek.

Die skrywers verduidelik die skeppingsleer so: “Alles wat Genesis ons oor die skepping leer, het werklik so gebeur. Ons verwerp die siening dat dit slegs simbolies of mitologies verstaan moet word. God het alles met Goddelike bonatuurlike krag tydens die Skeppingsweek geskep, soos verklaar word in die Bybel.” (p.110) [Korrek!] (Eie onderstreping) Binne die geledere van die voorstanders van kreasionisme is daar ook verskillende sieninge. Sommige verwerp enige vorm van evolusie in die skepping. Die skrywers van TP aanvaar wel ’n beperkte evolusie binne die soorte. Hulle aanvaar nie dat een spesie uit ’n ander kon ontwikkel nie, maar wel dat binne ’n bepaalde spesie verskillende soorte kan ontwikkel.

[Dis eenvoudig nie wat ons geskryf het nie!! Blykbaar verstaan Smuts nie die verskil tussen soorte en spesies nie. Ons beweer dat spesies binne soorte kan ontwikkel, maar dat een soort nooit in ’n ander soort kan ontwikkel nie. Kyk weer bl. 110-111 en voetnota 79.]

Kreasioniste gebruik die stamregisters in Genesis om die ouderdom van die aarde te bepaal. Daar is meer as een stamregister in Genesis en hulle verskil van mekaar, maar kreasioniste vind dit tog moontlik om dit met mekaar te versoen. Uiteindelik bereken hulle die ouderdom van die aarde op tussen 4000 en 6000 jaar. Die skrywers van TP stel dit op 4000 jaar en is so oortuig daarvan dat ’n predikantskandidaat se geloof in die Bybel as die Woord van God daaraan getoets word! (p.246)

[Ons het nêrens die aarde se ouderdom op 4000 jaar gestel nie. Dr. Smuts het eenvoudig nie deeglik gelees nie. James Ussher het volgens die Bybel se geslagsregisters bereken dat die skepping ongeveer 4004 vC gebeur het (kyk Geslagsregisters en tydsdure). Ek sien nie wat die probleem is om hierdie vraag te vra wanneer ’n predikant beroep word nie. Nie ons, of enige ander skeppingsleerders waarvan ons weet, beweer dat hierdie kwessie jou redding bepaal nie. Dit is maar net om ’n aanduiding te kry wat die persoon dink van die Bybel.]

Kreasioniste is gekonfronteer met bevindinge van verskillende vertakkings van die wetenskap wat die aarde se ouderdom bereken op 4.5 biljoen jaar. Die berekenings van verskillende wetenskaplike dissiplines verskil met 1% of minder. Een van die metodes wat o.a. in die geologie en paleontologie gebruik word, ontleed die verskillende rotslae in die aardkors. Die ouderdom van fossiele wat in die lae voorkom word ook o.a. daarvolgens bepaal. Dit stel kreasioniste voor ’n probleem, beide ten opsigte van hulle berekening van die aarde se ouderdom en ook die bevindinge wat op ’n proses van evolusie dui. Hulle oplossing is om die gelaagdheid van die aardkors aan die groot vloed van Gen. 7 & 8 toe te skryf. [Dit is presies wat dr. Smuts blykbaar nie verstaan nie: Die verskillende lae van sedimentêre rots in die geologiese kolom word maklik verklaar as mens die Bybel glo oor die Genesis-vloed. Oorsprongswetenskaplikes wat weier om die Bybelse weergawe te glo, vertolk die data vanuit hulle voorafbepaalde standpunt. Hulle verklaar dit as slegs natuurlike vloede en kom dan tot ’n ander gevolgtrekking as skeppingsleerders, nl. evolusie. Hulle verkies ook om enige wetenskaplike bevindings wat die Bybelse verhaal bevestig, te ignoreer.] Dit is buite my kundigheidsveld om dit beoordeel, maar wetenskaplike werke wat ek daaroor gelees het, toon aan dat dit alles nie aan een vloed toegeskryf kan word nie. [As dit buite Mike Smuts se kundigheid is, is hy werklik in ’n posisie om hieroor kommentaar te lewer? Dit is baie duidelik dat hy slegs sy opinie grond op die meerderheid se siening – die “internasionale konsensus”.]

2. Evolusieleer? : Teenoor die skeppingsleer stel die skrywers, wat hulle noem, “evolusieleer.” Die byvoeging van die woord “leer” by evolusie is vreemd en onaanvaarbaar. Dit impliseer dat ons hier met ’n alternatiewe geloofsleer te make het. [As mens in evolusie glo en dit is nog nooit bewys nie, is dit niks anders as ’n “alternatiewe geloof” nie!] So ’n siening sal gelowige wetenskaplikes, wat evolusie as wetenskaplik bewese teorie aanvaar en met vrug in hulle navorsing gebruik, ten sterkste sal ontken.

Die skrywers erken dat daar gelowiges is wat evolusie aanvaar, maar handhaaf dat die basis daarvan ateïsties is. Hulle sê: “Alle evolusioniste is nie ongelowig nie, maar die basis van die evolusieleer is ateïsties, want dit is strydig met die Bybel en ontken ’n Skepper.”(p.114) Geloof en wetenskap word vermeng op ’n manier wat tot die soort verkeerde standpunt lei. Meer oor geloof en wetenskap by paragraaf 4. [Steeds word die evolusiehipotese “wetenskap” genoem.]

Die skrywers, soos ander kreasioniste, beroep hulle dan op wetenskaplikes wat hulle posisie ondersteun om daardeur aan te toon dat hulle standpunt ook wetenskaplik op voete staan. Die probleem is dat hier uitgegaan word van ’n standpunt van kreasionisme en dan gesoek word na wetenskaplikes wat dit ondersteun en die ander word verwerp. Die feit is dat die wetenskaplikes wat so geselekteer word by verre in die minderheid is en nie die breë konsensus van die wetenskaplike gemeenskap deel nie. (’n Mens dink onwillekeurig aan die rampspoedige gevolge vir ons land toe Pres. Mbeki in verband met HIV/Vigs, hom laat lei het deur wetenskaplikes wat afwyk van die internasionale konsensus.) [Smuts gebruik die ontoepaslike voorbeeld van Thabo Mbeki. Laasgenoemde se standpunt was feilbaar en kon wetenskaplik verkeerd bewys word. Skeppingsleerders wat glo dat God geskep het soos die Bybel sê, se standpunt kon nog nooit verkeerd bewys word nie. Hulle glo in die onfeilbaarheid van God se Woord – soos wyle ds. Mike Smuts, dr. Smuts se pa, hoogsgerespekteerde Godsman, ook gedoen het. Dit is ’n hartseer saak dat dr. Smuts, ook ’n leraar, nou van Bybelgelowiges verwag om nie te glo wat die Bybel as historiese feite verkondig nie. Intense ateïste soos Richard Dawkins, George Claassen en hulle medestanders glo dieselfde.

Mike demonstreer hier dat hy nie die verskil tussen oorsprong- en operasionele wetenskappe verstaan nie (wat volledig op bl. 113 en voetnota 81 in TP verduidelik word). Laasgenoemde het met navorsing te doen wat nou en hier herhaaldelik getoets en beproef kan word, soos VIGS-navorsing. Oorsprongwetenskappe het te doen met vertolkings van data betreffende dinge wat in die verlede gebeur het, soos skeppingswetenskap of evolusie.]

In die wetenskap word hipoteses en teorieë wetenskaplik getoets en aangepas, aanvaar of verwerp op grond van behoorlike navorsingsmetodes. Om wetenskaplike gronde vir voorafingenome standpunte te vind deur net die wetenskaplikes te selekteer wat met jou saam stem, is uiters onverantwoordelik.

[Dit is dus “uiters onverantwoordelik” om te sê wat jy glo, en wetenskaplikes te selekteer wat dit bevestig?!! Smuts self het wel sy “voorafingenome standpunte”, selekteer wetenskaplikes wat sy standpunte ondersteun (die “internasionale konsensus”) maar dít is nie “uiters onverantwoordelik” nie?? Of is dit net verantwoordelik om die “internasionale konsensus” na te praat? Waarom sê die man dan nie of God geskep het of nie? Of watter “internasionale konsensus” het bewys dat lewe uit dooie materie kan ontstaan, dat genetiese inligting kan vermeerder, dat soorte lewensvorme ander soorte kan word ens., ens.???]

3. Net twee moontlikhede?: Dit is tragies dat die skrywers by die kreasionistiese posisie hou dat daar net twee moontlikhede is: Of jy aanvaar Gen.1-11 as letterlik en hulle betwyfel nie jou geloof nie, of jy of jy aanvaar evolusie en jou geloof in die Bybel word in twyfel getrek. Die teenstelling is nie geldig nie. [Dr. Smuts bly jammerlik in gebreke om te verduidelik hoe mens in die skeppingsverhaal van Gen.1&2 kan glo, en dan nog steeds die evolusiegeloof aanhang wat daardie gedeelte verwerp. Die twee is eenvoudig net nie versoenbaar nie. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?]

Dit is moontlik om steeds God as die Skepper te erken en te aanbid, en die wetenskaplike teorie van evolusie te aanvaar. Om die skeppingsverhale van Gen.1 & 2 te beskou as wetenskaplike uiteensettings van hoe God geskep het, is om nie die Bybel en sy spesifieke doel te eerbiedig nie. [Niemand het beweer dat Gen.1 & 2 ’n wetenskaplike uiteensetting is nie. Ons glo dat dit wel ’n akkurate geskiedkundige uiteensetting is.] Ons het reeds gesien dat 2 Tim.3:15-17 duidelik sê dat die Skrif gegee is om ons te lei tot geloof in Christus en om ons in staat te stel om in diens van God volkome toegerus te wees vir elke goeie werk. Ons het ook gesien dat die Nederlandse Geloofsbelydenis die gesag van die Skrif op die manier afgrens. Dit gaan om ’n bekenstelling (openbaring) van God as Skepper en onderhouer van sy skepping, oor Jesus Christus wat mens geword het en vir ons gesterf en opgestaan het en oor die Heilige Gees wat sy kerk lei in diens van Hom. In kort, die twaalf artikels van die apostoliese geloofsbelydenis wat ons elke Sondag bely, bevat ’n opsomming van waaroor dit in die Skrif gaan en wat ons geroep is om te glo.

Die vraag is dan hoe ons die skeppingsverhale van Gen. 1 & 2 moet lees? Ek kan nie in volle besonderhede ingaan nie, maar wil kortliks met ’n paar stellings saamvat hoe ek dit sien en glo:

  • Gen. 1 & 2 bevat twee verhale wat handel oor God die Skepper van die heelal en die mense as sy skepsels. In die Bybelse tyd was die vertel van verhale om waarhede oor te dra algemeen bekend. Trouens, die Here Jesus het self gelykenisse (verhale) as onderrigmiddel vir die geloof gebruik. Die feit dat ’n verhaal/gelykenis fiksie is, maak nie sy boodskap ongeldig nie.[Die implikasies van wat dr. Smuts beweer, is ontsettend: Die feit dat die Genesisverhaal ’n mite is, maak nie sy boodskap ongeldig nie. So ja? Dan is Gen. maar net fiksie?! Watse boodskap bevat dit dan? As die skepping en sondeval nie werklik gebeur het nie en maar net fiksie is, dan was Jesus se middelaarswerk mos nie nodig nie!!!??? Dan is Jesus, en alles waarvoor Hy staan, ook maar net ’n mite. Watter sin het die lewe nou? Verder is dit foutief om Gen. 1 & 2 met gelykenisse te vergelyk: Gen. 1 & 2 is duidelik geskryf as geskiedenis terwyl ’n mens duidelik kan sien wanneer Jesus ’n gelykenis vertel het. Dit is bv. duidelik dat Jesus wat water in wyn verander het, werklike geskiedenis is, terwyl die 10 meisies by die bruilof, ’n gelykenis is.]
  • In die lees van die skeppingsverhale moet ons vra wat dit ons leer van God, van ons as mense en van ons verhouding tot Hom. As ons dit doen vra ons vrae wat die Bybel bedoel is om te antwoord. Die Bybel is nie ’n wetenskap handboek nie, maar ’n openbaring van wie God is. [Blykbaar is Smuts se standpunt: Gen. 1 & 2 is fiksie, daarom is dit nie ’n “wetenskap handboek nie”. Anders gesê: Die skeppingsverhaal is histories onwaar – dit het nooit gebeur nie.]
  • Vra ons hierdie vrae oor God en die mens aan Gen. 1 & 2, leer ons dat God die Skepper van die hele kosmos is, die hemel en aarde en alles daarop, dat Hy die mens geskep het met ’n spesiale verantwoordelikheid teenoor Hom, dat die mens in sy wese sondaar is wat ontvanklik is vir die duiwel se versoeking om soos God te wees en dat God die sonde straf. [Wat ’n enorme teenstrydigheid in hoe hy “dit sien en glo”!! Dr. Smuts laat ’n mens heeltemal in die duister oor wat hy eintlik glo!]

4. Geloof en wetenskap: Die vraag bly nou: Wat van die evolusieteorie van die wetenskap en die Bybel? Om dit antwoord wil ek graag aansluit by die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), een van ons kerk se drie belydenisskrifte.

Art.2 van die (NGB) handel oor die “middele waardeur ons God kan ken.” Die eerste deel van die artikel lui soos volg: “Ons ken Hom deur twee middele: Eerstens deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ’n mooi boek waarin Hy alle onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom.1:20).”

Die tweede middel waardeur ons Hom kan ken, is deur sy Woord Daaroor het ons vroeër gehandel. Nou kyk ons kortliks na die eerste middel. Ons glo dat die skepping ons van God bewus maak, soos ’n skildery ons bewus maak van die skilder.

Die wetenskap hou hom besig met die bestudering van alle aspekte van die geskape heelal; van die makrokosmos tot by die mikrokosmos. Soos wat die tegnieke van die wetenskap ontwikkel, word steeds meer en meer van die “mooi boek waarin al die onsigbare dinge van God” opgesluit is, vir ons aan die lig gebring.

Dit beteken nie dat alle wetenskaplikes God se skepperhand daarin erken nie, net soos nie alle mense wat die Bybel lees, tot geloof kom nie. Dit maak egter nie die ontsluiting van die wondere van die skepping, selfs deur ongelowige wetenskaplikes, ongeldig nie. Die genade om God se hand in die skepping te herken, is die werk van die Gees.

Die wetenskapsbeoefening is nie in sigself ’n geloofshandeling nie. Geloof lê buite die veld van die wetenskap. Vir die gelowige is die ontsluiting van die natuur deur die wetenskap ’n wonderlike aanmoediging om saam met die hele skepping oor God se wonders te juig.

5. Die Bybel en die wetenskap in botsing? Omdat die twee “boeke” oor God, die skepping en die Bybel, oor dieselfde Waarheid handel, behoort hulle nie in konflik met mekaar te kom nie. Indien die boodskap teenstrydig is, het dit waarskynlik te make met ons as mense se beperkte insig in die Bybel of die wondere van die natuur. Dit noop ons om telkens weer terug te gaan en ons verstaan van beide te heroorweeg. Dit gebeur voortdurend in beide die teologiese wetenskap en die natuurwetenskappe.

Die konflik wat sommige tans tussen die evolusieteorie en ons verstaan van Gen. 1 & 2 beleef, vra dat ons as gelowiges ons verstaan van die Skrif op die terrein heroorweeg.

Dit is nie die eerste keer dat wetenskaplike bevindinge so ’n heroorweging van die verstaan van die Bybel noodsaak nie. [Die Woord van God moet dus die knie buig voor die sg. “wetenskaplike bevindings” van die evolusiehipotese!? Dr. Smuts het waarskynlik hier in gedagte: die vertolking van data in die oorsprongswetenskap. Hy demonstreer sy eie lae dunk van die Bybel: Gen. 1 en 2 moet dus nie hervertolk word omrede wat in die Bybel staan nie, maar om die sogenaamde wetenskap te akkommodeer. Die wetenskap het in sy oë dus hoër gesag as die Bybel. Nog ’n soldaat in die pens van die Trojaanse perd?]

Die bekendste voorbeeld is waarskynlik die bevindinge van Galileo (1564-1642) oor die aarde se verhouding tot die son. Hy was ’n merkwaardige fiskus, wiskundige, sterrekundige en filosoof. Hy het verneem van die uitvinding van die teleskoop in Nederland, dit nagevors en self ’n verbeterde weergawe gebou. In sy bestudering van die sterre het hy merkwaardige ontdekkings gedoen en uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat die son nie om die aarde wentel nie, maar dat die aarde om die son gaan.

Dit het groot konsternasie veroorsaak omdat geglo is dat dit in stryd met die Bybel is. Tekste wat aangehaal was, is o.a.:

  • Ps.93:1: “Die wêreld staan vas, dit wankel nie” (“The world is firmly established; it can not be moved” (NIV))
  • Ps.103:5: “U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie.” (“He set the earth on its foundations; it can never be moved.” (NIV))
  • Pred.1:5: “Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom.”

Vandag aanvaar feitlik alle Christene die wetenskaplike feit dat die aarde om die son wentel sonder dat dit ons geloof in die betroubaarheid van die Bybel affekteer. Ons aanvaar dat die bg. gedeeltes nie bedoel is om letterlik gelees te word nie, maar dat dit binne die wêreldbeeld van destyds, getuig het van God se beheer oor die heelal.

Dit is jammer dat die skrywers van TP nie rondom Gen. 1-11 tot dieselfde insig kan kom nie.

6. Augustinus gee wyse raad: Die vraag na die letterlike interpretasie van alle dele van die Bybel, is nie nuut nie. [Die TP beweer glad nie dat alles in die Bybel letterlik geïnterpreteer moet word nie. Wat gesê word is dat geskiedenis as geskiedenis gelees moet word, poësie as poësie, gelykenisse as gelykenisse, ens.] Dit is ook nie die gevolg van die aansprake van die moderne wetenskap nie. Dit bestaan vir so lank as wat mense die Skrif bestudeer het. Francis Collins maak in sy boek “The language of God” ’n paar merkwaardige aanhalings van wat die kerkvader Augustinus (354-430 nC.) in die verband geskryf het. Ek haal die Engelse vertaling aan, soos Collins dit gebruik:

Oor die letterlike vertaling van die Bybel: “In matters that are so obscure and far beyond our vision, we find in Holy Scripture passages which can be interpreted in very different ways without prejudice to the faith we received. In such cases, we should not rush in headlong and so firmly take our stand on one side that, if further progress in the search for truth justly undermines this position, we too fall with it.”1

Augustinus het reeds in sy werke oor Genesis twyfel uitgespreek oor die letterlike verstaan van die skepping in sewe dae soos ons dit ken.2[Hierdie stelling is ’n misleidende halwe waarheid: Ja, Augustinus hét sy “twyfel uitgespreek oor die letterlike verstaan van die skepping in sewe dae soos ons dit ken”, MAAR nie (soos per implikasie) dat hy ’n lang tydperk wil voorstaan soos evolusioniste nie. Hy het eintlik ’n korter periode as die sedag-skepping in gedagte gehad soos blyk uit hierdie aanhaling: “He… actually wanted a creation period that was shorter than six earth days, i.e. his allegorization was for instant creation, not eternal.” (kyk Did Darwin Kill God)]

Die volgende lang aanhaling van Augustinus bevat ’n merkwaardige waarskuwing vir ons as gelowiges om nie van ons geloof ’n bespotting vir ongelowiges te maak, deur blindelingse vas te hou van ’n letterlike vertaling van Gen. 1&2 nie: [Ons moet dus die Bybel só glo, vertolk en verkondig dat die ongelowiges ons nie bespot en/of vir ons lag nie? Smuts se (onderstaande) aanhaling uit Augustinus is uiters misleidend en ontoepaslik. Hy wil ons blykbaar laat verstaan dat Augustinus teen skeppingsleerders gewaarsku het. Eerstens het Augustinus mense (dwaalleraars) wat onsin verkondig oor spesifieke Bybelse onderwerpe, (“on these topics”) in die visier gehad – nie mense wat die Bybel geglo en verkondig het soos dit daar geskryf staan nie. Tweedens het Augustinus gladnie in evolusie geglo nie, en het selfs ’n “jong aarde”-standpunt ingeneem. Hy het geglo aan onmiddellike skepping deur God (“instant creation by God”) Om die waarheid te sê: in sy boek “City of God” is een van die hoofstukke getitel “On the mistaken view of history that ascribes many thousands of years to the age of the earth”. Om dus te impliseer dat die onderstaande “waarskuwing” van Augustinus op skeppingsleerders gemik is, is totaal misleidend. Kyk asb. ook Did Darwin Kill God. Dr Smuts stel vir Augustinus só aan die woord:]

“Usually, even a non-Christian knows something about the earth, the heavens, and other elements of this world, about the motion and orbit of the stars and even their size in relative positions, about the predictable eclipses of the sun and the moon, the cycles of the years and the seasons, about the kinds of animals, shrubs, stones and so forth, and this knowledge he holds as to be certain from reason and experience.

“Now it is a disgraceful and dangerous thing of an infidel to hear a Christian, presumably giving the meaning of Holy Scripture, talking nonsense on these topics; and we should take all means to prevent such an embarrassing situation, in which people show a vast ignorance in a Christian and laugh it to scorn.

The shame is not so much that an ignorant individual is derided, but the people outside the household of faith think our sacred writers held such opinions, and, to the great loss of those for whose salvation we toil, the writers of our Scriptures are criticized and rejected as unlearned men. If they find a Christian mistaken in a field which they themselves know well and hear him maintaining his foolish opinions about our books how are they going to believe those books and matters concerning resurrection of the dead, the hope of eternal life, and the kingdom of heaven, when they think their pages are full of falsehoods on the facts they themselves have learned from experience in the light of reason?”3

7. Samevatting: Die skrywers van TP maak ’n ernstige fout om die Bybel as maatstaf te gebruik om die bevindinge van wetenskaplikes mee te beoordeel. Dit is teenstrydig met die doel waarvoor die Bybel aan ons gegee is. Op die manier word ’n onreg gepleeg aan beide die Bybel en die wetenskap. Augustinus se waarskuwing dat ons ’n bespotting kan maak van die Bybel en ons geloof, is ter sake. [Weer: ons het alle agting vir die operasionele wetenskappe en dít wat empiries en sonder twyfel as feite bewys is. Ons beswaar is egter teen die feit dat nie een van die basiese aannames van die evolusiehipotese, soos reeds hierbo genoem, bewys is nie. Verder speel vertolking van data (vanuit ’n voorafingenome aanname/standpunt dat evolusie ’n feit is) in die operasionele wetenskappe die hoofrol. Dit beteken ook dat anti-evolusionistiese wetenskaplikes vanuit die skeppingsleer-standpunt dieselfde data heeltemal anders kan vertolk.]

Samevatting:

Die ywer van TP om die Bybel te beskerm, moet erken word. Ongelukkig is dit duidelik dat hulle verkeerd te werk gaan en in die proses juis die teenoorgestelde bereik. Mense word gedwing om tussen die Bybel en wetenskaplike bevindinge te kies en dit word aangebied as ’n keuse tussen geloof en ongeloof. [Hierdie is totaal onwaar! Soos reeds gesê: Nie ons, of enige ander skeppingsleerders waarvan ons weet, beweer dat hierdie kwessie jou redding bepaal nie. Ons beswaar is teen die evolusiehipotese, nie teen “wetenskaplike bevindinge” nie. Ons glo dat mens nie in die Woord van God kan glo en óók in evolusie nie. Hierdie twee “gelowe” staan lynreg teenoor mekaar – die een maak van die ander ’n leuen. Die evolusiehipotese is niks anders nie as maar net ’n (alternatiewe) geloof.] Die waarskuwing van Augustinus teen die gevaar om die Bybel en ons geloof in die oë van ongelowiges belaglik te maak, is ter sake.

In die subtitel van die boek word verwys na “die kanker van evolusie en liberalisme” in die NG Kerk. Ongelukkig voorsien hulle in hulle “woordelys” aan die begin van die boek, nie ’n verklaring van die begrip “liberalisme” nie. Klaarblyklik bedoel hulle dat alle mense wat van hulle eng letterlike verstaan van die Bybel skuldig is aan liberalisme – selfs in so ’n mate dat predikante wat vir beroep na ’n gemeente oorweeg word, hieraan getoets word.

Teenoor die gewaande kanker van liberalisme is my ervaring van die manier waarop teologie in die NG Kerk beoefen word, verantwoordelik en onder toesig van die kerklike liggame wat daarvoor aangewys is. Dit beteken nie dat daar altyd eenstemmigheid onder teoloë sal wees nie, maar wel ’n gesonde dialoog. Prof. EP Groenewald het dikwels aan ons gesê dat die teologie uit ’n dialoog groei. Die styl van die boek is egter nie ’n uitnodiging tot dialoog nie, maar ’n waarskuwing teen almal wat van hulle eie standpunt verskil.

’n Eerlike beoordeling van die inhoud en styl van die boek oortuig nie dat daar ’n Trojaanse perd in die NG Kerk aanwesig is nie en ook nie dat ’n “kanker van liberalisme” die NG Kerk bedreig nie. Dat “evolusie” ’n vrot appel in die kis” is wat die NG kerk bedreig, is ook nie waar nie.

Daarmee word nie gesê dat alles in die NG Kerk is soos die Here dit wil nie. Die kerk bestaan uit onvolmaakte verloste sondaars, en word bedien deur onvolmaakte predikante en teoloë. Die NG Kerk is wel ’n kerk onderweg onder leiding van die Heilige Gees, in die lig van sy Woord met ’n roeping in die wêreld van vandag vir die mense van vandag.

Laat ons bid vir die NG Kerk en alle ander kerke wat Jesus as Here bely, dat die Koning van die Kerk op aarde, steeds sy Koninkryk deur ons bediening sal laat kom!

Bylae: Algemene opmerkings

Aanvanklik was die onderstaande algemene opmerkings deel van die bg. teks. Ek het egter later geoordeel dat dit die aandag kan weglei van die essensie waaroor dit gaan. Dit beteken egter nie dat hierdie opmerkings nie geldig is nie. Daarom word dit as bylae bygevoeg vir die wat daarin mag belang stel.

1. Begrippe onduidelik: Aan die begin van die boek word ’n aantal begrippe gedefinieer. Ongelukkig is daar belangrike begrippe soos “liberalisme” en “post-modernisme” wat herhaaldelik deur die skrywers gebruik word sonder dat hulle dit vooraf gedefinieer het. By die lees daarvan kry ek die gevoel dat hulle betekenisse daaraan heg wat verskil van myne.

2. Gesag van die Bybel: Die boek konsentreer op die “devaluering van die Bybel” en dat “daar nie gehou word by die Bybel as die absolute norm vir ons geloof nie.” (p.xii) Op p.1 word ook gesê dat “die aftakeling van die gesag van die Skrif is.” Wat tot die boek gelei het. Ongelukkig gee die skrywers nie ’n duidelike uiteensetting van hoe hulle die regte verstaan van die Skrif sien nie. Hulle gee wel talle aanduidings van wat hulle as die verkeerde hantering van die Skrif sien en ’n mens is genoodsaak om daarvan af te lei wat hulle as die regte lees van die Skrif beskou. ’n Duidelike uiteensetting van hulle siening sou die beoordeling van hulle standpunt vergemaklik en groter billikheid daarin verseker.

3. Toeskryf van motiewe: Op verskeie plekke word uiters negatiewe motiewe toegedig aan persone teen wie skrywers reageer. Dit is jammer aangesien dit onbillik is en stry teen die gebod van die liefde. Die volgende is voorbeelde daarvan:

  • Op p.29 word gesê: “Om die teologie van die nuwe Skrifbeskouing of historiese kritiek soos prof. Britz dit noem, aan te hang en nogtans te sê dat jy in die Bybel as die Woord van God glo, is om ’n eierdans met woorde te probeer uitvoer.” (Eie onderstreping) Daarna word gesê dat sulke mense liewer uit die kerk moet bedank. Verder word gesê dat hulle dit nie sal doen nie en die volgende motiewe, wat verseker nie waar is nie, aan die betrokkenes toegeskryf: “En om ’n bestaande kerk oor te neem behoort immers makliker te wees as om ’n nuwe kerk te stig.”
  • Op p.31 word die Algemene Sinode (2002) se verslag oor die gesag van die Skrif so beoordeel: “Alhoewel daar ook geldige opmerkings in die verslag is, is die negatiewe en neerhalende tendens ten opsigte van die Bybel duidelik.” Dit is jammer dat die skrywers nie die verslag as bylae aangeheg het sodat ons as lesers self die slegte beoordeling daarvan kan toets nie. Nou word uiters selektiewe sinsnedes uit die verslag deurgegee met hierdie onbillike karakterisering van die verslag daarby.
  • Op p.34 word oor dieselfde verslag van die Algemene Sinode onder andere gesê: “(in die verslag)…is daar ’n diepe gebrek aan ootmoed en eerbied vir die Bybel as God se onfeilbare Woord …word die soewereine leiding van die Heilige Gees nie eerbiedig nie ….. Onder mooi klinkende woorde word dit wat eintlik in die verslag gebeur verberg …..” (Eie onderstreping)
  • In Hoofstuk 5 handel die skrywers oor hulle siening van die “aanslag op die Woord vanuit die postmodernisme”. Hulle praat oor “onsekerheid” wat volgens hulle kenmerkend van die postmodernisme is. Hulle sê dan: “Ten diepste is dit ’n weiering om te aanvaar en te gehoorsaam wat die Bybel duidelik sê. … Onder voorwendsel dat ek nie kan verstaan wat die Bybel sê nie, weier ek om te gehoorsaam wat God van my vra.” (p.78) (Eie onderstreping)

4. Eie interpretasies en valse beskuldigings: Op verskeie plekke gee die skrywers eie interpretasies van wat persone bedoel en beoordeel dan die interpretasie as dit wat die betrokke persoon eintlik bedoel. In die meeste gevalle sou die persoon wat beoordeel word, waarskynlik nie met hulle toegeskryfde interpretasie saam stem nie. So ’n benadering is onbillik en kan lei tot valse beskuldigings. Die volgende is enkele voorbeelde daarvan:

  • Op bladsye 19-20 word ’n lang aanhaling gegee van wat Prof. Jurie le Roux sou geskryf het (sonder ’n bronverwysing) [bronverwysing is op bl. 18, voetnota 23] en dan sê die skrywer na die aanhaling: “Met ander woorde (hulle interpreteer), volgens Prof. Le Roux is wat in die Bybel oor Abraham geskryf is, maar ’n gebrekkige en gebroke konstruksie indien dit ooit geskiedenis is.” En dan volg ’n volgende eie interpretasie: Hieruit is dit tog duidelik dat sy dunk van die Bybel tog geensins is dat dit Goddelike gesag het nie.” (p.20) Ek twyfel of prof Le Roux met die interpretasie sou saam stem. (Eie onderstrepings)
  • Op bladsye 30-31 word die verslae van die Algemene Sinode oor die gesag van die Skrif behandel en dan volg nog ’n onbillike eie interpretasie wat die Algemene Sinode beslis sal ontken. Dit luit so: “Die opmerkings oor die Bybel wat hierbo aangedui is kom in wese daarop neer dat ons die Bybel nie meer kan vertrou nie.” (p.32) (Eie onderstrepings)
  • Op bladsye 128-131 word ’n artikel van Prof. Julian Muller aan die orde gestel en elke aanhaling word gevolg deur eie interpretasies. Die skrywers verduidelik hierdie werkwyse soos volg: “Omdat ons sy hele redenasie ’n bietjie onduidelik gevind het, het ons sekere verduidelikende voorstelle van hoekom ons dink dat hy redeneer soos hy redeneer, bygevoeg.”(!) (p.128) (Eie onderstrepings) Weer erkende eie interpretasies waarmee die oorspronklike skrywer waarskynlik nie sal saam stem nie. So ’n werkwyse is liefdeloos en onbillik!

5. Wetenskap onder verdenking: Op p.37 word beweer dat die staat die teologiese fakulteite befonds en dat die fakulteite daarom “aan sogenaamde wetenskaplike vereistes moet voldoen en die wetenskap het gewoonlik ’n ongelowige uitkyk.” In die volgende paragraaf meer oor die staat en die teologiese fakulteite. Nou wil ek net die gedeelte wat ek onderstreep het, uitlig. Die tipering dat die wetenskap ’n “ongelowige uitkyk” het, is totaal misplaas. Die gedagte funksioneer ook wanneer evolusie teenoor die Skrif gestel word asof ’n letterlike verstaan van die Skrif die geloofsposisie is en die wetenskap teenoor die geloof staan. Die wetenskap het nie geloof of ongeloof nie. Dit is nie ’n persoon wat kan glo of nie glo nie. Die wetenskap ondersoek verskynsels en poog om dit te verstaan, te verklaar en te benut. Geloof lê op ’n vlak buite die wetenskaplike ondersoek. Talle wetenskaplikes (moontlik selfs die meerderheid) is ook gelowiges en sien die hand van God die Skepper in die natuurverskynsels wat hulle bestudeer. Ander wetenskaplikes gebruik dieselfde wetenskaplike metodiek en kom tot dieselfde bevindinge van hulle onderwerp, maar bly ongelowig. So ’n negatiewe houding teenoor die wetenskap, soos in die bogenoemde aanhaling, is sleg vir ons verantwoordelike omgang met die Here se Woord.

6. Die staat en die aanstelling van teologiese dosente: Op p.47 stel die skrywers die vraag: “Sal die kerk byvoorbeeld oorweeg om haar eie kweekskole, onafhanklik van enige staatsbeheer, tot stand te bring? Uiteraard sal die Kerk dan teologiedosente kan aanstel wat nog staan by gereformeerde Bybelse beginsels.” Die indruk word gewek dat die subsidie wat die staat voorsien, aan hom die reg gee om oor die leerstellige suiwerheid van kandidate wat vir doseerposte oorweeg word, uit te spreek of daarby in te meng. Hierdie indruk is misleidend en strook nie met die waarheid nie. Die staat stel wel vereistes t.o.v. die akademiese kwalifikasies van kandidate, maar die keuring t.o.v. leer en Christelike lewe word deur die Kuratoria van die kerk self gedoen. Dit is jammer dat die skrywers van die boek met sulke opmerkings ons teologiese fakulteite onder verdenking bring.

7. Onwetenskaplike omgaan met statistiek: Op pp.36-37 word beweer dat baie lidmate koers kry na “kerkgenootskappe wat bely dat hulle die Skrif as betroubare Woord van God glo.” Daarna haal hulle ’n verslag van Ds. Kobus Schoeman aan om aan te toon hoe die lidmaattal van die NG Kerk van 1981 tot 2006 gedaal het. Direk daarna gaan hulle voort met hulle interpretasie van die syfers as hulle sê: “Een van die redes vir die opsegging van lidmaatskap van die NG Kerk is ongetwyfeld die prysgawe van geloof in die Bybel as die Woord van God (p.37) “….

Daar is geen wetenskaplike gronde vir die bewering nie. Ds Schoeman se bevinding oor lidmaattalle in die NG Kerk (Kerkspieël 2006), wat die skrywers van TP kies om nie te noem nie, is soos volg: “Dat …1) die totale lidmaattal die afgelope 10 jaar stabiel bly, 2) die kerk ten spyte van emigrasie stabiel gebly het (belangrik!), 3) die kerk verouder (interessant: die bo-60-jariges is nou byna gelyk aan die onder-16-jariges! Terloops: in 1981 was ⅓ doop en ⅔ belydend, en in 2006 was ¼ doop en ¾ belydend) en 4) denominasionele verskuiwings weglaatbaar klein is, maar dat gemeentelike migrasie in 6 jaar verdubbel het van 2000 af. Die goeie nuus is dus dat ons eintlik baie beter gedoen het as wat die rapporte oor ons was, maar dat dit wil lyk asof ’n verbruikerskultuur besig is om te begin posvat.”4 (Eie onderstreping)

Voetnotas

1. Collins, Francis: “The Language of God”, p.83
2. Ibid 151
3. Ibid 156-157
4. http://www.gemeentes.co.za/webbladsye/kerkspieel.html

1 Kor. 1:21: Dit was die bedoeling van God in Sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. V.25: Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense…

1 Jn 3:13 Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.

Mat 5:11 Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.

Gal 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui