Kyk ook:
*******
Slypskool 2022: Wat is ’n inklusiewe gemeente? | Kerkbode
Kerkbode
26 September 2022
Die Algemene Sinode het die volgende droomscenario vir die NG Kerk van 2030 geformuleer: Ons droom van ’n netwerk van inklusiewe gemeentes, wat op voetsoolvlak, vanuit God se liefde, diensbaar in ons gemeenskappe is. Hierdie droom veronderstel dat die plaaslike gemeente, onder andere, die ideaal van inklusiewe gemeente behoort na te streef. Maar hoe het hierdie droom tot stand gekom? En wat is ’n inklusiewe gemeente? Wessel Wessels gesels met prof Kobus Schoeman oor hoe die sinode hierdie droom verwoord het en met vyf jong predikante oor hulle verstaan van ’n inklusiewe gemeente.
Lees ook: Dominees verkies veelrassige gemeentes – hoe lyk dit prakties?
“By die Algemene Sinode van 2019 is afgevaardigdes gevra oor die identiteit van die kerk in 2030. Hoe sou hulle hoop die NG Kerk lyk in die toekoms? Die afgevaardigdes het via hulle selfone gestem vir belangrike identiteitmerkers en die volgende woordwolk het getoon dat diensbaar en inklusief beduidend was. Die ideaal van inklusiewe gemeentes het dus organies gegroei vanaf die afgevaardigdes se eie denke en hoop vir die NG Kerk,” vertel Schoeman, ’n lid van die Taakspan Navorsing.
Woordwolk: Woorde wat die meeste stemme gekry het:
- leiers & leierskap
- inklusief & inklusiewe
- liefde
- verhoudings
- God
- Christus
- Diensbaar & diensbaarheid, dienende
- vir
- nie
- luister
- gaan
- mekaar
- gemeenskap
- kerk
- kultuur
- oor
- aanvaarding
- diversiteit
- mense
- waagmoed
- groei
- kultuur
- wees
- sal
- eenheid
- hande
- aanhou
- openheid
- gefundeerd
Figuur 1: Algemene Sinode 2019
Maar woorde is nie sonder betekenis nie, en dit is veral die gevaar wanneer ons woorde baie hoor en gebruik. Nog meer belangrik is dit om te verstaan wat bedoel word wanneer dit dié beduidende identiteitmerker is vir die ideale kerk van die toekoms. Wat is ’n inklusiewe gemeente?
Ds Marius Schoombie van Durbanville antwoord as volg: “’n Inklusiewe gemeente is ’n gemeente wat moeite doen om diversiteit sigbaar te maak: diversiteit in taal, ras, ouderdom, kultuur en geloofsoortuigings in die demografiese konteks waar die gemeente haarself vind. Om inklusiwiteit reg te kry is om sensitief te wees vir die ander en om ruimte te skep vir die ander om deel te wees van die gemeente.”
Ds Wynand Fourie van Windhoek meen: “Inklusiwiteit het te make met gesindheid, ’n gesindheid wat sê: ‘Ons ontdek saam, ons stap saam, ons is versoen met God in Christus en ons is besig om die versoening met mekaar, in verhouding, onder leiding van die Gees, deur middel van sy Woord, diep te onderskei’. En dit word geken deur nederigheid, kwesbaarheid en bereidwilligheid om geregtigheid na te streef, skuldbelydenis te kan doen en te kan verbind, om met die gesindheid van versoening wat eskatologies is, op pad te kan wees na God se nuwe hemel en aarde.”
Dr Mias van Jaarsveld van Bloemfontein beskryf dit soos volg: “’n Inklusiewe gemeente sien of erken dat God nie net in sekere mense werk nie, maar in ’n klomp mense op verskillende maniere werk en daarom sal ’n inklusiewe gemeente erken dat jou manier van bid nie ongeldig is nie. Om op ’n sagte manier na mekaar om te sien, en versigtig met mekaar te werk wanneer ons goed in die naam van die Here doen.”
Dr Suzanne van der Merwe van Kroonstad merk op: “’n Inklusiewe gemeente is ’n veilige ruimte waar eenheid in diversiteit aanwesig is, in die liefde van God wat allesinsluitend is en waartoe ons geroep is.”
Ds Johan Botes van Gordonsbaai sê weer: “’n Inklusiewe gemeente is ’n gemeente wat intensioneel die grense probeer oorsteek, maar ook afbreek, deur hoe ons praat en deur hoe ons ons ruimtes beskikbaar maak, ons spasie en ons tyd. Intensioneel is die sleutelwoord, want inklusiwiteit gaan nie vanself gebeur nie, ons kan nie net hoop mense tel dit op nie, ons gaan hulle die verbeelding moet gee en dit prakties maak. Ons doen dit deur ons woordeskat en deur saggies te praat met dié wat nog nie daar is nie
- Dr Wessel Wessels was een van die deelnemers aan die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing in samewerking met Kerkbode.