Kyk ook: |
Hier is ’n taamlik verteenwoordigende voorstelling van die uitverkiesingskant en die mens-moet-reageer-kant van redding:
Alle mense is op hul eie besig om te verdrink, maar:
- God staan op die boot en trek sekere mense uit die water uit al wil niemand uitgetrek word nie.
- God steek Sy hand uit na almal en trek dies uit wat Sy hand vat.
Lees nou onderstaande en besluit of opsie 1 of 2 die beste pas, en watter woorde mens teenoor ongelowiges mag gebruik. Die saak van watter woorde gebruik mag word is belangrik, want dit het alles te doen met die praktiese verkondiging van die evangelie.
Rom 3:1 Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis?
Rom 3:2 Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is.
Rom 3:3 Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig?
Rom 3:4 Nee, stellig nie! Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig, soos geskrywe is: Sodat U geregverdig kan word in u woorde en oorwin as U gerig hou.
Rom 3:5 Maar as ons ongeregtigheid die geregtigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God wat die toorn oor ons bring, dan nie onregverdig nie? Ek spreek menslikerwys.
Rom 3:6 Nee, stellig nie! Want hoe sal God anders die wêreld oordeel?
Rom 3:7 Maar as die waarheid van God deur my leuen oorvloediger geword het tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel?
Rom 3:8 En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig.
Rom 3:9 Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is,
Rom 3:10 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.
Rom 3:11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.
Rom 3:12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.
Rom 3:13 Hulle keel is ’n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe.
Rom 3:14 Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.
Rom 3:15 Haastig is hulle voete om bloed te vergiet.
Rom 3:16-17 Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie.
Rom 3:18 Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.
Rom 3:19-20 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Rom 3:21-24 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
Rom 3:25-26 Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.
Rom 3:27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.
Rom 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
Rom 3:29-30 Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene, aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.
Rom 3:31 Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.
Die vraag is hoe moet dit verstaan word.
Rom 3 wys dat gemeet aan God se standaarde alle mense hopeloos faal, geen goed kan doen nie, net booshede bedink ens.
Ons weet tog dat ongeredde mense ook soms goeie dinge doen.
Maar dit sal nooit goed genoeg wees om aan God se vereistes te voldoen nie.
Dit is wat Rom 3 vir ons uitspel.
Geloof in Christus is nodig.
“Soek, en jy sal vind” het Jesus gesê vir sy dissipels, en een van hulle was Judas Iskariot (Mat 7:7-8).
Daarom mag ons sekerlik vir ongelowiges, of hulle tot redding gaan kom of nie, sê dat hulle tot bekering moet kom, God moet soek, Christus in geloof moet aanneem, ensovoorts.
Ek sê nie dat enigiemand dit sonder God sal regkry nie, maar dit kan vir almal gesê word want Hy het verklaar dat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie:
Eze 18:30 Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here HERE. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie ’n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie.
Eze 18:31 Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel?
Eze 18:32 Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.
Mat 18:14 So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.
Luk 19:10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.
2Pe 3:9 Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
Sommer naby aan Rom 3 is die volgende.
Let daarop dat die mens wat in vers 4 van gesê word dat God hom tot bekering wil lei, in vers 5 gesê word dat hy vir hom toorn vergader in die oordeelsdag.
God steek dus ook Sy hand uit na diegene wat nie gered gaan word nie.
Rom 2:4 Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?
Rom 2:5-6 Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ’n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke:
Rom 2:7 aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek die ewige lewe;
Rom 2:8 maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is grimmigheid en toorn;
Rom 2:9 verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek;
Rom 2:10 maar heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen, vir die Jood eerste en ook vir die Griek.
Rom 2:11 Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.
’n Nog sterker voorstelling van God wat Sy hand na almal uitsteek is in 2 Kor 5.
Let op die woorde “almal” en “wêreld”.
2Co 5:14-15 Want die liefde van Christus dring ons, omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe (’n gedeelte van die “almal”, “almal” gaan dus oor uitverkorenes en nie-uitverkorenes), nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.
2Co 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
2Co 5:18-19 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het (Grieks: wedersydse versoening) deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening (Grieks: versoening) gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het (Grieks: wedersydse versoening) deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening (Grieks: versoening) aan ons toe te vertrou.
2Co 5:20 Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen (Grieks: wedersydse versoening).
2Co 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
(Wedersydse versoening dui na my mening op God en die mens se rol in die versoening: Jesus het vir almal se sondes gesterf en die mens moet dit saam met ’n sondebesef in geloof aanneem. Versoening word vir almal aangebied, maar redding gebeur nie vir almal nie – daarom die gebed of “smeking” (Nuwe Vertaling) tot die mens in vers 20.
Die bekende Joh 3:16 verklaar dieselfde:
Joh 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Joh 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
God het die wêreld so lief gehad (met ander woorde vir almal so lief gehad), dat Hy sy Seun gegee het, en die doel was om die wêreld te red (dus vir almal te red). Maar natuurlik slegs diegene wat in Hom glo, sal gered word — daarom die kwalifisering in vers 16.