Iets om op te let: Die doel van hierdie artikel in besonder en die reeks in geheel is nie om lesers te probeer oortuig dat die jong aarde skeppingsleer (hierna skeppingsleer) die regte siening oor die oorsprong van die wêreld is nie, maar bloot om mistastings oor die skeppingsleer, wat vrylik in die openbaar versprei word, reg te stel. Soos in die eerste skrywe wanneer daar van die skeppingsleer gepraat word en sienings en opinies van die skeppingsleer, dan is dit die gemeenskaplike siening van die hoofstroom skeppingsleer organisasies wat geld. Ek argumenteer nie vir die meriete van die skeppingsleer nie, selfs al hang ek dit onbeskaamd aan. Ek probeer die artikels deeglik deurgaan om seker te maak dit is nie die geval nie, maar indien dit deurglip is dit onbedoeld en vra ek byvoorbaat om verskoning.
Ek wil dit graag herhaal in die belang van helderheid. Die doel van hierdie reeks is om mistastings (verkeerde inligting en doelbewuste leuens wat versprei word) rakende die skeppingsleer reg te stel. Hoop dit is duidelik.
Meeste van die mistastings wat hierdie reeks gaan aanspreek is tot ’n mindere of meerdere mate vervat in ’n kommentaardokument wat ek met die hulp van drie ander outeurs die lig laat sien het.
Die tweede mistasting wat aangespreek word handel oor die beskuldiging dat Christelike fundamentaliste, en dan meer spesifiek skeppingsleerders, die hele Bybel letterlik lees. Die venynigste aanvalle van hierdie tipe kom veral vanuit die oord van die sogenaamde teïstiese evolusioniste. ’n Paar van die meer matige kommentare word hier gelys.
“’n Argument wat nou dikwels gesien word is dat die ganse Bybel letterlik vertolk moet word omdat God ’n onveranderlike God is.”
en
“Die vind van die ware boodskap kan verydel word deur die aandrang dat alles in die Bybel letterlik feitelik is.”
en
“Die grondbeginsels van die fundamentalistiese beweging (oa die letterlike verstaan van die Bybel van A – Z) staan bykans vierkantig teenoor die konsep van gereformeerdheid wat ’n onvoltooide proses behels waar Bybelsuiwerheid deur voortgesette studie gerig word.”
Ek het al voorheen geskryf op Woes oor die fundamentalisme. Die vyf pilare van fundamentalisme staan as volg:
- Die foutloosheid (my vertaling van “inerrancy”) van die Bybel. Vir helderheid: hierdie behels die erkenning van die Bybel, in sy oorspronklike tale, as die letterlike en foutlose Woord van God wat deur die Heilige Gees geïnspireer is, maar nie gedikteer is nie.
- Die maagdelike geboorte van Christus
- Die plaasvervangende versoening van Christus aan die kruis
- Die liggaamlike opstanding van Christus
- Die egtheid van Christus se wonderwerke
Daar kan dalk ander aspekte wees waaroor mens ook sterk mag voel, maar volgens die Moody Handbook of Theology is hierdie die vyf pilare van die Christelike fundamentalisme.
Nêrens word daar egter geskryf of genoem of daarop aangedring dat die hele Bybel letterlik gelees moet word nie. Daar word wel geglo dat Jesus werklik vanuit ’n maagd gebore is, werklik vir ons sondes aan die kruis gesterf het, werklik opgestaan het en werklike wonderwerke verrig het terwyl hy werklik op aarde was. Hierdie aspekte word wel letterlik geglo, maar watter Christen doen nie? Dit bly steeds ver verwyderd van die strooipop wat opgestel word en dan met groot fanfare afgebrand word deur veral die teïstiese evolusioniste dat skeppingsleerders die ganse Bybel letterlik lees. ’n Strooipop is natuurlik ’n vorm van misleidende argumentering en is tekenend van iemand wat self vanaf ’n baie sanderige fondament argumenteer.
Dit is duidelik dat sogenaamde fundamentaliste nie die hele Bybel letterlik lees nie. Wat dan van skeppingsleerders? Om hierdie antwoord te kry moet ons kyk wat die hoofstroom organisasies wat hulle met skeppingsleer besig hou hieroor te sê het. Dis tog waar mens amptelike opinie vandaan kry.
Creation Ministries International (CMI) stel dit baie kort en kragtig en brei later hier verder uit daaroor. CMI lees die Bybel soos dit geskryf is. Wanneer mens die Bybel eenvoudig of voor-die-hand-liggend lees, dan lees mens metafoor as metafoor, poësie as poësie, geskiedenis as geskiedenis, apokaliptiese skrywes as apokalipties, en dies meer. Genesis word letterlik gelees, want dit is geskryf as geskiedenis. Kyk ook verder by Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word?
Om CMI se posisie op te som: hulle lees die Bybel voor-die-hand-liggend, nie letterlik nie.
Een van die ander groot spelers in die skeppingsleer, Answers in Genesis (AiG), som hulle posisie skitterend op in ’n repliek op ’n beskuldiging dat hulle onder andere die Bybel letterlik lees getiteld Why do you take the Bible literally?.
AiG skryf dat die persoon wat die beskuldiging doen die manier waarop AiG die Bybel interpreteer en benader verkeerd verstaan en dat dit foutief is om te skryf dat hulle die Bybel letterlik lees. AiG is van mening dat die Bybel riglyne verskaf hoe om dit te interpreteer. Twee hiervan kan gevind word in Spreuke 8:8 en 9 waar dit basies daarop neerkom dat die waarheid reguit en duidelik verkondig moet word en in 2 Korintiërs 4:2 waar die Woord van God openlik bekend gemaak moet word. In sekere van die Engelse vertalings word woorde soos “plainly” en “clearly” gebruik.
Deur die Bybel voor-die-hand-liggend, reguit of eenvoudig te lees beteken dat letterlike geskiedenis as letterlike geskiedenis, poësie as poësie, metafore as metafore, en dies meer gelees word. Sien jy ook die gemeenskaplike draad raak tussen AiG en CMI se posisies?
Daar word wel genoem dat ’n mens die Bybel voor-die-hand-liggend moet lees, maar dat literêre styl, konteks, outeurskap en dies meer, in ag geneem moet word. Dit word die grammaties-historiese metode van Skrif interpretasie genoem en is ’n metode wat al sedert die kerkvaders se tyd in gebruik is. Hierdie metode help ook om onwelvoeglike interpretasies van die Bybel uit die weg te ruim.
AiG raak verder ’n baie belangrike punt aan in hulle repliek. Dit is ’n punt wat gereeld soos klokslag deur sekere teïstiese evolusioniste geopper word in ’n poging om die oorsprongwetenskappe en Bybel te probeer versoen. Die punt lui dat ’n mens 2 Petrus 3:8 moet lees om die lengte van die dae in Genesis akkuraat te kan interpreteer. 2 Petrus 3: 8 en 9 (in konteks) lees as volg (1983 vertaling):
“Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”
Die eerste ding om op te let is dat die konteks van hierdie teks niks te make het met die skeppingsdae nie. Ook belangrik om op te let is dat hierdie stukkie nie die lengte van ’n dag definieer nie, aangesien daar nie staan dat ’n dag ’n duisend jaar IS nie. In hierdie stuk word ’n stukkie taalgereedskap genaamd ’n vergelyking gebruik. Dit word gebruik wanneer iets met iets anders vergelyk word om ’n sekere boodskap tuis te bring. Let wel, dit word nie gelykgestel aan mekaar nie, bloot vergelyk. In hierdie teksvers vergelyk die Here ’n dag met ’n duisend jaar (en ook andersom, wat verswyg word in die argumente rondom die daglengte in Genesis) om die punt tuis te bring dat Hy nie gebonde is aan tyd nie, meer spesifiek rondom Sy geduld met ons. Die Here word nie beperk deur en tot die tyd wat Hy self geskep het nie. Dit sou tog immers onlogies wees. Hierdie verse maak geen verwysing na Genesis toe nie, dus is dit ongeoorloof om dit op die lengte van die dae van Genesis 1 van toepassing te maak. Wanneer mens hierdie stukkie voor-die-hand-liggend lees, dui dit daarop dat God geduldig is wanneer dit kom by die hou van Sy beloftes en ook met die Wederkoms. Die vraag kan natuurlik ook gevra word hoekom slegs pre-Vloed Genesis se daglengte bevraagteken word en nie ander vermeldings van daglengte in die Bybel nie.
Daar moet ook gelet word dat Petrus Psalm 90:4 aanhaal (nog ’n gunsteling van die teïstiese evolusioniste). Psalm 90:4 lees as volg:
“Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.”
Hierdie is ’n stukkie taalgereedskap wat ’n sinonieme parallelisme genoem word. ’n Duisend jaar (lang tyd) word vergelyk met twee kort periodes, naamlik ’n dag en ’n wagbeurt in die nag. Diegene wat hierdie deel gebruik om Genesis se dae as lank te argumenteer versuim gewoonlik om die tweede gedeelte ook in te sluit. ’n Wagbeurt in die nag moet dan ook ’n duisend jaar lank wees. Hierdie gedeelte dui bloot op die nietigheid van die mens en die vers lê klem daarop deur te wys dat ’n ondenkbare lang tyd vir die mens bloot ’n oogwink is vir die Here.
Uit hierdie stukke is dit baie duidelik dat geen van die hoofstroom skeppingsleer organisasies voorstel dat die hele Bybel letterlik gelees moet word nie. Daar word spesifiek genoem dat dit verkeerd is om die hele Bybel letterlik te lees. Daar is wel dele wat letterlik gelees moet word, soos die dele wat duidelik as geskiedenis geskryf is. ’n Mens lees tog nie ’n geskiedenisboek metafories nie, hoekom dan so gemaak met die Bybel, of ten minste die dele wat nie inpas by mens se geloof nie? Dit is ’n baie algemene verskynsel in die hedendaagse liberale teologie om dele wat nie inpas by jou smaak nie as metafories te verklaar. Die leser word die finale arbiter.
Skeppingsleerders, en per implikasie behoudendes en sogenaamde fundamentaliste glo dat die hele Woord van God geïnspireer is deur God, soos genoem in 2 Timoteus 3:16. Ons glo ook dat God onveranderlik is, die Alfa en Omega, maar nêrens word dit gebruik as rede om die hele Bybel letterlik te lees nie. Om dus aan te hou om skeppingsleerders daarvan te beskuldig is verkeerd, kwaadwillig en vals getuienis, wat ’n sonde is volgens Eksodus 20:16.