Stryd waar die pad vurk

Stryd waar die pad vurk | Beeld

2011-11-17 23:00

Twyfel, geloofsworsteling en die soeke na nuwe antwoorde het deel van die godsdiensgesprek ­geword. Neels Jackson het met ’n paar teoloë daaroor gepraat.

Twyfel is nie dieselfde as ongeloof nie. Dis ook nie ’n finale standpunt nie. Dis wel ’n fase op ’n geloofsreis wat verskillende eindes kan hê. Dis ’n vurk in die pad wat kan lei na ongeloof of na geloofsverdieping.

Dis van die perspektiewe wat ’n mens in gedagte kan hou as jy hoor van mense wat oor hul twyfel en geloofsworsteling skryf.

Dis iets wat al hoe meer gebeur. Griffel-uitgewers se jongste boek Hier staan ek is maar een voorbeeld daarvan. Nog een is die Pretoriase sielkundige Ben Barnard se boek Mag ons nuut oor God dink? Daarby duik daar dan en wan briewe of artikels met dieselfde strekking in koerante op.

Prof. Pieter de Villiers van die Universiteit van die Vrystaat sê in die studie van spiritualiteit is die reis die groot beeld waarmee ’n mens se geloofservaring beskryf word.

Dié reis neem ’n mens deur kronkels, oor pieke en deur dale. Alle spirituele tradisies aanvaar dat daar fases van twyfel is, tye wanneer ’n mens se uitsig op God verduister word.

Hy verwys na Jan van die Kruis, ’n Spaanse mistikus van die 16de eeu wat gesê het as ’n mens ’n gevoel van Godverlatenheid het, is daar ook ’n verlange na God. In daardie verlange is God steeds op ’n mistieke manier teenwoordig.

Egte mistici, sê De Villiers, onderskei twee fases van twyfel, tye wanneer ’n mens van alle sekerheid gestroop is.

Die eerste kom met lyding. Dit word “die donker nag van die siel” genoem.

Die ander is “die donker nag van die gees”. Dit breek aan as ’n mens se sekerhede en dogmas hindernisse word op die pad na God toe.

Dr. Stephan Joubert, Nuwe Testamentikus, sê al die groot geloofshelde het getwyfel, van Johannes die Doper tot die kerkhervormer Martin Luther, wat gevoel het God is afwesig.

Twyfel is volgens Joubert nie iets onchristeliks nie, mits dit in die teenwoordigheid van God gebeur. Dit moenie as ’n deug beskou word nie. Dis nie die verkieslike posisie nie, maar dis deel van die reis na God toe.

Opvallend as ’n mens sulke twyfelaars se verhale lees, is dat hulle nie na die worsteling gesoek het nie. Dit het hulle oorval.

Dit kom nie voort uit onverskilligheid of ligsinnigheid nie. Dikwels spruit dit juis voort uit ’n ernstige nadenke oor die godsdiens en dit wat die kerk leer.

Dis ook nie so eenvoudig soos om die skuld vir die twyfel eenvoudig op die “liberale teologie” te pak nie.

Die verhaal van ’n bejaarde emeritus predikant in Hier staan ek is maar een voorbeeld van iemand wat ’n fundamentalistiese opleiding gehad het. Toe hy met vrae begin worstel, kon hy nie antwoorde in die kerk kry
nie.

Dr. Ben du Toit, skrywer van die boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd? oor sy geloofsworsteling, sê vir hom het dit begin met vrae oor die teenstrydige standpunte oor apartheid wat op die Bybel begrond is.

Mettertyd het al hoe meer vrae oor etiese kwessies op sy pad beland – en die vraag: Hoe gebeur dit dat predikante en teoloë die Bybel verskillend vertolk en so ernstig daaroor voel?

De Villiers sê met die koms van die histories-kritiese benadering van die vertolking van die Bybel is mense van die fundamentalisme bevry.

Een voorbeeld is dat dit gelei het tot die ordening van vroue as leraars.

Die ellende van die histories-kritiese metode is egter dat dit neig daartoe om die dieper of geestelike betekenisse van die Bybel te verwaarloos.

Alles wat nie klop met die menslike rede nie, word uitgesmyt. Dan is daar uit ’n rasionele hoek nie meer ruimte om byvoorbeeld die maagdelike geboorte te aanvaar nie.

Hulle vra nie wat was die bedoeling van die verhale oor die maagdelike geboorte van Jesus nie.

Dié verhale, sê De Villiers, wou sê dat daar van die begin af iets Goddeliks aan die werk was in Christus. Dit was die taal van die tyd om so ’n boodskap oor te dra.

De Villiers praat van die “tirannie van die kennis” wanneer hy verwys na die neiging om die betekenis van die Bybelse teks te verskraal tot wat vir Westerse mense rasioneel is.

Hy meen daar is ’n ryk tradisie van mistiek in die Christendom wat in die Afrikaanse kerke verwaarloos word. Dit sou worstelende mense kon help om met hul geloof behoue deur die twyfel te kom.

Sy advies aan mense wat worstel, is om hulle aan dié tradisie bloot te stel.

Hy verwys na die Rooms-Katolieke mistikus Karl Rahner, wat gesê het dis die mistiek wat die kerk gaan laat oorleef.

Kyk na die jeug, sê De Villiers. Dis nie in die eerste plek dogma wat hulle aantrek nie, maar op ’n plek soos Taize in Fankryk is daar duisende wat vervulling vind in die teenwoordigheid van God.

Joubert sê hy is baie gehelp deur die uitspraak van die Duitse teoloog Paul Althaus, wat gesê het hy weet nie wat hy glo nie, maar hy weet in Wie hy glo.

Hy onderskei tussen sekerheid en dogmas aan die een kant en ’n vashou aan God aan die ander. Om vas te hou aan God is ’n verhouding. Dogmas gee woorde om die geloof te beskryf, maar dogma is nie dieselfde as geloof nie.

Joubert sê die wetenskaplike nadenke oor God het hom nog altyd gehelp.
Van die grootste teoloë se paaie het hulle gelei na verwondering. Laat in hul lewe het hulle geskryf oor gebed, sê Joubert.

Hoe het Du Toit sy geloof behou?

Hy vertel dat daar nie vir hom die opsie oop was om net eers uit te klim en homself uit te sorteer nie. Terwyl hy akademies met ’n klomp vrae geworstel het, moes hy preek en eredienste lei.

Hy het sy gemeente met hom saamgeneem op die reis. Hulle het eerlik oor die vrae gepraat. Sy proses was deel van ’n gemeenteproses.

Lees ’n mens en luister jy na die verhale van twyfelaars, lyk dit soms of dit ’n belangrike faktor is. Mense wat veilig en geborge in die kerk voel, kom makliker met hul geloof behoue deur die twyfel as diegene wat met veroordeling of afsydigheid gehanteer word.

Vir Du Toit het die veilige ruimte van die gemeente nie beteken dat hy gevrywaar is van eensame worsteling nie. Hy moes soms eers alleen deur vrae worstel voordat hy dit op ’n sagte manier en met insig met sy gemeente kon deel.
Hy het egter met sy geloof daardeur gekom. In die teologie word daar soms na verwys as ’n tweede naïwiteit.

Du Toit sê jy gaan op ’n verkenningstog en dan beland jy weer by die begin, maar jy sien dit op ’n nuwe manier raak. Dis vir hom diep ontroerend. Hy wil eintlik net vertel van die verlossing in Jesus. Dit bly die goeie nuus.

Hoekom sukkel die kerk so om mense met hul worsteling te help?

Du Toit meen dis omdat die kerk self nog nie die ingrypende skuif van die voorwetenskaplike tyd na die wetenskaplike tyd in alle opsigte in sy geloofstaal en persepsies geïntegreer het nie.

Sy raad aan mense wat worstel, is om meer genaakbaar te wees met die konteks waaruit hulle kom.

Vir hom is sy lojaliteit aan die NG Kerk-familie ononderhandelbaar, ten spyte van die kritiek wat ’n mens na binne het.

Vir die twyfelaars en die gelowiges wat met hulle te doen kry, wil hy sê dat hulle minder kwaadwilligheid by mekaar moet vermoed.

Hulle moet liewer vra hoekom hulle mekaar nie hoor nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui