Sinode aan dolerendes: Julle moet steeds betaal!

Die volgende kommunikasie is op 10 September 2021 in Vrypos, Sinode Vrystaat se weeklikse nuusbrief, gepubliseer.

Daarin word dolerendes subtiel daaraan herinner dat hulle steeds hulle sinodale bydraes moet betaal. (Van die 78 gemeentes wat doleer hou ongeveer 48 gemeentes hulle sinodale bydraes terug.)

Dit daar gelaat: ’n mens kan nie help om te lag vir die voorstel wat aan dolerendes gemaak word nie:

‘n Beswaarskrif en/of beskrywingspunt aan die Algemene Sinode (volgens die voorgeskrewe kerkordelike wyse), asook moontlik ’n beskrywingspunt aan die streeksinode met voorstelle hoe om die dwaling reg te stel sou ook van pas wees.

Asof dit nou nog nie probeer is nie – kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap.

Dit is mos nou juis die rede hoekom 78 gemeentes reeds doleer: omdat hierdie amptelike kerkordelike roetes net mooi niks opgelewer het nie.

Of moet ’n mens tussen die lyne lees? Moet ’n mens hierin verstaan dat dolerendes die besluite van die Algemene Sinode so moet aanvaar óf hulle moet maar die kerk verlaat?

Daar is ’n definitiewe vasgelooptheid in die NG Kerk.

*************

Dolering

Deur Bertus Celliers, Sinodale Taakspan Kerkorde

10 September 2021

1. Dolering word vanuit die geskiedenis daarvan in Gereformeerde kringe beskou as ’n staat van rou oor die rigting waarin die kerk beweeg of die teologiese en geestelike stand van die kerk. ’n Kerk wat ernstig dwaal, noop dus gemeentes tot doleansie.

Dit was die geval in die vroeg sewentiende eeu toe Nederlandse gemeentes gedoleer het oor die uitverkiesingsleer en in die laat negentiende eeu oor die liberale rigting in die Nederlandse Hervormde Kerk. Iemand soos Prof Mary-Ann Plaatjie-Van Huffel het haar proefskrif hieroor geskryf en sou selfs die status confessionis van die NG Sendings kerk in die tagtigerjare oor ’n teologie van apartheid as dolering wou beskryf.

2. Dolering het geen kerkregtelike status nie. Daar is geen verwysing in ons kerkorde en reglemente daarna nie, en ook geen artikel of bepaling wat iets daaroor sê nie.

Daar is geen voorgeskrewe prosedures wat deur gemeentes en kerkrade gevolg moet word nie. Die kerkraad besluit self daaroor en reël dit binne die gemeente volgens hulle eie oordeel.

3. Gemeentes wat doleer behou hulle ‘locus standi’ binne die kerkverband. Hulle tree nie met ’n besluit om te doleer uit kerkverband nie en bly steeds ’n gemente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Dit beteken dat dolerende gemeentes (ringe en sinodes) hulle volle voorregte en volle verantwoordelikhede binne die kerkverband behou.

4. Dit beteken enersyds dat hulle aan gesprekke en meerdere vergaderings kan deelneem en dat hulle lidmate steeds alle lidmaatskap-voorregte geniet. Predikante behou hulle volle bevoegdhede en regte (mediese en pensioenvoordele) en kan beroep word.

5. Andersyds beteken dit ook dat lidmate, ampsdraers en kerklike vergaderings steeds aan die bepalings (artikels, reglemente en besluite) van die Ned Geref Kerk gebonde is en gehoorsaam behoort te wees. Dit sluit ook in die kontraktuele ooreenkomste wat gesluit is tussen die gemeente en die ring, die gemeente en die sinode, en die sinode en die Algemene Sinode.

6. In die lig van bogenoemde is die weerhouding van rings- en/of sinodale bydraes nie vanselfsprekend deel van doleansie nie. Dit is ’n afsonderlike besluit wat nie histories verbind kan word aan ’n besluit om te doleer nie. Mens sou selfs kon sê dat dit ’n nuwe inhoud is wat sommige gemeentes aan doleansie gee, maar wat geen kerkordelike sanksie het nie.

7. ’n Doleansie is in wese ’n pastorale aangeleentheid wat dienooreenkomstig hanteer moet word. Dit veronderstel indringende gesprek binne kerkverband om juis ’n weg van herstel aan te dui aangaande die dwaling waaroor getreur word. ’n Beswaarskrif en/of beskrywingspunt aan die Algemene Sinode (volgens die voorgeskrewe kerkordelike wyse), asook moontlik ’n beskrywingspunt aan die streeksinode met voorstelle hoe om die dwaling reg te stel sou ook van pas wees.

1 thought on “Sinode aan dolerendes: Julle moet steeds betaal!”

  1. Interessant dat dr Bertus Celliers (wat deel van die ASM is) so hoog opgee oor die “kerklike weg”. (Ironie van ironië dat hy deel is van die Taakspan: Kerkorde). Hy en die res van die ASM het versuim om ons (Kairos Netwerk) geleentheid te gee om “geskille uit die weg te ruim”: hulle het ons op 3 Maart vanjaar ’n spesiale sinode geweier. Verder nog: wetend dat die 2019 SGV-besluit ’n kontensieuse saak is, is dit nie na die 10 streeksinodes verwys nie. Wie is dit wat eintlik NIE die kerkordelike weg volg nie????

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui