Teoloë teken petisie oor ‘afkrakende’ gay-debat

Kyk ook:

Kyk NG teoloë reageer om kommentaar te sien oor hierdie aangeleentheid.

*************

Teoloë teken petisie oor ‘afkrakende’ gay-debat | Netwerk24

Deur Jana Marx

2 Oktober 2018

“Kollegas, dis nie hoe ons met mekaar praat nie!” sê sowat 90% van die land se dosente in teologie wat in NG Kerk- (NGK) verband staan.

Prof. Charlene van der Walt, professor in gender en godsdiens aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), dr. Nadia Marais van die Universiteit Stellenbosch (US), en prof. Alphonso Groenewald van die Universiteit van Pretoria (UP) koördineer ’n verklaring wat teen Dinsdagmiddag al deur 59 dosente uit 70 onderteken is. Volgens Van der Walt sluit dié akademici persone in wat voltyds en deeltyds doseer, asook afgetrede dosente in NGK-verband.

Luidens dié verklaring distansieer die akademici hulle van die styl waarin kerkleiers in die media argumenteer.

Dit volg op hewige bekgevegte op sosiale media tussen predikante en kerkleiers oor die gay-hofsaak teen die kerk.

Die herrie kom nadat ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NGK se Algemene Sinode, twee weke gelede in die Kerkbode erken het sy persoonlike oortuiging oor selfdegeslagverhoudings strook nie met dié van die NGK nie. Die kerk is midde-in ’n hofstryd hieroor.

Janse van Rensburg het onder meer geskryf: “Ek is oortuig daarvan dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester.”

Dit het hewige reaksie ontlok, onder meer dié van dr. Chris van Wyk, lid van die NGK se Algemene Sinode en predikant van die NG kerk Somerstrand in Port Elizabeth. Van Wyk het op die Kerkbode se Facebook-blad geskryf: “Indien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook moet aanvaar.”

Volgens Marais wil die akademici twee dinge uitdaag met hul verklaring: “Mense maak dikwels uitsprake in die naam van ‘die teologie’ of ‘teoloë’, maar van watter teologie en teoloë praat hulle?” vra sy, en verwys na die groot steun wat die verklaring geniet.

Sy sê die kerkleierskap het hom ook nog glad nie gedistansieer van Van Wyk se stelling nie.

“Nelis en Gustav (Claassen, algemene sekretaris) het in hul persoonlike hoedanigheid ’n verklaring uitgereik. Waarom is die name van die ander lede van die moderatuur nie ook genoem nie? Beteken dit hulle stem saam met Chris se stelling?”

Janse van Rensburg en Claassen het Saterdag in ’n verklaring gesê die gesprek oor die gay-onderwerp val buite die grense “van die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid, naamlik respek, luister, omarming en liefde”.

Die Seisoen van Menswaardigheid is ’n gesamentlike inisiatief van die NGK-familie om hom opnuut tot menswaardigheid en respek te verbind. Dit is in 2012 gekonseptualiseer.

Volgens Van der Walt is daar ’n groter gespreksruimte vir kerkleiers nodig sodat daar nie “verval word in haatspraak of eenrigtinggesprekke nie”. “Die mense wat die verklaring onderteken, wil die kerk herinner aan sy rol en roeping om radikale gasvryheid te beoefen,” sê sy.

Claassen het Dinsdag by navraag erken die Algemene Sinode het “hewige reaksie van gemeentes en individue ontvang”, wat op die volgende moderamenvergadering op 5 November bespreek sal word.

Ondertekenaars van die verklaring sluit in prof. Fanie Snyman, huidige dekaan van die teologiese fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), en prof. Jaap Durand, voormalige professor in teologie en ook viserektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

“Die huidige kerklike debat in die NGK het ’n ongekende laagtepunt bereik. Kerklike debatte kan en mag maar heftig wees (en so was dit ook in die verlede), maar daar is ’n grens wat nie oorgesteek mag word nie. Die styl van die debat is meer as ’n verleentheid vir die kerk, dit strek die kerk gewoon tot skande,” sê Snyman.

Volgens hom is die kerk se roeping om geloofwaardig oor God te praat en te doen.

“Geloofwaardig beteken ook om ‘waardig die geloof’ wat ons bely uit te leef. Dit gebeur tans nie. Die styl van ons optrede maak die geloof ongeloofwaardig, waarin mense hulle al verder van die kerk distansieer.”

Die Sielkundevereniging van Suid-Afrika bestempel Van Wyk se stelling in ’n verklaring as haatspraak.

Hy moet homself ook aan die Menseregtekommissie verduidelik nadat ’n klag hier teen hom ingedien is. Netwerk24 het verder betroubaar verneem dat individue buite Van Wyk se ring hom by sy ring (die ring van Port Elizabeth) wil aankla. Van Wyk was by navraag nie hiervan bewus nie.

Só werk die kerk se tugproses

Hoewel sommige lede van die publiek meen Janse van Rensburg moet Van Wyk summier afdank, is dit nie hoe die NGK se tugproses werk nie.

Dr. Dewyk Ungerer, die kerk se aktuarius, verduidelik die tugproses soos volg:

  • ’n Ring hou toesig oor ’n predikant. Kerkrade kan nie oor die bevoegdheid van ’n predikant besluit nie.
  • ’n Predikant kan op grond van sy (lees ook haar) lewe of leer aangekla word. Die volgende vrae word byvoorbeeld gevra: Voldoen sy lewe aan Bybelse norme? Is sy uitsprake in stryd met die Bybel en/of belydenisskrifte?
  • ’n Klag word dan by die ring ingedien, met ’n motivering waarom die betrokke predikant in sy lewe of leer oortree het.
  • Die ring stel ’n ondersoekinstansie aan en die ondersoekproses verloop soos gewoonlik. Getuies word geroep en die beskuldigde kry ’n geleentheid om ook sy saak te stel.
  • Dan volg tugmaatreëls. Dit wissel van ’n vermaning voor ’n vergadering, tot ’n opskorting van bevoegdheid. Dié opskorting kan tydelik wees, of selfs daartoe lei dat die predikant sy legitimasie verloor. Hy sou egter later weer ’n toelatingseksamen kon skryf om as NGK-predikant te praktiseer.

Só lyk die lys van ondertekenaars sover (luidens die Kerkbode, alfabeties gelys, volgens van)

  • André Bartlett (UP)
  • Hendrik Bosman (US)
  • Tiana Bosman (UWK)
  • Phil Botha (UP)
  • Julie Claassens (US)
  • Auke Compaan (UP)
  • Gerda de Villiers (UP)
  • Jaap Durand (US)
  • Ben du Toit (US)
  • Jaco Gericke (NWU)
  • Alphonso Groenewald (UP)
  • Dirk Human (UP)
  • Hanré Janse van Rensburg (UP)
  • Louis Jonker (US)
  • Gideon Kotzé (NWU)
  • Manitza Kotzé (NWU)
  • Martin Laubscher (UVS)
  • Christo Lombaard (Unisa)
  • Nadia Marais (US)
  • Arno Meiring (UP)
  • Piet Meiring (UP)
  • Juanita Meyer (UVS)
  • Sias Meyer (UP)
  • Johann-Albrecht Meylahn (UP)
  • Elna Mouton (US)
  • Julian Müller (UP)
  • Retief Müller (US)
  • Nina Müller van Velden (US)
  • Kobus Myburgh (UP)
  • Peter Nagel (US)
  • Malan Nel (UP)
  • Ian Nell (US)
  • Marius J. Nel (US)
  • Nelus Niemandt (UP)
  • Carike Noeth (US)
  • Lilly Nortjé-Meyer (UJ)
  • Helgard Pretorius (US)
  • Gert Prinsloo (UP)
  • Hennie Pieterse (UP)
  • Jo-Mari Schäder (UP)
  • Coenie Scheepers (Unisa)
  • Eben Scheffler (Unisa)
  • Kobus Schoeman (UVS)
  • Johannes A. Smit (UKZN)
  • Fanie Snyman (UVS)
  • Yolande Steenekamp (UP)
  • Lodewyk Sutton (UVS)
  • Christo Thesnaar (US)
  • Charlene van der Walt (UKZN)
  • Gerhard van den Heever (Unisa)
  • Henco van der Westhuizen (UVS)
  • Hans van Deventer (NWU)
  • Peet van Dyk (Unisa)
  • Wentzel van Huyssteen (US)
  • Danie Veldsman (UP)
  • Hennie Viviers (UJ)
  • Robert Vosloo (US)
  • Johannes Vorster (Unisa)
  • Cas Wepener (UP)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui