RSG: Land en sand: Jan Lubbe

Land en sand: Jan Lubbe

https://www.rsg.co.za/rsg/omny/land-en-sand-jan-lubbe/

Hy wou eintlik veearts word, toe gaan swot hy filosofie. En toe uiteindelik teologie. Die NG Kerk se moderator, Jan Lubbe, is moderator in een van die moeilikste tye van die kerk. Hy het land en sand in sy huis in Bloemfontein met Pieter Steyn gesels oor kerkskeuring, die Kuruman-sendeling Robert Moffat en of kerkleiers nie eintlik maar politici is nie.

Die volgende artikels het voortgespruit uit hierdie onderhoud:

Hieronder volg ‘n paar uittreksels uit die onderhoud met kommentaar onderaan.

Uittreksels uit onderhoud

55:35 My studieleier, professor in Kampen, het oor die ontvangs van die Barmen verklaring in 1934 in Nederland, het hy in ‘n referaat gesê: “Die volmaakte kerk bestaan in ons belydenis, maar nie in ons geskiedenis nie.”

George Harinck wat ‘n historikus is is heeltemal reg: dit bestaan nie in die geskiedenis nie. Daar bestaan nie ‘n suiwer kerk nie.[1]

Die Nederlandse Geloofsbelydenis, wat praat oor die valse en die ware kerk, sê dat selfs ‘n vergadering, ‘n sinode, moet versigtig wees om hulle eie woord as die laaste en die volmaakte woord oor wat ‘n Bybelteks sou sê, te ag. Ons moet versigtig wees om ‘n suiwer kerk op aarde te wil vestig. Jesus se gelykenisse is vol daarvan: koring en onkruid saam op die land. En dan maan hy sy dissipels: Moenie nou skoffel nie, moenie uittrek nie. Op die dag as die oes ingesamel word, dan sal dit duidelik wees wat is koring en wat is onkruid.[2] Daardie oordeel kom ons as mense nie toe nie. Kerkmense, gelowiges moet versigtig wees om te meen ons weet wat is die suiwer weg. En wie nie met ons saamstem nie, moet ons uitdryf. Dit is die wortel van kerkskeurings. Dit verskeur die liggaam van Christus.[3]

58:13 Moet geloof geinstitusionaliseer word?

Die oomblik wanneer ons geloof institusionaliseer in terme van strak reëls of ‘n duidelik omskrewe “dit is wat ek glo”, ‘n struktuur koppel, ‘n gebou oprig en dan begin met praktyke, moet jy van die eerste moment af sê: dit is aards, dit is tydelik, verganklik, dit is ons menslike insigte. Geloof self is ‘n kapasiteit. Ek dink alle mense is geskep om te glo in God. Die woord religie kom van Latyn, religare, wat “konneksie” of “verhouding” beteken. En elke mens, watookal vir jou die smal weg is, het daardie konneksie op ‘n baie diep vlak. Dit is ‘n vraag: waar maak ek die konneksie uiteindelik? Die oomblik as daardie diep innerlike wêreld na buite toe kom en uitdrukking vind moet ek weet, hierdie is stoflik. Ek kan nie sê, byvoorbeeld, dat die gereformeerde kerk waarin ek is het alle antwoorde klaar nie. Vir my is die gereformeerde teologie meer ‘n benadering. Ja, daar is ankerpunte, maar dit is ankerpunte wat my eintlik help om my weg te vind.

Jesus se woorde was: “Volg my.” Dit is ‘n geestelike waarheid. Elkeen van ons moet daardie smalweg vir jouself vind. In jou lewe sal dit anders lyk as in my lewe. Ons is nie dieselfde nie, ons aanbid nie dieselfde nie, ons spiritualiteit lyk verskillend. Oppas om dit te vas in ‘n spesifieke vorm te wil giet. Dit is gevaarlik.

1:13:30 Die Woord van God is lewend in die skepping en in die mens, Christus, en in die getuienis van die Heilige Gees. Dit is iets lewends en ek kan dit nie vasvang in dokumente nie.[4]

1:13:56 Gaan almal wat nie Christene is nie, beërwe hulle nie die ewige lewe nie? Die hemel en die hel nie?

Hier waar ek nou sit en oor my skouer kyk sal ek die boek van Desmond Tutu[5] raaksien waarin die baie omstrede stelling is: “God is not a Christian”

As jy die vier evangelies lees waarin Jesus se verhale opgeteken is, het Hy nie in die eerste plek met mense gepraat oor hoe hulle in die hemel kom nie. Die omgekeerde is waar. Hy het gesê dat die koninkryk van God naby gekom het. En dan sê hy die koninkryk is die geseëndes: die wat arm van gees is, wat honger is na geregtigheid, hulle wat barmhartig is, hulle wat vrede maak. Jesus het veel meer gepraat oor die aarde as oor die hemel en ek dink dit is ‘n bepaalde weergawe wat ons van die Christelike geloof leer ken het as, dit gaan oor die redding van jou siel, want dit het ewigheidswaarde en jy moet in die hemel kom. Waar is die hemel? Ek dink Jesus het gesê: die hemel is waar God is. En dit kan wees in die verhoudinge van mense, in die heelheid van die skepping. Waar is die hel dan? Waar God nie is nie.[6] God verlaat ‘n plek. En daarom maak die Afrikaanse uitdrukking “hierdie aarde het vir my hel geword”, vir my sin. Ek dink ook eintlik, dit is waarskynlik waarheen ons oppad is met hierdie planeet. Ons maak daarvan ‘n helse plek waar lewe nie meer moontlik is nie.

Ek het geen twyfel dat daar net een Heiland is nie, een middelaar tussen God en mens. Dit is Christus. Maar het Abraham Christus geken? Hy leef histories ongeveer 2000+ jaar voor Jesus. Abraham het Jesus nie geken nie. En tog noem Hebreërs 11 Abraham een van die gelowiges wat in die hemel, by wyse van spreke, by God is nou nadat hy gesterf het terwyl hy die naam Jesus nie geken het nie. Hoe is dit moontlik?[7]

As jy sou sê dat Christus is die lewende woord, dit is God wat mens geword het, maar hy was van ewigheid daar. Johannes sê aan die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was self God en die Woord het mens geword. Hy was van ewigheid tot ewigheid daar.

Ons moet eerstens baie versigtig wees om my kerk, my tradisie, my lees van die Bybel te verhef tot “dit is die enigste weg na saligheid”. Ek het nie die waarheid beet nie.

Tweedens, as Paulus selfs uitroep in Romeine 11 dat hy nie weet wat moet hy sê van sy Joodse volksgenote nie, want hulle het ‘n belofte van God, maar hulle verwerp Jesus. Hulle glo nie dat Christus die Messias was nie. Uiteindelik sê Paulus: ek laat dit oor aan God se hande. En dan kom daardie ongelooflike woorde: “O diepte van die wysheid en rykdom en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is God se weë”.[8] Wie is ek, 2000 jaar later, om sommer ‘n kategoriese uitspraak te maak oor die Joodse gelowiges? Hulle aanbid dieselfde God. Om daarmee te sê: hulle gaan nie hemel toe nie. Dit is ‘n moeilike vraag. … Daarvan is ek oortuig: wat Jesus verkondig het is die waarheid. As jy doen en leef soos wat Hy gesê het dink ek volg jy sy weg en dan sal jy saligheid beleef.

Kommentaar

[1] Wat is die punt van hierdie opmerking? Moet ons dit dus aanvaar dat daar dwaling in die kerk gaan wees en hoef of daarom nie iets daaraan te doen nie?

[2] Hy gebruik hierdie gelykenis verkeerd. Kyk Matteus 13:24-30 (gelykenis van onkruid tussen koring).

[3] Nee, dit suiwer die kerk. Daar is baie plekke in die Bybel waar daar opdrag gegee word om dwaling te bestry. Kyk Die Bybel oor dwaling. Twee van die hardste en duidelikste verse in die Bybel is:

[4] Om te sê dat die Woord van God nie in dokumente vasgevang kan word nie misleidend. Dit is presies wat die belydenisskrifte probeer doen. Dit is waar dat Christene verskil oor die belydenisskrifte, maar die verskille gaan oor randsake, soos die doop en wegraping. As Christene kan ons nie oor kernkwessies verskil nie. Paulus en andere is baie duidelik daaroor:

Kyk ook Onttrek jou van goddeloses en dwaalleraars.

[5] Dit spreek boekdele as Jan Lubbe sy antwoord begin deur na Desmond Tutu te verwys. Dit is baie duidelik dat Tutu ‘n universalis was – kyk Desmond Tutu. En in plaas daarvan om Tutu se stelling (en daar is nog baie wat Tutu gesê het) te kritiseer, gaan hy voort met: “As jy die vier evangelies lees…, het Hy nie in die eerste plek met mense gepraat oor hoe hulle in die hemel kom nie.”

[6] Die hel is nie net “Waar God nie is nie”. Jesus was baie duidelik oor die hel. Kyk Die Bybel oor die hel.

[7] Dit is presies dieselfde argument wat Louis Jonker ook in ‘n RSG-onderhoud gebruik het. Kyk RSG: Kan Moslems en Christene saam bid? (5 Mei 2019). Die punt wat Jan Lubbe (en Louis Jonker) wil maak is baie duidelik: ons kan nie met sekerheid sê dat slegs Christene hemel toe gaan en die res hel toe gaan nie.

[8] Hy gebruik dieselfde argument ook in Gesprek tussen Jan Lubbe en Daniel Louw (Aug 2021)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui