Kyk ook:
Skole worstel met gender-reëls | Netwerk24
Johan Eybers
8 November 2020
Alle skole moet gedwing kan word om biologiese seuns toe te laat om meisietoilette te gebruik as hulle gender-identiteit dit vereis – en andersom.
Dit is die reaksie van sommige onderwysdrukgroepe op die Wes-Kaapse onderwysdepartement se konsepriglyne oor genderidentiteit en seksuele oriëntasie in openbare skole.
Die doel van die riglyne is om ’n opvoedkundige omgewing vir LGBTI-leerlinge (lesbies, gay, biseksueel, transgender en interseks) te skep waar hulle hul genderidentiteit en seksuele oriëntasie kan uitleef, vry van stigma en diskriminasie. Dit is in Maart vir openbare kommentaar uitgereik.
Die jongste weergawe is in die middel van Oktober met ’n paar akademici en organisasies gedeel wat voorheen daaroor kommentaar gelewer het. Ingevolge die voorstelle kan ’n skool toelaat dat LGBTI-leerlinge die toilette en kleedkamergeriewe gebruik waarmee hulle die gemaklikste voel, mits ander leerlinge se gevoelens ook in ag geneem word.
Skole word aangemoedig om LGBTI-leerlinge met kleredragkodes tegemoet te kom en skole mag ook genderneutrale skoolklere begin gebruik.
Volgens die riglyne moet LGBTI-leerlinge aangemoedig word om aan skoolsport deel te neem en aan enige sportkode van hulle keuse.
Enkelgeslagskole mag LGBTI-leerlinge toelaat.
Die riglyne lui dat ’n LGBTI-leerling se aansoek om by ’n enkelgeslagskool toegelaat te word “regverdig en objektief” moet wees en “nie deur die subjektiewe wense van ’n besondere groep” bepaal word nie.
Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, sê hy is gemaklik daarmee as dit slegs riglyne is. “Dit kan op geen manier voorskriftelik wees vir almal nie.” Hy sê kwessies rakende genderidentiteit en seksuele oriëntasie word dalk algemeen in sommige gemeenskappe bespreek, maar “in sommige landelike gemeenskappe word daar glad nie eens hieroor gepraat nie. Jy kan nie vir gemeenskappe voorskryf hoe om dit te hanteer nie. Ouergemeenskappe moet hierin geken word.”
Hy sê die riglyne gaan verder as net toilette en kleredrag. Sportdeelname is ’n sensitiewe kwessie omdat die insluiting op grond van hul genderidentiteit van atlete wat gebore is as seuns vir hulle onregverdige voordeel kan inhou, sê hy.
Hy sê dit plaas ook druk op onderwysers en skoolhoofde. “Jy sal van elke onderwyser ’n gekwalifiseerde sielkundige moet maak om die riglyne toe te pas.”
Morné Janson, Wes-Kaapse sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die konsepriglyne is vaag en onbeduidend en skep meer vrae as antwoorde.
“Dit is ’n hoogs sensitiewe saak en skole soek leiding om dit prakties te implementeer. Die riglyne help nie hiermee nie.”
Die onderwysdrukgroepe Equal Education en Equal Education Law Centre (EELC) eis in ’n gesamentlike verklaring dat die riglyne as regulasies ingestel word sodat dit afdwingbaar is op skole.
“Riglyne het minder gesag en is moeiliker om toe te pas. Die konsepriglyne bevat geen prosesse om skole te lei nie en dit verseker nie dat LGBTI-leerlinge se regte beskerm word nie.
“Dit skep die indruk dat LGBTI-leerlinge se regte onderhewig is aan die opinies van ander en dat dit nie deur die Grondwet beskerm word nie.”
Daniela Ellerbeck van die drukgroep Freedom of Religion SA (For SA), sê transgenderisme – waarvolgens geslag vloeibaar is – word as ’n ideologie in die konsepriglyne gedryf.
“Die propageer van ’n spesifieke ideologiese standpunt beteken dat openbare skole plekke van uitsluiting, eerder as insluiting is.”
Die groep Cause For Justice vra dat openbare sittings gehou word om ouers en leerlinge se insette oor die kwessie te kry alvorens dit in skole toegepas word.
By raad verkla oor ‘bekeerterapie’
Die debat oor die konsepriglyne het verskerp nadat dr. Sybrand de Vaal, wat besig is met sy studie in psigiatrie, by die Raad vir Gesondheidsberoepe verkla is.
Dit nadat hy glo “bekeerterapie” bepleit het op ’n vergadering waar die riglyne bespreek is. For SA het hom uitgenooi om dit by te woon.
Marion Stevens, hoof van die Sexual & Reproductive Justice Coalition, sê in haar klagte De Vaal het aangevoer mense het ’n keuse oor hul genderidentiteit en dat dit deur terapie behandel kan word. Sy sê De Vaal kan nie as ’n kundige oor genderidentiteit en seksuele oriëntasie praat nie omdat hy nog nie as ’n psigiater gekwalifiseer is nie en geen navorsing hieroor gepubliseer het nie.
2 300 mense het ’n petisie onderteken waarin hulle vra dat De Vaal se bevoegdheid ondersoek moet word om as gesondheidswerker te praktiseer.
Ryan Smit, De Vaal se prokureur, sê sy kliënt ontken die aantygings.