Terug na die kerk se DNS

Terug na die kerk se DNS | Beeld

2007-01-19

Skuif weg die keisergordyn, sê dr. Stephan Joubert, stigter van die e-kerk.

Gaan kyk hoe het die kerk gelyk voor die vierde eeu, voordat dit onder keiser Konstantyn staatskerk geword het en baie van sy oorspronklike karakter verloor het.

Dr. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk se Hoëveld-sinode, meen daar is ’n klomp antwoorde te vinde in die emerging church, ’n eietydse beweging wat in verskeie lande posgevat het.

By sowel Joubert as Niemandt hoor ’n mens van ’n kerk waarin geboue, denominasie, status en hiërargie onbelangrik is, maar wat uitreik na armes en ander randfigure en waar verhoudings en netwerke sleutelwoorde is.

In die 2de eeu ná Christus het gelowiges se lewens aan ’n draadjie gehang, sê Joubert. Hulle kon kerkwees nie formaliseer nie.

Hulle moes teologie on the run doen.

Toe was die kerk nie ’n institusie nie – dit was ’n beweging.

Iets daarvan hoor ’n mens terug as Niemandt sê in die emerging church, of ontluikende kerk, is die kerkverband onbelangrik. Die mense is post-denominasioneel.

’n Koninkryksteologie is deel van dié beweging se DNS. Jesus is hoof van die kerk.

Daar is nie hiërargieë nie en leiers beklee nie hoë ampte nie.

Joubert het dit teen die “drie goor G’s” wat so belangrik vir baie kerke geword het: geboue, getalle en geld. Dít was nie aan die begin deel van kerkwees nie.

Hy verwys na ’n koerantberig oor ’n kerk wat afgebrand het.

Nee, sê hy, dis nie die kerk afgebrand het nie, dis ’n gebou wat afgebrand het. Die kerk kom nie tot ’n einde as hy ’n gebou verloor nie. Die kerkgebou, sê Joubert, is net die gim. Die speelveld is die lewe daarbuite. En dis nie genoeg om net te gim en nooit op die speelveld te kom nie.

Dié gedagtes eggo in Niemandt se verduideliking dat die ontluikende kerk nie onderskei tussen die kerk en die sekulêre nie. Die kerk is nie wat op Sondag gebeur nie. Die gemeente is gerig op wat jy 24 uur per dag uitleef.

As jy nie kerk toe kom nie, is dit nie die ergste nie. Wat belangrik is, is dat jy verskil maak aan die wêreld daarbuite.

Hulle meet ’n kerk aan die impak wat dit op die gemeenskap het.

Joubert wys ook daarop dat die vroeë kerk nie ’n rusdag gehad het nie. Hulle moes Sondae voor sonop of ná sononder byeenkom.

’n Vraag soos of winkels op ’n Sondag mag oop wees, het nie vir hulle bestaan nie.

Nog ’n deel van die ontluikende kerk se DNS is die klem op verhoudings, sê Niemandt.

Dit gaan oor mense, nie oor geboue nie. Geboue is bloot toevallige plekke vir ontmoetings.

Daarom vergader die ontluikende kerke in plekke soos kroeë en klubs.

Hulle werk ook graag in klein groepe van 100 tot 150 mense waar jy innige verhoudings kan hê. Hulle sal eerder verdeel en nóg ’n groep stig as om te groot te raak.

Joubert sê een van die groot oplossings vir die probleem is die opkoms van kleingroepe en huiskerke.

Hy merk op dat rolle en status belangrik word sodra jy ’n institusie het.

In ’n beweging is verhoudings belangrik. In die ontluikende kerk val die fokus veral op vreemdelinge en buitestanders. Gasvryheid is vir die ontluikende kerk ’n lewenstyl, sê Niemandt.

Die kerk groei immers eers werklik as randfigure ingetrek word.

Hulle stel nie belang in die recycling of the saints (wanneer lidmate bloot van een kerk na ’n ander gelok word nie).

Die Amerikaner Erwin MacManus vra byvoorbeeld mense wat van ander kerke af kom, om terug te gaan daarheen. In sy kerk sit hulle net die plek vol van iemand wat nog nooit in ’n kerk was nie.

Joubert verwys na die kerk wat ’n middelpuntsoekende instelling geword het. Almal moet daarheen kom, pleks daarvan dat gelowiges uitgaan na die wêreld toe.

Aan vreemdelinge lewer die ontluikende kerk diens sonder bymotiewe.

Hulle gee, maar nie “sodat jy ’n Christen moet word nie”. Hulle doen dit omdat Christus die wêreld kom dien het en ter wille van die vreugde wat dit die ontvanger bring.

Joubert sê in die tyd van die vroeë kerk sou die Grieke en Romeine net vir iemand iets gee as hulle iets terug kon verwag. Dit was net die Jode en die Christene wat vir die armstes en minderbevoorregtes sou gee.

In die Nuwe Testament, voeg hy by, is daar baie minder tekste wat sê jy moet met jou mond getuig as met jou lewe. Dade praat harder as woorde.

Oor dié gedagte van onselfsugtige diens noem Niemandt en Joubert vir moeder Teresa as ’n goeie voorbeeld.

Joubert trek dit ook deur na die kwessie van reg en verkeerd.

Tradisioneel, sê hy, het die kerk ’n sterk morele sondebeskouing, met lysies soos dans, drink, dobbel en dies meer. Hy bepleit ’n skuif na sosiale verantwoordelikheid waar gelowiges ’n voorbeeld is van ’n samelewing waarin Christus is. Moenie sê wat verkeerd is nie, maar wys en leef wat reg is. Dis ’n skuif van die handhawing van reëls na die uitleef van ’n waardestelsel tussen mense wat dit nié leef nie.

Oor leierskap sê Niemandt dat die ontluikende kerk klem lê op die deelname van gemeentelede.

Daar is skerp kritiek daarop dat sekere goed net deur die dominee gedoen kan word.

Joubert kritiseer ook die tradisionele manier waarop dominees funksioneer. Hy meen 80% van geestelike leiers wy die meeste van hul tyd aan die instandhouding van ’n stelsel, pleks van aan die uitbou van die koninkryk van God.

Hy wonder wat die implikasies daarvan is dat predikante salarisse kry. Ja, Paulus skryf dat die arbeider sy loon werd is en dat hy die reg het om onderhou te word, maar hy het ook met sy hande gewerk. Hy dink daar sal ’n ander dimensie in kerkwees kom as dominees deels vir hul eie onderhoud verantwoordelik is.

Een van die probleme met betaalde dominees is dat die ou wat jou betaal, bepaal wat jy mag sê en wat nie. Daarsonder sou dominees dalk meer vrymoedigheid hê om te sê: “Só sê die Here.”

Sonder denominasionele leiers en denominasionele strukture, sê Niemandt, maak hierdie soort kerke sterk staat op netwerke.

Hulle gebruik byvoorbeeld graag die internet.

As een gemeente vandag iets doen wat goed werk, blog hulle dit en môre kan al die ander daaruit leer.

In die ontluikende kerk word ook baie gemaak van kuns. Kuns, verduidelik Niemandt, gee uitdrukking aan goed wat ’n mens nie in woorde kan sê nie. Só word mense intens bewus van die misterie van God en kom hulle weg van ’n “makgemaakte God”.

Die ontluikende kerke maak ook baie van antieke geloofspraktyke gebruik, soos die gedissiplineerde deurlees van die Bybel, ’n gedissiplineerde gebedslewe en Christelike meditasie.

Maar kan ’n kerk so as ’t ware struktuurloos en leierloos werk?

Joubert en Niemandt wys albei op die voorbeeld van die kerk in China. Onder die verdrukkende Maoistiese bewind is die kerk geen beweegruimte gegun nie.

Tog het dit leierloos bly groei, sodat huidige ramings die aantal Chinese Christene op 100 miljoen skat.

Nader tuis het dieselfde soort ding in Mosambiek gebeur.

Joubert sê in sulke omstandighede is die kerk ’n grondvlakbeweging. Dit werk met die eenvoudige belydenis “Jesus is die Here”.

Die mense is baie ernstig oor wat hulle glo, maar dit word nie steriele dogmas nie.

Jy leer mense teologie in sang.

Die boodskappers word self die boodskap.

Hulle is die persoonlike beliggaming van lewensverhale wat oorvertel word.

Kyk ’n mens na die Bybel, sê hy, is baie beelde van die kerk nie magsbeelde nie. Jesus raai sy dissipels aan om soos kinders te word, wat die laagste orde in die familie verteenwoordig.

“Ons moet eintlik magteloos wees,” sê hy.

– Beeld

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui