Kyk ook: |
Die artikel “Só pak die teologie probleme aan” hieronder het in die Kerkbode van 17 Junie 2016 verskyn. Ek weet nie wie die teikengehoor vir hierdie artikel is nie, maar die deursnee lidmaat sal verseker nie kop of stert hiervan uitmaak nie – dit is hopeloos te hoog geskryf. Kerkbode het geen poging aangewend om hierdie verstaanbaar te maak vir die man op straat nie.
Die volgende is wat ek glo die artikel sê met kommentaar daarop:
Volgens Van Huyssteen het Johan Heyns gesê dat die inhoud en metodologie van teologiese nadenke nooit afgelei kon word van die “waarheid van openbaring” nie, maar dat teologiese nadenke altyd gevorm sou word deur ’n algemene teorie van wetenskap. As in ag geneem word dat Heyns behoudend was en Van Huyssteen nie en dat Van Huyssteen nie met Heyns saamstem nie, moet ’n mens waarskynlik hiermee verstaan (al klink dit nie so nie) dat Heyns erken het dat die heersende tydsgees altyd teologiese nadenke sal beïnvloed en veroorsaak dat die Bybel verkeerd geïnterpreteer kan word as ’n eenvoudige lees van die Bybel nie nagevolg word nie. Heyns is natuurlik reg.
Van Huyssteen voel dat lewensvraagstukke besin moet deur ’n interdissiplinêre benadering om tot die beste moontlike oplossing van ’n vraagstuk te kom. In kort beteken dit dat ons die antwoorde op lewensvraagstukke nie net in die Bybel moet probeer vind nie, maar dat daar ook gekyk moet word na die wetenskap. Omdat Van Huyssteen evolusie omarm, beteken dit dat hy evolusie met die Bybel wil versoen. Let daarop dat evolusie historiese wetenskap is en dat ’n betroubare ooggetuieverslag altyd meer betroubaar sal wees as historiese wetenskap (kyk Operasionele vs historiese wetenskap). Verder glo hy dat die wetenskap gevind het dat homoseksuele mense so gebore word, en daarom moet SGV (selfdegeslagverhoudings) versoen word met die Bybel. Eerstens is dit glad nie waar dat die wetenskap dit bevind het nie (kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit) en tweedens kan morele waardes nie aangepas word om genetiese afwykings te akkomodeer nie.
Van Huyssteen sien homself as ’n postfundamentalis. Hy sê dat daar nie ’n groot verskil tussen Bybelse fundamentaliste en natuurwetenskaplike reduksioniste is nie. Hierdie stelling kom waarskynlik weer daarop neer dat ’n mens ’n interdissiplinêre benadering tot lewensvraagstukke moet hê, nie soos Bybelse fundamentaliste, wat oplossings van lewensvraagstukke wil “reduseer” tot die Bybel nie.
Die titel van sy lesing is: “Is there hope for ‘truth’ and ‘progress’ in theological thinking today?” Neem in ag dat Van Huyssteen van huis uit postmodernisties is. Postmodernisme is die volgende:
Een van die belangrikste filosofiese uitgangspunte hiervan is dat dit ’n deug is om onseker te wees of twyfel te hê oor geloofsake. Dit het ook die siening dat daar geen objektiewe waarheid is nie en dat elke persoon sy eie waarheid kan hê. Dus is die Bybel nie noodwendig waar nie. Postmoderniste se siening is dat ons op soek is na die waarheid, eerder as om ons te verlustig in die waarheid wat die Bybel bied. Die enigste ding waarvan postmoderniste seker is, is dat daar geen sekerheid is nie. Dit is selfweerleggend.
Dit is daarom baie ironies dat die waarheid vir hom as postmodernis enigsins belangrik is.
***********
Só pak die teologie probleme aan
Neels Jackson, Kerkbode, 17 Junie 2016
Die jaarlikse Johan Heyns-gedenklesing van Tukkies se Departement Dogmatiek en Christelike Etiek is vanjaar gelewer deur PROF WENTZEL VAN HUYSSTEEN. Die titel van sy lesing was: Is there any hope for “truth” and “progress” in theological thinking today? PROF DANIE VELDSMAN bied ’n oorsig.
Van Huyssteen begin by die vraag wat die jong Stellenbosse dosent Johan Heyns in die vroeë 1970’s aan sy studente gerig het: Wat is teologie?
Dit was die vraag wat destyds op ’n al hoe skerper wyse gestel is oor die wetenskaplikheid van teologiese nadenke wat aanspraak gemaak het op waarheid op grond van die Bybel en die belydenis dat dit God se openbaring sou wees.
Die vraag “Is teologie ’n wetenskap?” het Heyns en sy kollega Willie Jonker aangedurf in hulle boek Op weg met die teologie (1974). Dié boek was ’n eerste oor teologie as wetenskap in Afrikaans in Suid-Afrika. Vir Van Huyssteen het dit die vraag geword wat hom sy hele navorsingslewe ten diepste sou boei.
In 1978 by die byeenkoms van die Dogmatologiese Werkgemeenskap in Stellenbosch het Van Huyssteen hom krities oor Heyns se standpunt in hierdie boek uitgelaat.
Hy het ’n stelling van Heyns enersyds gebruik om Heyns se eie standpunt oor teologie as wetenskap te kritiseer en andersyds die stelling te gebruik om sy eie benadering van Filosofiese Teologie as interdissiplinêre dissipline te ontwikkel.
Heyns het volgens Van Huyssteen gemeen dat die inhoud en metodologie van teologiese nadenke nooit afgelei kon word van die “waarheid van openbaring” nie, maar dat – en dit is die alles bepalende kritiese insig – teologiese nadenke altyd gevorm sou word deur ’n algemene teorie van wetenskap.
Enersyds het Van Huyssteen duidelik aangetoon dat Heyns nie die implikasies van sy eie standpunt uitgewerk het nie. Andersyds het Van Huyssteen juis hierdie insig uitgebou in sy benadering van Filosofiese Teologie as interdissiplinêre denke.
Vir Van Huyssteen het interdissiplinêre denke beteken dat die intellektuele konteks van teologiese nadenke – soos enige ander vorm van wetenskaplike nadenke – as kulturele en kontekstuele aktiwiteit verstaan moes word. Dit beteken eenvoudig dat ons nadenke altyd op ’n spesifieke plek en tyd binne ’n besondere taaltradisie voltrek word.
Van Huyssteen het sy eie denke saam met alle ander vakgebiede, veral die natuurwetenskappe, sterk ontwikkel as ’n vorm van openbare teologie waarin gesamentlik oor lewensvraagstukke besin word.
Interdissiplinariteit het transversaliteit meegebring, dit wil sê insigte uit alle vakgebiede is saam “oor mekaar gelê” deur die interpreteerder om tot die beste moontlike oplossing van ’n vraagstuk te kom.
Die dampkring waarin Van Huyssteen sy benadering ontwikkel het, kom uit die oortuiging dat daar geen groot verskil is tussen Bybelse fundamentaliste en natuurwetenskaplike reduksioniste nie. Onderskeidelik beteken dit dat hulle oordele oor alles onkrities vir waar gehou kon word (Bybelse fundamentaliste) en dat hulle hul aan geen grense hoef te steur nie (natuurwetenskaplike reduksioniste).
Beide standpuntinnames is onaanvaarbaar en het die gesprek tussen teologie en natuurwetenskap grootliks verongeluk.
Van Huyssteen noem die vraagstellings en uitdagings wat ons in die lewe tegemoetkom “probleme”.
Teologiese nadenke moet gedeelde probleemareas en ooreenkomste oor die grense van vakdissiplines heen identifiseer maar ook verskilpunte, en dit dan deel maak van die teologiese wyse waarop ons nadink oor die lewe en oor vraagstukke.
Probleme kan empiries (byvoorbeeld: Hoe gemaak met slegte gebeurtenisse in God se goeie skepping?), eksistensieel of konseptueel van aard wees.
Konseptuele probleme kan intern (byvoorbeeld: Hoe verstaan ons die verbond in die Ou Testament?) of ekstern (byvoorbeeld: Skrifverstaan) wees.
Die belangrike punt is dat die antwoorde op hierdie vrae aan die hand van drie oorwegings voltrek moet word: wat sê die Bybel daaroor; wat het die geloofstradisie daarvan gemaak, en hoe kan ons dit vanuit eie kontemporêre insigte vanuit alle verbandhoudende vakgebiede beantwoord.
Veral die bykomende laaste kriterium van eietydse denke is van besondere belang aangesien Van Huyssteen aanvoer dat die vraagstukke (“probleme”) wat deur die Bybelse getuienis en die lewe opgeroep word, meer en groter is as die bronne van waaruit dit na vore kom en dat ons antwoorde hierop terselfdertyd deur kontinuïteit en verandering bepaal word.
Laasgenoemde insigte kom in besonder vanuit nadenke oor die wyse waarop ons tot kennis en tot ons oordele kom (in wetenskapfilosofiese taal: dit is insigte wat kom vanuit evolusionêre epistemologie).
Hieruit het ons geleer dat ons ten diepste in ons nadenke deur ons biologiese herkoms bepaal word, maar dat ons dit terselfdertyd transendeer as beliggaamde intelligensie in ons kapasiteit vir rasionele denke, morele sensitiwiteit, estetiese en religieuse bewussyn.
Dié insigte lê opgesluit in die verdere uitwerk van die metodologiese implikasies van Heyns se oortuiging dat die inhoud en metodologie van teologiese nadenke nooit afgelei kon word van die “waarheid van openbaring” nie, “maar in teologiese nadenke altyd gevorm sou word deur ’n algemene teorie van wetenskap”.
So byvoorbeeld kan die eietydse etiese vraagstuk oor selfdegeslagverhoudinge met interdissiplinêre integriteit beter beantwoord word vanuit die bykomende insigte vanuit onder andere evolusionêre biologie en genetika.
Op hierdie wyse kan teologiese nadenke in die formulering van verantwoordelike oordele en denkontwerpe met integriteit as wetenskaplike nadenke voltrek word in deelname aan die openbare diskoers oor wetenskaplikheid.
Sy eie benaderingswyse, wat Van Huyssteen tipeer as post-fundamentalisties, beteken dus dat ons op ’n verantwoordelike wyse vraagstukke (probleme) aandurf oor die breedste moontlike lewenspektrum en op die beste geïntegreerde wyse aanbied as oordele en antwoorde op die diepste gedeelde lewensvrae.
Op hierdie wyse meen Van Huyssteen om die vraag te beantwoord wat hy gestel het, naamlik: “Is there hope for ‘truth’ and ‘progress’ in theological thinking today?”
* Prof Wentzel van Huyssteen het afgetree as die James I McCord professor of Theology and Science by Princeton, en is buitengewone professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch.