Té min bly oor

*******

Té min bly oor | Kerkbode

Kerkbode, 17 Aug 2001

Jan van der Watt, Stephan Joubert, Adrio König, Jan du Rand

Hoewel ons, die skrywers van hierdie artikel, ons van bepaalde gesindhede wat in die kritiek op Ben du Toit se boek, God? – Geloof in ’n postmoderne tyd, na vore gekom het, distansieer, het ons ernstige probleme met sy boek. Ons lys hulle:

* Oorvereenvoudiging. Hermeneuties werk Du Toit met net twee kategorieë: fundamentalisme, en sy eie benadering wat hy postmodernisme noem. Die eerste benadering is verkeerd, sy eie benadering word as die waarheid voorgehou.

Dié standpunt is eerstens ’n miskenning van die wye spektrum van nadenke wat die afgelope eeu binne die veld van die bibliologie ontwikkel het. Tweedens hoort Du Toit se kategoriese oordele oor ander standpunte eerder tuis in die modernisme. In die postmodemisme “sing elkeen sy of haar eie lied”. Sy taalgebruik, retoriek. en denkwyse is modernisties en absolutisties.

* Die bonatuurlike. Du Toit verwerp Bybelse perspektiewe op die bonatuurlike (byvoorbeeld die wonders, die duiwel en die maagdelike geboorte). Ook dit is nie postmodernisties nie, maar modernisties. Dit kom al sedert die begin van die debat oor die historiese Jesus twee eeue gelede voor. Daarteenoor het die postmodernisme juis weer meer openheid te opsigte van die bonatuurlike gebring.

Verder toon Du Toit nie dat hy die koste bereken het nie. Die sentrale boodskap van die Sinoptiese Evangelies is dat Jesus die heerskappy (koninkryk) van God herstel, en dit veral doen deur sy wonderwerke en sy duiweluitdrywing (Luk 11:20). Trouens, Jesus en die apostels sluit sterk by die bonatuurlike wéreldbeskouing van die Laat-Jodedom aan (die oorheersing deur die bose magte, die wonders, die wêreldeinde, die oordeel, die nuwe aarde). Wat anders as die etiek van Jesus bly oor as dit alles verwerp word? Is dit nie ook nader aan die modernisme as die postmodemisme om dit alles te verwerp nie?

* Die opstanding. Dit is merkwaardig dat Du Toit dan wel die opstanding aanvaar, aangesien dit ’n wesenlike deel van hierdie bonatuurlike wêreldbeeld is. In terme van sy eie postmodeme beginsels (holistiese en geintegreerde denke, bl 116 en verder) is dit vreemd omdat hy die opstanding isoleer uit die holistiese eenheid waarvan dit wesenlik deel is: die bonatuurlike.

Terwyl hy die bonatuurlike elemente soos die wonders en die duiwel verwerp (bl 123), aanvaar hy tog die opstanding. Hy kry dit reg deur die opstanding self wesenlik te verander. In die Bybel is die opstanding ’n ongelooflike wonder, by Du Toit word dit ’n vanselfsprekende deel van die natuur. Trouens, daar is ’n natuurwet (!) (bl 112) wat dit onmoontlik maak dat lewe kan ophou.

Hy verduidelik dat alles basies uit energie bestaan (die mens ook), en omdat energie onvernietigbaar is, en slegs van vorm kan verander, is opstanding die natuurlikste ding ter wêreld. Al wat by die dood gebeur, is dat die menslike energie (en Jesus s’n ook, bl 150.en verder) van vorm verander sodat die mens na die dood in ’n ander vorm by God voortbestaan (bl 112 en verder).

Die Christen sou dus nie meer kon aanvaar dat Jesus die dood oorwin het en die vrees vir die dood wat so kenmerkend was by gelowiges in die Ou Testament, weggeneem het nie. Dit was bloot deel van die premodernisme van die apostels dat hulle so opgewonde was oor Jesus se opstanding. Van die ryk betekenis van die opstanding in die Nuwe Testament behou Du Toit net die opstanding as legitimering van die kruis (Pannenberg).

* Vrae. Eerstens is dit nie duidelik waarom Du Toit sy idee van die mens se voortbestaan ná die dood (die veranderde vorm van energie) “opstanding” noem nie. In die Bybel veronderstel opstanding tog die beëindiging van lewe, wat volgens hom onmoontlik is. Waarom noem hy sy idee van die mens se voortbestaan nie eerder onsterflikheid nie? Hiervoor kan hy goeie aansluiting kry in die premoderne Griekse filosofie wat sy denke goed pas. Volgens hom is dit immers ’n algemene postmoderistiese insig dat die mens “nie liggaam met ’n siel binne-in is nie, maar ’n siel met ’n liggaam” (!?) (bl 151). Dis ’n vreemde teenstelling. In die Bybel kry ’n mens egter nie so iets nie.

Tweedens verstaan ons nie hoe werk die energie-voorstelling nie. Volgens Du Toit kan energie nie geskep of vernietig word nie, dus nie vermeerder of verminder nie. Daar was dus van die ontstaan van die heelal af presies soveel energie soos nou. Maar daar was intussen al miljoene verskillende mense (om nie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui