Kyk ook:
- Wie is Sybrand Strauss?
- God? Geloof in ’n postmoderne tyd
- Wie is Ben du Toit?
- God: Is daar ’n ander antwoord? (Ben du Toit, 30 Oktober 2020)
Die volgende resensie oor Ben du Toit se boek, God? Geloof in ’n postmoderne tyd is geskryf deur Sybrand Strauss in 2001.
(Dit is oorgetik van ’n baie swak kopie, daarom is daar sommige woorde wat verlore gegaan het. Woorde in rooi is geraai, omdat dit nie mooi gelees kon word nie.)
*******
Hierdie boek gaan uit van die sentrale stelling dat “die mens onwillekeurig ten opsigte van sy/haar wêreld- en lewensbeskouing beïnvloed word deur die tydgees van die tydperk waarbinne hy/sy leef” (letterlik so gestel in die inleiding). Ons huidige tydgees word nader beskryf as die postmoderne tyd. Die eerste hoofstuk word dan gewy aan ’n verduidelikig van die kernmerke van die postmoderne tydperk, in onderskeiding van die voorafgaande premoderne en moderne tydvakke. Die hele paradigmaverskuiwing wat in ons tyd plaasvind, word raak omskryf. Die tweede hoofstuk handel oor die Bybel; sy aard, status en funksionering in die postmoderne tyd. Die volgende paar hoofstukke word sterk trinitaries ingedeel. Hierdie hoofstukke behandel agtereenvolgens God (en die duiwel). Jesus (en die sonde) en die Heilige Gees (en die kerk). Die bedoeling is om, soos die skrywer self sê, op ’n eksperimentele manier die resultate van die wetenskaplike ontwikkelings tot by die postmoderne tyd deur te dink. Hy erken self dat hy veralgemenend te werk gaan sonder om streng akademies rekenskap van elke punt te gee. Hy skryf met persoonlike passie omdat hy één punt wil maak dat ons die positiewe elemente in die postmoderne benadering moet raaksien en benut. Sodoende, meen hy, moet ons kom tot ’n herdefiniëring van ’n geloof in die God van Jesus van Nasaret, in die lig van die postmoderne tydgees.
Du Toit se boek moet ongetwyfeld gelees word. Almal van ons behoort aan onsself rekenskap te gee van hoe ons ons gereformeerder oortuiging in ’n tyd soos hierdie moet uitleef. Of Du Toit egter altyd die regte koers aandui, kan bevraagteken word. Omdat hy self uitnooi tot gesprek, wys ek graag op enkele belangrike punte wat na my mening ook anders gestel kan behoort te word.
Die redusering van die hele geskiedeins tot drie tydvakke, naamlik premodern, modern en postmodern, is ’n oorvereenvoudigde skema. Dit word veral duidelik as dieselfde driedeling ook voorwetenskaplik, wetenskaplik en nawetenskaplik genoem word. Hoekom moet ons ’n enkele, en dan nog moderne, definisie van “wetenskap” vir ons rekening aanvaar en as indelingsbeginsel gebruik? Was alles wat oor ongeveer die16de eeu (die opkoms van modernisme) gebeur het, dan onwetenskaplik? Het die Grieke en Romeine dan in hulle naïwiteit geen wetenskap ooit bedryf nie? Anders gesê: Is alles wat ná 1600 gebeur het “modern”, in die negatiewe sin van die woord? Moet ons Heidelbergse Katergismus, met sy vrae en antwoorde en “logiese leer” (p 36), dus ook as “modernisties” afgemaak word?
Dat daar sekere herkenbare tendense in ons postmoderne tyd sigbaar word, is ongetwyfeld waar. Maar ons moet versigtig wees om nie alles onder een noemer in te dwing nie.
Die gebruik van die begrip lewens- en wêreldbeskouing in die boek is uiters problematies. Volgens die skrywer word ’n mens se lewens en wêreldbeskouing so geheel en al deur die tydgees bepaal, dat elke verandering van tydgees noodwendig tot ’n herinterpretasie van lewens- en wêreldbeskouing moet lei. Omdat die Bybel vanuit ’n premoderne opvatting geskryf is, sal ons deesdae, in ’n postmoderne tyd, die Bybelse boodskap moet herinterpreteer om dit enigsins vir ons sin te laat maak.
Myns insiens moet ons ’n duideliker onderskeid tref tussen ’n wêreldbeskouing aan die een kant en, aan die ander kant, wat genoem kan word ’n wêreldbeeld. Waar eersgenoemde met die diepste onveranderlike lewensoortuigings te make het, gaan dit in laasgenoemde oor tydgebonde opvattings soos dat die aarde plat of rond is, dat alle siektes van die duiwel af kom, en so meer. Ons wêreldbeskouing word primêr gevorm deur geopenbaarde waarhede wat die kerk in alle eeue en alle tydvakke, ten spyte van die een of ander gangbare wêreldbeeld, as gelóóf bely. Daarom hoef ons nie ons wêreldbeskouing by elke wisselende wêreldbeeld aan te pas nie.
…
Nêrens beveg hy die humanistiese Skrifkritiek van die modernisme nie. Al waarteen hy hom verset is wat hy noem “fundamentalisme” en “biblisisme”. Natuurlik moet dié naïewe Skrifgebruik afgewys word, maar nie alle erkenning van die Goddelike inspirasie van die Skrif is tog “premodern” nie.
Die postmoderne herdefiënering van God wat voorgestel word, is hoogs aanvegbaar. Om God as die “Bron van energie” aan te dui, waarin die mens ná die dood “as onvernietigbare wese op die een of ander manier opgeneem word”, lyk darem gevaarlik na ’n panteïstiese beskouing. Ook, die soeke na “God beyond God” (p 114 ev) in ’n poging om absolute kennis van God te verkry, laat ’n mens met baie vraagtekens. Die probleem is dat God se “wese” dan iets anders as openbaring kan wees. En dit is tog teenstrydig met ons gereformeerde uitgangspunt dat God betroubaar en kenbaar is in sy Selfopenbaring. Maar die hele begrip “openbaring” is klaarblyklik vir die outeur met soveel premoderne opvattings besmet, dat hy dit deurgaans sorgvuldig …
Kenmerkene modernistiese afwysings van die erkende gereformeerde leer kom in Du Toit se postmoderne herinterpretering van die Bybelse boodskap na vore. Ek noem in hierdie verband sy opvallende afwysing van die maagdelike geboorte van Jesus (p 136 ev) en sy ontkenning van die persoonlike bestaan van die duiwel (p 124 ev). Op hierdie punte het sy waardering vir die postmoderne tydgees hom dus nog nie oor die moderne bevraagtekening van belydeniswaarhede gehelp nie. Watter waarborg kan hy ons dan bied dat dit wat hy herhaaldelik die kernwaarheid in die Christelike boodskap noem naamlik die offerdood van Jesus ter wille van ons sonde (…) gehandhaaf sal bly? Is hy intellektueel eerlik as hy nie ook die tradisionele Christelike versoeningsleer aan moderne kritiek en postmoderne herinterpretasie onderwerp nie? Hy verskaf byvoorbeeld nêrens sy redes waarom hy mense soos Kuitert en Den Heyer se kritiek nie ernstig neem nie.
Die inklusiewe benadering van verskillende spiritualiteite (p 168 ev) is wel interessant nog verwarrend. Moet dit ons ideaal wees om soveel moontlik van die verskillende benaderings by te voeg om die waarheid te ontdek? Wat is die plek van ’n gereformeerde spiritualiteit … Waarom word so iets glad nie eers genoem nie?
Ten slotte moet gesê word dat die redaksionele versorging van die boek nie na wense is nie. Te veel druk- en spelfoute kom voor. Voorbeelde hiervan is:
…
…
…
Te lang, ongemaklike sinne: bladsy 23, laaste paragraaf, eerste sin; bladsy 49, voorlaaste paragraaf, eerste sin; bladsy 171, laaste paragraaf, slegs een sin.
Gebruik van Engels: Die volgende skrywers het nie in Engels gepubliseer nie. Hier word hulle publikasies met Engelse titels aangedui: Kant (p 26); Galileo (p33); Thomas (p 93); Barth (p 95). Op bladsy 130 word “African-American” sonder aanhalingstekens gebruik.
Soms kom daar moeilik verstaanbare formulerings voor wat hier en daar selfs lei tot teenstrydige uitsprake. Aangesien die outeur self sê dat die laaste woord oor sy tema nog nie gespreek is nie, kan hy en sy uitgewer gerus by die volgende uitgawe dié sake regstel.
Prof SA Strauss
Universiteit van die Oranje-Vrystaat.