Kyk ook:
Dit is nou hoe Jean Oosthuizen, gewese nuusredakteur van die NG Kerk se koerant, die Kerkbode, praat.
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Jean Oosthuizen | RSG druk die Bybel in ons kele af | Netwerk24
Jean Oosthuizen
7 Januarie 2024
Dit lyk of RSG sy rol as openbare uitsaaier versaak deur al hoe meer soos ’n Christelike sender te klink, skryf Jean Oosthuizen.
Luister mens deesdae na die openbare uitsaaier se Afrikaanse radiostasie, RSG, en lees Afrikaanse hoofstroomkoerante se geestelike rubrieke wemel dit al hoe meer van pienkboekie-teologie.
Dit klink kompleet na Radiokansel op steroïede of ’n herdruk van oorlede oom Solly Ozrovech se boekies.
Die land se grootste meningsvormers doen lustig mee aan die geestelike verdomming van die samelewing. Daar word skaamteloos weggeskram van die oop gesprek waarvoor die groot Afrikaanse denker N.P. van Wyk Louw hom beywer het.
Fundamentalistiese godsdiensoordenkings of Christelike programme soos Binnekamer, Geloof wat grondvat en Dis gospel weerklink van vroeg tot laat oor die eter, maar bied weinig stof tot nadenke vir kritiese luisteraars. Selfs wanneer daar boeke oor geestelike onderwerpe bespreek word, val die klem uitsluitlik op Christelike boeke en skrywers.
Gewone programme soggens soos Intussen met Eloise ontaard al hoe meer in ’n platform waar deelnemers hul Christelike geloofsiening ongevraagd uitbasuin of dit die enigste waarheid is.
Moslem-luisteraars kry darem Vrydagoggende met hanekraai ’n vyf-minute-krummeltjie met Ikra. Donderdagaande is daar ’n ietwat langer blootstelling aan die Moslem-geloof met Islam in fokus.
Albei hierdie programme is net so eng en eensydig soos die stasie se Christelike programme.
Progressiewe Moslem-denkers soos Farid Esack, wat die diskoers oor hedendaagse Islamitiese denke herdefinieer, se stem word glad nie meer gehoor sedert Lynette Francis se Praat saam ook gekanselleer is nie.
Ek gun elke diertjie sy plesiertjie.
’n Mens moet aanvaar dat die meeste Afrikaanse luisteraars en koerantlesers Christene is. As 80% van die land se mense Christene is, verdien hulle seker groter blootstelling.
Die 20% andersdenkendes verdien egter ook ’n plekkie in die son. Humaniste, agnostici en ateïste is net so geregtig soos Christengelowiges op ’n snytjie van die koek, al is dit kleiner.
Waar is die Sakkie Spangenbergs, Hansie Wolmeranse, Andries van Aardes, Ben du Toits, Jurie van den Heevers en vele ander bekendes se alternatiewe stemme in die openbare diskoers oor geloof? Waarom het iemand soos George Claassen nie meer ’n rubriek in ’n Afrikaanse koerant nie? Wanneer laas het ons Lizette Rabe se stem oor geloofsake in die media of op lug gehoor?
Daar is geen rede waarom alle Afrikaanse mense tevrede moet wees met hierdie geestelike hongerdieet wat hulle in die media gevoer word nie. Hulle verdien meer as net die clichés van ’n Braam Hanekom en Stephan Joubert of Isak Burger se geestelike pêrels.
Dekades lank moes Suid-Afrikaners tevrede wees met die politieke dieet wat die radio, TV en koerante hulle gevoer het. Om dit nou met ’n ewe eensydige en oordadige godsdiensspyskaart te vervang is onaanvaarbaar.
In ’n samelewing soos Suid-Afrika met sy uiteenlopende geloofsoortuigings is ’n harmonieuse samelewing wat geskoei is op respek vir verskeidenheid van kardinale belang.
Vir die uitsaaiwêreld en koerante skep dit ’n uitdaging om ’n balans te vind tussen diverse sienings en geloofsoortuigings. Daar moet ’n verbintenis wees tot objektiewe en akkurate inligting; sonder enige vorm van indoktrinasie.
Sekulêre samelewings se media moet respek toon vir die geloofsoortuigings van hul diverse gehoor. Dit behels die vermyding van enige vorm van diskriminasie of om ’n spesifieke geloof voor te trek.
Dit beteken nie die afwesigheid van godsdienstige inhoud nie, maar die versekering dat geen geloofsoortuiging as superieur of dominant beskou word nie.
Dit moet ’n neutrale ruimte wees waar almal hulself verteenwoordig voel.
In 2017 is ’n klagte by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika ingedien oor ’n program op RSG wat volgens die klaer godslasterlike materiaal bevat het.
Ene CJ Marnewick het sommer “namens alle ware Christene in Suid-Afrika” beswaar gemaak oor die program Uit ’n ander hoek, wat ek destyds op Sondae om 19:00 op RSG aangebied het. Dit sou kwansuis lasterlike materiaal bevat wat God se “heiligheid en almag” aantas.
Nodeloos om te sê, dit is nie alle Suid-Afrikaners se geloofsoortuiging nie, maar vir hierdie persoon het dit geen verskil gemaak nie – sy waarheid was die enigste waarheid.
Gelukkig het die destydse stasiebestuurder, Magdaleen Kruger, haar man gestaan teen die fundamentalistiese aanslag.
Sy het onverskrokke verklaar RSG is ’n openbare uitsaaier en daarom is dit ook sy plig om nie-tradisionele sienings op ’n nie-aggressiewe, nie-antagonistiese wyse te weerspieël.
“RSG is nie ’n godsdienstige of Christelike radiostasie nie. Dit is ’n sekulêre radiostasie wat godsdienstige inhoud as deel van die kultuur van die gehoor uitsaai,” het Kruger destyds gesê.
Die betrokke kommissaris van die Uitsaaiklagtekommissie, Linda Venter, het in haar uitspraak daarop gewys vryheid van spraak is ’n basiese mensereg. In ’n demokratiese samelewing is die uitgangspunt dat ander mense se beskouings, waarde-oordele en oortuigings verdra moet word, selfs al word daar nie altyd daarmee saamgestem nie, het sy bevind.
Sy het dit duidelik gemaak die SAUK is die openbare uitsaaier van Suid-Afrika.
Dit het die verpligting om ook meer nie-tradisionele beskouings op die gebied van godsdiens (bv. naturalistiese, ateïstiese en agnostiese beskouings) uit te saai sodat mense meer ingelig kan word oor die verskillende godsdienstige/spirituele beskouings wat in die wêreld bestaan en nie slegs blootgestel word aan die dogmatiese godsdiens waarbinne hulle opgevoed is nie.
Hierdie woorde van haar het skynbaar nie almal by die SAUK se ore bereik nie of hulle wil dit nie hoor nie. Dit geld ook die Afrikaanse koerantredakteurs.
Dit het tyd geword dat die SAUK en Afrikaanse koerante opnuut ag slaan op die woorde van Van Wyk Louw: “Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.
“Daar is geen edeler plesier as die intellektuele omgang met mense wat totaal anders dink as jy nie – wat ander dele van die eindelose rykdom van die waarheid tot hul besit gemaak het.”
• Jean Oosthuizen is ’n vryskutjoernalis.
Kommentaar
Daniel Louw
Dit is nou dieselfde Jean Oosthuizen wat vir tien jaar lank (2003-2013) vir Kerkbode gewerk het.
Dankie Daniel vir die gereelde opdatering van hierdie reuse e-biblioteek – broodnodige inligting vir ALMAL wat hier lees