Saam op weg: Reformasie … hoe het ons hier gekom?

Die volgende skrywe was ingesluit in die agenda van die Koinonia Sinode vanaf 3 tot 4 Mei 2023.

*******

Saam op weg: Reformasie … hoe het ons hier gekom?

Deur die bril van ’n skrifgetroue lidmaat

Dr. Etienne Liversage

(Die bedoeling met hierdie skrywe is om nagevorste, geselekteerde inligting voor te lê. Die bedoeling is beslis nie om konflik in die NG Kerk aan te blaas nie, maar om die aanslag op ons gereformeerde tradisie te konfronteer, sodat die leser self na eie oortuiging kan besluit. Daar word geen aanspraak op volledigheid gemaak nie.)

Wat is kortliks ons gereformeerde tradisie? Die Bybel dra gesag omdat God daardeur aan die woord kom. Die Nederlandse Geloofsbelydenis bely in artikel 5: “Ons aanvaar al hierdie (Bybelse) boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig.” Artikel 7 herhaal: “Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat.”

Die oor en weer beskuldigings van Bybelse “vasgelooptheid” binne die NG Kerk, (hierna die kerk) is nie ‘n 2019-Algemene Sinode-ontdekking nie, maar smeul reeds vir meer as twee dekades. Reeds sedert die stigting van die “Nuwe Hervorming”- organisasie in 2002, het al hoe meer verkose leiers in die kerk, asook staatsaangestelde dosente en professore by teologiese fakulteite, daarby aanklank gevind. Dit is ‘n liberale, postmoderne benadering tot die Bybelse teks, waar dit wat wetenskaplik bewys kan word, aanvaarbaar is en dat die Skrif nie meer dieselfde goddelike gesag vir die moderne mens dra nie. Uit hierdie kritiese teologie, het ‘n “nuwe” godsdiens lynreg teenoor die suiwer evangelie binne die kerk te staan gekom. Vandaar die “vasgelooptheid.”

Daar bestaan meningsverskil oor die beginpunt hiervan, dog dr. Ben du Toit is sonder vrees vir teenspraak, een van die teoloë wat die suiwer gereformeerde evangelie van binne die kerk enduit die meeste skade berokken het. Reeds in 2000 publiseer hy die boek God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, waarin hy onder andere die volgende stellings maak:

Die Bybel is nie die Woord van God nie, maar woorde oor God en deurdrenk met al die gebrekkige en foutiewe sienings wat die mense van die pre-moderne tyd gehad het. Jesus self het ook hierdie gebrekkige en foutiewe verstaan van sekere dinge gehad, omdat hy ook maar net in die pre-moderne tyd op aarde geleef het. Jesus se Godheid word nêrens pertinent gestel nie. Jesus se wonderwerke was nie noodwendig wonderwerke nie. Jesus se geboorte was nie noodwendig maagdelik nie en daar kan ook net ‘n “sogenaamde” wederkoms van Christus wees. Die Bose se oorsprong lê slegs in die mens self en hy (Satan) is nie ’n wese van een of ander aard nie.

Die ironie is dat, terwyl Du Toit by die gewone lidmaat vir hierdie evangeliese versnippering die brandstapel verdien het, hy egter in 2001 deur mede-akademici met die Andrew Murrayprys vir sy boek vereer is. (Hierdie toekenning het die angel uit opponerende teologiese debat, asook sy 2005-tugondersoek gehaal.)

Meer as dit. Hy is tot kroonprins verhef, sy siening van ‘n diverse ruimteskeppende kerk in ‘n sinodebesluit verewig, terwyl hy oor etlike jare heen in uiters strategiese poste in die kerk aangestel is, soos byvoorbeeld as voorsitter van die Algemene Sinodale kommissie vir Leer en Aktuele Sake. Gesien teen bogenoemde publikasie, sou sy invloed in die kerk se leierskringe onmeetbaar wees. Hieroor skryf professor Hoffie Hofmeyr in Maart 2021: “Vanuit die NG Sinode van die Suid- en Wes-Kaap, was Ben feitlik met die hand uitgesoek vir senior sinodale posisies. Vir byna twee dekades was hy in posisies waar oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie strategies belangrike besluite in die NG Kerk geneem is.” Du Toit was ook die kerk se parlementêre verteenwoordiger, en hoof van kommunikasie … die stem van die kerk.

Volgens sy eie getuienis op die televisieprogram “Prontuit” in Augustus 2022, skryf hy gedurende hierdie tyd meer boeke, artikels en verslae as enige ander teoloog van sy tyd. Professor Amie van Wyk bevestig dit in sy artikel: “Onhaalbaar om Godvry te leef”: “As ’n mens al Ben se boeke lees, asook sy voorleggings aan kerklike sinodes en instansies, dan is die pad van groeiende ongeloof duidelik te bespeur. Maar in die ‘groot tent’-siening van die NG Kerk, het sy groeiende ongeloof egter nie juis saak gemaak nie, want almal moes kon inpas onder die al groter wordende tentseile.”

Onder die dekmantel van hierdie postmoderne diversiteit, het ander bydraes spoedig gevolg. In 2003 het professor Julian Müller sy oortuiging uitgespreek dat die opstandingsgeskiedenis in die vier Evangelies ‘n “sterk legendariese karakter” het en dat dit nie regtig van wesenlike belang is of Jesus “letterlik” of “metafories” uit die dood opgestaan het nie. Later in 2003, het hy die liggaamlike opstanding van Jesus openlik betwyfel. In aansluiting hierby, was professor Daniël Veldsman se verklaring vir die leë graf, dat Jesus se dissipels sy liggaam gesteel het. Hy ondersteun dus die Romeinse soldate se verskoning vir die verdwyning van die liggaam.

Ook in 2003, het professor Jurie le Roux tydens ‘n seminaar by Unisa, nog ‘n teoloog, professor Andries van Aarde, se boek Fatherless in Galilee, as ‘n hoogtepunt in die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap geprys. In hierdie werk word beweer dat Jesus nooit maagdelik verwek is nie en dat Hy oor ‘n vaderfiguur gefantaseer het, waarna God sy “vader” geword het. Uitgerekte debatte oor hierdie nuwe “godsdiens” het in die media voortgewoed. Dit het reeds in September 2003, tydens die sinode van Noord-Transvaal (nou Noordelike Sinode) weerklank gevind, toe die sinode geen “kategoriese uitspraak wou lewer oor die maagdelike geboorte of Jesus se liggaamlike opstanding nie.”

Dit eindig egter nie hier nie. In Augustus 2006 vra Ben du Toit in Kerkbode of ons almal maar dieselfde God aanbid, dog antwoord nie pertinent dat daar slegs een drie-enige God bestaan nie. Met die saad van onsekerheid oor die werklikheid van God gesaai, volg dit logies dat ook die bestaan van Satan hersien sou word, wat die Algemene Sinode (AS hierna) in 2011 inderdaad gedoen het: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”

Hoe anders? Wat sê die Bybel? Dit is wel so dat Satan nie in die weergebore Christen kan bestaan nie. (Die verlore sondaar wat uit genade deur God uitverkies en tot geloof in sy Seun getrek is, word ‘n nuwe skepsel en deur die Heilige Gees vervul, waar Satan nie bestaansreg het nie.) Die Bybel is egter ewe duidelik oor Satan se eksterne aanslag op elke gelowige, byvoorbeeld in Efesiërs 6:11-13: “Trek die volle wapenrusting aan wat God gee” teen “die listige aanslae van die duiwel.” “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees (demone) wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Daarom ook dat Christus veel meer oor die hel (die Gehenna) as oor die hemel gepraat het. In 1 Petrus 5:8 word bevestig: “Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om te verslind.” Behalwe elke individu, is sy bedrieglikste aanslag teen die binnekring van die kerk gemik, wat na 2011 in “gekamoefleerde” felheid toegeneem het.

As die bestaan van Satan en sy meeloper-demone na keuse uitgeskryf kan word, word in werklikheid ‘n nuwe dogma gebore, naamlik dat Jahwe die God van volmaakte liefde is en nie as onsimpatieke regter sal oordeel, straf en na die hel verdoem nie. Richard Niebuhr beskryf hierdie nuwe soort vry en algemeen toeganklike valse godsdiens soos volg: “A God without wrath bringing men with sin into a kingdom without judgement through the ministrations of a Christ without a cross.”

Natuurlik was daar teoloë wat probeer walgooi het. In Februarie 2009, waarsku professor Adrio König in sy boek “Die evangelie is op die spel”, dat indien Christus se opstanding ontken word, valse godsdiens die noodwendige gevolg is. Die debat wat hierop in die media gevoer is, het heelwat kritiek op sy boek uitgelok, met die felste daarvan komende van die fakulteit teologie, aan die Universiteit van Pretoria. In 2013 is Du Toit weer by sy ring aangekla omdat hy sy legitimasie-eed verbreek het deur te verklaar dat die duiwel nie bestaan nie, dog hy is vrygespreek, aangesien die AS-besluit van 2011, waarin hy ‘n deurslaggewende rol gespeel het, juis hiervoor voorsiening maak.

Toe dit veels te laat was, het Du Toit uiteindelik op 5 Julie 2018, die eerbare weg gevolg en vrywilliglik afstand van sy amp en bevoegdheid as predikant gedoen. Ook net betyds, aangesien nog twee van sy publikasies hierna sy duidelike verwerping van die evangelie van Christus bevestig het. In sy boek, “God: Is daar ‘n ander antwoord” (30 Oktober 2020), verklaar hy homself ‘n postteïs en dat God bloot in mense se koppe geskep is, met ander woorde, die oermens het ontstaan vóór God uitgedink is. Sodoende verwerp hy dus ook die skeppingsgeskiedenis ten gunste van die evolusieleer. Teoloog, G.K. Chesterton, neutraliseer hierdie evolusiesiening met gemak en verdedig die geldigheid van Genesis 1-3 soos volg: “It is absurd for the Evolutionist to complain that it is unthinkable for an admittedly unthinkable God to make everything out of nothing, and then pretend that it is more thinkable that nothing should turn itself into everything…”

In ‘n opvolgartikel, “Die mens: Antwoord en ook skepper” (15 Nov 2020), bevestig Du Toit finaal sy ongeloof: “Vir my dui die begrip post-teïsties op ’n definitiewe afskeid van enige geloof in ’n transendente, metafisiese ‘wêreld’ of bestaan waarin bonatuurlike magte en kragte sou wees wat die botoon voer en hulle laat geld ten opsigte van die wel en weë van die mensdom en die heelal.” Die taal van die atiës, dog tragies genoeg, ook die taal van ‘n erkende en invloedryke leier van die kerk.

Dr. Bernhard Ficker vra daarom tereg met kommer in Kerkbode van 22 Junie 2021, hoeveel Ben du Toit’s daar nog in die NG Kerk is. Ander het ook geval. In die onlangse verlede, het ‘n predikant sy geloof in die drie-enige God in die openbaar afgesweer. Hy het sy gemeentes om verskoning gevra dat hy hulle vir so lank “mislei” het, homself tot ateïs verklaar en bevestig: “Nou is ek oplaas verlos van God.”

Hoekom het Du Toit nie reeds in 2000, toe hy ‘n totaal nuwe godsdiens die kerk binnegedra en twyfel en verwarring gesaai het, saam met sy teologiese meelopers die kerk verlaat nie? (Professor Sakkie Spangenberg het dit gedoen.) Die omvang van hulle aandeel in die opoffering van die kerk se gereformeerde identiteit in ruil vir die “ruim huis teologiese diversiteit,” is onberekenbaar. Watter verweer sou hulle hê teen Paulus se sterk uitspraak in Galasiërs 1:8-9? “Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel…aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref!

Watter teologiese leierskap sal deur die toekoms opgelewer word? Te oordeel aan die kurrikulumtransformasie wat professor Jerry Pillay, dekaan van die fakulteit van teologie aan die Universiteit van Pretoria op 18 Augustus 2021 verklaar het, sal die “ruim huis” se tentseile veel verder moet strek: “We are consciously giving more attention to black theology, African Christian theology, liberation theology, feminist theology, womanist theology, urban theology, etc.” In sy toespraak het hy nie een keer na die drie-enige God verwys nie, dog die klem op sy department se strewe laat val om alle godsdienste inklusief te akkommodeer, wat nie werklik ‘n nuwe standpunt was nie. Professor Daniël Veldsman het reeds in Augustus 2012, oor ’n eie Christelike universiteit gesê dat dit niks anders is as ’n “laertrek-mentaliteit” nie, as Christene hulle op dié manier wil afsonder.

By Stellenbosch is daar 10 dosente wat by die fakulteit teologie doseer. Hulle is almal lid van die dosenteraad van die kerk se kuratorium. Hulle is ook almal geordende leraars van die kerk en tans gekoppel aan gemeentes. Die uitsprake wat sommige van hierdie dosente maak, sal nie alleen hul studente ontstel nie, maar ook gewone lidmate wat in die media daaraan blootgestel word. As voorbeeld word die volgende genoem:

In sy artikel, “Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus Is Not θεός (God) in 2019, bevraagteken dr. Peter Nagel openlik die godheid van Jesus. Op grond van verskeie klagtes hieroor, het die kuratorium hom uiteindelik verhoor, skuldig bevind en Nagel se ampsbevoegdheid vanaf September 2022, vir ’n jaar opgeskort en hy is verbied om van die kansel af te preek. Moderator, ds. Nelis Janse van Rensburg, het egter bevestig dat die Universiteit van Stellenbosch Nagel se werkgewer is en dat die kerk dus nie sy dienste as dosent kan beëindig nie.

Hierteen het die Kairos Netwerk (meer hieroor later) hewig beswaar gemaak: “As ’n dosent wat predikante moet oplei, openlik die Godheid van Jesus ontken, oortree hy nie maar net sy legitimasie-eed nie, hy verwerp die hart van die evangelie en die fondament van al die Christelike kerke van meer as tweeduisend jaar. Dit is tog sinneloos om vir ’n dosent te sê jy mag nie meer Sondae preek nie, want jy verkondig dwaalleer, maar jy kan steeds elke dag van die week klas gee vir die kerk se voornemende predikante. Daar is dosente met ernstige teologiese dwalinge wat steeds toegelaat word om ons toekomstige predikante op te lei.”

Hierdie lang pad van “ruim huis”-aanvaarding van enige en alle postmoderne afwykings van Skrifuitleg, wat in die huidige “vasgelooptheid” uitloop, is duidelik deur die leierskap van die kerk gebaan, waar oor twee dekades heen niemand, soos Nagel tans, tydens ‘n tugondersoek skuldig bevind is nie. Mettertyd het behoudende predikante dwaalleerstellings wel vanaf openbare hoogtes begin repudieer. Die stilswye van ander kerkleiers, om watter redes ookal, het vir sommige lidmate bloot die aanvaarding van “nuwe” denkrigtings en belydenis in die kerk geïmpliseer. In die verwarring, het ander se geloof verkoel en dié wat totaal ontnugter is, het die kerk verlaat.

Om watter redes ookal, die statistiek bevestig dat toenemende getalle lidmate hulself net nie meer gebonde aan die kerk beskou nie. Volgens syfers in die kerk se jaarboeke, was daar in 2000 altesame 919,790 belydende lidmate. In 2010 was daar 857,205 en begin 2019 was dié syfer 691,050. Dit beteken dat meer as 200,000 belydende lidmate in minder as 20 jaar, die kerk verlaat het. Die kerk het verder vanaf Februarie 2015 tot Maart 2019, 200 predikante in vaste poste by gemeentes verloor. Dit is ’n afname van 50 predikante per jaar, of nagenoeg een per week.

Al bogenoemde is onteenseglik die rede waarom behoudende, streng gereformeerde teoloë, in verweer die Kairos Netwerk gestig het waarby meer as 90 dolerende, belydenisgetroue gemeentes en ‘n aansienlike aantal lidmate van oor die hele land heen, reeds aangesluit het. Dit verteenwoordig die grootste historiese verset teen die leierskap van die NG Kerk ooit. Hieroor lewer niemand anders nie as dr. Ben du Toit, in ‘n onderhoud met Jean Oosthuizen op 8 Desember 2021, die volgende totaal verbysterende uitspraak: “Ek het geweldig baie simpatie met die dolerende gemeentes. Eintlik is hulle reg. Hulle het nie bygehou by die liberale deel van die kerk waarvan ek deel was nie … maar hulle is die eerlikste.”

Ander denominasies soos die Gereformeerde Kerk, die Afrikaanse Protestantse Kerk, die Geloofsbond van Hervormde Kerke en die Vrye Gereformeerde Kerk het reeds na die Kairos Netwerk uitgereik, terwyl beloftes van steun en samewerking ook reeds van die “Alliance of Reformed Churches in America” ontvang is.

Dit bring ons by die gay kwessie wat tot veel groter “vasgelooptheid” gelei het.

Die 1986-AS van die kerk het besluit: “homoseksualiteit is in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit. Homoseksuele praktyke en ’n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos in die Heilige Skrif geopenbaar”. In 1 Tessalonisense 4 vers 8 waarsku Paulus: “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God…” terwyl hulle wat “dit goed vind as ander dit doen,” (Romeine 1:32) ewe skuldig voor God staan. Vir streng gereformeerde lidmate kan geen jota of tittel hiervan ooit verander nie en hulle staan steeds daarby.

Hierna het gay-ondersteuners van een Sinode na die ander, onsuksesvol met ‘n aanslag begin om alle Bybelse uitsprake teen homoseksualisme en selfdegeslagverbintenisse, as nie meer bindend nie te verklaar. Vir behoudende lidmate was dit niks anders nie as ‘n skaamtelose, gay poging om hul eie seksuele vergrype te probeer regverdig, wat noodwendig tot direkte botsing binne die kerk sou en steeds lei.

Toe kom professor Nelus Niemandt, algemene moderator van die kerk, se 2015-uitspraak: “Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die Kerk voltrek word.” Hy het verder bygevoeg: “My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) binne die Kerk genormaliseer sal word”.

Uit hierdie waterskeiding-verklaring het dringende vrae ontstaan:

  1. Volgens watter artikel van die kerkorde het hy die reg gehad om sinodebesluite van bykans dertig jaar, eensydig in die openbaar te repudieer?
  2. Volgens watter Skrifgedeeltes het hy dit namens al die lidmate van die kerk gedoen, dog sonder enige konsultasie met hulle óf met inagneming van die verdeeldheid wat sou volg?
  3. Hoekom beoordeel hy selfdegeslagseks in sy uitspraak anders as owerspel, prostitusie en bloedskande, aangesien hierdie gedrag telkens saam met eersgenoemde afgekeur word?
  4. Het hy sy vriend Ben du Toit se voorbeeld gevolg? As die kerk se parlementêre verteenwoordiger, het laasgenoemde in Oktober 2006, sonder sinodale toestemming, in ‘n skriftelike voorlegging aan die parlement, aanbeveel dat homoseksuele huwelike namens die kerk gewettig word.
  5. Of het Niemandt vir homself dieselfde magte toegeëien as dié wat die Pous van die Rooms Katolieke Kerk geniet, deur dekrete uit te vaardig? Ironies genoeg gee die Pous die teenoorgestelde leiding aan sy kerk: “The Roman Catholic Church cannot bless same-sex marriages, no matter how stable or positive the couples’ relationships are…marriage should be limited to a union between a man and a woman…same-sex unions involve sexual activity outside of marriage…the Vatican does not and cannot bless sin.”
  6. Het hy dit gedoen om die guns van ‘n minderheidsgroep in die kerk te wen, die groter wêreldmening te paai en ander te oortuig om sy voorbeeld te volg?

Niemandt se leiding is inderdaad dadelik op hoë akademiese vlak gevolg. Die Kuratorium van die Stellenbosch kweekskool het later in 2015 ‘n besprekingspunt by die AS ingedien dat die selibate eis vir gay predikante in die kerk geskrap word, wat hulle dus sou toelaat om onnatuurlik seksueel-aktief te lewe. In die beskrywingspunt is genoem dat hierdie standpunt eenparig deur die kerk se dosenteraad ondersteun word. Dit het egter later geblyk dat die beskrywingspunt geen locus standi gehad het nie en nie voor die hele dosenteraad gedien het nie. Gay seks is egter toenemend nie meer as sonde gesien nie en die 2015-AS, onder leiding van Niemandt, dog ook onder Ben du Toit se invloed, het dit bevestig. Dit was ‘n totale ommekeer van die 1986-AS besluit en dus kon predikante voortaan in homoseksuele huwelike staan en beroep word.

Soos te wagte, het verskeie predikante, kerkrade en lidmate ernstig teen die 2015-besluite appèl aangeteken. Gevolglik het die moderamen op grond van al hierdie appèlle besluit om ’n moratorium op die 2015-besluite te plaas. Dit is gedoen nadat die Algemene Taakspan Regte (ATR) regsadvies van verskeie regsgeleerdes, onder andere ook ‘n afgetrede regter, ingewin het. Die advies was dat indien ‘n sinodale besluit onder appèl is, daar ‘n outomatiese moratorium op die uitvoering daarvan is, totdat ‘n appèlliggaam daaroor uitspraak gegee het. Hierdie appèlliggaam is toe streng volgens voorskrifte van die kerkorde, uit tien onpartydige kenners van die gereformeerde kerkreg, van oor die hele land, saamgestel. As gevolg van die groot aantal appèlle wat ingestroom het, het die appèlproses ongeveer ‘n jaar geduur.

Intussen het 65 teoloë en predikante die moderamen in November 2015, in ’n skerp bewoorde brief daarvan beskuldig dat hulle die menswaardigheid van gay mense op ’n “skreiende wyse” aantas, deur die 2015-besluite te bevries. Toe geen bevredigende reaksie op hul brief ontvang is nie, het ‘n groep van 11 gay-aktiviste die kerk in Augustus 2016, twee weke kans gegee om die AS-besluit onmiddellik uit te voer, óf deur die howe gedwing word om dit te doen. Dit is op grond van die regsadvies gedoen wat van een van die land se voorste regsgeleerdes, adv. Wim Trengove, ontvang is. Trengove het die teenoorgestelde mening as die ATR gehuldig. Met enersyds ‘n dreigende hofgeding voor hande, dog andersyds ‘n appèlproses wat afgehandel moes word, het die moderamen vir tyd gespeel en ’n buitengewone sinode vir November 2016 belê, waar die gay kwessie weer, vir die soveelste keer, deurtrap sou word.

Na hierdie aankondiging is al die appellante versoek om hul appèlle, met die oog op die komende sinode, terug te trek en na beswaarskrifte en gravamina te verander. Die meeste het dit gedoen, dog di. Theo Danzfuss en Helgard Janse van Rensburg en ‘n paar ander appellante, het om strategiese redes besluit om met hul gesamentlike appèl voort te gaan. Hulle sinvolle standpunt was dat slegs deur ‘n suksesvolle appèl, die 2015-AS se besluite direk ongeldig verklaar kon word. Twee weke voor die aanvang van die 2016-buitengewone sinode, is hulle appèl inderdaad aanvaar. Gevolglik is al die 2015-besluite oor selfdegeslagverhoudinge, amptelik ongeldig verklaar. Dit sou dus vrugteloos wees om met die hou van die buitengewone sinode voort te gaan.

Dit het egter soos beplan plaasgevind. Die besprekings het op presies die teenoorgestelde besluite uitgeloop as waarvoor gays gehoop het. Daar is besluit dat enige seksuele verhouding tussen mense van dieselfde geslag, afgewys word. In sy wese is die kerk se 1986-besluite oor homoseksualisme, in 2016 deur ‘n meerderheid herbevestig. Al was dit ‘n groot terugkeer na die Skrif, was sommige van die besluite steeds vaag en dubbelsinnig geformuleer, om in die “ruim huis” soveel moontlik te akkommodeer.

Dog nie ruim genoeg nie. Die elf, later twaalf gay-aktiviste (onder pa en seun Gaum se leiding) het, nadat pogings om buite die hof te skik misluk het, die saak toe werklik na die Hooggeregshof van Suid-Afrika geneem. Hulle dagvaarding het op twee bene gestaan. Die eerste been het gegaan oor die regsgeldigheid van die appèlsaak waarin die kerk se appèlliggaam al die besluite van 2015 ongeldig verklaar het. Die tweede been het gegaan oor die regsgeldigheid van die besluite van die buitengewone Sinode van 2016.

Indien die kerk ‘n suksesvolle uitspraak op die eerste been kon verkry, sou die tweede irrelevant wees, aangesien die 2015-besluite dan steeds ongeldig sou wees. Omgekeerd sou die 2015-besluite steeds geld en was die moontlikheid groot dat die hof dit sou handhaaf. Hierin het die ATR en nie die moderatuur nie, die volle verantwoordelikheid gehad, Aangesien die ATR uit al die sinodes se actuari bestaan wat oor die hele land versprei is, is ‘n ad-hoc taakspan van vier persone aangestel om saam met die regspan, die antwoordende eedsverklarings namens die kerk voor te berei.

Hierdie ad-hoc taakspan het onverpoosd gewerk om inligting aan hul prokureurs en advokate te voorsien, om die kerk se verdediging in regstaal te formuleer en na goedkeuring, by die hof in te dien. In die eerste konsepantwoord het die regsgeleerdes die reg tot appèl teen besluite van die AS, ooreenkomstig bepalings van die kerkorde, sterk uiteengesit, waarmee ‘n verbete regsgeding in die hof gevoer kon word.

Toe, uit die bloute en sonder die volle ad-hoc taakspan se goedkeuring, is van elders besluit om nie meer die reg tot appèl teen die 2015-besluite, in die hof te verdedig nie. Die rede hiervoor is onduidelik en ietwat verdag. Toe een van die taakspanlede teen hierdie nuwe besluit beswaar aanteken, het hy ‘n skriftelike kennisgewing vanaf een van die kerk se prokureurs ontvang. Daarvolgens sou die moderatuur saam met dieselfde regspan, die res van die saak hanteer. Sodoende is hy in werklikheid deur sy eie prokureur afgedank. Omdat hulle saak so sterk was, het verskeie besware van selfs binne die ATR en van kerkregkundiges gevolg. Is hierdie skokkende besluit onder druk van buite geneem en indien wel, wat was die motief? Dit was die primêre rede waarom die kerk die hofsaak verloor het.

Op 8 Maart 2019 het die Hooggeregshof met verwysing na die eerste gedeelte van die dagvaarding, soos te wagte, ten gunste van die gays uitspraak gegee. Hul regspan het teenstrydighede in die kerkordebepalings en die appèlreglement aangetoon, wat daarop dui dat geen duidelike reg tot appèl teen besluite van die AS moontlik is nie. Deur hierdie aspek nie dinamies te verdedig nie, het die kerk in werklikheid byvoorbaat gekapituleer. Wie se belang is daardeur gedien?

Die besluite van die buitengewone sinode van 2016 is ook tersyde gestel, omdat dit nie volgens korrekte kerklike prosedure geneem is nie. Die uitspraak het duidelik aangetoon dat die kerk se saak onvolledig en selfs halfhartig aangebied is, wat onder andere ook ‘n rede is waarom geen appèl daarop aangeteken is nie. Die regters het vyf keer in die uitspraak die stelling gemaak: “The Church presented no argument or facts … the Church has set out no facts … put up no facts… without any facts… In the opposition no facts were set out.” Die uitspraak was dus ‘n verdiende pakslae en mét koste! Die totale regskoste in die saak, wat vir meer as twee jaar geduur het, het na bewering ongeveer R 5-miljoen beloop, dog die presiese bedrag is steeds ‘n geheim.

Van groter belang is die feit dat die hof doelbewus geen teologiese uitspraak oor die verskillende Skrifverklarings oorweeg of gegee het nie. Watter grondwet geld in die kerk en daarom ook in alle ander kerke? Die land se grondwet, óf God se Grondwet, óf Allah se grondwet vir die Moslem? Die hof het nie God se Grondwet (Sola Scriptura) oorweeg nie, dog in werklikheid uitspraak daarteen gegee. Vir gays was hul nuutgevonde bondgenootskap met ‘n sekulére instelling en die grondwet, van groter belang.

So wie het die saak in werklikheid gewen? Die apostel Paulus gee hieroor in 1 Korintiërs 6:1-7 ‘n helder antwoord: “Gaan iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek (burgerlike aanstellings in vandag se terme) en nie by gelowiges nie…? Ek sȇ dit om julle skaam te maak… Eintlik is julle saak al klaar verlore…

Met gay regte van buite in die kerk gevestig, bly die kernvraag steeds hoe teoloë in dieselfde kerk, met dieselfde Handboek en Belydenisskrifte tot hulle beskikking, so radikaal oor die interpretasie van die riglyne oor homoseksualisme daarin vervat, kan verskil?

In Romeine 1 en spesifiek vers 18-32, gaan dit oor God se toorn wat ontvlam oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die ganse mensdom, wat die waarheid in dwaasheid probeer onderdruk. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. (Romeine 3:12). Daarom gee God almal aan sedelike onreinheid, skandelike homoseksuele drifte en aan verdraaide opvattings oor, wat nie na afwykings van seksuele oriëntasie verwys nie, maar na perverse seksuele gedrag. Hulle eer God nie en onteer hulle liggame onder mekaar. Hieroor kom dr. Chris van Wyk tot die gevolgtrekking: ”God keer mense dus nie meer van die gevolge van hulle perverse keuse vir die skepping eerder as die Skepper nie, nie in terme van hulle seksualiteit nie, en ook nie in terme van hulle algemene gedrag nie.” Dié wat deur God se genade bekering ontvang en na die liefde van Christus getrek is, streef daarna om volgens die voorskrif van Romeine 12:1-2 te lewe en gee hulleself as lewende en heilige offers aan Hom en word daarom nie aan die sondige wêreld gelyk nie.

Dit is opvallend hoe gebeure in byvoorbeeld die VSA en Suid-Afrika, Romeine 1 se betroubaarheid en kontemporêre werklikheid bevestig. Op 17 Junie 1963, in die saak “Abington Township School District versus Schempp”, het die Amerikaanse Hooggeregshof uitspraak gelewer wat die voordrag van gebed, asook die lees van die Bybel in alle staatskole, verbied het. In SA het Skolewet nommer 84 van 1996, die aanbied van Godsdiensopvoeding as vak, uit die skoolkurrikulum geskryf. Godsdiensbeoefening tydens byeenkomste, is met alle ander godsdienste gelykgestel, wat die aanbieding en die tyd daaraan afgestaan betref. So is God in beide gevalle wetlik die rug gekeer.

En God het hulle oorgegee. In die VSA het Hy hulle eerstens oorgegee aan die “sedelike onreinheid” van die hippiebeweging met ongekende seksuele losbandigheid. Dit het mettertyd na SA oorgespoel, met die gevolg dat saambly en vrye seks teen 2011 sulke afmetings aangeneem het, dat dit voor die AS van die kerk gedien het. Daar is erken dat saamwoonverhoudings (wat die seksuele insluit), ‘n werklikheid in die samelewing is, dog toe neem die sinode dié uiters verwarrende besluit: “hierdie verhoudings kan nie sonder meer afgewys word nie”, (punt 1.4) dog in punt 1.6 word bevestig dat die huwelik ’n gawe van God is “en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.”

Tweedens is die VSA aan die “skandelike drifte” van die LGBTQI+ beweging oorgegee, wat die land vandag vir alle praktiese doeleindes gekaap het. Op 26 Junie 2015, het die Hooggeregshof in die saak “Obergefell versus Hodges” uitspraak gegee wat selfdegeslag-huwelike in die VSA gewettig het. Dieselfde proses het op eie wyse in SA afgespeel, soos nou hier behandel word, met die verskil dat die kerk, eerder as die staat, dit dryf.

Derdens gee God in sy toorn ’n volk wat Hom op die agterbaan skuif, as straf aan “verdraaide opvattings” oor (letterlik aan ‘n brein wat nie funksioneer nie), wanneer hulle dit wat sleg is goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter (Jesaja 5:20) en wanneer selfs moord dit nie meer is nie. So het die Amerikaanse Hooggeregshof op 22 Januarie 1973 in twee aborsiesake, “Doe versus Wade” en later “Doe versus Bolton”, uitspraak gegee wat aborsie gewettig het en die gevolge is astronomies.

In sy kommentaar op Romeine 1 verwys dr. John MacArthur, ‘n Amerikaanse teoloog, na die Joodse slagting deur die Nazi’s en tref dan die volgende vergelyking: “Hitler allowed people to kill, they killed. The Supreme Court allows people to kill, they’ll kill. How can there be so much support for Black Lives Matter when there are a thousand little Black lives being aborted every day. That is a holocaust.”

Oor aborsie het die AS in 1994 besluit: “In die lig van die Skrifgegewens en die stand van wetenskaplike gegewens, dat aborsie ontoelaatbaar is. In die hoogs uitsonderlike gevalle van volkome onafwendbaarheid, bly dit nog steeds ’n saak wat nie volgens God se geopenbaarde wil is nie en daarom slegs met diepe worsteling, skuldbelydenis, pyn en onder felle protes aanvaar kan word.”

Die Suid-Afrikaanse regering het egter op 1 Februarie 1997 die “Choice on Termination of Pregnancy Act” aanvaar, waarvolgens alle vroue, asook minderjarige meisies, aborsies tot op 13 weke swangerskap mag ondergaan, sonder dat hulle enige rede daarvoor hoef te verstrek. Daarna en tot op 20 weke, moet aan sekere bepalings voldoen word.

Omdat geglo is dat hierdie wet die grondwetlike reg op lewe skend, het die “Christian Lawyers Association” die Minister van Gesondheid voor die Transvaalafdeling van die Hooggeregshof gedaag. Die aansoek is egter op grond daarvan verwerp, dat die grondwetlike reg op lewe slegs op lewende persone en nie op ‘n ongeborene nie, van toepassing is. Dit het dus die on-Skriftuurlike beginsel hier gevestig, dat lewe eers by geboorte begin.

Die kerk het dit gedwee aanvaar, dog tydens die 2019-AS, is die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake versoek om weer oor die etiese kwessies rondom aborsie navorsing te doen, sekerlik in die lig van nuwe “ruim huis”-denke daaroor. ‘n Voorsmaak hiervan is op 13 September 2021 verkry, toe dr. Nadia Marais, ook ‘n teologiedosent aan die Universiteit van Stellenbosch, op RSG haar steun vir aborsie gegee en gesê het dat dit nie die kerk (dus God) se plek is om aan ’n vrou voor te skryf wat sy met haar liggaam mag maak nie.

In aanloop tot die 2019-sinode, het dit duidelik geword dat daar verskeie teoloë is wat die Bybel se morele voorskrifte, as nie meer geldig ag nie. In sy brief aan “Rapport” (26/05/2019) verklaar dr. Jurie van den Heever, ‘n bekende paleontoloog van Stellenbosch, dat menslike seksualiteit oor ‘n breë spektrum manifesteer, “iets waarvan Jesus… onbewus was” en dat daar volgens Van den Heever “meer as net twee geslagte bestaan”. Die drie-enige God se “onkunde” oor sy eie skepping, het daarom volgens hom ook tot gevolg “dat korrekte inligting aangaande die diversiteit van menslike seksualiteit nie in die Bybel aanwesig is nie” en om God se geïnspireerde Woord dus as maatstaf hiervoor te gebruik, “is om jou huis op sand te bou.” ‘n Week later bevestig dr. Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap aan die Universiteit van Stellenbosch, in sy artikel in dieselfde koerant, dat God bewustelik nie twee nie, maar vyf geslagte geskape het, iets waaroor die kerk oor die jare heen die mens nog altyd “mislei” het.

Hierdie twee akademici bevestig dus ook dat die Bybel nie in die postmoderne wêreld gebruik kan word om homoseksuele aktiwiteite en selfdegeslagverbintenisse Skriftuurlik te veroordeel nie en om te poog om dit wel te doen, sal slegs misleidend en onhoudbaar (op sand gebou) wees. Hulle advies is dat NG teoloë moet ophou om die Bybel as maatstaf vir moderne morele waardes te gebruik. Dit beteken dat God se streng morele voorskrifte inderdaad vir die individu se grondwetlike regte en persoonlike vryhede, selfs binne die kerk, moet plek maak.

Meer as dit. Die Sinode van Wes-Kaapland het in Mei 2019, tot die gevolgtrekking gekom: “Daar is geen teologiese gronde dat slegs die huwelik heilig en Godgegewe is nie.” ‘n Amerikaanse teoloog stel ‘n opponerende siening: “No matter what our society may legislate, the law of God is clear—that a marriage is not a godly marriage if it is a same sex union… We cannot bend the principles of God’s Word to suit vocal minority groups.”

Toe kom die 2019-sinode. Die eerste stap was om die 2015- en 2016-besluite te herroep en te erken “dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot ‘vasgelooptheid’ gelei het,” Dit is onteenseglik bevestig toe die AS enersyds bevestig het dat die verbintenis tussen een man en een vrou as ‘n huwelik beskou word en dat selfdegeslagverbintenisse nie as ‘n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie. Dog andersyds en in absolute konflik hiermee, is die 2015-besluite, in versigtig keurige taal, nagenoeg herskryf, waarvolgens gays (en daarom ook alle mense wat in LGBTQI+ verhoudinge lewe), voortaan, met geen selibate verpligting nie, wel in die kerk kon trou: “Die Algemene Sinode dra dit aan die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.”

‘n Formulier is ‘n plegtige eedsverklaring wat slegs binne die kerk, voor God en voor ’n gemeente geskied, soos onder andere die bestaande huweliks- en doopformulier en die formulier tydens belydenisaflegging. ’n Formulier vir selfdegeslagverbintenisse, sal dus dieselfde status hê en die seën van die kerk geniet.

Die “kerk se seën” beteken met “God se seën” en ‘n huweliksformulier word tog getrou uit sy Woord geneem. Maar die standpunt is reeds gestel dat God se Woord nie hiervoor gebruik kan word nie. Indien hierdie “formulier” nogtans aanvaar sou word, dog duidelik nie die suiwer gereformeerde teologiese toets slaag nie, sal ander kerkverbande die NG Kerk bloot die rug keer. Dit het reeds in Mei 2022 gebeur, toe die “Christian Reformed Churches of Australia” alle bande met die NG Kerk verbreek het, nié oor Apartheid nie, maar as gevolg van die kerk se standpunt oor homoseksualiteit.

Dit is opvallend hoe gays in hierdie tyd met toenemende media-prominensie by die koor van kritiek teen die kerk se “uitgediende” Bybelse wanvoorstelling van hul seksuele uitlewing, aangesluit het. Die landwye Afrikaanse Sondagkoerant se eensydige pro-gay artikels, het op gereelde basis verskyn. Hierin het gay joernaliste voorkeurbehandeling geniet, waarvan Herman Lategan se artikel in Rapport van 27 Desember 2020, met die opskrif: “NG Kerk kry trofee vir padda van die jaar”, ‘n stawende bewys is. In hierdie artikel veroordeel hy die kerk as ‘n kliek van “ou wit mans” wat die “Bybel as ’n stok gebruik om gay mense mee te slaan…en te breinspoel”. Die geringe reaksie hierop getuig eerder hoe ver die media se breinspoeling van die kerk gevorder het.

Indien daar enige twyfel hieroor was, bevestig dr. Frits Gaum, die voormalige voorsitter van die NG Kerk-kuratorium, in Rapport van 3 Januarie 2021, dat daar min huidige teoloë van die drie teologiese fakulteite is “wat nie standpunt ingeneem het ten gunste van selfdegeslagverbintenisse nie.”

In Mei 2022 het die taakspan die formulier-opdrag skielik summier gestaak. As rede is nie die onuitvoerbaarheid daarvan aangebied nie, maar dat daar ‘n verskil tussen ‘n “prinsipiële” en ‘n “proses” sinodale besluit is. Ds. Nelis Janse van Rensburg, die huidige moderator, het gevolglik verklaar dat bogenoemde 2019-besluit, nie ‘n “prinsipiële besluit” van die kerk was nie en daarom “kan die ASM nie voortgaan…en ‘n formulier skryf nie.” Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die kerk, neem dit een stap verder en verduidelik: “Daar gaan dus nie ‘n konsepformulier opgestel word nie en dit sal die prerogatief van ‘n kerkraad wees…hoe die formulier ingerig sal word.”

Die vrae wat hieruit spruit is van wesenlike belang:

  1. Op grond waarvan is dit na drie jaar nie ‘n “prinsipiële” besluit van die sinode nie en het die ASM die regsbevoegdheid om, om watter rede ookal, die aard van ‘n sinodebesluit eensydig te wysig?
  2. Behoort afgevaardigdes na enige sinode nie altyd vooraf oor die verskil tussen hierdie soort besluite en dus ook die implikasie daarvan, volledig ingelig te word nie?
  3. Glo die moderatuur werklik dat as geleerde teoloë na drie jaar geen formulier kon produseer nie, daar selfs een kerkraad in die land is, wat met God se seën, daarin sal slaag en terselfdertyd geen gemeentelike verdeeldheid saai nie?
  4. Beteken dit dat gays wat steeds ‘n kerklike verbintenis nastreef, hul eie kerkverband sal moet stig waar dit op grond van watter formulier ookal, moontlik sal wees en sal dit die hele debat hieroor in die NG kerk vir tyd en vir ewigheid afsluit?
  5. Of… is die kerklike slagorde juis hiermee finaal opgestel, met enersyds behoudende streng gereformeerdes binne (en buite) die Kairos Netwerk verenig en andersyds in die opponerende linie, die “verslae” en “verbysterde” gays (dr. Frits Gaum se woorde nadat die “formulier” by die kerkdeur uitgevee is), dog gerugsteun deur hulle liberaal-teologiese grofgeskud?

Terwyl hieroor aansienlike mediadebat gevoer is, het die ring van Louis Trichardt ‘n regsmening oor die geldigheid van die 2019-sinodebesluit verkry, wat kortliks die volgende behels: Dat die sinodebesluit inderdaad onuitvoerbaar is en dat die regsbeginsel van die onuitvoerbaarheid van instellings se besluite (non possibullium est) inhou dat dit ʼn totale verweer is. Die besluit van die AS was van die oomblik wat dit geneem is, ongeldig… Die kerk kan nie vir ʼn onuitvoerbare besluit morele redes aanvoer om dit geldig te maak nie. Dus in een gemeente kan persone nie in ʼn selfdegeslagverbintenis burgerlik ingeseën word en in ʼn ander gemeente daarvoor onder tug geplaas word nie en in beide gevalle word volgens die besluit van die AS gehandel.

Die ring van Louis Trichardt het hierdie volledige regsmening in Oktober 2022, as besprekingspunt tydens die sitting van die Noordelike Sinode voorgelê, dog moontlik emosioneel vuisvoos vir die onderwerp, is dit verwerp. Een van die redes was dat daar voortgegaan moet word om na mekaar te luister, wat egter nie ‘n ongeldige besluit geldig kan maak nie. Die strategie is duidelik dat die gesprek sal voortduur, totdat die kerkleierskap se standpunte óf deur almal aanvaar is, óf totdat dolerende lidmate asook gemeentes, die kerk verlaat of (ooreenkomstig artikel 37 van die kerkorde) hul eie sinode, steeds binne kerkverband, opgerig het. Artikel 37 bepaal: “Dit staan die samestellende kerke [sinodes] vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die Algemene Sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.”

Op hulle inisiatief het die Kairos Netwerk verskeie direkte gesprekke met die moderatuur op 19 November 202022-23 Februarie 2021 en 28 Junie 2022 gevoer. Dit het op geen oplossing uitgeloop nie. Gevolglik het die Kairos Netwerk die Familie van Gereformeerde Gemeentes (FGG) op 22 Julie 2022 in Pretoria gestig en in November is die volgende besluit:

“Die Algemene Sinode wat jare lank as oorkoepelende kerkverband vir die NG Kerke gedien het, het ongelukkig die afgelope paar jaar op die glybaan van geestelike afvalligheid beland wat maak dat sy tans nie meer kwalifiseer om te dien as oorkoepelende verband vir die verskeie NG Kerke nie. Die nuwe Koinonia Sinode is ‘n vergadering vir amptelike samewerking tussen Skrifgetroue NG gemeentes oor sake van gemeenskaplike belang soos teologiese opleiding, leerstellige kwessies, belydenis, gemeenskaplike projekte, ensovoorts. Die doelstellings is om die gemeentes en lidmate wat nog Skrifgetrou wil bly, in amptelike kerkvergaderings te konsolideer. Dit is nie die bedoeling om die bestaande kerkverband te vervang nie en beslis nie om weg te skeur van die NG Kerk af nie.”

Minstens vier streeksvergaderings sal voor einde Maart 2023 konstitueer, terwyl die stigtingsvergadering van die Koinonia Sinode vir 3 en 4 Mei 2023 beplan word. (Sien www.fggsa.co.za).

En so het die NG Kerk inderdaad die kruispad bereik. Die aanduiding na links wys na die liberale ruimhuis waar dwaalleerstellings en die postmoderne leefwyse geakkommodeer word en na regs na ‘n beweging saam op pad na streng gereformeerde reformasie. Die “Quo Vadis”-vraag watter rigting ingeslaan moet word, geld sonder twyfel vir elke predikant, (en daarom ook elke kerkraad en gemeente onder sy of haar leiding) elke ring en elke streeksinode, waar almal in die grootste erns na God se leiding hierin sal moet soek.

Hierin het Namibië reeds die voortou geneem. Tydens die Namibiese sinode-sitting in Maart 2022, is besluit dat “die Algemene Sinode nie die NG-kerk met kerklike leierskap dien nie”. Daarom sal die pad van kerklike tug en dissipline vir ‘n tydperk van ses maande met die NG-kerk se Algemene Sinode gestap word, soos dit deur Jesus in Matteus 18:15-17 uitgestippel word. “Indien dit nie op ‘n vaste voorneme uitloop om bepaalde besluite te herroep nie, sal die Sinode van Namibië haar band met die Algemene Sinode in gevolge Artikel 37 van die Kerkorde losmaak.” Die moderamen het egter op 22 November 2022 besluit om die teikendatum van ses maande, tot met die AS-sitting in Oktober 2023 te verleng.

Op 23 November 2022, skryf professor Hoffie Hofmeyr op Facebook: “Die NGK het in ’n groot mate sy eeue-oue Gereformeerde karakter met beperkte Skrif- en belydenis-getrouheid verloor. Vir hom is die primêre skynbaar dat Skrifinterpretasie deur die konteks van die mode- en tydsgees bepaal word. Kerklike orde is grootliks besig om in die sand te verdwyn en leierskap beweeg op baie wankelrige grond.” (Vry aangehaal)

Dit is werklik insiggewend dat professor Willie Jonker die kerk reeds in 1956 oor die gevare van die “ruim huis”-benadering en vrye Skrifverklaring, asook die gebrek aan kerklike tug wanneer dit nodig is, gewaarsku het:

“ ’n Kerk sonder tug kan nooit gesond wees nie, maar moet siek wees en gevolglik minder aan sy doel beantwoord as wat Christus se bedoeling daarmee is, en stuur uiteindelik af op verwording en ontaarding. Die kerk het ’n roeping om die pand wat aan hom toevertrou is, die suiwer leer met nougesetheid te bewaar anders loop hy gevaar om alles te verloor. ’n Kerk wat leervryheid duld speel met die heilige evangelie wat sy lewe is en stuur daarop af om bestaansreg te verloor. ’n Kerk wat geen tug toepas nie omdat hy bang is om mense van hom te vervreem, speel met die evangelie, laat mense onder die indruk dat alles maar reg is met hulle, selfs al sien hy dat dit nie so is nie, en is daarin nie alleen ontsettend ongenadig en liefdeloos teenoor hulle nie, maar ook meer bevrees vir hul woede of afskeiding van die Kerk, as vir God, wat tog duidelik in Sy Woord sê dat Hy die kwade haat en dat dit ontvlug moet word.” (Willie Jonker, Gedagtes oor die Kerklike tug. Deel 1. “Die Kerkbode”, 10 Oktober 1956)

Wat sal ons nou van al hierdie dinge sê…

Dr. Etienne Liversage

Lidmaat van die NG Moedergemeente, Ladysmith, KZN

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui