Stephan Joubert: Dáárom het 1953-vertaling ekstra verse

Stephan Joubert: Dáárom het 1953-vertaling ekstra verse | Rapport

Stephan Joubert

Sondag, 14 Julie 2024

Ek was by drie Bybelvertalings betrokke. Soms hoor ek ons het die verkeerde Griekse grondtekste gebruik. Die King James-vertaling en die Afrikaanse Bybel van 1953 is God se Woord en bevat ’n paar ekstra verse wat ons “liberale vertalings” weggelaat het.

Dis juis andersom.

Die oudste beskikbare Griekse manuskripte van die Nuwe Testament is drie kodekse rondom die 4de eeu – Vaticanus, Sinaiticus en Alexandrinus. Sedert die Christendom staatsgodsdiens geword het, het Griekse manuskripte drasties toegeneem. Bisantynse manuskripte het veral in die laat 5de en 6de eeu die heersende tekstradisie geword.

In dié tradisies het die bykomende Bybelverse in die 1953-vertaling verskyn. Desiderius Erasmus se uitgawes van die Griekse Nuwe Testament en verwerkings daarvan deur Theodore Beza in die 16de eeu het dié tekstradisie omgeskep tot die sogenaamde textus receptus. Dit het die grondteks vir die KJV en die 1953-AV geword. Tog neem die drie bogenoemde kodekse en vroeë papirusfragmente ons ver meer as 100 jaar nader aan die tyd van die Nuwe Testament. In die vroegste Griekse tekste kom die “weggelate” verse nie voor nie. Maar dié minder as 20 verse hoef regtig nie ons geloof te ontspoor nie. Eietydse Bybelvertalings is nie bekook nie. God se Woord het regtig mooi behoue gebly deur die eeue in alle Griekse manuskripte. Ontspan dus en geniet jou Bybel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui