Steeds geen gesprek met Koinonia nie

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Brief: Steeds geen gesprek met Koinonia nie – Kerkbode

12 Junie 2024

Prof Hoffie Hofmeyr van Waterkloof Glen, Pretoria skryf: In Februarie 2024 het die ASM-voorsitter ds Jan Lubbe teenoor dr Anton Knoetze van die Koinonia Sinode in ’n radiogesprek aangedui dat hy homself beslis verbind tot gesprek met Koinonia oor die kritiese en dringende reformasie van die NG Kerk.

In Januarie het ds Lubbe in ’n vriendskaplike gesprek teenoor my persoonlik aangedui dat hulle as leierskap oop is vir gesprek, na die onwil voorheen daartoe.

Dit alles na aanleiding van die feit dat die NG Kerk en sy leierskap in die laaste drie tot vier dekades al meer begin wegbeweeg het van gebalanseerde en verantwoorde Skrifinterpretasie.

LEES OOK: NG Kerk hoef stééds nie te skeur, sê Lubbe ná regslui gemeentes se ‘aktes van opskorting’ kap en as ‘vreemd aan die Kerkorde’ bestempel

Lubbe het dus nie die gebruiklike kerkregtelike verskoning gebruik dat gesprek met Koinonia slegs deur die langsame en vertragingstaktiek-matige pad van die kerklike strukture soos via ringe, streeksinodes en dan die Algemene Sinode hoef plaas te vind nie.

Intussen veral onder waarskynlik negatiewe invloed van veral die Algemene Taakspan van Regte(ATR) met sy locus standi-argumente, het alles stil geword en is daar weereens geen tekens van gesprek nie. Interessant terloops hier is die parallelle met die huidige veranderende politieke situasie in ons land.

LEES OOK: ‘Goedkoop versoening rem eenheidsgesprek tussen VGK en NGK’

Intussen het Lubbe met sy onlangse inset in April by geleentheid van ’n ekumeniese gesprek in Durban waar beide die NG Kerk en die VGKSA betrokke was, aangedui dat die ongesonde en oormatige fokus op die gay-kwessie die NG Kerk “na binne gedraai” het. Gesprekke oor byvoorbeeld kerkeenheid het dus minder energie ontvang, en dit geld myns insiens ook die Koinonia-bekommernis oor die huidige rigting tot horisontalisme van veral die leierskap van die NG Kerk.

Lubbe stel dan dat hierdie minder energie “geen verskoning” is vir die NG Kerk om agter te skuil nie.

Gedryf deur opvallend eensydige ideologieë en modieuse agendas pas dit steeds nie vir die NG Kerk om met Koinonia in gesprek te tree nie. Dit blyk intussen uit ingeligte bronne dat daar deur kerklike strukture laakbare vendettas en moontlike boelietegnieke teen Koinonia-predikante en -gemeentes gevoer word. Die name van die ringe van Melmoth, Somerset-Wes, Knysna en Kemptonpark asook die streeksinode van Hoëveld word in dié verband genoem. Hierdie vendettas sluit glo pogings in om bepaalde predikante en gemeentes af te dreig met die ontneming van hulle ampsbevoegdheid, pensioene of eiendomme.

Hoewel die ASM skynbaar nie baie reserwes het om met instansies soos byvoorbeeld IAM (Inclusive & Affirming Ministries), wat die woke-narratiewe van gender-geregtigheid en kritiese rasteorie dryf, bande te bly behou nie, suig Koinonia wat deel en wese van die NG Kerk is en wil bly, steeds aan die agterspeen.

Hierdie krisissituasie waarvoor die ASM grootliks verantwoordelik is, is myns insiens baie naby aan ’n tragiese breekpunt te midde van huidige regsprosesse. My vraag is wat het geword van ’n diepgrypende gesindheid tot versoening, korreksie en reformasie. Mag God hierdie breekspul verhoed!

Kommentaar

Daniel Louw

Soos prof Johan Janse van Rensburg (Kerkleiers wil nie broederlike gesprek met my voer) voel prof Hoffie dat die NG Kerk leierskap se deure steeds nie oop is vir gesprek nie.

Die vraag is steeds: waaroor kan daar nog sinvol gepraat word?

Dit is nie sinvol om nog te probeer om die NG Kerk leierskap in ‘n gesprek of twee tot inkeer te roep nie. Daar was reeds oorgenoeg geleentheid daarvoor en dit het misluk.

Kyk ook Tyd dat Koinonia egskeiding met NGK inisieer? (Daniel Louw, 18 Apr 24)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui