RSG: Die gesag van heilige boeke soos die Bybel en die Koran

Kyk ook:

Op Sondag 16 Junie 2019 het Jean Oosthuizen met Peter Nagel en Farid Esack gesels oor die gesag van die heilige boeke soos die Bybel en die Koran. Dit is op die radiostasie RSG uitgesaai.

Uit ’n ander hoek, 16 Junie 2019

Sondag 16 Junie 2019

Hoe moet ons die heilige boeke soos die Bybel en die Koran vandag lees en is alles wat daarin staan waar en onfeilbaar? Jean Oosthuizen gesels met prof Farid Esack, ʼn professor in godsdiensstudies verbonde aan die Universiteit Johannesburg en doktor Peter Nagel, Senior Lektor: Ou en Nuwe Testament by die Universiteit Stellenbosch, oor Skrifgesag.

Kliek hier om  te luister.

Ek het slegs die grootste gedeelte getranskribeer van wat Peter Nagel gesê het om uit te lig wat sy teologiese siening is hieroor. Kyk my kommentaar tussenin die teks en ook my slotopmerkings aan die einde.

Uittreksels uit gesprek

Jean: (2:57) Peter, die woord “skrifgesag”: wat beteken dit vir jou uit ’n geloofsoogpunt? Hoe sou jy dit opsom?

Peter: (3:04) Dit is literatuur, in die eerste instansie. Hoekom dit gesaghebbend beskou word sou ek aanneem dat dit in ’n mate te doen het met ’n godheid en ’n godheid wat hom of haarself in so ’n stuk literatuur openbaar. So skrifgesag word toegeskryf. Ek glo nie dat literatuur opsigself gesag dra nie. Gesag word aan so ’n stuk literatuur gegee. Ek dink dit is vir my tweeledig: Een, dit is dat ’n godheid in so ’n teks sigbaar is en van gelees word, en twee, dat die teks waarbinne so ’n godheid gelees word oor ’n tydperk deur die mense wat dit lees, as dit aanvaar word, as dit waarde het, dan word dit gesaghebbend.

Jean: (5:48) Peter, het elke geloof se teks net vir hom gesag? Kan ’n mens sê een geloof se teks het meer gesag as ’n ander geloof s’n? Of hang dit af van jou spesieke geloof?

Peter: (6:00) Ek dink tog dit hang af van jou spesifieke geloof. Die gesag van ’n sekere stuk literatuur word, na my mening, bepaal deur diegene wat daardie teks lees en vir wie daardie teks waardevol is, sinvol is, betekenisvol is, en daarom word daar gesag aan geheg. En dit is tog so dat dit ook gesag kan hê. Ek is absoluut daarmee eens, omdat daar gemeen word dat ’n godheid so ’n medium, so ’n stuk literatuur gebruik, om hom of haarself te openbaar. [Kommentaar: Let op dat dit die tweede keer is dat Peter nie God se geslag as manlik aanvaar nie, ten spyte daarvan die God Homself as manlik openbaar. Kyk Die Bybel oor God se geslag. Ook praat hy deurentyd van “’n godheid”. Hoekom nie van “God”  nie? Is God in die Bybel vir hom maar net nog ’n godheid? Het hy nie die sekerheid om die godheid in die Bybel “God”, “dié God” te noem nie?] Vanuit my posisie wil ek sê dit kom meer van onder as van bo. [Kommentaar: Met ander woorde, die leser bepaal die gesag van die teks, nie die teks of die outeur nie.] Ek kan nie sê dat een stuk literatuur belangriker of meer gesaghebbend is as ’n ander stuk literatuur nie. Dit word vir my bepaal deur die leser wat daardie gesag aan daardie literatuur toedig. [Kommentaar: Dit is gedeeltelik waar. Dit is egter algemeen dat die skrywer van teks ook in gedagte gehou word wanneer bepaal word of ’n stuk teks gesaghebbend is of nie. Die werk van ’n wel bekende historikus, wat homself al bewys het, gaan baie meer gesaghebbend wees as die werk van iemand totaal onbekend, veral as die onbekende outeur se teks teenstrydig is met die bekende, gevestigde historikus se teks.]

Jean: (8:30) Peter, kom die woord wat in die Bybel staan direk van God af?

Peter: (8:46) Na my mening dink ek daar is genoeg manuskripdata en navorsing wat wys dat hier ’n proses aan die gang is, en ek wil dit so positief as moontlik stel: die menslike kontaminering van die tekste, is duidelik sigbaar. [Kommentaar: Hy skep ’n uiters vals indruk. Die Bybel is amptelik die mees betroubaarste antieke manuskrip ter wêreld. Daniel Wallace gebruik die term “embarrassment of riches” om ’n aanduiding te gee van die oorvloed antieke manuskripte wat ons tot ons beskikking het. Kyk byvoorbeeld How Many Bible Manuscripts? (Youtube). Dit is so dat daar variasies tussen die verskillende manuskripte is, maar geleerdes is dit almal eens dat by verre die grootste gedeelte van hierdie variasies (volgens Daniel Wallace is dit 99.8%) gering is, soos byvoorbeeld verskillende spelling. Die res van die variasies (0.2%) beïnvloed geen sentrale Christelike doktrine nie. Kyk byvoorbeeld Are There Any Major New Testament Text Variants? en How can you trust the New Testament when the original manuscripts are different?. Wanneer aan ’n nuwe Bybelvertaling gewerk word, word die codex’e gebruik wat 300 nC dateer (kyk Geskiedenis van die Bybel), dus is die Bybel van vandag nie ’n vertaling van ’n vertaling van ’n vertaling nie en het die Bybel nie oor die jare heen verander nie.] Maar dit is ook goed so omdat mense die teks lees en dat mense met ander mense wat die teks skryf en lees en weer herlees en interpreteer. Dit is ’n aanhoudende lees en herlees van teks deur mense. En ek dink dit is vir my die sleutel: dat mense aanhoudend die teks lees en dit probeer verstaan. Dit behoort die karakter te bepaal. En dan is dit ook natuurlik ’n baie spesifieke boek. Dit is ’n boek van mense in ’n verhouding met ’n godheid. Maar ek dink die identifisering van binne daardie teks is natuurlik mense en mense wat daardie skryf en mense wat daardie lees.

Jean: (10:08) Moderne mense leef tog in ’n milieu van kennis en wetenskap en tegnologie en ons word ook toenemend daarvan bewus dat die Bybel en die Koran nie net boeke vol feite is nie, maar dat dit ook fabels en mites en oorgelewerde verhale behels. Hoe raak die kennis waaroor ons vandag beskik dan die gesag van hierdie heilige geskrifte?

[Kommentaar: Ek is nie verbaas oor Jean se stelling nie. Hy spot baie met die pratende slang in Genesis. Die dinge waarna hy in die Bybel verwys as fabels en mites is nie fabels en mites nie. Dit was nie die bedoeling van die Bybelskrywer nie.]

Peter: (12:35) Ek sou lesers van die teks aanmoedig dat ek dink die tyd is nou reg om die Bybel nie noodwendig as heilig te beskryf nie. Die tyd is reg om die Bybel nie as absoluut gesaghebbend en onfeilbaar te beskryf nie. Ek dink die tyd is nou reg om te sê die Bybel is feilbaar en dat die Bybel nie ’n heilige teks is nie en dat ons daarmee in gesprek kan tree met ander wetenskappe. [Kommentaar: Goed Peter. Het jy vir ons enige riglyne oor watter dele in die Bybel ons wel ernstig moet opneem? Nee, jy het nie, want dit is die probleem as jy dinge in die Bybel wil afmaak as feilbaar. Dan staan die deur wawyd oop om die gesag van die hele Bybel te bevraagteken. Dan skep jy vir jou jou eie wêreldbeeld wat toevallig op plekke met die Bybel ooreenstem.] Kyk, want heilig maak dit baie eksklusief. Dit word amper verhef tot ’n godheid. Dit raak eksklusief, want die een wat toegang het en dit kan lees bepaal en maak dat dit heilig en gesaghebbend is. Dit is natuurlik die een wat die mag in die hand het. Maar as ons vir mekaar sê: hier is ’n stuk literatuur wat vir baie mense baie dinge kan beteken, dan dink ek maak dit dit oop om met ’n klomp wetenskappe in gesprek te tree. Dan raak die lesers van die Bybel spesifiek ook gespreksgenote met natuurwetenskap, met kosmologie, met astrofisika, ensovoorts. [Kommentaar: Watter natuurwetenskap sou dit wees? Waarskynlik evolusie en dat jy kwansuis gay gebore word en nie kan verander nie. En die kosmologie het mos kwansuis bewys dat die heelal miljoene jare oud is. Daarom kan die Bybel mos nie reg wees nie.] En daarmee saam maak jy die gesprek oop oor geloofsrealiteite heen: Christene met Moslems en Moslems met Jode. Dit gee net vir my meer ruimte: die wetenskap help ons om te erken ons het hier te doen met ’n werklikheid wat ons almal net probeer verstaan en baie probeer dit te verstaan in terme van ’n godheid, die Christen, die Moslem en die Jood, wat dit doen in terme van ’n teks. Dit moet ons help om beter met mekaar in gesprek te tree. [Kommentaar: Wat werklik gebeur is dat Peter en kie maar bloot die Bybel probeer buig en aanpas by die sogenaamde wetenskap.]

Jean: (14:13) Die probleem met enige heilige boek is: watter deel van ’n boek word dan as onfeilbaar beskou? In die Bybel is daar verskeie voorskrifte wat nie meer vandag toegepas word nie.  Ek dink aan goed soos vroueregte in die Bybelse tyd, slawerny en ’n hele lys ander goed. Is gelowiges nie maar besig om almal hulle eie heilige geskrifte op ’n sekere manier te lees en toe te pas en gesag daaraan toe te voeg nie?

[Kommentaar: Kyk Vrouens en Hoede en Die Bybel oor slawe.]

Peter: (14:40) Jean, ek wil met jou saamstem. Na die reformasie is dit eintlik onmoontlik om, na my mening, te praat van die Woord van God. Jy kan eintlik praat van die vertalings van sekere tekste. Ons moet die feilbaarheid van die Bybelteks absoluut omarm, want dit strook so met ons eie realiteit. Dit is asof die byvoeglike naamwoorde, soos heilig en ander wat aan die Bybelteks toegeskryf word, veroorsaak dat die teks ver is. Maar die [onduidelik] is om te sê: hoor hierso, ek het dit heeltemal verkeerd gehad. Dit wys op ’n eerlike, opregte benadering tot die lewe in terme van ’n godheid. Dit wil ek herhaal: dit is natuurlik in terme van ’n godheid. En dan moet ons sê dat hulle dit verkeerd gehad het. [Onduidelik] het dit nie raakgevat nie. Paulus het probeer, maar ek dink hy het die pot mis gesit. [Kommentaar: Dit is ’n uiters arrogante stelling. Waaroor het Paulus die pot misgesit? Onthou dat Paulus ’n tydgenoot van Jesus was. Dit lyk nie of hy Jesus persoonlik geken of selfs ontmoet het nie, maar hy het die dissipels geken wat vir jare saam met Jesus gewandel het. Om nou, 2000 jaar na die tyd te sê Paulus het die pot mis gesit, is belaglik. Tensy Peter dalk glo dat Jesus sélf die pot mis gesit het…] Of wie ookal.

Jean: (18:06) Julle verwys nou na die teks as literatuur. Iemand het eenkeer gesê die Bybel in die hand van ’n fundamentalis is net so gevaarlik soos ’n geweer in die hand van ’n terroris. Dit kan vir die Koran ook geld. Stem julle saam?

Peter: (18:28) Jean, ek dink die geskiedenis het dit vir ons gewys dat die antwoord in kort, definitief “ja” is. [Kommentaar: Ja? Vertel meer? Hoekom sê jy nie waar die geskiedenis dit gewys het nie? Was dit die kruistogte? Die kruistogte was die enigste gebeurtenis en dan sal elke Christen vir jou sê dat die kruistogte nie uit die Bybel regverdig kon word nie. Dit is so goed jy kritiseer die Bybel oor apartheid wat daaruit regverdig was. Die probleem lê nie by die Bybel en ’n fundamentalistiese interpretasie daarvan nie. Dit probleem lê by mense wat die Bybel “interpreteer” soos dit hulle pas. Net soos Peter self doen.] Ek sou die lesers van die Bybel aanmoedig om hierdie teks te lees as ’n teks wat ’n lang geskiedenis het. ’n Teks wat in Hebreeus gestalte gekry het. ’n Teks wat Grieks vertaal is. ’n Teks wat weer geproduseer is in Grieks. Dit is ’n teks wat oor baie eeue heen vorm gekry het en mense het hierdie literatuur gekontamineer. En ons moet eerlik wees daaroor. En ons moet dit aangryp. Ons moenie daarvan wegskram nie. Dit gaan ons help. [Kommentaar: Weereens ’n aanval op die Bybel met die kontaminasie-argument. Dit is net bloot nie waar nie. Gesaghebbende(!) historiese kenners is dit eens dat die Bybel baie goed bewaar gebly het.]

Jean: (21:42) Peter, jy het daarna verwys dat ons miskien minder moet konsentreer op die Bybel se onfeilbaarheid. Ons moenie noodwendig sê dat die Bybel onfeilbaar is nie en dat daar teenstrydighede in die Bybel is en dat mens nie sommer kan sê alles wat daarin is, is waar nie. Word gewone lidmate genoeg geskool daarin?  Want die gewone lidmaat leer dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is en dan dit hulle alles wat daarin staan is noodwendig letterlik waar.

Peter: (22:06) Jean, ek dink jy maak ’n baie goeie punt. Ek wil net voor ek daarop reageer sê dat konteks vir die leser of hy nou ’n antieke of moderne of postmoderne leser of die skrywer is, is uiters belangrik. Om terug te kom na jou vraag: Jean, die antwoord in kort is vir my “nee”. [Kommentaar: Wees dus verseker dat hy die teologiese studente wat sy klasse bywoon baie mooi sal skool in die feit dat die Bybel uiters feilbaar is.] Die deursnit leser is nog vasgevang in ’n modus van: “God sit agter daardie woorde wat ek daar lees.” Dit is eintlik irrelevant wat die inhoud van daardie woorde is. Die feit dat ’n godheid op een of ander manier, hoe mens ook die inspirasie wil verstaan, dat God agter hierdie woorde sit. Daarom moet dit (1) waar wees, (2) daarom moet dit in die samelewing vandag geldig wees. Jy kan dit nie bevraagteken nie. Ongelukkig word gemeentelede daarmee in stand gehou. As ek met alle respek kan sê: mens kan verstaan dat jy nie op tone wil trap nie. Dit is gemeentelede, daar is ’n klomp repurkussies, maar ek dink die tyd, na my mening, is reg dat ons die lesers van die teks voorberei dat hierdie letters op ’n stuk papier meer waarde inhou, vryheid kan bring, as ons dit lees binne die konteks en dat elke woord of die inhoud daarvan nie noodwendig oral, altyd aan ’n godheid toegeskryf hoef te word nie en daarom nie absoluut waar en absoluut gesaghebbend is en ook nie heilig is nie. [Kommentaar: Jean het vroeër gevra watter deel van ’n boek word dan as onfeilbaar beskou {en watter deel nie}? Peter het nooit daardie vraag geantwoord nie. Ek wil ook weet hoe Peter daaroor dink.]

Jean: (24:40) Peter, ten slotte. Uiteindelik is die vraag of daar dan werklik net een pad na die hemel of hiernamaals is. Moet gelowiges nie leer om meer verdraagsaam te wees teenoor ander gelowe nie? Wat is jou siening hieroor?

Peter: Jean, in kort: As ek ’n broer of ’n suster kan ontmoet, ongeag die geloof, en dit gaan beteken dat ek vir ’n ruk my Bybel in ’n rak moet los, dan doen ek dit. As dit beteken dat my broer ’n Moslem, Jood of wieookal, seergekry het, swaarkry, en dit gaan beteken dat ek nou vir eers daardie teks op my bedkas moet agterlaat sodat dit stof moet opgaar, dan doen ek dit.

[Kommentaar: Peter het gepraat van konteks: In ’n sekere konteks sal ek my half kan vereenselwig met hierdie stelling, maar die konteks waarin hy hierdie gesê het, wys uit en uit dat hy sy rug op die Evangelie gedraai het. Hy is ’n universalis. Die feit dat hy die Bybelse aanspreekvorm “broer” en “suster” ook vir ongelowiges gebruik bevestig sy universalisme. Daarmee verbreek hy sy legitimasie-eed en as hy sy integriteit wil behou moet hy uit die NG Kerk bedank.]

Slotopmerkings

Wat Peter sê oor die gesag van teks in die algemeen is tot ’n groot mate waar. Christene aanvaar egter die gesag van die Bybel vir baie goeie rede. Die Bybel is een van die mees betroubaarste antieke manuskripte ter wêreld. Peter se taak as dosent in teologie is om dit te wys en studente daarin op te lei om met sekerheid die Evangelie uit te dra. Die idee wat ’n mens egter kry is dat hy presies die teenoorgestelde ten doel het. Dit is om twyfel te saai oor die gesag van die Bybel.

Wanneer die gesag van die Bybel bevraagteken word is die gevolg dat niks meer seker is nie. Dit is natuurlik presies wat postmodernisme is. Hoe bepaal mens wat in die Bybel gesag dra en wat nie? Wat moet ons opinie wees oor:

  • Sondeval
  • Wêreldwye vloed van Noag
  • Israeliete se trek deur die Rooisee
  • Bestaan van historiese figure soos Abraham, Dawid en Salomo
  • Bybelse profesieë
  • Jesus se maagdelike geboorte
  • Jesus se godheid en wonderwerke
  • Jesus se opstanding
  • Hemel en hel
  • Die bestaan van die duiwel
  • Wederkoms

En wat van morele waardes:

  • Aborsie
  • Genadedood
  • Geassesteerde selfmoord
  • Pedofilie
  • Bestialiteit
  • Egskeiding
  • Selfs moord en diefstal

En hoekom? En is dit enigsins belangrik? (Kyk ook Skrifgesag.)

’n Maand en ’n half terug (op 5 Mei 2019) het Jean gesels met Louis Jonker (kyk RSG: Kan Moslems en Christene saam bid?) waarin dit glad nie duidelik is of hy glo dat slegs Christene gered kan word nie. En hierdie twee is nie die enigste teoloë by Stellenbosch (en die ander twee teologiese fakulteite ook) met twyfelagtige teologiese sieninge nie.

In Fanie Snyman moeg vir verdagmakery sê Snyman na aanleiding van die feit dat Moreletaparkgemeente uit die NG Kerk wil tree, dat lidmate moet ophou met verdagmakery en met individue self en ook met die kuratoriums moet praat. Hierdie gesprek met Peter Nagel is maar net weereens ’n bewys dat sulke gesprekke niks sal help nie. Die kuratorium van Stellenbosch is heeltemal bewus van Peter se opinies, maar hy is vry om dit openlik te erken omdat hy weet dat daar nie teen hom opgetree sal word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui