Selfmoord-lot

Selfmoord-lot | Beeld

Berig in Beeld

19 Desember 2003

Isak Burger

(Van Beeld gekopieer.)

Feestyd is dikwels ook selfmoordtyd. Die vraag wat sonder uitsondering dan deur die naasbestaandes gevra word, is: wat gebeur met iemand wat selfmoord pleeg? Is só ’n mens verlore, vra Isak Burger.

Oor die jare het dit ’n tendens geword: in die feestyd neem selfmoord toe.

Dit is verstaanbaar. Vir die mens in die donker put van depressie word die lewe net nog minder hanteerbaar as hy/sy nie die vrolikheid en uitbundigheid van ander feesgangers kan deel nie.

Die vraag wat sonder uitsondering dan deur die naasbestaandes gevra word, is: wat gebeur met iemand wat selfmoord pleeg? Is só ’n mens verlore?

Die vraag word nog meer dringend as die persoon ’n gelowige was. Ja, natuurlik kom selfmoord ook voor onder gelowiges!

Ek wil begin met ’n direkte antwoord en daarna verduidelik waarom ek dit sê: Ek is oortuig daarvan dat die selfmoord-daad as sodanig ’n mens nie verlore laat gaan nie.

Met dié stelling praat ek selfmoord geensins goed nie. Die primêre vraag is nie die manier waarop die persoon gesterf het nie, maar sy/haar verhouding met die Here voor die dood – met ander woorde, was die persoon ’n gelowige, ’n kind van die Here?

Dit is een van die hartseer werklikhede van die lewe dat gelowige mense ook soms dié radikale en onomkeerbare daad pleeg. Maar selfs dié vreeslike gebeurtenis kan die geredde mens nie uit die Here se hand ruk nie.

Onder ’n besembos

Laat ek die redes vir my standpunt gee:

Eerstens meen ek baie min mense wat selfmoord pleeg, doen dit nie te midde van die donkerte van depressie nie.

Wie nie die swart nag van depressie ken, of ten minste al iets daarvan beleef het nie, sal dit dalk nie verstaan nie. Weliswaar kan dit nooit as regverdiging of verskoning gebruik word nie, maar dit bring sekerlik ’n groot mate van begrip.

Luister net na die woorde van Elia, die bekende profeet, wat na alle waarskynlikheid ook met depressie te kampe gehad het: “Hy self het egter ’n dagreis ver die woestyn in gegaan.

“Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: ‘Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie’.” (1 Kon. 19:4 – nuwe vertaling).

Ja, depressie vat jou die woestyn in, laat jou onder ’n besembos sit en wens dat jy kan sterwe.

Daar is aanduidings dat ander groot Bybelfigure soos Job en Dawid ook met depressie geworstel het. Weliswaar het hulle nie hul hand aan hul eie lewens geslaan nie, maar hulle het albei, soos Elia, by geleentheid die dood begeer.

Daar is geen twyfel nie dat die voorkoms van depressie vandag veel hoër is as in enige ander stadium in die geskiedenis.

Een van die duidelikste en sekerste tekens van depressie is dat jy by ’n punt kom waar jy die dood bo die lewe verkies; waar die dood vir jou ’n welkome ontvlugting word, want die lewe is nie meer vir jou die moeite werd nie.

Ja, só ’n toestand is uiters onnatuurlik – die mens se begeerte om te lewe is immers sy sterkste natuurlike drang.

Vir die mens in depressie kan die dood egter verkiesliker as die lewe word.

Dit is moord

‘n Gebrek aan begrip en ondersteuning is dikwels die druppel wat die emmer laat oorloop. Inderdaad was daar in die verlede nie altyd die nodige begrip vir hulle wat met dié genadelose siekte worstel nie.

Ek moet erken dat ek in die vroeë jare van my bediening self nie altyd die nodige deernis vir diegene gehad het nie – totdat ek in ’n stadium self so ’n ligte aanmaning van depressie beleef het wat vir my veel meer begrip gebring het.

Wat kan ’n mens oor selfmoord sê? Is dit verkeerd? Ja, sekerlik.

Is só iemand swak? Ja. Na alle waarskynlikheid het só ’n persoon ’n laagtepunt in sy gees, emosies en geloof bereik.

Misluk só ’n persoon? Ja. Rom. 14:7 sê: “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie.” Jou lewe en jou dood raak ander mense.

Selfmoord mag die persoon in daardie toestand laat voel dat sy/haar probleem só opgelos sal word.

Inderwaarheid skep dit meer probleme en smart vir hulle wat agterbly en bring dikwels oneindige skuldgevoelens oor die mense naaste aan die oorledene.

Het só ’n persoon gesondig? Ja, sekerlik! Selfmoord is moord – op jouself.

Is dit die onvergeeflike sonde? Nee! Sommige mense sê dalk: Maar wat as die persoon se laaste sonde moord is en hy sterf sonder dat hy daarvoor om vergifnis kon vra?

Hierop wil ek twee dinge sê: Eerstens weet niemand wat in die sterwensoomblikke tussen só ’n mens en sy/haar Skepper gebeur nie.

Tweedens wil ek dit duidelik stel dat ’n mens nie per se hel toe gaan omdat jy gesondig het en hemel toe omdat jy nié gesondig het nie.

As dít die geval was, moet ’n mens net so lank moontlik voor jy sterf probeer om nie te sondig nie.

Nee! ’n Mens gaan hemel toe omdat Christus aan die kruis vir ons gesterf het en ek deur Sy genade aanvaar het dat Hy ook in my plek gesterf het.

Ek gaan nie hel toe bloot omdat ek gesondig het nie – selfs in die laaste oomblikke van my lewe.

Ek gaan hel toe as ek nie dié groot en genadige offer van God se liefde aanvaar het nie.

Die grootste sonde

God is ’n genadige God. Wie weet en verstaan beter as Hý die broosheid en swakheid van een van sy kinders wat tydens só ’n emosionele en geestelike laagtepunt nie meer kans sien om aan te gaan nie?

Ek glo sy genade is groter as sonde in swakheid begaan.

Karel Barth, groot teoloog van die vorige eeu, het iets veelseggends oor selfmoord en sonde gesê. Hy het gesê die sonde wat God die meeste haat, die grootste sonde, is die sonde van hoogmoed – dit was immers die heel eerste sonde as gevolg waarvan Satan uit die hemel gewerp is.

Hy sê die sonde wat die verste van hoogmoed verwyder is, is selfmoord, want ’n mens wat selfmoord pleeg, is by ’n algehele laagtepunt. By só ’n mens is daar geen eiewaan of hoogmoed meer oor nie.

‘n Arrogante mens wat hom verbeel, sal nie selfmoord pleeg nie.

Ja, selfmoord is sonde, maar in die oë van die Here is dit dalk nie so groot soos dié van hoogmoed nie – al is die gevolge daarvan veel ingrypender.

Indien jy dalk iemand is wat selfmoord oorweeg, asseblief, moet dit nie as ’n opsie beskou nie. Dit is nié God se wil vir jou lewe nie.

En indien jy dalk iemand op dié manier verloor het, dink na oor dit wat ek hierbo gesê het. En mag daar vir jou troos en kalmte wees wanneer jy aan God se groot genade dink.

  • Dr. Isak Burger is president van die Apostoliese Geloofsending.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui