Kyk ook:
Op 18 April 2023 stem die Vrystaatse sinode oor ses opsies. Hier volg die ses opsies en die stemresultaat:
Opsie | Beskrywing | Resultaat |
---|---|---|
A | Neem nie nou ‘n besluit oor Artikel 37 nie. Wag vir AS in Oktober. | 2 (0.7%) |
B | Geen besluit. Versoek AS om artikel 32 te wysig dat gemeentes nie geografies hoef te assosieer nie. Skep 11de sinode. | 48 (16.1%) |
C | Voer artikel 37 uit. Breek dus weg van AS. | 48 (16.1%) |
D | Beginselbesluit om Art 37 later toe te pas. Begin solank om VS in twee te deel. | 6 (2.0%) |
E | Tree nie uit nie. Tree met Algemene Sinode van Oktober 2023 in gesprek om besluite oor die Skrif, huwelik, selfdegeslagverbintenisse, menslike seksualiteit, bestaan van die bose en teologiese opleiding in heroorweging te neem. (Bylaag 18 en Bylaag 19) | 186 (62.2%) |
F | Handhaaf status quo. | 9 (3.0%) |
299 (100%) |
Omdat opsie E die meeste stemme behaal het, word daar ook tussen bylaag 18 en bylaag 19 gestem, wat beide uitgebreide motiverings vir Opsie E is. Die resultaat is soos volg:
- Bylaag 18 (verwoord die beswaarde gemeentes se standpunt): 137
- Bylaag 19 (bevestig die algemene sinode se siening): 149
*************
Die volgende is gekopieer van die amptelike agenda, bladsy 13 tot 16.
Ses opsies vir die NG Kerk Vrystaat
Die Moderamen het teen die agtergrond van al die bogenoemde inligting en ons gesprekke, tot die gevolgtrekking gekom dat sou die vraag “Moet die NG Kerk Vrystaat uit algemene sinodale verband tree kragtens Artikel 37?” aan die Sinode gestel word, die vergadering een van die volgende opsies as keuse kon uitoefen en dus só besluit:
A. Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat neem nie nou ‘n besluit in terme van Artikel 37 van die Kerkorde nie.
Kort Motivering:
Soos ook ander sinodes (Goudland & Namibië) vir eers volstaan het met besluite, in afwagting van die uitkoms van die Algemene Sinode 2023, kan die Sinode van die NG Kerk Vrystaat ook besluit om nie nou ‘n verdere besluit kragtens Artikel 37 te neem nie.
Kerkregtelike Advies (STK):
Dit is kerkordelik moontlik.
Die implikasie van so ‘n besluit is dat die beskrywingspunte van Maart 2022 nie verder behandel word nie, maar van kennisgeneem en op die tafel van die Vrystaatse Sinode sou kon bly vir verdere oorweging. Hoewel dit mag lyk na uitstel of “te bang wees” om ‘n besluit te neem, mag dit wel ook ‘n goeie en deurdagte opsie wees om na verdere leiding deur die Gees te soek en tyd vir verdere nadenke te gee; “met tyd kom raad”. Daar is in die komende Algemene Sinode afgevaardigdes uit alle sinodale streke wat met dieselfde vrae as ons worstel en meerdere wysheid bring dalk beter leiding hieroor. ‘n Besluit om nie nou verdere besluite te neem nie, mag dus weloorwoë en konstruktief wees.
Hierdie opsie hou geen kerkregtelike risiko of uitdagings in nie, behalwe dat daar lidmate mag wees wat nou gewoon mag besluit om die NG Kerk Vrystaat te verlaat omdat die kerk nie ‘n besluit wou neem nie.
B. Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat neem nie ‘n besluit in terme van Artikel 37 van die Kerkorde nie, maar versoek die Algemene Sinode in Oktober 2023,
1. om Artikel 32 van die Kerkorde sodanig te wysig dat dit voorsiening maak vir die stigting van ‘n afsonderlike teologieskategoriale (elfde) sinode van die NG Kerk òf vir die omskepping van een van die bestaande (tien) sinodes in ‘n teologies-kategoriale sinode van die NG Kerk met “oop grense”, deur naamlik te lui dat “Die Sinode saamgestel (word) uit afgevaardigdes van gemeentes wat verkieslik geografies ‘n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode/ Algemene Sinodale Moderamen gewysig word op versoek en met goedkeuring deur die betrokke sinode/sinodale kommissie” (soos gemotiveer in Bylaag 16);
2. om ná die besluit om Artikel 32 sodanig te wysig, gunstige oorweging te skenk aan die moontlikheid om in beginsel, só ‘n teologies-kategoriale sinode van die NG Kerk tot stand te bring;
3. en om bestaande sinodes van die NG Kerk te versoek om dit vir gemeentes moontlik te maak om by so ‘n teologies-kategoriale sinode aan te sluit en die prosesse van herindeling aan die hand van die Kerkorde verder te bestuur;
en gee kennis dat indien die Algemene Sinode van Oktober 2023 nie hierdie versoek goedkeur nie, die NG Kerk Vrystaat by ‘n volgende gewone òf buitengewone sinodesitting finale opsies in die lig van die Algemene Sinode se besluite sal oorweeg, waarvan een ‘n uittrede kragtens Artikel 37 kan wees.
Kort Motivering:
Die NG Kerk Vrystaat versoek hiermee die Algemene Sinode om in Oktober 2023 ‘n besluit te neem om die Kerkorde te wysig en ‘n kerkregtelike proses te begin waardeur “ruimte gemaak word” vir die (twee) “vasgeloopte Skrifvertolkings” binne die NG Kerk en die uiteenlopende standpunte oor o.a. SGV. Anders as waar ‘n kerkregtelike bepaling en konstitusionele bedeling (1862), geografiese faktore òf ander praktiese oorwegings (1962, 1995) in die verlede die basis was vir die verdeling van bestaande sinodes of daarstelling van ‘n nuwe sinode van die NG Kerk (Art. 32) òf in die geval van kategoriale ringe ‘n taalverskil, gaan dit hier om ‘n teologiese verskil van oortuiging (t.o.v. Skrif- en belydenisbeskouing – Art. 1). Gemeentes word dus toegelaat om op ‘n geordende wyse hulself in so ‘n elfde sinode te hergroepeer òf om oor tradisionele geografiese grense, by ‘n bestaande sinode wat sigself teologies-kategoriaal sou herdefinieer, aan te sluit. Dit sou só ‘ n nuwe teologies-kategoriale sinode van die NG Kerk dan vrystaan om in die toekoms as geheel uit algemene sinodale verband te tree, kragtens Artikel 37.
‘n Meer uitgebreide motivering waarmee die NG Kerk Vrystaat ‘n bepaalde standpunt sou kon stel, is ontvang en word hierby as Bylaag 16 aangeheg. Dit kan, maar hoef nie noodwendig as deel van Opsie B gelees te word nie.
Kerkregtelike Advies (STK):
Dit is kerkordelik moontlik.
Die implikasies van so ‘n besluit sou afhang van hoe die Algemene Sinode Artikel 32 wysig en daardie “teologies-kategoriale bepaling” definieer. Daarná sou die bekende implikasies van Artikel 37 gewoon verder van toepassing wees (‘n samestellende kerk, met behoud van regte ens.). Só ‘n hergroepering van gemeentes en aansluiting by ‘n “elfde sinode” sal noodwendig ook impliseer dat ‘n aantal Vrystaatse gemeentes daardie opsie mag uitoefen wat weer implikasies vir ringe, gemeenskaplike werksaamhede, bates en fondse van die huidige NG Kerk Vrystaat sal hê.
Hierdie opsie hou die kerkordelike risiko of uitdaging in dat wanneer so ‘n elfde sinode sou besluit om uit algemene sinodale verband te tree, dit op grondvlak gemeentes, leraars en lidmate se posisie in die NG Kerk sal verander.
In hierdie opsig moet die jongste advies van die Algemene Taakspan Regte (ATR, 2 Maart 2023 – Bylaag 17) ook in ag geneem word.
C. Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat besluit om in geheel uit algemene sinodale verband te tree op grond van beskrywingspunte wat in Maart 2022 uit gemeentes en ringe ontvang is en kragtens Artikel 37 van die Kerkorde, en begin daarmee ‘n proses om kerklike eenheid in die Vrystaat te herstel.
Kort Motivering:
Die NG Kerk Vrystaat handhaaf haar kerklike selfstandigheid en teologiese identiteit o.g.v. Artikel 1 en belydenisoorwegings rakende kerkverband ens., en besluit om uit algemeen sinodale verband te tree en daarmee ook ‘n proses van gesprekke binne ons eie sinode en tussen gemeentes te begin om die meningsverskille en vervreemding vanweë besluite oor SGV, die Bose, verbandhoudende etiese kwessies en teologiese opleiding met mekaar uit te klaar. Dit staan die NG Kerk Vrystaat dan ook vry om self eie ekumeniese verbintenisse ens. aan te gaan.
Kerkregtelike Advies (STK):
Dit is kerkordelik moontlik. Trouens, ‘n samestellende kerk soos die NG Kerk Vrystaat het die vryheid om dit te doen kragtens Artikel 37, d.w.s. sonder enige belemmering vanaf die NG Kerk in algemene sinodale verband. Op dié wyse word die beskrywingspunte van Maart 2022 dan hanteer, gerespekteer en afgehandel.
Die kerkordelike implikasie hiervan is dat sodanige uittrede elke gemeente insluit wat deel is van die samestellende kerk, d.w.s. al die gemeentes van die NG Kerk Vrystaat (vgl Kerkorde Vrystaat, Besluite by Artikel 3, punt 3.1). So ‘n uitgetrede kerk is met al sy gemeentes nie langer institusioneel en organisatories deel van die NG Kerk in algemene sinodale verband nie (Artikel 37, vgl die bewoording in die besluite van die Konvensie in die Handelinge AS 1962: “… besluit die Konvensie nou tot herstel van die organisatoriese kerkverband deur die stigting van die Algemene Sinode van Die Nederduitse Gereformeerde Kerk”). Dit beteken dat daar ook ‘n besluit oor ‘n “nuwe” Kerkorde vir hierdie uitgetrede kerk geneem sal moet word, en waarin daar uitdrukking gegee sal moet word oor sake soos lidmaatskap, beroepbaarheid en ander kwessies wat nou vanselfsprekend is vanweë ons onderlinge verbintenis aan mekaar. Tree die Vrystaat Sinode uit die verband met die Algemene Sinode, is hierdie onderlinge verbintenisse en ooreenkomste nie meer vanselfsprekend en sal dit van vooraf onderhandel moet word. Die Algemene Sinode sou na alle waarskynlikheid Reglement 26 moet hersien en aanpas.
Daar is kerkregtelik bepaalde risiko’s en uitdagings aan hierdie besluit verbonde. Die sinode van die samestellende kerk – die NG Kerk Vrystaat – kan die besluit om uit te tree selfstandig neem, ter vergadering, soos met enige ander besluit wat kerkordelik op die terrein van die sinode lê (vgl Kerkorde Artikel 35). Gemeentes hoef nie gekonsulteer te word nie, en hulle instemming hoef nie verkry te word nie. Dit sluit egter nie besware teen so ‘n besluit uit nie. “Lidmate of ‘n kerkraad of ‘n ring… kan… skriftelik by die Algemene Sinode daarteen appelleer” (AS Reglement 23, punt 4.4.1). Die appèlliggaam kan besluit om die uitvoering van die besluit op te skort tot by afhandeling van die appèl (AS Reglement 23, punt 4.1.5). Die Vrystaatse Sinode sou wel kón besluit om gemeentes vooraf eers op een of ander manier amptelik oor hierdie opsie te konsulteer en/of hulle instemming daarvoor te kry. Instemming kan ook by wyse van approbasie geskied, deurdat die sinode wag totdat alle gemeentes gereageer het en sou ‘n meerderheid van gemeentes dit wel goedkeur, die besluit dan deur die Moderamen te laat bekragtig en na die Algemene Sinode deur te gee. Daar is geen kerkordelike beletsel teen so ‘n werkswyse nie, maar dit sal baie goed bestuur moet word ten einde risiko’s uit te skakel.
D. Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat besluit om in beginsel tydelik òf ten dele kragtens Artikel 37 uit algemene sinodale verband te tree, deur
1. die Algemene Sinode te versoek om Artikel 32 van die Kerkorde sodanig te wysig dat dit voorsiening maak vir die totstandkoming van ‘n afsonderlike teologies-kategoriale sinode van die NG Kerk met “oop grense” sodat dit sal lui dat “Die Sinode saamgestel (word) uit afgevaardigdes van gemeentes wat verkieslik geografies ‘n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen gewysig word op versoek en met goedkeuring deur die betrokke sinode/sinodale kommissie”;
2. terselfdertyd aan die Algemene Sinode kennis te gee dat die NG Kerk in die Vrystaat in beginsel besluit het om in twee kerkvergaderinge te verdeel en met ‘n ordelike proses tot daardie uiteinde begin het wat op die totstandkoming van ‘n tweede – teologies-kategoriaal gedefinieerde – sinode van die NG Kerk Vrystaat kan uitloop;
en besluit voorts om na gelang van die Algemene Sinode se besluit oor ‘n wysiging van Artikel 32 al dan nie,
3. òf as geheel tydelik kragtens Artikel 37 uit algemeen sinodale verband te tree, en met ‘n proses te begin om in twee kerkvergaderinge te verdeel wat uiteindelik daarop sal uitloop dat gemeentes wat binne algemeen sinodale verband wil bly op ‘n vasgestelde ooreengekome datum weer sou kon terugtree na die Algemene Sinode en ander gemeentes wat nie in algemene sinodale verband wil bly nie, op hul eie weg vrygemaak van die Algemene Sinode verder sal kan gaan (sien punt 8 hieronder);
4. òf om eers ‘n proses te begin om in twee kerkvergaderinge te verdeel wat uiteindelik daarop sal uitloop dat gemeentes wat binne algemeen sinodale verband wil bly, gewoon voortgaan as NG Kerk Vrystaat, en dat ander gemeentes wat nie in algemeen sinodale verband wil bly nie, uiteindelik uit die NG Kerk Vrystaat kan tree en op hul eie weg vrygemaak van die Algemene Sinode sal kan voortgaan (sien punt 8 hieronder);
met dien verstande dat
5. op beide weë die proses van kommunikasie met die Algemene Sinode en die verdeling binne die NG Kerk Vrystaat onder leiding van die Moderamen sal verloop en aan die hand van ‘n voorafooreengekome Interimkerkorde (in geval van punt 3, “tydelike uittrede”) òf van die bestaande Kerkorde van die NG Kerk (in geval van punt 4, “eers verdeel en dan ten dele uittree”), en beide Vrystaatse kerkvergaderinge word versoek om hul eie verteenwoordigende leierskap te verkies met die oog op die nodige onderhandelinge;
6. op beide weë daar ‘n grasietydperk (2023) voorsien word waarin hierdie twee kerkvergaderinge binne die NG Kerk Vrystaat met mekaar onderhandel en ooreenkom rakende onderlinge verhoudinge, lidmaatskap, bevoegdhede, kerkorde, huidige gesamentlike werksaamhede en die verdeling van eiendomme, fondse en verpligtinge;
7. op beide weë daar aan die begin van die proses wanneer die Sinode so ‘n beginselbesluit neem én aan die einde van die proses wanneer alle onderhandelinge afgehandel en ooreenkomste gefinaliseer is, ‘n grasietydperk aan gemeentes gegee word om te besluit by welke van die twee afsonderlike kerkvergaderings hul hulself wil voeg; en
8. word die proses van ‘n verdeling van die NG Kerk Vrystaat by ‘n volgende gewone òf buitengewone sinodesitting in 2024 of 2025 voltrek.
Kort Motivering:
Dit is uit gesprekke die afgelope jaar duidelik dat daar twee uiteenlopende standpunte/posisies binne die NG Kerk Vrystaat bestaan (gemeentes wat met die AS 2019-besluit saamgaan en ruimte daarin vind; ander gemeentes wat die betekenis en implikasies van die AS 2019-besluit verwerp) en dat daar nie maklik ‘n versoenbare middeweg vir hierdie gemeentes te vinde is nie. Die Sinode behou dus vir ‘n interimtydperk die Kerkorde van die NG Kerk in Suid-Afrika (algemeen sinodaal) en begin binne daardie veilige en ordelike ruimte, skeidingsgesprekke en ‘n verantwoordelike, billike kerkregtelike proses. Niemand word gedwing nie, maar dit staan gemeentes vry om twee keer – aan die begin en aan die einde van die proses – te kies volgens hul oortuiging in die lig van die Skrif. Dit stuur die proses dus nou in ‘n definitiewe rigting, en die werklike uittrede uit die algemene sinodale verband vir gemeentes wat wil, word aan die einde van die proses amptelik voltrek.
Kerkregtelike Advies (STK):
Hierdie opsie is kerkordelik moontlik, maar moeilik.
Artikel 32 van die Kerkorde sal in elk geval uiteindelik gewysig moet word (vgl. Opsie B) en die Algemene Sinode of die ASM (vgl. sy Reglement) sal so ‘n verdeling moet goedkeur om aan daardie kerkvergadering wat van voorneme is om uit te tree, ‘n “locus standi” te verleen – volgens die voetnota by Artikel 37 is dit net ‘n “samestellende kerk” (“sinode”) wat uit algemeen sinodale verband kan tree. Daardie “kerkvergadering” sal dus as ‘n eie sinode gekonstitueer moet wees voordat hulle ‘n besluit om uit te tree, sal kan neem; dit kan dus òf vooraf die hele Vrystaatse Sinode wees òf dan ná verdeling, slegs een deel/die nuwe sinode wees…
Die kerkordelike implikasie hier is in wese dat daar ‘n (kleiner) elfde sinode binne die algemeen sinodale verband van die NG Kerk tot stand gaan kom, hoewel waarskynlik net vir ‘n kort wyle – dus, tydelik.
Die kerkregtelike risiko of uitdaging is dieselfde as by Opsie B. Die een “Vrystaatse Sinode” sal dus nie meer geografies ingedeel wees nie, maar teologies-kategoriaal en dit sal praktiese uitdagings meebring van afstand, kostes en effektiewe funksionering asook die onderlinge verhoudinge met ander gemeentes in die “ouer” Vrystaatse Sinode. Die tweede weg – sien punt 4 (waar daar binne die ruimte van die huidige Kerkorde onderhandel word, sou die Algemene Sinode dit ook so goedkeur) – is nietemin ‘n beter uitweg as die eerste – punt 3 – naamlik dat die hele sinode van die NG Kerk Vrystaat uit verband tree (Art. 37), daarna in twee sinodes verdeel en een deel (sinode) dan weer terugtree in algemene sinodale verband en die ander sy eie weg verder volg. Vir só ‘n opsie – punt 3 – sou daar eers ‘n nuwe interimkerkorde opgestel en goedgekeur moes word.
E. Die NG Kerk Vrystaat besluit om nie kragtens Artikel 37 van die Kerkorde uit algemene sinodale verband te tree nie, maar om met die Algemene Sinode van Oktober 2023 in gesprek te tree en
1. haar standpunt ten opsigte van die Skrif en ons belydenisgrondslag as ‘n gereformeerde kerkverband (soos gestel in besluite van die Sinode in Maart 2022 geneem) aan die Algemene Sinode deur te gee;
2. haar standpunt ten opsigte van sake soos in die genoemde beskrywingspunte van Maart 2022 geopper – ten opsigte van die huwelik, selfdegeslagverbintenisse en menslike seksualiteit; ten opsigte van die Bose; en ten opsigte van teologiese opleiding – by wyse van ‘n beskrywingspunt(e) soos in BYLAAG 18 òf BYLAAG 19 uiteengesit, aan die Algemene Sinode oor te dra;
3. in die lig van hierdie standpunte van die NG Kerk Vrystaat (punt 1 en 2 hierbo), die Algemene Sinode te versoek om genoemde ter saaklike besluite van 2019 en vroeër in heroorweging te neem;
4. binne die ruimte van die Kerkorde (Artikels 23 en 35) opnuut haar verhouding met die Algemene Sinode uit te klaar en dié in Oktober 2023 te versoek om oor die toekomstige funksionering van ons algemeen sinodale kerkverband te herbesin;
5. verstaan dat daar Vrystaatse gemeentes is wat nie hul weg oop sien om verder met die teologiese standpuntstelling van die Algemene Sinode geassosieer te word nie, en onderneem om – indien pogings soos hierbo uitgespel (punte 1 tot 4) nie na bevrediging slaag nie – met dié gemeentes welwillend op weg te gaan ten einde hul binne ‘n afsienbare grasietydperk en op kerkordelike wyse toe te laat om dan “met die behoud van regte, voorregte, besittings, naam” (sou alle lidmate daartoe toestem), uit verband met die NG Kerk Vrystaat te tree.
Kort Motivering:
Die Sinode is oortuig dat daar binne die Kerkorde genoeg ruimte voorsien is vir ‘n sinode soos die NG Kerk Vrystaat om kragtens ons gereformeerde kerkbegrip en kerkregering ‘n eie standpunt oor teologies-etiese sake in te kan neem en om op grond daarvan met die algemene sinodale verband in gesprek te kan tree. Verder het verskeie studiegroepe, gemeentes, ringe en die streekskonferensies die afgelope twee jaar hul tyd en aandag gewy aan die bevestiging van ons eie standpunt oor die Skrif, ons belydenisgrondslag, ons verstaan van kerkverband en ‘n aantal teologiese sake (ook oor opleiding) – dit kan inderdaad as een van die kerklike middele by wyse van ‘n beskrywingspunt ook so aan die Algemene Sinode in Oktober oorgedra word. Terselfdertyd verstaan ons dat daar gemeentes is vir wie die einde van die pad reeds gekom het, en dat hulle in alle opsigte vry wil kom – die Sinode van die NG Kerk Vrystaat aanvaar dit so en maak die deur by wyse van spreke vir sulke gemeentes oop met die oog op ‘n kerklik welwillende weg. Dit moet egter steeds “gepas en ordelik” en in die lig van die Skrif verloop, asook dienooreenkomstig die grondwetlike bestel waarin ons ons bevind.
Kerkregtelike Advies (STK):
Punte 1 tot 4 van hierdie opsie is volgens ons Kerkorde moontlik; dít is hoe ons ons kerkverband en funksionering verstaan. Punt 5 sou volgens Artikel 23.5 ook vir gemeentes moontlik wees om uit die kerkverband (dan NG Kerk Vrystaat) te tree, omdat die Kerkorde niks hiervoor òf hierteen stel nie, maar dan sou dit benewens kerkordelike bepalings ook aan siviel-regtelike vereistes moes voldoen, mits die hele gemeente daartoe instem (die sogenaamde “universitas-beginsel”). Wat is die kerkordelike implikasies van so ‘n besluit? Van die implikasies by Opsie B sou ook hier geld. Die volgende sal egter baie goed inaggeneem moet word: Beteken “die hele gemeente” al die aktiewe lidmate of almal wie se name formeel in die lidmaatregister van die gemeente is? Die Vrystaatse Sinode se besluite by Kerkordeartikel 3 is ter sake: Punt 3.4.5 Sodra ʼn lidmaat uit ʼn gemeente vertrek, verval sy lidmaatsvoorregte in die gemeente wat hy verlaat, tensy hy skriftelik met die bepaalde gemeente reëlings betreffende sy voortgesette lidmaatskap getref het. Punt 3.4.6 Hy het geen lidmaatsregte in die nuwe gemeente voordat sy attestaat of bewys van lidmaatskap ingedien is nie. Aangesien die universitasbeginsel ʼn siviele regsaangeleetheid is, is dit verder ook moontlik dat slegs mondige lidmate hier ter sake is (21 jaar en ouer). Verdere regsadvies sal dus hier noodsaaklik wees indien ʼn gemeente dié roete wil volg en sal kwessies soos lidmaatskap, beroepe, pensioen, fondse, ens. vooraf onderhandel moet word. In die lig van onsekerheid oor vrae soos hierbo gestel, sal daar waarskynlik eers regsekerheid verkry word wanneer ‘n bepaalde geval in die siviele hof getoets is. Die sake in die geskiedenis tussen die VGKSA en die NGKA het perspektief hierop gebied, asook in die geval van die Hervormde Kerk, maar verskillende kontekste en kerkregtelike gronde (Kerkordes) moet deeglik verreken word. Die uittrede van ‘n gemeente sal by gebrek aan ‘n toepaslike kerkordelike reëling, siviel-regtelik geweeg moet word. Sien in hierdie verband ook die advies van die ATR (Bylaag 17).
F. Die Sinode van die NGK VS besluit om nie kragtens Artikel 37 van die Kerkorde uit algemene sinodale verband te tree nie.
Kort Motivering:
Uit gesprekke en bespreking tydens die 2022 Vrystaatse Sinode en die drie streekbyeenkomste in November 2022, blyk dit dat daar lidmate en leraars is wat nie ten gunste van uittrede is soos versoek in sommige beskrywingspunte nie, maar wat tevrede is met die besluite van die Algemene Sinode oor die sake wat in die beskrywingspunte en ander verslae voor die sinode gedien het, aangespreek is.
Kerkregtelike Advies (STK):
Dit is kerkordelik moontlik.
Die implikasie van so ‘n besluit is dat die beskrywingspunte van Maart 2022 nie verder behandel word nie, maar van kennis geneem en dit daarby gelaat word. Die Vrystaatse Sinode besluit ook nie om verder hieroor met die Algemene Sinode in gesprek te tree nie. Dit sou verstaan kon word as dat die Vrystaatse Sinode hiermee per implikasie kies teen versoeke vir ‘n welwillende weg van verdeling, met al die implikasies wat so ‘n keuse vir gemeentes inhou wat nie meer met die Algemene Sinode geassosieer wil wees nie. Hierdie opsie hou dus kerkregtelik ‘n risiko vir die NG Kerk Vrystaat in geheel in, aangesien gemeentes wat doleer of lidmate wat nie met die besluite van die Algemene Sinode 2019 wil saamgaan nie, eintlik dan net met een of meer van drie keuses gelaat word: Of hul berus by die besluit van die Vrystaatse Sinode, wat dan ook impliseer ‘n berusting by die ruimtes wat deur die 2019-besluit van die Algemene Sinode geskep is; òf hul gaan die weg van oorreding op om as gemeentes met volle instemming van alle lidmate (sien die advies by Opsie E) uit die NG Kerk Vrystaat te tree; òf hul bedank as individuele lidmate en leraars uit hul gemeentes, wat beteken verlies van bevoegdheid en “voorregte” soos toegang tot die sakramente, deelname aan die pensioenfonds en mediese skema en ander groepsvoordele. Vir die NG Kerk Vrystaat as verband van gemeentes, mag dit gevolglik ook uitloop op verdere verdeeldheid en druk op die werksaamhede van die Sinode, met bv. ‘n daling in pro rata-bydraes.
Bylaag 18
Eerste uitgebreide motivering by Opsie E voor die Vrystaatse Sinode, April 2023
Die NG Kerk Vrystaat besluit om nie kragtens Artikel 37 van die Kerkorde uit algemene sinodale verband te tree nie, maar om met die Algemene Sinode van Oktober 2023 in gesprek te tree en die volgende beskrywingspunt deur te gee aan die Algemene Sinode
1. Die Vrystaat Sinode neem kennis dat talle gemeentes in die NG Kerk doleer of ontevrede is oor onder andere die besluite van die Algemene Sinode om ruimte te skep vir selfdegeslagverbintenisse, seksuele saamwoonverhoudings asook vir diegene wat ontken dat bose geeste bestaan.
2. Die Vrystaat Sinode neem ook kennis dat talle gemeentes in die NG Kerk ontevrede is met die teologiese opleidingsentra van Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein waar talle dosente onder andere ten gunste is van selfdegeslagverbintenisse.
3. Die Vrystaat Sinode neem kennis van die verslag van die Vrystaat se STALS (sien BYLAAG 7) oor selfdegeslagverbintenisse asook die bestaan van die bose wat motiveer waarom sommiges in die NG Kerk glo dat hierdie besluite van die Algemene Sinode onwettig was in die lig van die Skrif, Belydenis en Kerkorde.
4. Die Vrystaat Sinode versoek die Algemene Sinode om hierdie besluite in revisie te neem en in 2023 finaal as volg te besluit:
4.1 Die sinode besluit om te volstaan met sy huidige belydenis oor die huwelik as ʼn permanente lewensverbintenis tussen ʼn man en ʼn vrou,
4.2 Die sinode verwerp promiskuïteit in al sy vorme en bely die Bybelse aandrang op kuisheid binne sowel as buite die huwelik.
4.3 Die sinode besluit dat die permanente lewensverbintenis tussen mense van dieselfde geslag, as ‘n eietydse alternatief vir die huwelik tussen man en vrou, gevolglik nie volgens die wil van God is nie;
4.4 Die sinode besluit dat die Skrif en Belydenis duidelik is dat die Satan en sy gevalle engele bestaan;
4.5 Die GKSA se teologiese opleiding te aanvaar sonder bykomende colloquium doctum vereistes, omdat dit reeds voldoen aan alle kerkordelike vereistes vir teologiese opleiding. Teologiese studente meld aan by NG kuratoriums sodra hulle studies ‘n aanvang neem
5. Indien die Algemene Sinode besluit om punte 1-4 nie goed te keur nie, neem die sinode kennis dat hierdie besluite om steeds ruimte te skep vir selfdegeslagverbintenisse asook die ontkenning dat bose geeste bestaan, teen die geloofsoortuiging van talle gemeentes is.
6. Die Vrystaatse Sinode versoek dan die Algemene Sinode om voorsiening te maak vir die stigting van ‘n afsonderlike teologies-kategoriale sinode van die NG Kerk, soos gemotiveer en kerkordelik verantwoord in BYLAAG 16 by Opsie B.
7. Die Vrystaatse Sinode gee kennis dat indien die Algemene Sinode nie hierdie versoek goedkeur nie, die NG Kerk Vrystaat by ‘n volgende gewone òf buitengewone sinodesitting sy opsies finaal sal oorweeg, waarvan uittrede uit algemene sinodale verband kragtens Artikel 37 een is.
Bylaag 19
‘n Ander uitgebreide motivering by Opsie E voor die Vrystaatse Sinode, April 2023
Die NG Kerk Vrystaat besluit om nie kragtens Artikel 37 van die Kerkorde uit algemene sinodale verband te tree nie, maar om met die Algemene Sinode van Oktober 2023 in gesprek te tree en dit aan die Moderamen op te dra om by sy vergadering in Mei 2023, ‘n uitgebreide beskrywingspunt aan die komende Algemene Sinode te finaliseer en deur te gee, met die volgende strekking:
1. Die NG Kerk Vrystaat bely dat die Bybel die Skrifgeworde Woord van God is, wat die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word en daarom is dit ook heilig, volmaak, onfeilbaar en vir ons gesagvol (NGB Art. 3, 5, 7);
2. bely voorts dat ons die geskrewe Woord van God lees in samehang met hoe God Homself bekendmaak in die Skepping en onderhouding van alle dinge (NGB Art. 2); in verbondenheid aan Christus, die Woord wat mens geword het en lewe (Johannes 1:1-14, NGB Art. 10); en omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hierdie Woord in al die gestaltes daarvan inderdaad “van God is (Johannes 16:13-14, NGB Art. 5); en
3. bevestig dat vanweë ʼn verskeidenheid van eietydse kontekste waarin ons die Skrif lees en verskillende benaderings in die lees van die Skrif, maar ook vanweë ons gebroke menslikheid en beperkte insigte, daar van tyd tot tyd nie net een vertolking van ʼn Skrifgedeelte na vore kom nie; dat dit dikwels verwarring onder gelowiges en in kerke meebring; en dat ons daarom geroep is om geduldig en met fyn onderskeiding van waarop dit werklik aankom, saam met mekaar na die lig van die Skrif en die boodskap van God daarin aan ons, sy Kerk, te soek.
4. Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat bevestig dat in sake van teologiese- en etiese belang, ons ons wil laat lei deur die Woord van God, soos wat dit in sy skepping en onderhouding van alle dinge, in Christus en deur die Heilige Gees aan ons geopenbaar word, en ons dit ook in ons Formuliere van Enigheid onderskryf;
5. bevestig dat daar in ons lees en vertolking van die Skrif behoefte is aan ‘n verantwoorde hermeneutiek, soos ook in ons lees en vertolking van die belydenisskrifte uit die tyd van die Reformasie in ons omstandighede vandag; en
6. is bewus daarvan dat daar by leraars en lidmate ‘n behoefte is aan sekerheid en ‘n bondige en bevatlike uitleg van wat ons glo ten opsigte van God Drie-Enig; sy skeppingswerk; Christus as ons Verlosser in sy persoon en werk; ons regverdiging en heiligmaking uit genade en deur geloof alleen; die Kerk as een, heilig, algemeen en Christelik; en die bede om verlossing van die bose.
7. Teen hierdie agtergrond getuig die NG Kerk Vrystaat ten opsige van sake wat in die beskrywingspunte en verslae voor die Sinode in Maart 2022 gedien het, as volg:
8. Dat in sake menslike seksualiteit en kwessies rakende seksuele oriëntasie, die huwelik volgens ons vertolking van die Skrif, die Godgegewe veilige ruimte is waarin ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en die waardes van liefde en trou, wedersydse respek en versorging tot vervulling kom, en dat ons daarom alle vorme van losbandigheid en promiskuïteit afkeur;
9. dat ons met die lig tot ons beskikking nie selfdegeslagverbintenisse as ‘n alternatief vir die huwelik kan aanvaar nie; 10. dat ons diep onder die indruk is van die vernedering en vervreemding wat in die afgelope dekades deur kerklike debatte oor hierdie aangeleentheid meegebring is, en versoek daarom dat dit nie bloot as ‘n etiese- of kerkregtelike aangeleentheid hanteer sal word nie, maar in die eerste instansie pastoraal in gemeentes waar ons mekaar as medegelowiges liefhet, bemoedig en God saam wil dien; en
11. versoek daarom die Algemene Sinode van 2023 om die besluit van 2019 oor selfdegeslag-verbintenisse in die lig van bogenoemde (punte 8 tot 10) te vertolk.
12. Dat in sake die inhoud van ons geloofsbelydenis soos uitgedruk in die Apostolicum en spesifiek aangaande God as Skepper, Christus as ons Verlosser – in sy ontvangenis, verkondiging, sterwe, opstanding, hemelvaart en wederkoms – en die Heilige Gees as ons Trooster, ons as Sinode dit verstaan in die gees en strekking van hoe die belydenisskrifte uit die tyd van die Reformasie dit uitlê en dit in ons gereformeerde tradisie vertolk en in ons eredienste verkondig word;
13. dat wat die Bose en boosheid betref, ons die verskeidenheid van spreke daaroor in die Skrif én in ons belydenisskrifte erken, soos wat dit steeds ook in ons tyd en konteks in verskillende gestaltes manifesteer;
14. dat ons daarom gelowiges wil oproep om te leef as getuies “van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig” (1 Petrus 2:9), en in die woorde van die “Onse Vader” te bly bid dat God ons van die Bose sal verlos – van “ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur” (Heidelbergse Kategismus, Sondag 52);
15. versoek daarom die Algemene Sinode van 2023 om in besluite oor sake rakende die inhoud van ons geloofsbelydenis en ander aktuele sake, geloofsonderskeidend met die Skrif en ons belydenisgrondslag om te gaan en te waak teen standpunte en uitsprake wat lidmate en leraars hieroor mag verwar; en
16. om daarom die besluite van 2011, 2013 en 2015 oor die Bediening van Bevryding en die Bose in die lig van bogenoemde (punte 13 en 14) te vertolk en daarmee te volstaan.
17. Dat in sake teologiese opleiding, ons die kompleksiteite van ‘n nuwe konteks vir Hoër Onderwys aan publieke universiteite en in ekumeniese fakulteite vir teologie erken, en óók die besorgdhede wat daar in gemeentes hieroor bestaan met die oog op die opleiding van leraars en bedienaars van die Woord vir ons gemeentes;
18. dat ons opnuut die Kuratorium van die NG Kerk Vrystaat versoek om met groot verantwoordelikheid en getrou aan ons gereformeerde belydenisgrondslag, die vennootskap met die Universiteit van die Vrystaat so te bestuur dat sowel die akademiese opleiding van teologie studente uit die NG Kerk asook hul kerklike vorming en begeleiding in ons Seminarium, tot volle ontplooiing kan kom;
19. dat ons die Kuratorium versoek om deurlopend by die ontwikkeling van kurrikula en die assessering van studente en die opleiding in geheel, betrokke te bly en aan die kerkverband hieroor verslag te lewer; en
20. dat hoewel legitimasie en akkreditasie van opleiding ‘n funksie van die Algemene Sinode is soos deur ons Kerkorde bepaal, ons die Algemene Sinode van 2023 versoek om sinodes soos dié van die NG Kerk Vrystaat as die primêre verantwoordelike liggaam te ondersteun vir die ontwikkeling, plaaslike aanbieding en kerklike begeleiding van teologiese opleiding en -studente vanaf hul eerste jaar van opleiding en in al die diverse bane van opleiding.
21. Dat in sake die toekoms van ons kerkverband, ons vashou aan die belydenis van wat ons glo oor die “een, heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges” soos onder andere uitgelê in die Heidelbergse Kategismus Sondag 21, en dat ons daarom in ons nadenke oor die wese en roeping van die NG Kerk, oor haar bediening in gemeentes en gemeenskappe en haar funksionering in vergaderings én ten opsigte van beplanning vir ‘n onsekere toekoms, ons onsself aan dié belydenis sal bly oriënteer en daardeur laat lei; en
22. dat ons daarom die Algemene Sinode van 2023 versoek om haar uitgangspunte, onderliggende kerkbegrip, formuleringe en doelwitte van ‘n “toekomsscenario” vir ons kerkverband, in die lig van die Skrif en ons belydenis te heroorweeg.