Kyk ook:
Die volgende berig in Kerkbode bevestig die herderlike brief van die Sinode van Noord-Kaapland (SNK) op 13 Mei 2022 dat hulle meer bekommerd is oor die twis in die NG Kerk wat eenheid in die kerk negatief beïnvloed as die teologiese dwalinge in die kerk.
SNK wil ook weer kyk na hereniging met die VGK. Neem in ag dat dit sal vereis dat die NGK die Belydenis van Belhar sal moet goedgekeur.
My kommentaar is in rooibruin blokhakies tussen die teks.
*******
Sinode Noord-Kaapland : Geld stroom in vir droogtehulp, gesprek oor kerkverband duur voort | Kerkbode
16 Mei 2022
Deur Helene Meissenheimer
{{Die eerste gedeelte van die berig is uitgelaat:
Dit handel hoofsaaklik droogtehulp en
nie oor die huidige teologiese kwessies in die NG Kerk nie.}}
Kerkverband: Spanning met Algemene Sinode
Die afgelope weeklange sinodesitting was ’n versoeningsgesinde saamtrek wat in die ouditorium van ’n charismatiese kerk met sitplek vir 800 gehou is. Aan die einde van ’n tweedaglange bespreking oor Skrifgesag en hermeneutiek (hoe verstaan ons die Bybel) het voorsitter ds Kobus Conradie opgemerk “moet tog asseblief nie dat ons vir mekaar vinger wys nie … ons glo en vertrou dat ons ’n weg (met verskillende) perspektiewe … sal kan oorleef.”
[Kommentaar: Sommer vroeg in die artikel kry ’n mens die idee dat die Sinode van Noord-Kaapland (SNK) ’n ruim-huis benadering gevolg het tydens die sinode.]
Die afgevaardigdes het gestem dat daar met beide die Algemene Sinode asook dolerende gemeentes in hulle streek oor kerkverband gepraat moet word vóór die volgende streeksinodale-saamtrek.
“Die NG Kerk in Noord-Kaapland is hartseer en ontstig oor die spanning en wantroue wat tussen die Algemene Sinode en die sinodes en gemeentes van ons NG Kerk die afgelope tyd ontstaan het,” lui een van verskeie voorstelle wat eenparig aanvaar is. “Ons treur oor die moontlike oneer wat dit aan die Here se Naam kan bring. Ons treur oor die seer en ontsteltenis van sommige kerkrade, ampsdraers en lidmate.”
[Kommentaar: Moenie treur oor die spanning en wantroue in die NG Kerk nie. Jesus het nie gekom om vrede te bring nie (Mat 10:34-35). Treur eerder oor die on-Bybelse besluite en dade wat tans in die NG Kerk toegelaat word. Treur eerder daaroor dat daar in die NG Kerk, dit was sleg is, goed noem (Jesaja 5:20). Treur eerder oor die on-Bybelse drek wat aan voornemende teologiese studente geleer word by die teologiese fakulteite.]
Ds Rudi Janse van Vuuren, touleier by die Taakspan Sinodebeplanning, het die uitkoms van die gesprekke vir Kerkbode as volg saamgevat: “Die Noord-Kaap koop in by die Algemene Sinode … (ons) gaan nie uit die breër verband uitklim nie [Kommentaar: Soos die Namibiese sinode dreig om te doen?], maar ons gaan met die Algemene Sinode ’n pastorale pad soek dat ons mekaar kan vind.”
[Kommentaar: Dus gaan hulle die algemene sinode probeer bystaan om vrede te bewerk tussen hulle en die dolerendes.]
Die sinode het ook besluit om te kyk hoe die gesprek oor hereniging met die VGK weer op die tafel kan kom na dit grootliks skipbreuk gelei het met die buitengewone sinode van 2015.
[Kommentaar: Let daarop dat die VGK se voorwaarde is dat die Belydenis van Belhar as ’n vierde belydenis bygevoeg moet word tot die Drie Formuliere van Eenheid.]
Orania se Boshoff lei gesprek
Die sinode was volgepak met daglange besprekings en saans was daar vergaderings van tydelike kommissies. In die agenda van 330 blaaie was sake soos die eiesoortige aard van die kerk, ’n nuwe sinodale struktuur vir Noord-Kaapland, Skrifgesag en -gebruik, die Algemene Sinode, dolerende gemeentes en missionale kerkwees gelys.
Die gesprek oor onderlinge verskille oor Skrifgebruik en -gesag was, nes in ander sinodale streke van die NG Kerk, ’n groot besprekingspunt. Die gesprek is oor twee dae gelei deur dr Carel Boshoff, voorsitter van die sinodale kerkordekommissie (SKOK), een van vier sinodale kommissies vir die NG Kerk in Noord-Kaapland. Daar is nie ’n moderatuur soos in die ander tien sinodale streke nie.
SKOK het vroeg in 2019 ’n buitengewone sinodesitting aangevra onder meer oor “die woelinge in die kerk rondom besluite van die algemene sinode” soos die agenda dit verwoord.
Boshoff het aan die hand van ses vrae die afgevaardigdes genooi om aan die gesprek deel te neem, “die belangrike ding is nou waar almal vir almal hoor … sodat ons kan sê só lyk dit in die Noord-Kaap,” het hierdie ouderling van NG gemeente Orania gesê.
Terugvoer oor twee jaar
Tydens die besprekings het dit geblyk daar is ongemak by van die streek se gemeentes oor die Algemene Sinode se hantering van die interne teologiese geskille oor selfdegeslagverhoudinge en Skrifgesag. Teen die einde van die week het die afgevaardigdes eenparig besluit Noord-Kaapland se kerkordekommissie sal voor die volgende sinodesitting met die algemene sinode in gesprek tree om die oorsake te identifiseer wat “hartseer en verdeeldheid veroorsaak het” en dit aan te spreek.
[Kommentaar: Dit is onseker hoe hulle met die algemene sinode in gesprek wil tree. Word daar eerder bedoel dat hulle met die ASM (algemene sinode moderamen) in gesprek wil tree? En hoekom nie met die Kairos Netwerk of Namibiese Sinode direk praat nie? Kairos Netwerk het reeds voorheen met die ASM in gesprek getree, maar die ASM het nie begrip vir die situasie gehad nie. Dieselfde het sopas met die Namibiese verteenwoordigers gebeur (kyk ASM reageer op Namibië se besoek). Die kerkordekommissie van SNK moenie dink dat hulle die volle prentjie by die ASM gaan kry nie.]
Die sinodale kommissie vir bedieningsondersteuning sal leiding neem sodat gespreksgeleenthede in gemeentes geskep word om oor hierdie sake te praat. Daar gaan ook met dolerende gemeentes in gesprek getree word.
[Kommentaar: Alles tot dusver in ag geneem, kry mens die idee dat SNK reeds besluit het dat daar ruimte geskep moet word vir verskillende teologiese sieninge. Dus kan ’n mens nie verwag dat die SNK begrip sal hê vir behoudendes wat nie ruimte wil skep nie.]
Na twee jaar sal beide kommissies oor die verloop van hierdie gesprekke by Noord-Kaapland se volgende sinodesitting terugvoer gee.
“Ons moet nederig wees”
Tussendeur elke dag se gesprekke het lede van taakspanne verslag gedoen oor verskillende sake. Een van hulle, ds Bootjie Booysen, voorsitter van die taakspan aktuele sake, het terugvoer gegee oor die rol van hermeneutiek (Skrifverstaan en -hantering). “Ons moet onthou ons lees almal die Bybel met ’n bepaalde bril as gevolg van ons opvoeding, ons agtergrond … wie ons is,” het hy verduidelik. Oor gereformeerd wees het hy gesê dit beteken “ons kom om die Woord saam met mekaar … en ons lees die Bybel in die lig van die totale Bybel. God vra van ons om werklik te swoeg met sy Woord … maar ons moet nederig wees … as gereformeerdes om te dink net ek ken sy wil … dit is gevaarlik”.
[Kommentaar: Uit ervaring is geleer dat hierdie tipe taal beteken dat die Bybel nie duidelike antwoorde gee oor die heersende teologiese kwessies (soos selfdegeslagverhoudings) nie en dat daar ruimte geskep moet word vir verskillende sieninge.]
Nuwe leierskapstruktuur ondersoek
Noord-Kaaplandsinode het nie soos ander sinodes ’n uitvoerende leierskap- model nie. Daar is wel vier kommissies met taakspanne, maar hierdie model het gebreke getoon tydens die Covid-pandemie toe die beplande sinodesitting nie weens inperkingsmaatreëls kon plaasvind nie. Die kommissies kon nie terugvoer gee oor hulle werksaamhede nie en nuwe opdragte kon nie gegee word nie. Die behoefte is daar vir ’n kritiese gesprek dat die sinode sy struktuur en leierskapsisteem herbedink, het Janse van Vuuren aan die afgevaardigdes verduidelik.
’n Koördineringsgesprekgroep, bekend as die Sinode van Noord-Kaapland se deputate (ou gereformeerde woord), gaan oor die volgende twee jaar werk aan ’n moontlike nuwe leierskapsmodel.