Teoloë moenie te ver wegdryf van die kerk

In die artikel hieronder sê Frits Gaum dat dit normaal is dat daar ’n afstand is tussen gemeentes en die teologiese fakulteite. Hy sê dat dit selfs goed is omdat die teologiese fakulteite dikwels die voorlopers was in die toekoms.

Dit is presies die probleem: hulle het in die meeste gevalle die voortou geneem om liberale drek in die kerk in te voer.

Let daarop dat Gaum baie steun op Louis Jonker se opinies. Jonker was egter groot vriende met Ferdinand Deist, wie baie aanklank gevind het met Rudolf Bultmann se siening dat Jesus nie liggaamlik opgestaan het nie. Bultmann het ook geredeneer dat dit nie meer geloofwaardig is om te eis dat Christene die “mitiese wêreldbeeld” van die Nuwe Testament moet aanvaar nie. Hy het die term ontmitologisering bekend gestel.

Daarmee erken Gaum en Jonker dat dit die tipe teologie is wat aan jong teologiese studente geleer word.

Gaan kyk ook na die kommentaar in die artikel NG groep kan g’n studente oplei.

*******

Teoloë moenie te ver wegdryf van die kerk | Netwerk24

Deur Frits Gaum

3 Januarie 2021

’n Hovaardige houding van teoloë sal nie deug nie, net so min as ’n vyandige houding van die kerkmense, skryf Frits Gaum.

Daar bestaan dikwels – soos ook nou weer (NG groep kan g’n studente oplei, Rapport, 20 Desember) – spanning tussen dele van die amptelike NG Kerk en die teologiese fakulteite waar die predikante van die kerk opgelei word.

Dit is nie noodwendig sleg nie. Die teoloë is dikwels voorlopers in hul vakgebiede en die kerk kom ’n entjie agterna en gee nie denkbeelde en dogmas maklik prys nie. “Gesonde” spanning is dus haas onvermydelik. Maar die gaping tussen teoloë van die kerk en die kerk se gemeentes mag nie onoorbrugbaar groot word nie.

Die teoloë het steeds die verantwoordelikheid om die kerk – en dus die gemeentes en die lidmate – wat hulle by implikasie in daardie vertrouensposisies geplaas het, in gedagte te hou en te respekteer. En die kerk het die verantwoordelikheid om na die teoloë te luister en ag te slaan op hul sienings, al kan die kerk dit nie altyd huidjie en muidjie aanvaar nie.

In die geskiedenis was daar meermale groot spanning tussen die kerk en van sy teoloë. Die Teologiese Kweekskool (deesdae Fakulteit) op Stellenbosch het juis tot stand gekom weens die gevoel dat die opleiding wat teologiese studente in Nederland gekry het, alte liberaal was. Die beste voorbeeld in die meer onlangse geskiedenis van spanning tussen die NG Kerk en sy teoloë, is die botsing in die 1920’s en 1930’s tussen die kerk en prof. Johannes du Plessis wat uiteindelik in die hof beland het. Daar was later ook spanning oor apartheid. Die meeste kerklike teoloë het apartheid in ’n stadium min of meer onderskryf, maar mense soos proff. Bennie Keet en Ben Marais het dit nie gedoen nie en was dikwels in konfrontasie met die kerk.

Daar is min huidige teoloë aan die drie teologiese fakulteite waar NG dominees opgelei word (Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein) wat nie standpunt ingeneem het ten gunste van selfdegeslagverbintenisse nie. [Kommentaar: Kyk NG teologiese skole progay. Dit is een van die voorbeelde waar kweekskole die voorlopers was om liberale denke in die kerk in te voer. Gaum sien dit natuurlik as ’n positiewe voorbeeld.]

Toe die NG Kerk se teoloë aan die Stellenbosse fakulteit teologie egter in 2015 eenparig hieroor ’n stuk aan die algemene sinode van die kerk wou voorlê, is dit nie vir bespreking aanvaar nie. [Kommentaar: Kyk Laat NG kerkrade oor gays besluit.]

Daar is tans weer spanning tussen dele van die NG Kerk en die teologiese fakulteite.

So skryf Jan Louw van Reitz in Kerkbode: “Daar is ’n groeiende gewaarwording dat die teologiese fakulteite ’n ongelowige en onbybelse teologie bedryf. Ons vermoedens word telkens bevestig oor wat in die verborge ruimtes van die teologiese klasse geleer word.” En Marcel Vosloo skryf: “Dit lyk vir my of daar tans ’n gees in die teologie (van die teologiese fakulteite) is om onsekerheid te omhels.

In ’n gesprek met my in Kerkbode nadat hy die Andrew Murray-Desmond Tutuprys in 2018 gewen het, het die Ou-Testamentikus Louis Jonker oor die teologie van Stellenbosch gesê: “Sedert 2000 vind die opleiding van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) se aspirant-predikante ook (naas die opleiding van die NG Kerk-tokkelokke) by die fakulteit teologie plaas. Dit was ’n absolute skeidingspunt in die bestaan van die instelling. Daarsonder sou ons steeds dominees opgelei het wat nie blootgestel word aan ’n diversiteit van standpunte en perspektiewe nie, en sou ons nie ’n ekumeniese fakulteit gewees het nie. Sedertdien het nog ander kerklike vennote by ons aangesluit, en elkeen van hulle help ons om ons perspektiewe te verbreed. Ons leer hoe om in gesprek te tree met ander – selfs met radikaal ander. Daar word nou teoloë by die fakulteit opgelei wat in die toekoms van die kerk in ons land ’n belangrike rol kan speel.”

In sy boeiende boek Herinnering en verlange: Gesprekke oor mag, geskiedenis en die Bybel vertel Jonker van verbeelde gesprekke wat hy onder andere met die briljante Ou-Testamentikus Ferdinand Deist (1944-1997) op dié se agterstoep in Kiewietstraat, Onderpapegaaiberg, gehad het. Dis gegrond op uitlatings wat Deist in sy lewe gemaak het. Deist het met sy akademiese en populêre boeke baie gedoen om lesers aan te spoor om histories-krities, dog verantwoordelik, met die Bybel-teks om te gaan.

[Kommentaar: Wel, wel. Dat die historiese kritiese benadering openlik erken word is veelseggend.]

Deist gee in sy “gesprek” met Jonker toe dat die histories-wetenskaplike Bybel-uitleg ’n mens se geloof kán bedreig. Hy het self tydens sy studie in Marburg, Duitsland, in sy geloof begin twyfel.

[Kommentaar: Cas Wepener beskryf dit soos volg: “Vir ’n klompie [studente] tref dít wat hulle in die lesinglokale kry soos ’n landmyn. Hulle word uit hul bestaande sekerhede losgeruk. Dié wat ’n paar van die stukke kan optel, registreer ná ’n tyd vir ’n ander kursus, en dié wat nie kan nie, staak hul studies.”]

“As ons al hierdie dinge weet oor die ontstaan van die Ou Testament – dat Moses nie die Pentateug geskryf het nie, dat Adam en Eva nie noodwendig historiese mense was nie, dat ons nie sommer Israel se geskiedenis so uit die Bybel kan aflees nie, en nog baie meer – watter implikasies hou dit vir ons geloof in?

[Kommentaar: Teoloë vreet hierdie twak op soos soetkoek en verkoop dit as waarheid aan teologiese studente. Hulle gee voor dat die feite mens dwing om hierdie sieninge te hê, maar daar is baie goeie argumente teen die stellings hierbo. Dit word egter nooit aan studente voorgehou nie. Die idee wat ’n mens kry is: hoe meer die Bybel se integriteit afgebreek kan word, hoe beter.]

Ek het begin worstel met die vraag of ’n mens dan nog enigsins in God kan glo as jy al hierdie dinge weet. Gelukkig het ek later in Tübingen ’n professor raakgeloop wat my met sy raad oneindig baie gehelp het. ‘Ons glo nie in die Bybel wat ’n boek is nie; ons glo in die God van die Bybel,’ het hy vir my gesê. Ons moenie die Bybel verwar met ’n soort feiteboek oor God nie. Wanneer sommige van die feite in hierdie boek dan deur wetenskaplike studie betwyfel sou word, sou ons ook God moet betwyfel. Nee, so werk dit nie. Ons kan sowel histories-wetenskaplike studente van die Bybel wees, as gelowiges wat ons oortuigings oor God stamelend saam met die Bybelskrywers van destyds bely.

[Kommentaar: Dit klink na ’n geldige argument: as die Bybel nie onfeilbaar is nie, maak dit nie dat God verdwyn nie. Die probleem is dat die karakter van God betwyfel word en nou besluit elkeen self wat God se karakter is. Dit is niks anders as afgodediens nie. Kyk Welkom by Bou-’n-God.]

Daar moet dus met groot verantwoordelikheid en begrip en deernis te werk gegaan word as daar in die gemeente oor Bybeluitleg gepraat word.

Louis Jonker wys self in een van sy artikels daarop dat daar ’n groot gaping tussen Bybelwetenskaplikes en “gewone” lidmate is. In ’n lesing by ’n kongres van die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika het hy gesê (vry vertaal): “ . . . Die gaping word veroorsaak deur die indruk wat onder nie-akademiese Bybellesers bestaan dat die professionele bestudering van die Bybel die Bybel wegvat van geloofsgemeenskappe deur dit vas te vang in ’n klein wêreld met sy eie eksegeties-hermeneutiese reëls . . . Vir my as predikant wat gereeld kontak het met ‘gewone’ Bybellesers in die NG Kerk, is dit belangrik om die gaping tussen hierdie twee wêreld te oorbrug.”

Jonker sien die saak reg. Dit is absoluut noodsaaklik dat daar ’n voortdurende gesprek tussen die kerk se teoloë en die kerk se “gewone” lidmate moet wees.

Hoe die gesprekke ingeklee word is van groot belang.

’n Hovaardige houding van die teoloë se kant sal nie deug nie, net so min as wat ’n vyandige houding van die kant van die kerkmense sal werk.

Die teoloë kan ’n leidende rol speel om die kerk tot nuwe insigte oor bepaalde sake te bring. En die kerk moet die teoloë steeds herinner aan hul wortels en die plek waarvandaan hulle kom. Op stuk van sake is dit die kerk wat hulle gestuur het om predikante op te lei wat die “gewone” lidmate (die dommes en die slimmes) met die Woord van God “in ’n tyd soos hierdie” moet bedien.

Terwyl afgestudeerde teologiestudente van die NG Kerk deesdae ’n groter begrip het, en moet hê, van ander teologiese perspektiewe as wat moontlik met hulle voorgangers die geval was, moet hulle ook, as hulle die teologiese fakulteit verlaat, geskool wees in ’n gefundeerde, eietydse gereformeerde teologie, nie maar in ’n soort algemene ekumeniese teologie wat kant nog wal raak nie.

Dit is veral die verantwoordelikheid van die kerk se teoloë om te sorg dat hulle nie buite sig en buite hoorafstand van die kerk beland nie. Hulle moet tot elke prys die verbintenis met die kerk behou.

1 thought on “Teoloë moenie te ver wegdryf van die kerk”

  1. Hy raak soveel twak kwyt dat ek nie nou op alles gaan probeer reageer nie. Net ’n enkele opmerking: Hy dink hy weet meer as Jesus, of hy moet erken dat hy nie in die Nuwe Testament glo nie, soos Fanie Snyman et al.
    Matteus 8:4
    Jesus het vir hom gesê: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester en bring die offergawe wat Moses voorgeskryf het, as getuienis vir hulle. ”
    Markus 10:3
    Hy het hulle geantwoord: “Wat het Moses julle beveel?”
    Markus 12:26
    En wat die opwekking van die dooies betref, julle het tog in die boekrol van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het, ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’
    Lukas 24:27
    Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê.
    Johannes 5:46
    As julle Moses geglo het, sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf.
    Handelinge 7:22
    Moses is ook in al die wysheid van die Egiptenare opgelei, en was vaardig in woord en daad. (Hy kon skryf!)
    Eksodus 17:14
    Die Here het vir Moses gesê: “Skryf dit in ’n •boekrol neer as ’n blywende herinnering, en stel dit duidelik aan Josua, dat Ek beslis die naam Amalek onder die hemel gaan uitwis. ”
    Eksodus 34:27
    Die Here het toe vir Moses gesê: “Skryf jy hierdie woorde neer, want in ooreenstemming met hierdie woorde het Ek met jou en met Israel ’n verbond gesluit.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui