Skrifgesag en Skrifinterpretasie

Deur Jan Louw

20 Februarie 2021

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) omskryf ons geloof in die gesag van die Skrif baie duidelik. Verder bely ons in Artikel 1 van die Kerkorde: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is ’n geloofsfamilie wat gegrond is op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God”. Sinodale besluite en uitsprake van teoloë weerspreek egter die belydenis waaraan ons, ons verbind het.

Kortliks

Ons bely in hierdie dokument ons geloof in die gesag van die Bybel.

Dit begin by ons geloof in God. Ons glo dat God die lewende God is wat deur die eeue met die mense gekommunikeer het. Hy het Hom geopenbaar en dit is die enigste rede waarom ons Hom kan ken.

God het beskik dat sy openbarings aan die mens van die heel begin af, vir ons opgeteken is. Hy het op ‘n besondere wyse gesorg dat hierdie geskrifte in ‘n spesiale Boek saamgestel en bewaar gebly het. Van ouds af het die gelowiges dit reeds gerespekteer as die Heilige Skrif, die Bybel of die Woord van God.

Die ryk betekenis van die Geskiedenis, die Wet, die Profete, die Evangelies en die Briewe van die apostels in die Bybel word beklemtoon.

Verder word sommige tendense van ongeloof in die Bybel, waarmee die gesag van die Bybel in ons tyd weerspreek word uitgelig en afgewys.

Die Algemene Sinode van 2019 het besluite geneem wat spreek van minagting van die “onfeilbare Woord van God” wat ons bely. Die Sinode regverdig sy besluite met die konklusie dat daar ‘n “vasgelooptheid” oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie ontstaan het. Hierdie toestand in die Kerk vra dat ons weer vir onsself duidelikheid moet kry oor wat ons bedoel met ons amptelike verklarings oor die Skrif.

Inhoudsopgawe

1. Ons glo in God

Om in die bestaan van God te glo is ‘n rasionele besluit. Ons gesonde verstand sê vir ons dat daar ‘n Geestelike Wese buite hierdie werklikheid moet wees. Hy moet ‘n Persoon wees wat die werklikheid waarin ons leef tot stand gebring het en steeds in stand hou.

Ons kyk met bewondering na die estetika, die wiskundige berekendheid, die grootsheid en die krag van die ruimte waarin ons lewe. Dit kon nie toevallig gebeur het soos die ongelowiges met evolusionistiese oortuigings glo nie.

Om nie in God te glo nie is ‘n uiting van menslike dwaasheid en opstand teen die Skepper van die werklikheid. Die Skrif bevestig dat dit rasioneel dwaas is om te sê dat daar nie ‘n God is nie (Ps 14:1; Rom 1:19-20). Die mens wat vir homself afgode maak, tree eweneens irrasioneel op (Jes 44:9-20).

Ons kan nie oor die gesag van die Skrif praat in die kring van die ongelowiges nie. Hulle sal geen begrip daarvan hê nie, omdat hulle nie in God glo nie.

Dit is nie ménse wat aan die Skrif gesag verleen nie. Die Skrif het sy eie inherente gesag, want dit is die Woord van God aan die mense.

Lied 255 is eintlik die sleutel van alles wat ons oor die gesag van die Skrif kan sê en verder in hierdie dokument wil sê:

1. Woord van God, Woord van die lewe,
Woord vir ewig vas en waar,
Woord onfeilbaar en verhewe
waarin God Hom openbaar!
Woord betroubaar, vas en waar
deur miskenning, deur gevaar
wat sou ons dan ooit laat bewe?
In dié Woord het ons die lewe!

2. T’rug tot in die grys verlede
bou Gods woord vir ons ’n brug;
oor die troebel van die hede
open dit ’n toekomsvlug.
Spreek die Here, word die tyd
oomblikke van ewigheid.
Deur sy Gees laat God, verhewe,
ook in ons sy woorde lewe.

3. Trotse berge sal eens wankel,
elemente sal vergaan.
As die skepping selfs verander,
bly Gods woord onwrikbaar staan!
Bo die ruimte, bo die tyd
heers die Heer in ewigheid.
Ons geloof bly vas geanker
in Gods woord wat nimmer wankel!

2. Ons glo dat God homself deur die Bybel aan die mense openbaar

Dit is duidelik uit die Skrif dat God ‘n baie hoë posisie aan die mens gegee het (Gen 1:26-27; Ps 8:6-7) en dat Hy behae het daarin om met die mens te kommunikeer. Reeds in Gen 3:9 kry ons die merkwaardige optrede van God dat Hy die mens opgesoek het, toe die mens vir God wou wegkruip.

Gen 3: (9)Die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

Die Here het ook die ontevrede Kain opgesoek en probeer oorreed om verstandig te wees:

Gen 4: (6)Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? (7)Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”

Die basis van die hele Bybel gaan oor God wat met die mense kommunikeer. Hy het byvoorbeeld met Noag, Abraham, Isak, Jakob, Moses en al die profete gepraat.

Die boodskap van God wat met die mense praat word vir ons saamgevat deur die skrywer van Hebreërs:

Heb 1: (1)In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, (2)maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

As God hom nie aan die mens geopenbaar het nie sou ons Hom nie kon ken nie. Ons kan rasioneel die bestaan van God uitredeneer, maar om Hom te ken en in ‘n verhouding met Hom te kan lewe moet Hy Hom aan ons openbaar. Ons kan nie na Hom toe opklim nie. Hy kom na ons toe af.

God praat deur die Bybel met die kerk en die wêreld.

Die Bybel is nie bloot ‘n samestelling van boeke met gedagtes van mense oor God of ‘n godheid nie. Die Bybel is anders as alle ander boeke. Die Bybel is ‘n spesiale daad van God. Hy het deur die eeue aan mense opdrag gegee om die boeke te skryf en saam te voeg sodat ons Hom kan ken en deel kan hê in die ware Lewe wat alleen Hy vir ons kan gee.

Saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 3 bely ons:

God het deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid, die profete en apostels, beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel en Hy het self met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe.

Verder bely ons met die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 5:

Ons glo sonder twyfel alles wat daarin (die boeke) vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.

Dit is nodig om die onderskeid tussen die openbaring van God in die natuur en die Skriftuur (soos dit bekend staan) beter te belig:

In Artikel 2 van die NGB staan daar:

Ten eerste (ken ons God) deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ’n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom 1:20)”.

Dit is die “natuur” waardeur God geken kan word en word ook die algemene openbaring genoem en is dit wat deur alle mense op aarde waargeneem kan word. Die sg. menswetenskappe en gedragswetenskappe (soos onder andere die mediese wetenskap, die psigiatrie en sielkunde) word foutiewelik voorgehou as deel van Artikel 2 om daarmee die verskynsel van homoseksualiteit te beoordeel.

Die res van Artikel 2 van die NGB gaan voort en verklaar:

Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort”. 

Wanneer aan die mens- en gedragswetenskappe meer gesag gegee word as aan dit wat in God se Woord staan, staan dit direk teenoor die tweede deel van Artikel 2 van die NGB, naamlik dat God Homself  deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend maak as uit die natuur. Die gereformeerde “Sola Scriptura” beginsel kom ook hier ter sprake.

3. Ons glo die Bybel is ’n boek waarin die handelinge van God met die mens opgeteken is

Die Bybel moet onder andere gesien word as ‘n geskiedenisboek. God het mense opdrag gegee om sy handelinge met die mense van die begin van die skepping af op skrif te stel.

Die Hebreeuse woord “tôledôt” kom 39 keer in die Ou Testament voor. Dit begin by Genesis 2:4:

(4)Dit dan is die geskiedenis (tôledôt) van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het.

Die 1983 vertaling vertaal die woord tôledôt in die verskillende kontekste met “geskiedenis”, “geslagsregister”, “verhaal”, “besonderhede”, “familieregister”, “familiegeskiedenis”, “geslagte” ens. Die woord kom voor in baie boeke van die Ou Testament tot in 1 Kronieke 26:31.

Waar die woord “tôledôt” voorkom moet ons dus aflei dat die skrywer in daardie gevalle bedoel het om ‘n weergawe te gee van ‘n ware historiese gebeurtenis.

Die sittende skriba of "the seated scribe" is ’n beeld van ’n skriba in die Louvre museum‘n Kalksteenbeeld van ’n Egiptiese skriba uit die vyfde Egiptiese dinastie, ongeveer 2400 vC – dit is voor Abraham se tyd. Die skribas was belangrike persone in die gemeenskap wat die alledaagse besonderhede van hulle kultuur neergeskryf het. (Die beeldjie is tans in die Louvre.)

Daar was skrywers in Israel wat deur die eeue met groot toewyding die geskiedenis van Israel en die handelinge van God met die mense opgeteken het. Hierdie geskiedenis dateer uit ‘n tyd lank voordat Abraham op die toneel verskyn het.

Ons ken nie die name van die meeste van hierdie skrywers wat meegewerk het aan die samestelling van die Bybel nie. Ons lees wel dat die Here vir Moses gesê het: “Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering” (Eks 17:14). Die meeste skrywers het egter in die stilte sonder erkenning hulle belangrike werk, waarmee hulle die Here gedien het, gedoen (1 Kron 2:55; 2 Kron 34:13; 2 Kron 20:34).

Dit is onteenseglik so dat die skrywers van hierdie werke, bedoel het om geskiedenis te skryf en ons moet dit so respekteer en waardeer.

Alle geskiedskrywing is afgebakende geskiedskrywing. Daar is in ons tyd byvoorbeeld ‘n geskiedenis van Napoleon, van die Eerste Wêreldoorlog, of van die Kerk (deur die eeue of van ‘n bepaalde tyd). Op dieselfde wyse was daar mense wat die geskiedenis van God en sy mense duisende jare gelede opgeteken het, sodat dit vir ons in die Bybel bewaar gebly het.

Die volgende is byvoorbeeld afdelings van die geskiedenis wat die Bybelskrywers in die Ou Testament vir ons nagelaat het:

  • Die Skeppingsgebeure
  • Die val van die mens en die gevolge daarvan.
  • God se verwoesting van die skepping en ‘n nuwe begin in die tyd van Noag.
  • Die taalverwarring en verspreiding van die mensheid oor die aarde.
  • Abraham se roeping deur God om so ‘n uitverkore volk op aarde te vestig.
  • Die aardsvaders en hulle nageslag in Egipte.
  • Die loutering van die volk in die woestyn.
  • Die besetting van die nuwe land in die tyd van Josua.
  • Die Rigterstyd.
  • Die Koningstyd.
  • Die wegvoering in ballingskap.
  • Die heropbou van Jerusalem.

In die Nuwe Testament kry ons weer ‘n soortgelyke verskynsel. Daar was mense wat geroepe gevoel het (deur God geroep is) om die besondere dade van God wat in hulle tyd afgespeel het op skrif te stel.

Lukas begin byvoorbeeld sy Evangelie met die woorde:

(1)Hooggeagte Teofilus! Daar is baie wat onderneem het om ’n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. (2)Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. (3)Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. (4)So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.

Johannes skryf in sy Evangelie:

Joh 20: (30)Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. (31)Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

4. Ons glo in die betroubaarheid van die geskiedskrywers

4.1 ’n Geskiedenis van wonderdade

Die geskiedskrywers van die Bybel vertel dikwels van God se wonderdade. Dit is dade wat wetenskaplik nie verklaar kan word nie.

Die skepping is by uitnemendheid die grootse wonderdaad van God.

Die skrywers vertel ook van ‘n tyd toe mense honderde jare oud geword het, wat vir ons ongekend is. Hulle vertel van die groot skip (die ark) wat Noag gebou het en van ‘n globale oorstroming waardeur elke lewende wese op aarde verdelg is.

Hulle skryf van ‘n toring wat die mense gebou het en van ‘n taalverwarring wat God oor die mense gebring het.

Hulle vertel hoedat die Here die see vir sy volk oopgekloof het sodat hulle droogvoets daar kon deurtrek.

Hulle vertel van ‘n geleentheid toe die son en die maan stilgestaan het, ens.

Die wonderwerke waarvan ons in die Bybel lees is skynbaar vir baie predikers ‘n verleentheid. Hulle probeer om hierdie gebeure te omseil en om dit meer aanvaarbaar vir die mense voor te stel.

Die terminologie wat ons gereeld by hierdie mense hoor is: Die Bybel is “nie ‘n wetenskaplike handboek” nie. Hulle sê die Bybel vra nie vir ‘n “sacrificium intellectus” nie, met ander woorde dat jy jou intellek op die altaar moet plaas ter wille van jou geloof nie. Hulle sê die Bybelskrywers was pre-modern en voorwetenskaplik. Hulle sê dikwels: “Die mense van daardie tyd …” Hulle gee voor die mense van die Bybel het in die antieke tyd op dieselfde manier geglo as die heidene rondom hulle en dan wil hulle die boodskap van die teks daarvolgens verklaar.

Hierdie teoloë het vindingryke teorieë waarmee hulle die Bybel (en God) vir die mense van ons tyd aanvaarbaar wil voorstel. Hulle gebruik die term “historiese kritiek” of “historiese lees” van die Bybel. Hierdie redenasies het die afgelope jare nie net in boeke verskyn nie, maar ook in sinodale verslae.

In die Nuwe Testament het Rudolf Bultmann groot invloed gehad, sodat die Kerk op nuwe maniere oor Jesus begin preek het. Hy het die woord “ontmitologiseer” gebruik. Hy het geleer dat die Christene ná Jesus beïnvloed is deur buite Christelike godsdienste van daardie tyd. Hulle het begin fantaseer oor die persoon van Jesus, wie hulle gevolg het, soos dat Hy uit ‘n maagd gebore is, wonderwerke gedoen het en selfs dat Hy uit die dood uit opgestaan het. Bultmann leer dat as ons dit raaksien kan ons uitkom by die werklik “historiese” Jesus. Ons moet die fantasieë rondom Jesus in die Evangelies “ontmitologiseer”. So kan ons by die boodskap van die Evangelies uitkom sê Bultmann.

Op dié manier is nuwe wêrelde vir vrysinnige teoloë geopen om die historiese weergawes van die Bybel te bevraagteken.

In ons eie kerk sê ‘n toonaangewende teoloog: Dit gaan nie daaroor of Jesus liggaamlik uit die graf uit opgestaan het nie, dit gaan daaroor of Hy “in ons” harte opgestaan het.

‘n Dekaan van ‘n teologiese fakulteit skryf:

Ons moet ons nie blind staar teen die “onmoontlikheid” van die maagdelike ontvangenis van Jesus nie, maar eerder oog kry vir die bedoeling daarvan: Dis ’n belydenis van die nuwe begin wat God met die mensdom gemaak het, van God wat Mens geword het. Dís wat Kersfees sê.

Die geskiedenis soos die Bybelskrywers dit opgeteken het is volgens hierdie rigting voorwetenskaplik. Die ware geskiedenis is nie in die Bybel te vind nie. Ons moet die skrywers se gedagtes wetenskaplik beoordeel en verklaar.

By Pretoria is daar ‘n dosent wat leer dat Jesus ‘n buite-egtelike kind was wat oor ‘n vaderfiguur gefantaseer het.

Daar is ook ‘n dosent by Pretoria wat leer dat Jesus se liggaam volgens ‘n gebruik van die Jode gesteel is. Petrus sou daarby betrokke gewees het en dit is die rede waarom hy laat by die graf aangekom het.

In die Ou Testament het ‘n soortgelyke verskynsel na vore gekom. Ou Testamentici aanvaar oorwegend nie die geskiedenis soos dit in die Bybel beskryf is nie. Hulle leer dat daar allerhande vergesogde mondelinge oorleweringe in Israel in omloop oor hulle verlede was en dat hierdie oorleweringe eers in die ballingskaptyd (500 vC) geboekstaaf is. Dit was glo om aansien te gee aan hulle Jahwe-godsdiens teenoor die magtige gode van die Babiloniërs, waar hulle in ballingskap was.

Op dié manier wil teoloë hulle eie ongeloof in die wonderwerke van die Bybel regverdig. Die skeppingsgebeure word in evolusionêre terme van miljoene jare verduidelik. Noag en selfs Abraham en Moses is slegs mites, of godeverhale van die omliggende godsdienste wat neerslag gevind het in die Ou Testament.

Vir jare lank propageer vrysinnige teoloë hierdie soort beskouings sonder werklike teenstand in die kerk.

Ons verwerp hierdie Skrifinterpretasies wat so welig in die NG Kerk groei en deel geword het van die prediking. Dit is veral onaanvaarbaar dat die “Fakulteite Teologie en Religie” waar ons jongmense opleiding kry, geskool word in die histories kritiese skrifbeskouing en gepaardgaande interpretasies.

Van Skrifgesag het daar niks oorgebly nie. Alles waarin ons glo is nou op losse skroewe. Hulle gee voor dat ons ‘n vasgelooptheid oor die Bybel bereik het. So kan enigiets by die mense wat so met die Bybel omgaan uitbroei. Ons sien dit in sinodale besluite. Hulle doen dit in die naam van Bybelwetenskap.

4.2 God is ’n God van wonderdade

Dit is gewoon ‘n teken van ongeloof, as Bedienaars van die Woord (van alle mense), die wonderwerke van God nie kan aanvaar nie. Hierdie mense openbaar nie net hulle ongeloof in die Skrif nie, maar uiteindelik ook hulle ongeloof in die God van die Bybel.

El Shaddai is een van die name vir God in die Ou Testament, waarmee God se oortreffende majesteit aangedui word. El-Shaddai word met “God die Almagtige” vertaal en impliseer dat Hy bo die natuurwette wat Hyself geskep het verhewe is.

Habakuk beskryf digterlik hoe God, die Heilige, Hom nie aan natuurwette steur as Hy sy volk te hulp snel as hulle deur die nasies bedreig word nie:

Habakuk 3: (10)Toe die berge U sien, het hulle gebewe, stormwaters het verbygespoel, die diep water het gedreun en sy golwe hoog laat opslaan. (11)Toe u vlieënde pyle blits en u blink spies flikker, het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek. (12)In u gramskap stap U oor die aarde, in u toorn vertrap U die nasies. (13)U het uitgegaan om u volk te red, om u gesalfde koning te red.

Jesus het vir ‘n verlamde man gesê: “Vriend, jou sondes word vergewe”. Party van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: “Hy praat godslasterlik.”

Jesus het hulle toe geantwoord: “Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’”? (Markus 2)

Ons verkondig in die kerk dat Jesus mag het om sondes te vergewe, maar dit blyk nou dat daar leraars in die kerk is wat huiwer om te glo dat Jesus ook die Een is wat mag het oor die natuur.

Jesus het die mag om lammes te laat loop, om blindes te laat sien en dowes te laat hoor. Hy het mag oor die kragte van die wind en die geweld van die see. Hy het ook mag oor die duiwel. Die duiwels moet Hom gehoorsaam as Hy praat. Jesus het mag oor die dood. Hy het ander mense uit die dood opgewek en Hy het self uit die dood uit opgestaan. Hy het die mag om liggaamlik na die hemel toe op te vaar net soos Henog, en Moses en Elia. Sy Vader het die mag om teen die natuur in, ‘n vrou geboorte te laat skenk aan sy Seun.

Wie nie glo in die mag van God om wonderdade te doen nie, glo in werklikheid nie meer in El Shaddai, God die Almagtige nie.

4.3 ’n Ongeëwenaarde geskiedenis

Dit is nodig om die geskiedenis waarvan ons in die Bybel lees te vergelyk met ander geskiedeniswerk van daardie tyd om te kan ontdek wat die werklike betekenis daarvan is. Net enkele feite word aangebied:

  • Die Bybel gee vir ons die name van die eerste mense op die aarde naamlik Adam en Eva.
  • Die geslagsregister van Adam en Eva se kinders met hulle ouderdomme verskyn in Genesis 5. Dit behels 10 geslagte tot by Noag en dek omtrent 1000 jaar, tot by 3000 vC.
  • Die verspreiding van Noag se nageslag oor die aarde is aangeteken in Genesis 10. Dit is nêrens in enige ander geskrif te vinde nie.
  • Die geslagsregister van Noag se nageslag met hulle ouderdomme verskyn in Genesis 11 tot by Abraham. Dit behels 10 geslagte en omtrent nog 1000 jaar tot by 2000 vC.
  • Abraham en sy nageslag se geskiedenis is goed bekend en behels nog 6 geslagte tot by Moses (1500 vC).

Hierdie is verstommende inligting aangaande die verre verlede, wat nêrens elders te vinde is nie. Nogtans ignoreer die kerk die betekenis daarvan. Selfs die kerk sien dit nie as waardevolle inligting en deel van die wêreldgeskiedenis nie.

Die Chinese, Egiptiese en Japanese beskawings het reeds lank voor Abraham ontstaan, maar ons weet omtrent niks daarvan nie. Alleen brokstukkies van antieke geskrifte het oorgebly.

‘n Voorbeeld van so ‘n fragment is byvoorbeeld gevind van ‘n sekere koning Shulgi (2100 v.C):

Now, I swear by the sun god Utu on this very day — and my younger brothers shall be witness of it in foreign lands where the sons of Sumer are not known, where people do not have the use of paved roads, where they have no access to the written word — that I, the firstborn son, am a fashioner of words, a composer of songs, a composer of words, and that they will recite my songs as heavenly writings, and that they will bow down before my words…

‘n Joodse skrywer Chaim Potok het in sy boek Wanderings, probeer om die geskiedenis van Israel vanuit ‘n buite-Bybelse perspektief te beskryf. Hy het gesoek na informasie oor die tyd van Abraham, maar het tot die konklusie gekom:

We see three thousand years of Egyptian civilization through the dubious optic of tattered scribal documents, damaged art, and chance discovery. That is all we have left of Egypt – official records, ruined temples, looted tombs, and almost no houses, towns or palaces. Even more than in the instance of Mesopotamia, scholars of ancient Egypt proceed with caution when they attempt to explore the interior of Egyptian civilization.

Daar is oorblyfsels van vloedverhale oor die hele wêreld, maar dit kom nie naby die detail en die oortuigingskrag van die vloedverhaal soos dit in die Bybel beskryf is nie. Die heidense verhale is deurspek met mitiese aspekte, naamlik dat gode soos mense optree en andersom.

Die koningstyd in die Bybel verdien spesiale vermelding vir die buitengewone historiese kwaliteit daarvan. Dit word beskryf in die boeke van Samuel, Konings en Kronieke en handel oor ‘n tydperk van amper 500 jaar. Dit beskryf ‘n ingewikkelde geskiedenis, waarin 42 konings ’n rol gespeel het. Die meeste van hulle het in twee verskillende ryke parallel geregeer. Die geskiedskrywers van die konings slaag daarin om ’n weergawe te gee van die verweefdheid van die geskiedenis van die konings en hulle koninkryke oor die tydperk vanaf 1000 vC tot 586 vC. Hulle vertel hoe lank elke koning geregeer het, hoe oud elke koning geword het, wie hulle ma’s was, watter profete in hulle tyd opgetree het, teen wie hulle oorloë gevoer het en wat hulle vernaamste prestasies en sondes was. Die skrywers gee in baie gevalle hulle bronne aan (2 Kron 20:34; Sien ook Num 21:14). Hulle het intensiewe navorsing gedoen, dit meesterlik saamgevat en so bevatlik aangebied dat selfs kinders dit kan lees.

Die historici van die koningstydperk gee meer detail inligting oor daardie tydperk as wat beskikbaar is van enige van die ander antieke nasies van daardie tydperk. Die eerste Olimpiese Spele het in die koningstydperk plaasgevind in 776 vC en die stad Rome is in 753 vC gestig. Beide hierdie belangrike gebeurtenisse is in legendes gehul.

Die Iliad en die Odissea (wat toegeskryf word aan Homerus) dateer uit die Koningstyd in die Bybel en is van die oudste Westerse literatuur beskikbaar.

Dit is egter ‘n regte godeverhaal, waarin werklikheid en fiksie alleen met moeite onderskei kan word. Dit is ook leesstof wat alleen bevatlik is vir die bo-gemiddelde leser.

Hier is ‘n kort uittreksel uit die Iliad in Engels vertaal, wat nuwe waardering behoort te gee vir die lesenswaardigheid en oortuigingskrag van die Bybelse geskrifte, ook vir die mense van ons tyd.

Tell me, O Muse, of that ingenious hero who travelled far
and wide after he had sacked the famous town of Troy.
Many cities did he visit, and many were the nations with
whose manners and customs he was acquainted; moreover
he suffered much by sea while trying to save his own life
and bring his men safely home; but do what he might he
could not save his men, for they perished through their own
sheer folly in eating the cattle of the Sun-god Hyperion; so
the god prevented them from ever reaching home. Tell me,
too, about all these things, oh daughter of Jove (Jupiter),
from whatsoever source you may know them.
So now all who escaped death in battle or by shipwreck
had got safely home except Ulysses, and he, though he was
longing to return to his wife and country, was detained by
the goddess Calypso, who had got him into a large cave and
wanted to marry him. But as years went by, there came a
time when the gods settled that he should go back to Ithaca;
even then, however, when he was among his own people,
his troubles were not yet over; nevertheless all the gods had
now begun to pity him except Neptune, who still persecuted
him without ceasing and would not let him get home.

Homerus se werk word as litterêre werk hoog aangeslaan, maar is, in teenstelling met die Bybel, histories onbetroubaar.

Ons sê die Bybel bied vir ons ‘n ongeëwenaardee geskiedenis en nogtans word dit onder ‘n maatemmer weggesteek.

4.4 Genesis 1-11 is deel van die geskiedenis van die Bybel

Genesis beteken “begin”. Dit is nie net die begin van die Bybel nie, maar ook die begin van die wêreld, die mens, die huwelik en die sonde.

Die hele Bybel gaan uit van die veronderstelling dat Genesis 1-11 ware geskiedenis is en dus vir ons ‘n historiese begin beskryf.

  • In die Wet (Eks 20:11) lees ons dat God die hemel en die aarde in ses dae geskep het, soos dit in Genesis beskryf word. Neem in ag dat dit woorde is wat God met sy eie vinger geskryf het (Eks 31:18).
  • Ps 104 bou in digterlike taal voort op die skeppingsgebeure soos beskryf in Genesis 1.
  • Jesus praat van die wyse waarop God die huwelik in die “begin” gemaak het (Mat 19:8).
  • Die naam vir die persoon Adam kom 13 keer in die Bybel voor. In 12 gevalle word hy voorgehou as die eerste mens wat God gemaak het. Paulus beskryf Adam spesifiek as die “eerste mens” (1 Kor 15:45).
  • Paulus verwys na die sondeval as hy Adam beskryf as die persoon deur wie die sonde in die wêreld ingekom het (Rom 15:12).
  • Eva se naam word 2 keer deur Paulus genoem. In die een geval as die persoon wat deur die slang verlei is (2 Kor 11:3). In die ander geval as die persoon wat tweede gemaak is (1 Tim 2:13). Paulus verwys ook na Eva as hy sê: “Die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man. Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man” (1 Kor 11:8-9).
  • Noag se naam kom behalwe vir die sondvloed geskiedenis in Genesis, nog 11 keer in die res van die Skrif voor. Noag se naam is opgeneem in die antieke geslagsregisters (1 Kron 1:4). Hy word as ‘n bekende persoon voorgehou saam met ander groot figure in die Bybel soos Daniël en Job (Eseg 14:14,20).
  • Die sondvloed word dwarsdeur die Bybel as ‘n historiese werklikheid beskou (Jes 54:9; Mat 24:37-38; Luk 17:26-27; Hebr 11:7; 1 Petr 3:20; 2 Petr 2:5).
  • In Openbaring word die duiwel die “slang van ouds” genoem en verwys duidelik na die een wat die mense verlei het in die Tuin (Open 12:9).
  • Aan die einde van Openbaring waar alles weer herstel word, lees ons van die nuwe Jerusalem en daar is ook weer ‘n “boom van die lewe” net soos aan die begin (Open 22:2).

Ons stem nie saam met die gangbare terminologie wat Genesis 1-11 beskou as “voorgeskiedenis” of “oergeskiedenis” of dat dit “a-histories” of “ondateerbaar” is nie. Selfs ‘n hoogaangeskrewe teoloog van die NG Kerk het die stelling gemaak dat ons moet aanvaar dat daar “mitiese elemente” hier voorkom. Onder mites verstaan ons oorgelewerde godeverhale. Dit is fabelagtig en kan nie die toets van werklike geskiedenis deurstaan nie. Sulke sieninge doen die Heilige Skrif ‘n oneer aan.

Ons maak ook beswaar teen die wyse waarop die vertalers van die 2020 Afrikaanse Bybel die boek Genesis bekendstel in die Inleiding van die boek. Die vertalers suggereer vir die Bybellesers dat Genesis eers in die ballingskaptyd (586-539) sy finale beslag gekry het en dat dit uit priesterlike kringe voortgekom het. Hulle meen daar is onsekerheid oor wie die eerste lesers was.

Hierdie is voorstellings waarmee liberale teoloë dikwels met die boeke van Moses omgaan en het ingrypende betekenis vir ons verstaan van Genesis as ‘n boek waarin die handelinge van God met die mense van die begin af vir ons opgeteken is. Ons kan ook nie die vertalers se siening ondersteun as julle verklaar dat Genesis net ‘n “geloofsboek” is, wat handel oor God se verhouding met die skepping en die mense nie. Sulke uitsprake ontneem die boek van sy werklike betekenis en die bedoeling wat God daarmee vir die mense het.

4.5 Genesis 1-3 vorm die grondslag van die verlossingsboodskap in Christus

Dit is opvallend dat pamflette/traktaatjies waarin die Evangelie aan mense verduidelik word gewoonlik by Genesis begin.

Die Evangelieboodskap kan saamgevat word in die volgende elemente:

  • God het die mens goed gemaak.
  • Die mens is deur die duiwel verlei om aan God ongehoorsaam te word.
  • Alle mense is die nageslag van Adam en daarom is ons almal sondaars.
  • Jesus het na die wêreld gekom om ‘n offer te bring vir ons sonde.
  • Almal word opgeroep om hulle vertroue in Jesus te stel om die ewige lewe te verkry.

Die Heidelbergse Kategismus word ingedeel in die temas: Sonde, Verlossing en Dankbaarheid. Aan die begin word reeds gevra: “Waar kom ons verdorwe natuur vandaan?” Dan is die antwoord: “Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste voorouers, Adam en Eva in die paradys”.

Hiermee word verwys na historiese werklikhede. Die oortreding van Adam en Eva is net so ‘n historiese werklikheid soos die geboorte van Jesus. Beide word in die Bybel vir ons voorgehou as dateerbare werklikhede. Sonder die sondeval verval die kruisevangelie in sinloosheid. Die een kan nie sonder die ander nie.

Die duiwel weet dit baie goed en daarom is hy daarop uit om die spot te dryf met die Paradystoestand, waar mense nie klere gedra het nie en waar hulle met ‘n slang gepraat het.

Ons gee nie voor dat ons die val van die mens en die verlossing wat daar in Christus is rasioneel kan beredeneer nie. Ons buig voor die Here wat gesê het: Jes 55: (8)My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; (9)soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Ons peuter nie met die verlossingsboodskap in ’n poging om dit vir die mense meer aanvaarbaar voor te stel nie. Ons roep net saam met Paulus uit:

Rom 11: (33)O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! (34)“Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? (35)Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” (36)Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen .

4.6 Genesis 1-3 vorm die grondslag vir ons verstaan van die huwelik

Die skepping van die vrou begin met die gedagte in Genesis 2 dat dit nie goed was in die oë van God dat die mens alleen is nie, daarom het God vir die mens uit sy eie ribbebeen, ‘n hulp gemaak wat by hom pas.

Die man se reaksie was dat die vrou been van sy gebeente is en vlees van sy vlees. Hy is man en sy is mannin (man/woman). Hulle was naak.

Elkeen van die woorde is veelseggend en verg nadenke om die betekenis en die bedoeling van die huwelik beter te begryp.

Ons moet daarin lees dat die huwelik ‘n spesiale deel van God se skepping is en bedoel is om by te dra tot die geluk en voortplanting van die mens.

4.7 Genesis 1-3 vorm die grondslag vir ons verstaan van die posisie van die mens voor God en sy rol in die skepping

Die volgende woorde is ryk aan betekenis. Ons kom elke keer daarna terug om onsself as mens te oriënteer en om ons verantwoordelikheid voor God in die skepping, ten opsigte van die diere, die plante en die materie te verstaan:

Gén 1: (26)En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. (27)En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. (28)En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.

4.8 Genesis 1-3 vorm die grondslag vir ons verstaan van die gebrokenheid van die werklikheid waarin ons lewe.

In Genesis 3 neem ons kennis van God se uitspraak dat die aarde vervloek is en dat ons vrede moet maak met “dorings en distels” in die lewe en dat ons, ons brood moet verdien in die “sweet van jou aangesig”. Vroue sal met “smart” haar kinders in die wêreld bring en sy sal ‘n ondergeskikte plek teenoor haar man inneem. Uiteindelik sal ons sterf en terugkeer na die stof van die aarde.

Paulus sê God het die skepping aan verydeling onderwerp. Die skepping sug soos ‘n vrou wat geboorte gee. Die vloek oor die aarde sal eers opgehef word wanneer die nuwe hemel en die nuwe aarde aanbreek (Openb 22:3).

Genesis verklaar vir ons wat die agtergrond van die gebrokenheid is.

4.9 Genesis 1-3 vorm die grondslag vir ‘n Bybelse wêreldbeeld

Die evolusieleer kan beskryf word as die skeppingsverhaal van die Satan. Dit weerspreek ons Bybelse wêreldbeeld in omtrent alle opsigte.

Ons wêreldbeeld behels dat ons glo ons woon op ‘n plek wat aan God behoort. God staan buite die skepping en is daarom nie deel daarvan nie. God het die hemel en die aarde op ‘n bepaalde tyd geskep. God sal die heelal op ‘n bepaalde tyd wat ons nie weet nie, weer vernietig. Saam met die skepping het God ook tyd geskep. Aan die einde van die tyd, wanneer Hy die skepping tot niet sal maak, sal die tyd ook eindig.

Ons verblyf hier is baie tydelik, maar as ons lewe hier verby is, word ons deel van die ewige werklikheid wat deur Christus vir sy uitverkorenes in bewaring gehou word.

Die evolusieleer propageer ‘n ander wêreldbeeld. Dit leer ons om te dink in terme van ‘n heelal wat in ‘n oneindige skeppingsproses is en eintlik nie ‘n begin of einde het nie. God is in hierdie proses oorbodig, want die natuur het sy eie wetmatighede, waardeur nuwe vorme voortdurend tot stand kom.

Die mens is in hierdie denke deel van die diereryk en word gesien bloot as ‘n gevorderde primaat. ‘n Instelling soos die huwelik en die norme waarvolgens mense leef is skeppings van die mens. Dit is alles deel van ‘n ontvouende evolusie proses, waarvan ons deel is. Selfs die godsdiens en die konsep van ‘n godheid het in die mens se brein ontwikkel. Niks is vas nie. Wat vandag vir ons belangrik is, geld môre nie meer nie, want ons is in ‘n voortdurende staat van ontwikkeling.

Die meeste ernstige Christene sal hierteen beswaar maak en sê hulle sien dinge nie so nie, maar dit is eenvoudig ‘n feit dat ons almal van kleins af, op skool en universiteit gebreinspoel word met hierdie evolusionêre wêreldbeeld. Dit bring mee dat ons in die kerk nie meer sekerheid het oor wat om te dink van die geskiedenis in Genesis 1-11 nie. Ons leer ons kinders van Adam en Eva uit die Kinderbybels, maar soos ons kinders groter word, word hulle in hulle gedagtes verwar met ‘n ander wêreldbeeld. Dit is ‘n wêreldse wêreldbeeld en word met wetenskaplike outoriteit aan ons opgedring. Die uiteinde is dat Genesis 1-11 eenkant toe geskuif word as Bybelstories vir die kindertjies, wat jy mettertyd maar kan ontgroei soos die kinders se geloof in Vader Kersfees en die tandemuis.

5. Ons glo in die gesag van die wet

Die homoseksuele debat is hoog op die agenda in die NG Kerk. Teen hierdie agtergrond is dit belangrik dat ons vir onsself duidelikheid moet kry oor die interpretasie en toepassing van die Wet in die Ou Testament vir ons tyd.

5.1 Eksegese van Levitikus 18:22

“By ’n man mag jy nie slaap soos jy by ’n vrou slaap nie. Dit is iets afstootliks.”

Wanneer eksegese van ‘n teks gedoen word is dit belangrik om ‘n paar vrae te vra, soos: Wie is die skrywer? Aan wie is die skrywe gerig? Wat is die situasie? Watter soort literatuur is ter sprake?

  • Ons bevind ons hier in die boek Levitikus, waar ‘n heilige lewe ‘n belangrike tema is (Lev 19:2; 20:26).
  • Levitikus 18 handel oor seksuele verhoudings.
  • Die Hére het die voorskrifte aan Moses gegee om dit aan die volk oor die dra (Lev 18: (1)Die Here het vir Moses gesê: Praat met die Israeliete… )
  • Die Here het die voorskrifte gegee toe Israel in die woestýn was. Hulle was nog nie in die beloofde land nie (Lev 18: (3)Julle mag nie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het, of soos die Kanaäniete na wie se land toe Ek julle bring nie. Julle mag hulle gebruike nie navolg nie).

Die eksegese soos hier kortliks voorgehou sluit die voorstellings uit wat dikwels oor die teks aangebied word, nl. dat hierdie voorskrifte deur priesters opgestel is in die ballingskaptyd. Die uitleg dat die voorskrifte bedoel is om tempelprostitusie aan bande te lê en nie bedoel is vir “gewone” homoseksuele dade nie, gaan ook nie op in die lig van die situasie soos hierbo beskryf nie.

5.2 Hermeneutiek van Levitikus 18:22

Hermeneutiek gaan oor die toepassing van ‘n teks vir ons tyd. Een van die beginsels van hermeneutiek is om na die groter prentjie te kyk. Kry ons toeligting oor hierdie wet in Levitikus in die res van die Bybel?

Dit is inderdaad so. Ons sal hierna dieper ingaan op die betekenis van die Wet in die Nuwe Testament. Voorlopig is dit belangrik om net daarop te wys dat dit hier gaan oor verbode seksuele verhoudings, wat dwarsdeur die Bybel, as onsedelike gedrag verbied word. Jesus het bv gesê: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg (Mat 5:28). In die briewe van die apostels kom die onderwerp voortdurend voor (Rom 13:13). Homoseksuele dade word spesifiek in die Nuwe Testament sterk veroordeel (1 Kor 6:9).

Wanneer Levitikus 18 byvoorbeeld in die gesprek oor homoseksualiteit ter sprake kom, is die teenvraag dikwels:

Wat van Deut 22:11: Jy mag geen gemengde stof, wol en linne tegelyk, aantrek nie. Of wat van Deut 21:18-21, waar daar staan dat ‘n opstandige seun gestenig moet word of dat owerspel met steniging gestraf moet word (Deu 22:22). Ons doen dit tog mos nie meer so nie?

Hierdie teenvrae word dan voorgehou asof die Wet nie meer geldig, normatief, of bruikbaar vir ons tyd is nie.

Teen hierdie agtergrond is dit belangrik om die geldigheid van die wet vir ons tyd verder te bespreek.

5.3 Jesus het nie gekom om die wet ongeldig te maak (“destroy” in die Engelse vertalings) nie.

Mat 5: (17)Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. (18)Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.

(19)Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.

(20)Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.

Jesus was dikwels in konfrontasiegesprekke met die skrifgeleerdes oor die Wet. (Mat 12:5; Mat 19:7; Mat 22:24; Mat 22:36). Die gesprekke het gewoonlik plaasgevind teen die agtergrond daarvan dat die Fariseërs hulle eie tradisies rondom die wet geskep het. Regulasies vir die alledaagse lewe is vermenigvuldig en so is die wet van sy krag ontneem. Jesus het hulle terug geneem na die oorspronklike bedoeling van die wet. Vergelyk byvoorbeeld:

Mat 15 (2020-vertaling): (1)Toe kom daar Fariseërs en skrifkenners uit Jerusalem by Jesus aan en sê: (2)“Hoekom oortree u dissipels die tradisie van die voorouers? Want hulle was nie hulle hande wanneer hulle gaan eet nie.” (3)Hy het hulle egter geantwoord: “Hoekom oortree ook julle die gebod van God met julle tradisie? (4)God het tog gesê, ‘Eer jou vader en moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word.’ (5)Maar julle sê, ‘Wie vir sy vader of moeder sê, Watter voordeel u ook al van my sou kon ontvang, is ’n offergawe, (6)hoef sy vader hoegenaamd nie te eer nie.’ So het julle deur julle tradisie die woord van God kragteloos gemaak. (7)Skynheiliges, Jesaja het tereg oor julle geprofeteer, (8)“‘Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af; (9)tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’”

Direk hierna roep Jesus die skare nader en neem Hy hulle terug na die oorspronklike bedoeling van die wet, wat verlore gegaan het onder die baie regulasies wat hulle vir hulle self saamgestel het:

Mat 15 (2020-vertaling): (17)Verstaan julle nie dat alles wat by die mond ingaan, in die maag beland en in die privaat uitgewerp word nie? (18)Maar wat by die mond uitgaan, kom uit die hart, en daardie dinge maak die mens onrein. (19)Uit die hart kom daar immers bose gedagtes, moord, owerspel, onsedelikheid, diefstal, valse getuienis en lastering. (20)Dit is die dinge wat ’n mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.”

Let op dat Jesus die mense terugneem na die Tien Gebooie in vers 19 en spesifiek die tweede tafel van die Wet. Jesus het dus nie die Wet ongeldig gemaak nie, maar onderrig sy volk in die ware verhouding met God, wat nie bestaan in die nakoming van reëls nie.

Jesus het ook gewaarsku teen minagting van die Wet (Mat 7:23; Mat 23:28; Mat 24:12).

Jesus het grootgeword in die kringe waar mense aan die Wet getrou was (Mat 1:19; Luk 1:26; Luk 2:22-27).

5.4 Jesus het gekom om die wet te vervul

Die Griekse woord hier is plerôo, wat in verskillende kontekste vertaal word met “om vol te maak” (Luk 3:5; Hand 13:52), “om klaar te maak” (Luk 7:1), maar veral “om waar te maak” (Mat 1:22; Mat 2:15). Die Nuwe Testament is vol van die gedagte dat Jesus gekom het om die Skrif te “vervul”. Dit kan goedskiks vertaal word met “waar maak”. Die profesieë aangaande Jesus het waar geword, werklikheid geword.

Teen hierdie agtergrond kan ons sê dat Jesus gekom het om gestalte te gee aan die werklike bedoeling van God met die Wet.

5.5 Die Tien Gebooie

Die Tien Gebooie is internasionaal by Christen volke bekend as ‘n kernagtige uitdrukking van die wil van God. Die afkondiging van die Tien Gebooie het gepaard gegaan met ‘n ontsagwekkende openbaring van God. Daar was donderslae, en die geklank van ramshoring. Daar was weerligte en rook. Die volk het van angs gebewe en op ‘n afstand bly staan.

Uiteindelik het God met sy eie vinger die wet op twee klipplate geskryf. Israel het dit vir eeue in die verbondskis bewaar en met hulle saamgedra.

God het hierdie wet nie net vir Israel afgekondig nie, maar vir al die nasies van die wêreld. Dit is ‘n openbaring van sy wil vir die mensdom. Die samelewing wat dit gehoorsaam sal God eer, maar hulle sal ook bewaar word van die dwaashede van die afvallige wêreld.

5.6 Morele of sedelike wette

Die Wet van Moses omvat meer as net die Tien Gebooie. Levitikus 18:22 wat homoseksuele gedrag verbied is deel van die morele wette. Dit gaan oor menslike verhoudinge en in daardie konteks veral oor seksuele verhoudinge. Daar is menslike gedrag wat vir God eties reg of verkeerd is. Alleen God kan bepaal wat reg of verkeerd is. Morele waardes is nie uitgedink deur die afvallige mens nie. Die Heidelbergse Kategismus leer dat die mens van nature geneig is om God en ons naaste te haat. Die mens kan nie sy eie wetgewer wees nie.

Ons samelewing het die wet van God vaarwel geroep en menseregte tot wetgewer verklaar. Die implikasie is dat die haatlikheid van mens teenoor mens die oorhand begin kry het. Mense probeer om oor enige beuselagtigheid hulle naaste by die hof aan te kla. Dit lyk of ons nou die tyd van die wetteloosheid betree het waarvan die apostels praat (2 Tes 2:7).

5.7 Burgerlike wette

Daar is wette in die Pentateug waar die Here vir Israel bepalings gegee het oor hoe om op te tree in allerhande praktiese situasies aangaande bv. slawe, beserings, gevaarlike beeste, diefstal, veldbrande en goed wat wegraak (Eks 22). In Deuteronomium 19-25 is daar ook ‘n verskeidenheid bepalings oor manslag, getuies in die hof, oorlog, ‘n onbekende moordenaar en selfs om ‘n reling om ‘n balkon by jou huis te bou (Deut 22:8).

5.8 Seremoniële wette (NGB Art 25)

‘n Baie groot deel van die wet van Moses gaan oor die instandhouding van die heiligdom en die offerandes wat daarmee gepaard gaan. Daardie wette en seremonies sê die NGB is heenwysings na Christus se offer en het met die koms van Christus opgehou. Jesus sê veelseggend dat die profete en die wet aangaande Hom geprofeteer het (Mat 11:13). Die boek Hebreërs handel intensief oor die feit dat Christus eenmaal geoffer is om die sondes van baie weg te neem (Heb 9:28).

5.9 Reinheidswette

Reinheid is ‘n belangrike onderwerp in die Bybel. Baie wette draai om die onderwerp van reinheid en onreinheid. Daar is voorskrifte oor diere wat rein is en geëet kan word. Ander diere is onrein en mag nie geëet word nie. Vroue word onrein met menstruasie en kindergeboortes. Dan is daar offers nodig om reiniging te herstel.

Baie van die reinheidsvoorskrifte het met higiëne te doen, maar ander het te doen met die bewusmaking van die feit dat ‘n mens weens jou sonde onrein is voor God.

Levitikus 16 handel oor die jaarlikse versoendag, waar omvangryke voorskrifte vir Israel gegee is om hulle bewus te maak daarvan dat hulle almal in die oë van God onrein is. Daar moes vir alles en almal met bloed versoening gedoen word. Dit het gegeld van die gewone lede van die volk tot by die hoëpriester. Selfs die aardse heiligdom moes gereinig word omdat dit uiteindelik ook maar net ‘n menslike bouwerk was.

5.10 Die Wet in die Nuwe Testament

Jesus het nie gekom om die wet te ontbind nie, maar Hy het nogtans ‘n nuwe bedeling begin. ‘n Belangrike teks hieroor is byvoorbeeld:

Joh 1: (17)God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

‘n Voorbeeld van die genade waarmee Jesus die oortreders van die wet behandel het kry ons in Johannes 8 waar Jesus uitspraak moes gee oor ‘n vrou wat op heterdaad betrap is waar sy owerspel gepleeg het. Jesus het haar die daad kwytgeskeld en haar gewaarsku om dit nie weer te doen nie.

Die genade van God is ‘n baie groot onderwerp in die briewe van die apostels, maar ons kan nie die afleiding maak dat die genade van God meebring dat Hy die wet ongedaan gemaak het nie. Paulus sê bv in Rom 6: (1)Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? (2)Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?

5.11 Christus vra meer

Mat 5: (20)Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.

Dit gaan nie oor die letter van die wet nie. Wie aanspraak maak op die letterlike nakoming van die wet, verstaan nie die geregtigheid van God nie. Jesus spel hierdie waarheid duidelik uit in die res van die bergrede en op ander plekke waar Hy oor die onderwerp praat. God kyk na wat in ‘n mens se hart aangaan en nie na die uiterlike nie (Mat 23:25-28).

Daarmee het die reinheidswette ook tot ‘n einde gekom. Jesus het vir ons ‘n nuwe wet gegee waarvolgens ons moet leef as Hy sê:

Mat 5: (8)Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

Daar het inderdaad ‘n nuwe bedeling van reinheid aangebreek.

Die Wet is ‘n uitdrukking van die wil van God vir alle tye. Die Wet is nie maar ‘n boek wat ons kan toemaak nie. Die Wet vra ons nadenke en roep ons op tot ‘n heilige lewe. Ons bring nie meer diereoffers vir ons oortredinge nie, maar ons “gee onsself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is” (Rom 12:1).

6. Ons glo in die gesag van die profete

Die Profete is saam met die Wet, deel van die Skrif wat die Jode in die tyd van Christus gerespekteer het. Hulle het gepraat van die “Wet en die Profete” (Mat 7:12; Mat 22:40; Hand 13:15; Rom 3:21).

Die profete is gerespekteer en moet steeds gerespekteer word as mense aan wie God Hom op ‘n spesiale manier geopenbaar het om boodskappe vir die mense oor te dra. Hulle kon met gesag sê: “So sê die Here!” (Amos 1:3; Sag 2:8). Die uitdrukking kom 387 keer in die 1983 vertaling van die Bybel voor.

Petrus praat treffend oor die profete en verdien ons nadenke:

1 Petrus 1:

(10)Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, (11)en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.

(12)Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.

Die profete het dus geprofeteer aangaande Christus – die saligheid in Christus, die lyde van Christus en die heerlikheid in Christus.

Ons moet aanvaar dat die profete nie die volle werklikheid waaroor hulle geprofeteer het geken het nie. Hulle was “in die Gees” (Mat 22:43) en het bloot getuig van wat die Gees aan hulle meegedeel het. Selfs die gerespekteerde profeet Johannes die Doper het begin twyfel toe Jesus begin optree het. Hy het dit anders verwag en Jesus moes hom gerusstel dat hy die boodskap wat hy van God gekry het nie verkeerd verstaan het nie (Mat 11:2-3).

As ons die profete lees, moet ons dus vir onsself afvra, wat het die Géés bedoel toe die profeet geprofeteer het. Ons kan nie volstaan met die vraag wat die proféét bedoel het nie. Die profete het self nie insig gehad in die volle betekenis van hulle profesië nie.

Daar is baie voorbeelde om te noem, maar die profesie van Jesaja aangaande die lydende Kneg is ‘n goeie voorbeeld (Jes 52:13 en verder). Daar word dikwels gespekuleer oor wie die “kneg” sou wees van wie Jesaja praat. Is dit Kores, Israel, Moses, of dalk Jesaja self. Wie die profete so wil uitlê is op ‘n verkeerde spoor en haal uiteindelik ‘n boodskap uit wat die Gees nie bedoel het om vir ons mee te deel nie.

Ander prominente gedeeltes wat hier ter sprake kan kom is bv Deut 18:15; Ps 2:6-9; Ps 110:1; Jes 9:5-6. In werklikheid kan mens die profesië nie lees sonder om dit met die oog op die koms van die heerskappy van Christus te interpreteer nie. In baie gevalle moet ons ook die eindtyd waarvan Jesus self geprofeteer het daarin raaksien.

6.1 Sonder die profesieë is dit nie moontlik om Jesus as die Christus te ken nie.

Toe Jesus begin optree het was daar baie onsekerheid onder die mense oor wat om van Hom te dink. Die wysheid en krag waarmee Jesus opgetree het was ongekend. Hulle het hulleself telkens afgevra of Hy nie die een is van wie die profete geprofeteer het nie:

Joh 12: (34)Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?”

Jesus het die mense telkens uit die Skrif herinner aan die profesië aangaande die Christus:

Mat 22: (42)“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” “Dawid s’n,” antwoord hulle Hom. 43 Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem?

Luk 24: (27)Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê (Emmausgangers).

Paulus het die Jode uit die Skrif oortuig dat Jesus die Christus is:

Hand 18: (28)Paulus het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is.

Sonder die profesieë aangaande die Christus sou dit onmoontlik wees om Hom as die Christus te verkondig. Hy sou hoogstens as net nog ‘n merkwaardige figuur uit die verlede bekend gestaan het.

6.2 Hoofletters of kleinletters

Die 1933/1953 vertalings van die Afrikaanse Bybel het in navolging van die Nederlandse Statebybel, hoofletters gebruik waar die profesië in die Ou Testament op Christus gedui het. Die 1983 vertalers van die Bybel het egter afgewyk van die gebruik en deurgaans kleinletters gebruik.

Toe die 2020 vertaling in wording was het ‘n aantal kerke gevra dat Christus wel met ‘n hoofletter in die Ou Testament aangedui sal word, soos in die ou Afrikaanse vertalings. Die Bybelgenootskap het toe besluit om ‘n uitgawe daar te stel waar van hoofletters gebruik maak word en ‘n ander ander uitgawe uit te gee, waar nie van hoofletters gebruik gemaak word nie.

Die keuse is uiteindelik ‘n belangrike keuse, want dit raak ons geloof oor die Bybel. Lees ons die Ou Testament deur die bril van die Jodendom? Is die Ou Testament bloot ‘n groepering van antieke dokumente vir akademiese studie. Of is die Ou Testament deel van die Christene se Bybel?

Ons glo die Bybel is in totaliteit die Woord van God, deur die Gees geïnspireer en saamgestel, sodat die wêreld God kan ken en dien. So gesien kan dit nie anders as dat ons Christus in die Ou Testament met hoofletters sou identifiseer nie. Dink maar aan die hofdienaar van Ethiopië wat die boek Jesaja gelees het en nie verstaan het wat bedoel word toe hy by Jesaja 53 gekom het nie. Filippus moes hom verduidelik dat dit op Christus dui (Hand 8:30-35 en verder).

7. Ons glo aan die gesag waarmee die evangelieskrywers die Christusgebeure vir ons aangeteken het

Die Here het beskik dat daar vier skrywers was, wat die onvergelyklike gebeure in die geskiedenis vir ons opgeteken het, toe God vir dertig jaar onder die mense geleef en opgetree het.

Lukas het ook die gevólge van hierdie ingrypende gebeure vir ons opgeteken in die boek Handelinge.

Elkeen van hierdie skrywers het die gebeure vanuit ‘n bepaalde hoek aangebied net soos ons dit vandag ook kry dat joernaliste gebeure in die koerante beskryf. Daar is nie twee joernaliste wat ‘n gebeurtenis op dieselfde manier beskryf nie.

Daar is enkele gevalle waar die skrywers se feite nie presies ooreenstem nie. Voorbeelde hiervan is:

Matteus en Lukas berig dat Jesus ‘n Romeinse offisier se slaaf wat by die huis ernstig siek was, gesond gemaak het. Johannes vertel dat dit die amptenaar se seun was, wat deur Jesus gesond gemaak is.

Matteus vertel dat Jesus twee blinde mans by Jerigo gekry het, toe Hy op pad uit die stad was. Markus en Lukas vertel dat daar een blinde man was toe Jesus by die stad aangekom het. Jesus het in elkgeval die blinde of blindes by Jerigo gesond gemaak.

Daar is ook verskille oor hoe die evangeliste die opstandingsgebeure aangeteken het. Matteus sê dit was Maria Magdalena en die ander Maria wat eerste by die graf gekom het. Markus skryf dit was Maria Magdalena en Maria en Salome wat by die graf aangekom het. Lukas praat van die vroue wat na die graf toe gekom het en Johannes skryf net van Maria Magdalena by die graf. Die Evangeliste verskil ook in ‘n mate van die volgorde van die gebeure by die opstanding.

Daar is mense wat op grond van hierdie geringe teenstrydighede ‘n groot ophef wil maak van die onbetroubaarheid van die Bybel, maar is dit so? Is dit nie eerder ‘n bewys van die egtheid van die geskiedskrywing, waar elkeen van die skrywers afsonderlik navorsing gedoen het en daaroor verslag gedoen het nie? Dit word gesê dat as getuies in die hof se weergawes in te veel detail ooreenstem dat daar vermoedens ontstaan dat hulle vooraf met mekaar oorleg gepleeg het oor hulle getuienis.

Die skrywers moes ‘n seleksie maak van wat hulle kon skryf uit die magdom gebeurtenisse rondom die optrede van Jesus. Hulle het maar net een boekrol tot hulle beskikking gehad. Alles wat hou wou sê moes daar inpas. Johannes sluit sy Evangelie af met die woorde:

Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie (Joh 21:25).

Vir alle gewone gelowiges en Bybellesers is die weergawes van die Evangeliste oortuigend en betroubaar sodat ons, ons geloof daarop kan bou en dat leraars, selfs die mees geleerdes, die Evangelie met vertroue daaruit kan preek.

Ons verwerp die uitgangspunt van die historiese kritiek wat die weergawes van die Evangeliste in twyfel trek en voorgee dat die Evangelies net ‘n neerslag is van die sg. “gemeenteteologie” van die vroeë kerk.

Een van die belangrike gebeure van die teoloë wat hierdie rigting voorstaan is die “Jesus Seminar” wat in 1985 gehou is. By die geleentheid het sowat 50 kritiese teoloë beraadslaag met die doel om onderling konsensus te kry oor watter dele van die Evangelies vir hulle histories aanvaarbaar is. Hulle het probeer om uit die Evangelies ‘n rekonstruksie te maak van die “werklike Jesus” en Hom voorgehou as ‘n rondreisende Hellenisties Joodse filosoof, wat ‘n groot aanhang gekry het.

John Dominic Crossan was ‘n leidende figuur by die Jesus Seminar saam met prof Andries van Aarde van Pretoria. Hulle sieninge oor die Evangelies wat by die Jesus Seminar geformuleer is, het vandag nog ‘n sterk invloed in die wêreld en by ons eie teologiese fakulteite.

8. Ons glo in die gesag van die apostels

Jesus het die apostels aangestel om die kerk in die waarheid te lei na sy hemelvaart. Ons moet ons dus laat lei deur die “leer van die apostels” (Hand 2:42).

Die Here het beskik dat die apostels briewe geskryf het, wat vir ons bewaar gebly het en in die Bybel opgeneem is.

Paulus skryf in sy brief aan die Efesiërs die volgende oor die rol van die apostels in die kerk:

Efesiërs 2: (20)Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. (21)In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, (22)in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.

Die apostels se verantwoordelikheid was om die Kerk te begelei in die oorgang van die Ou Testament na die Nuwe Testament. Dit was ‘n omvangryke taak.

Die kerk moes leer dat Jesus die Christus is en wat dit beteken. Die Christene was aanvanklik almal Jode. Hierdie Joodse Christene moes leer dat die Koninkryk van God vir alle nasies bedoel is en nie net vir die Jode nie. Groot kultuurverskille tussen die volke moes oorbrug word in “die eenheid wat die Gees tussen hulle gesmee het” (Ef 4:3). Hulle moes leer wat ‘n Christelike lewe behels en wat hulle hoop/verwagting van die wederkoms van Jesus Christus is.

Dit was ‘n bo-menslike taak. Daarbenewens het die duiwel voortdurend valse leraars op hulle pad gestuur om die Evangelie van God te vervals en die nuwe gelowiges op ‘n dwaalspoor te bring (Ef 4:14).

Die leer van die apostels is vir ons vandag nog net so van toepassing soos vir die vroeë kerk. In hierdie verband is dit gepas om weer kortliks te herinner aan die beginsels van eksegese en hermeneutiek (sien punt 5.1 en 5.2). In alledaagse terme kan ons sê dit gaan oor die uitleg en die toepassing van ‘n teks.

By die toepassing van sekere voorskrifte in die briewe van die apostels moet ons wel rekening hou met die kulturele agtergrond waarteen die voorskrifte gemaak is. Voorbeelde hiervan is die toepassing van die “soen van Christelike broederskap” (Rom 16:16) en die dra van ‘n hoofbedekking vir vroue (1 Kor 11:13). Met dit in gedagte moet ons verklaar dat die lering en vermaning van die apostels geldend is vir alle tye en ook vir ons. Die apostels help ons inderwaarheid om die hele Bybel reg te gebruik en toe te pas vir vandag.

Die apostel Johannes skryf van Diotrefes wat nie die gesag van die apostels aanvaar nie. Dit gebeur ook vandag nog met al die valse leringe wat in die kerk geleer word en waarteen ons beswaar maak.

Die apostel Petrus het die gemeente van daardie tyd opgeroep om ag te gee op die briewe van sy mede apostel Paulus, vir wie Petrus kennelik baie agting gehad het. Petrus se oproep geld vir ons ook en word as laaste vermaning aan die NG Kerk gerig:

2 Pet 3: (14)Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe. (15)En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word. So het ons geliefde broer Paulus immers ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskrywe. (16)Hy skryf dit ook in al sy briewe waarin hy oor hierdie saak handel. Daar is dinge in sy briewe wat moeilik is om te verstaan. Oningeligte en onstandvastige mense gee daaraan ’n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang.

Saam met die geloofsgelydenis van Nicea bely ons: “Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.”

9. Merkwaardige feite aangaande die Bybel

Die volgende losstaande feite word bygevoeg en dien as bevestiging van die werklikheid dat die Bybel bo alle ander boeke in die wêreld uitstaan.

In die volle Bybel word die name van ongeveer 1700 mans en 170 vroue genoem. Die name van 1173 plekke is vir ons aangeteken. Baie van daardie plekke kan nog vandag op ’n kaart gekry word.

Die woord “jaar” kom in meer as 400 gevalle in die Ou Testament voor om ‘n bepaalde tyd of mense se ouderdomme of tyd wat verloop het aan te dui.

Die name van 193 verskillende diere en ongeveer 95 verskillende plante kom in die Bybel voor.

Jesus haal uit 24 verskillende Ou-Testamentiese boeke aan. Hy het 49 verskillende Ou Testamentiese verse aangehaal. Dit sluit die herhalings van dieselfde verse in die verskillende boeke uit.

Die Ou Testament word 2700 keer aangehaal in die Nuwe Testament. Een voorbeeld hiervan is Gen 1: (3)En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Die teks word aangehaal in 2 Kor 4: (6)God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” …

Die Hebreeuse woord vir “dag” (yom) kom vir die eerste keer in Gen 1:5 voor. Daarna kom die woord “yom” nog 2294 keer in die Ou Testament voor.

Die woord “boek” kom, afhangende van die vertalings, meer as 100 keer in die Ou Testament voor .

Die standaard teks van die Ou Testament word die Masoretiese Teks genoem. Joodse geleerdes het in die 6e eeu n.C. begin met die samestelling van die Teks. (Die kanonisering of identifisering van die amptelike boeke van die Ou Testament het teen daardie tyd lankal reeds plaasgevind.) Hierdie geleerdes in Babilonië en Palestina het 5 eeue lank gewerk om manuskripte na te gaan om sodoende sover as moontlik die oorspronklike teks van die Hebreeuse Bybel daar te stel.

Hulle uitgangspunt was nie om die bedoeling van die geskrifte te interpreteer nie, maar om die outentieke Woord van God vir die nageslag daar te stel. Hulle het alle manuskripte en mondelinge tradisies waar hulle, hulle hande kon oplê, gebruik vir die doel.

Hierdie Joodse geleerdes het elke woord en letter met sorg nagegaan. Hulle het vokaaltekens wat in die oorspronklike tekste ontbreek het, by die konsonante bygevoeg om die korrekte uitspraak van woorde te waarborg. Dit was ‘n monumentale taak wat tot die 10e eeu n.C. geduur het.

Die Kerk van Christus is hulle groot dank verskuldig vir hierdie taak, want dit gee groot vertroue in dié deel van die Bybel wat ons die Ou Testament noem.

Die samestelling van die amptelike teks van die boeke van die Nuwe Testament het heelwat later eers plaasgevind en is in ‘n sin nog nie afgehandel nie. (Geleerdes wat mauskripte bestudeer (tekskritiek), verskil soms oor die mees waarskynlike lesing van ‘n bepaalde teks.)

Geeneen van die oorspronklike geskrifte (autograph) van die skrywers van die Nuwe Testament het oorgebly nie. Hulle werk is egter van die begin af gerespekteer onder die gelowiges in die kerk en dit is met die hand oorgeskryf vir ander om ook daarin te kon deel. So het dit vir eeue aangegaan, tot met die uitvinding van die boekdrukkuns in 1450 n.C.

Daar is vandag sowat 5800 manuskripte of gedeeltes van manuskripte in Grieks beskikbaar, waarmee geleerdes wat hulle besig hou met die sogenaamde tekskritiek werk. Afgesien daarvan is daar nog duisende ou manuskripte van die Nuwe Testament in Latyn en ander tale ook beskikbaar.

Daar is geen ander letterkundige werk van die verlede waarvan daar soveel manuskripte beskikbaar is nie. Die naaste wat hieraan kom is die Iliad van Homerus, waarvan daar sowat 650 manuskripte oorgebly het. Die meeste van hierdie manuskripte is meer as 1000 jaar na die Iliad geskryf. Die “Die Annale van Rome” deur Tacitus is in 113 n.C. geskryf. Hiervoor het ons 2 manuskripte wat ongeveer uit 850 n.C. dateer.

William Shakespeare het die King James Bybel onder die mees gerespekteerde literêre werke in die Engelse taal beskou. Die King James het geslagte van kunstenaars, digters, musikante en politieke leiers geïnspireer. Baie frases van die Bybel het deel geword van die gewone Engelse taalgebruik.

Die Bybel is vertaal in 704 tale en die Nuwe Testament in 1550 tale. Net in die Engelse taal is daar reeds meer as 450 vertalings aangeteken, waarvan sommige reeds dateer uit die 7e eeu n.C. Die Koran daarteenoor is net in 47 tale beskikbaar, alhoewel daar sowat 1.7 biljoen moslems in die wêreld is.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê in Artikel 5 dat die Bybelboeke in hulleself die bewys dra dat hulle van God is en dat selfs die blindes dit kan aanvoel.

2 thoughts on “Skrifgesag en Skrifinterpretasie”

  1. Dis interessant dat mens selde hoor dat Jesus sewe keer op verskillende maniere in Joh 14 en 15 sê: “As julle my liefhet, gehoorsaam my opdragte/woorde”. In bevelsvorm en in stellinge as ’n absolute waarheid.
    Ek dink hierdie perspektief kort ook in par 5 hierbo, as ek reg gelees het.

    Verse 15, 21, 23-24, 28 (kos bietjie dink), Joh 15:10 en 15:14. By elkeen is daar die gevolge van ’n intiemer verhouding met God as ’n belofte.
    Of het die beginsels van die Hermeneutiek hier dalk die essensie van die skrif ontneem en die stukke oor die wet soos Joh 14 en 15, Matt 5 en 6 in disrepuut geplaas?
    Waarom spring teoloë op en af met “wetties” as mens Matt 5 en 6 as Jesus se ondersteuning van Sy eie wette meld? Hy is immers ook God en die hele Skrif is immers God Drieënig s’n. Kyk Matt 7:22-29 oor hoe belangrik is glo en doen volgens Sy woorde.
    Dade uit liefde vir Hom is die standaard waarvolgens Jesus sal oordeel:- dade uit geloof volgens Sy woorde waarop ons huis gebou moet word ook in Matt 25.
    Sy “opdragte” en “woorde” is saamgevat in die tweede deel van die wet (liefde vir die naaste en medegelowiges), wat die eerste deel (liefde vir God) se gevolge is nl Joh. 15:17: liefde vir medegelowiges.

    Die verhouding tussen sola fide en wetsgehoorsaamheid, lê hier mos oop en bloot:
    Ons word nie deur wetsonderhouding gered nie, maar net uit geloof wat vrug dra in die liefdeswet onderhouding as die gelowige se lewenssstandaard.
    In al Paulus se briewe teenoor die Judaïstiese dwaalleer van wettiesheid en mensgemaakte byvoegings word blote wettiesheid verwerp.
    Maar Jesus bring die balans hier baie mooi uit: die enigste preek waarin Hy sewe keer klem lê op een saak. Dis dus baie belangrik as mens dit raaksien.

    As ons glo, moet ons die ou lewe aflê en lewe binne Jesus, ons geliefde Here, se vereistes (opdragte en woorde) wat tog weer op die OT morele wette soos in Ex 20 neerkom, naamlik liefde tot God moet weerkaats word deur ons liefde vir mekaar. Ware wetsgehoorsaamheid as lewenswyse is mos die lig wat van ons uitstraal tot God se eer volgens Matt 5:14-20.
    Dis ons “eerste liefde” soos in Openb 3:4 vir die Efese gemeente voorgehou word.
    Daar is niks wat God so ontstel as Sy volk wat nie volgens Sy wil lewe nie. Die hele boodskap van al die profete in die Skrif gaan hieroor. Die hoofsaak van sonde is lewens wat getuig dat daar nie werklik liefde vir God is nie – vandaar kom wetteloosheid, postmodernisme, afgodery en heidense wettelose seksuele praktyke.
    Ook Jacobus en Johannes se briewe hamer hierop. Geloof moet met gehoorsame werke bewys word.

    As ek my seun vra om die garage skoon te maak. Maar twee uur later is die garage nog vuil en hy sit met sy XBOX en speel, kamma om te bestudeer hoe om die garage skoon te maak (missionaliteit kommissie van die ASM) sal daar gevolge wees. Na 2000 jaar se groei van die Koninkryk bestudeer hulle nou eers hoe om dit te doen – verslae in 2023 se sinode. Intussen gaan mense verlore omdat die Groot Opdrag opsy geskuif word in ’n XBOX subkommissie wat ook studeer: hoe nou weer?…

    Daar is ’n reuse verskil tussen wetsgehoorsaamheid en wettiesheid.
    Die homoseks debat van voor 1986 bewys dat die argument van “wettiesheid” juis die ASM en die ander dwalendes se taktiek is. Hulle verstaan nie, of verwerp die bostaande beginsel oor die onafskeidelike verband tussen wet en geloof. Hulle verwerp die Wet woord vir woord in hul verslae as wetties. Indien hulle Skrif aanhaal gaan dit oor “wettiese” sinspelings daaroor. Hulle argumenteer buite konteks om postmodernistiese dwalinge in te voer, veral die “Geen absolute waarhede” beginsel.

    Hulle verwerp ook die wet omdat hulle nie die verskillende soorte wette erken nie, of kontekstueel verdwaalde idees te misbruik om geldige verantwoordelike Skrifuitleg te verwar. Dié wette wat in Jesus vervul is, word ingesleep as “met gebed, eerlike en verantwoordelike Skrifuitleg” (elke keer in elke AS verslag as spelreëls soorgehou sodra hulle na ons kant toe kyk, asof ons ander spelreësl het – maar ons het, ja. Ons erken die Skrif as absolute foutlose Geesgedrewe waarheid en gesaghebbend wat waarhede soos eerlikheid, gebed en verantwoordelike Skrifitleg vereis, nie eie vertolkings en eie waarhede nie). Hulle diskrediteer dié wette wat Jesus in Matt 5 vas maak as standaard vereistes vir Sy volgelinge tot in die oordeel.

    Daarom het hulle hulle in die AS “vasgeloop” teen Christus en Sy Skrif, omdat hulle geen skriftuurlike gronde het om op te staan nie. Dus skryf hulle die Skrif af as mensewerk vol foute en uitgediende kultuurgoedere… Dis juis die ou truuk van Satan in Genesis as eerste versoeking: “Het God gesê …”.
    So verwerp hulle ook in Ex 20, waar God in Sy eie skrif met Sy eie vinger, twee keer geskryf het. Maar nou word dit heeltemal onskriftuurlik toegeskryf aan Esra, wat nooit weer in die Skrif eens genoem word nie, en nêrens as skrywer van die Wet nie?

    Ek wou maar net sê:
    Joh 14:23-24 Joh 14:23  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 
    24  Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

    1Joh 2:3  En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. 
    4  Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. 
    5  Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 
    6  Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het. 
    Jak 2:14  Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? 
    15  As daar nou ’n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, 
    16  en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit? 
    17  Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. 

    Watter werke? Natuurlik God se absolute eise in Sy wet. Definitief nie elke mens se ” eie waarhede” nie teenoor God se Absolute Waarheid (Christus met Sy woorde/opdragte en Sy soewereinheid.
    Anders geld Rom 1:16-32 soos ons sien nou in die NGK geld.

  2. Dankie Hercules. Die Johannes tekste is onweerlegbaar in die LGBT debatte:
    * Joh 14:21 Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet.
    * En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.
    * Joh 14:23 “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem;
    * en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
    * Joh 14:24 Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie;

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui